Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lewensverhaal

Ek het aangetrokke gevoel tot wyse ouer persone

Ek het aangetrokke gevoel tot wyse ouer persone

Soos vertel deur Elva Gjerde

Ongeveer 70 jaar gelede het ’n besoeker by ons huis ’n voorstel aan my pa gemaak wat my lewe heeltemal verander het. Sedert daardie onvergeetlike dag het etlike ander mense ook ’n invloed op my lewe gehad. En ek het ’n kosbare vriendskap opgebou wat vir my waardevoller is as enige ander. Kom ek verduidelik.

EK IS in 1932 in Sydney, Australië, gebore vir ouers wat in God geglo het, maar nie kerk toe gegaan het nie. My ma het my geleer dat God my altyd dophou sodat hy my kan straf as ek stout is. Gevolglik was ek bang vir God. Maar die Bybel het my gefassineer. Wanneer my tante naweke vir ons kom kuier het, het sy vir my talle interessante Bybelverhale vertel. Ek het altyd uitgesien na haar besoeke.

Toe ek ’n tiener was, het my pa ’n reeks boeke gelees wat my ma by ’n bejaarde vrou gekry het wat een van Jehovah se Getuies was. Hy was so beïndruk deur wat hy in daardie Christelike publikasies gelees het dat hy ingestem het om die Bybel saam met die Getuies te studeer. Terwyl hy een aand sy Bybelstudie gehad het, het my pa my betrap dat ek na hulle luister. Hy was op die punt om my bed toe te stuur, toe die besoeker sê: “Waarom laat jy Elva nie by ons aansluit nie?’’ Hierdie voorstel het gelei tot ’n nuwe lewenswyse en my vriendskap met die ware God—Jehovah.

Kort daarna het ek en my pa Christelike vergaderinge begin bywoon. Wat hy geleer het, het hom beweeg om veranderinge in sy lewe aan te bring. Hy het selfs sy humeur begin beteuel. Dit het my ma en ouer broer, Frank, aangespoor om vergaderinge te begin bywoon. * Ons al vier het vooruitgang gemaak en is uiteindelik as Jehovah se Getuies gedoop. Sedertdien het talle ouer persone my op verskillende stadiums van my lewe ten goede beïnvloed.

’N LOOPBAANKEUSE

As tiener het ek aangetrokke gevoel tot ouer persone in ons gemeente. Een van hulle was Alice Place, die bejaarde suster wat ons gesin aanvanklik besoek het. Sy het soos ’n ouma vir my geword. Alice het my in die openbare bediening opgelei en my aangespoor om doop na te streef. Toe ek 15 was, het ek hierdie doelwit bereik.

Ek het ook ’n hegte verhouding met ’n bejaarde egpaar, Percy en Madge (Margaret) Dunham, opgebou. Assosiasie met hulle het ’n groot invloed op my toekoms gehad. Ek was baie lief vir wiskunde, en ek het my hart daarop gesit om ’n wiskunde-onderwyseres te word. Percy en Madge was gedurende die 1930’s sendelinge in Letland. Toe die Tweede Wêreldoorlog in Europa uitgebreek het, is hulle genooi om in die Bethel in Australië te kom dien, wat in die middestad van Sydney geleë was. Percy en Madge het opregte belangstelling in my getoon. Hulle het talle opwindende ondervindinge vertel wat hulle in die sendingwerk gehad het. Ek kon duidelik sien dat dit baie bevredigender sou wees om mense die Bybel te leer as om klas te gee in wiskunde. Ek het dus besluit om eerder ’n sendeling te word.

Die Dunhams het my aangespoor om vir sendingdiens voor te berei deur te pionier. Ek het derhalwe in 1948 op 16-jarige ouderdom by tien ander vreugdevolle jong pioniers in my tuisgemeente in Hurstville, Sydney, aangesluit.

Gedurende die daaropvolgende vier jaar het ek in vier ander dorpe gepionier—almal in Nieu-Suid-Wallis en Queensland. Een van my eerste Bybelstudente was Betty Law (nou Remnant). Betty, ’n liefdevolle meisie, was twee jaar ouer as ek. Sy het later my pioniermaat geword in die dorp Cowra, ongeveer 230 kilometer wes van Sydney. Hoewel ek en Betty net ’n kort rukkie saam gepionier het, is ons vandag nog vriende.

Toe het ek ’n toewysing ontvang as spesiale pionier in Narrandera—’n dorp 220 kilometer suidwes van Cowra. My nuwe maat was Joy Lennox (nou Hunter), ’n ywerige pionier wat ook twee jaar ouer as ek was. Ons was die enigste Getuies in die dorp. Ek en Joy het by ’n gasvrye egpaar, Ray en Esther Irons, gebly. Hulle sowel as hulle seun en drie dogters het in die waarheid belanggestel. Ray en sy seun het gedurende die week op ’n skaapplaas gewerk wat ook koring verbou het, terwyl Esther en die meisies ’n plaaslike losieshuis bestuur het. Elke Sondag het ek en Joy ’n groot ete voorberei vir die Irons-gesin en ’n stuk of 12 van hulle loseerders—almal honger spoorwegwerkers. Hierdie taak het deel van ons huur gedek. Nadat ons alles opgeruim het, het ons die Irons-gesin van ’n heerlike geestelike ete voorsien—die weeklikse Wagtoring-studie. Ray, Esther en hulle vier kinders het in die waarheid gekom en die eerste lede van die Narrandera-gemeente geword.

In 1951 het ek ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Sydney bygewoon. Daar het ek na ’n spesiale vergadering gegaan vir pioniers wat in sendingwerk belangstel. Meer as 300 was teenwoordig by hierdie vergadering wat in ’n groot tent gehou is. Nathan Knorr van die Brooklynse Bethel het die groep toegespreek en beklemtoon hoe dringend dit is dat die goeie nuus na elke uithoek van die aarde geneem word. Ons het aan sy lippe gehang. Baie van die pioniers wat daar teenwoordig was, het later die Koninkrykswerk in gebiede in die Stille Suidsee en ander plekke begin. Ek was verheug om 1 van die 17 Australiërs te wees wat genooi is na die 19de klas van die Gileadskool, wat in 1952 gehou is. Ek was net 20 jaar oud, en my droom om ’n sendeling te wees, het ’n werklikheid begin word!

VERFYNING WAS NODIG

Die onderrigting en omgang by Gilead het nie net my Bybelkennis laat toeneem en my geloof versterk nie, maar het ook ’n groot uitwerking op my persoonlikheid gehad. Ek was jonk en idealisties en het dikwels volmaaktheid van myself sowel as van ander verwag. Party van my beskouings was te eng. Ek was byvoorbeeld geskok toe ek broer Knorr ’n vriendelike balspel saam met ’n groep jong Betheliete sien speel het.

Die Gileadinstrukteurs—wat almal skerpsinnige mans met jare se ondervinding was—het ongetwyfeld gesien dat ek sukkel. Hulle het belangstelling in my getoon en my gehelp om my denke aan te pas. Ek het geleidelik begin besef dat Jehovah ’n liefdevolle en waarderende God is, nie ’n streng en veeleisende God nie. Party van my klasmaats het my ook gehelp. Ek onthou dat een van hulle gesê het: “Elva, Jehovah sit nie daar bo met ’n sweep nie. Moenie so streng met jouself wees nie!” Haar reguit woorde het my hart geraak.

Ná Gilead is ek en vier van my klasmaats na Namibië gestuur. Kort voor lank het ons altesaam 80 Bybelstudies gehad. Ek het baie van Namibië en die sendinglewe gehou, maar ek het verlief geraak op ’n Gileadklasmaat wat na Switserland gestuur is. Ek was ’n jaar lank in Namibië en het toe by my verloofde in Switserland aangesluit. Ná ons troue het ek my man in sy werk as ’n kringopsiener vergesel.

’N KRISIS

Nadat ons vyf aangename jare in die kringwerk deurgebring het, is ons genooi om in die Bethel in Switserland te dien. Ek was verheug om daar in die Bethelgesin omring te wees deur talle geestelik volwasse ouer broers en susters.

Kort daarna het ek ’n vreeslike skok gehad. Ek het uitgevind dat my man ontrou aan my en aan Jehovah was. Toe het hy my verlaat. Ek was verpletter! Ek weet nie wat ek sonder die liefde en ondersteuning van my dierbare ouer vriende in die Bethelgesin sou gedoen het nie. Hulle het na my geluister wanneer ek wou praat en het my laat rus wanneer dit nodig was. Hulle vertroostende woorde en liefdevolle dade het my deur my onuitspreeklike pyn onderskraag en het my gehelp om selfs nader aan Jehovah te kom.

Ek het ook gedink aan woorde wat jare vroeër gespreek is deur wyse ouer persone wat deur beproewinge gelouter is, onder andere dié van Madge Dunham. Sy het eenkeer vir my gesê: “Elva, in jou lewe van diens aan Jehovah sal jy baie beproewinge deurmaak, maar die moeilikste toetse sal moontlik kom van diegene wat na aan jou is. Gedurende daardie beproewinge moet jy nader aan Jehovah kom. Onthou dat jy hóm dien, nie onvolmaakte mense nie!” Madge se raad het my deur talle donker oomblikke gehelp. Ek het my voorgeneem dat ek nooit sal toelaat dat my man se foute my van Jehovah skei nie.

Later het ek besluit om na Australië terug te keer sodat ek nader aan my familie kon pionier. Gedurende die seereis huis toe het ek gereeld lewendige Bybelbesprekings met ’n groep medepassasiers gehad. In die groep was ’n stil Noorweër, Arne Gjerde. Hy het gehou van wat hy gehoor het. Arne het my en my familie later in Sydney besoek. Hy het vinnig geestelike vooruitgang gemaak en in die waarheid gekom. In 1963 is ek en Arne getroud, en twee jaar later het ek geboorte gegee aan ons seun, Gary.

NOG ’N VERLIES

Ek, Arne en Gary het ’n baie gelukkige gesinslewe gehad. Arne het weldra ons huis vergroot sodat my bejaarde ouers by ons kon woon. Maar ná ses jaar van getroude lewe het ons onder nog ’n skok gesteier. Arne is gediagnoseer met breinkanker. Ek het hom elke dag in die hospitaal besoek terwyl hy ’n lang kursus bestraling ontvang het. Hy het ’n ruk lank goed gevorder; toe het sy toestand versleg en het hy ’n beroerte gehad. Daar is vir my gesê dat hy nog net ’n paar weke oorhet. Maar Arne het bly lewe. Hy het uiteindelik teruggekom huis toe, waar ek hom verpleeg het totdat sy gesondheid verbeter het. Ná ’n ruk kon hy weer loop en sy werk as ’n gemeentelike ouer man hervat. Sy opgewekte geaardheid en goeie sin vir humor het tot sy herstel bygedra en het dit vir my makliker gemaak om hom te versorg.

Jare later, in 1986, het Arne se gesondheid weer versleg. Teen dié tyd was my ouers oorlede, en daarom het ons na die pragtige Blue Mountains buite Sydney getrek, wat beteken het dat ons nader aan ons vriende was. Later het Gary met ’n lieflike geestelike suster, Karin, getrou, en hulle het voorgestel dat ons vier ’n huis deel. Binne ’n paar maande het ons almal in ’n huis ingetrek, net ’n paar strate van waar ek en Arne gewoon het.

Gedurende die laaste 18 maande van sy lewe was Arne bedlêend en het hy voltydse sorg nodig gehad. Aangesien ek gedurende hierdie tyd die huis selde kon verlaat, het ek elke dag die Bybel en Bybelpublikasies twee uur lank bestudeer. Gedurende hierdie studiesessies het ek heelwat wyse raad gevind oor hoe om my situasie te verwerk. Ek het ook liefdevolle besoeke ontvang van ouer persone in ons gemeente—van wie party soortgelyke beproewinge deurgemaak het. Hulle besoeke het my baie opgebeur! Arne is in April 2003 oorlede, met ’n vaste hoop op die opstanding.

MY GROOTSTE STEUNPILAAR

Toe ek jonk was, was ek idealisties. Maar ek het uitgevind dat die lewe selde verloop soos ons verwag. Ek het tallose seëninge ontvang, maar het ook twee groot tragedies deurgemaak—ek het een man weens ontrouheid verloor en die ander weens siekte. Deur dit alles heen het ek leiding en vertroosting uit verskillende bronne ontvang. My grootste steunpilaar is nog steeds “die Oue van Dae”—Jehovah God (Dan. 7:9). Sy raad het my persoonlikheid gevorm, en dit het my lonende ondervindinge in die sendingwerk laat geniet. Wanneer probleme ontstaan het, ‘het Jehovah se liefderyke goedhartigheid my onderskraag en het sy vertroostinge my siel gestreel’ (Ps. 94:18, 19). Ek het ook liefde en onderskraging van my familie ontvang, sowel as van ‘ware metgeselle wat gebore is vir die tyd wanneer daar benoudheid is’ (Spr. 17:17). Baie van hulle was wyse ouer persone.

“Is daar nie wysheid onder die bejaardes en verstand in lengte van dae nie?” het die aartsvader Job gevra (Job 12:12). As ek terugkyk op my lewe, kan ek ja antwoord. Die raad van wyse ouer persone het my gehelp, hulle vertroosting het my onderskraag en hulle vriendskap het my lewe verryk. Ek is dankbaar dat ek tot hulle aangetrokke gevoel het.

Op 80 is ek nou self ’n bejaarde. My ondervindinge het my besonder bewus gemaak van die behoeftes van ander bejaardes. Ek geniet dit nog steeds om hulle te besoek en te help. Maar ek geniet ook die geselskap van jongmense. Hulle energie is stimulerend, en hulle geesdrif is aansteeklik. Wanneer ek besef dat jongmense my leiding of ondersteuning nodig het, is dit vir my bevredigend om hulle te help.

[Voetnoot]

^ par. 7 Elva se broer, Frank Lambert, het ’n ywerige pionier in die Australiese agterveld geword. Die jaarboek van Jehovah se Getuies vir 1983, bladsye 110-112, bevat ’n verslag van een van sy talle opwindende predikingstogte.

[Prent op bladsy 14]

Saam met my pioniermaat Joy Lennox in Narrandera

[Prent op bladsy 15]

Saam met lede van die Bethelgesin in Switserland, 1960

[Prent op bladsy 16]

Terwyl ek Arne versorg het toe hy siek was