Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vertrou op Jehovah die God van “tye en tydperke”

Vertrou op Jehovah die God van “tye en tydperke”

Vertrou op Jehovah die God van “tye en tydperke”

“Hy verander tye en tydperke, sit konings af en stel konings aan.”—DAN. 2:21.

HOE SAL JY ANTWOORD?

Hoe toon die skepping en vervulde profesieë dat Jehovah die Groot Tydhouer is?

Wat beweeg dit ons om te doen wanneer ons besef dat Jehovah die God van “tye en tydperke” is?

Waarom word Jehovah se tydrooster nie deur wêreldgebeure en menseplanne beheer nie?

1, 2. Wat toon dat Jehovah tyd ten volle verstaan?

LANK voordat Jehovah God die mens geskep het, het hy die middele voorsien om tyd te meet. Op die vierde skeppingsdag het God gesê: “Laat daar ligte aan die uitspansel van die hemel wees om ’n skeiding tussen die dag en die nag te maak; en hulle sal dien as tekens en vir seisoene en vir dae en jare” (Gen. 1:14, 19, 26). In ooreenstemming met Jehovah se wil is dit natuurlik wat gebeur het.

2 Maar wetenskaplikes debatteer tot nou toe nog die aard van tyd. “Tyd is een van die wêreld se grootste raaisels”, sê ’n ensiklopedie. “Niemand kan sê presies wat dit is nie.” Maar Jehovah verstaan tyd ten volle. Hy is immers “die Skepper van die hemele, . . . die Formeerder van die aarde en die Maker daarvan”. Jehovah is ook die Een “wat van die begin af die uiteinde verkondig, en van ouds af die dinge wat nog nie gedoen is nie” (Jes. 45:18; 46:10). Met die doel om ons geloof in hom en in sy Woord, die Bybel, te versterk, gaan ons kyk na hoe die skepping en vervulde profesieë toon dat Jehovah die Groot Tydhouer is.

DIE SKEPPING BOESEM GELOOF IN IN DIE GROOT TYDHOUER

3. Watter bewyse van presiese tydreëling is daar in die fisiese wêreld?

3 In die fisiese wêreld kan presiese tydreëling waargeneem word op ’n mikroskopiese sowel as ’n makroskopiese skaal. Atome vibreer teen vaste frekwensies. Internasionale standaardtydhorlosies wat deur atomiese vibrasies gereguleer word, is akkuraat tot op 1 sekonde in 80 miljoen jaar. Planete en sterre beweeg ook volgens presiese tydreëling. Hulle voorspelbare posisies in die hemelruim word byvoorbeeld gebruik om die seisoene te bepaal en om te navigeer. Jehovah—die Maker van hierdie betroubare “horlosies”—is inderdaad “sterk in krag” en verdien ons lof.—Lees Jesaja 40:26.

4. Hoe openbaar tydreëling in die biologiese ryk God se wysheid?

4 Presiese tydreëling kan ook in die biologiese wêreld waargeneem word. Die lewensiklus van baie plante en diere word deur interne horlosies gereguleer. Baie voëls weet instinktief wanneer om hulle migrasie te begin (Jer. 8:7). Mense het ook ’n interne horlosie wat gewoonlik deur die 24-uur-siklus van dag en nag beheer word. Nadat ’n reisiger verskeie tydsones per vliegtuig oorgesteek het, neem dit sy liggaam dalk dae om hierdie horlosie reg te stel. Al die voorbeelde van tydreëling wat duidelik in die skepping gesien kan word, openbaar inderdaad die krag en die wysheid van die God van “tye en tydperke”. (Lees Psalm 104:24.) Ja, die Groot Tydhouer is alwys en almagtig. Ons kan die vertroue hê dat hy sy wil kan volbring!

PROFESIEË WAT OP TYD VERVUL IS, BOESEM GELOOF IN

5. (a) Slegs hoe kan ons uitvind wat die toekoms vir die mens inhou? (b) Waarom kan Jehovah gebeure en hulle tydreëling voorspel?

5 Die boek van die skepping leer ons baie omtrent Jehovah se “onsigbare eienskappe”, maar dit beantwoord nie belangrike vrae soos “Wat hou die toekoms vir die mens in?” nie (Rom. 1:20). Vir die antwoord moet ons ons wend tot wat God in sy Woord, die Bybel, openbaar. Wanneer ons dit ondersoek, vind ons profesieë wat altyd presies op tyd vervul is! Jehovah kan openbaar wat nog moet gebeur omdat hy akkuraat kan vooruitsien wat die toekoms inhou. Daarbenewens gebeur die dinge wat die Skrif voorspel, op tyd omdat Jehovah God gebeure volgens sy voorneme en tydrooster kan laat plaasvind.

6. Wat toon dat Jehovah wil hê dat ons die vervulling van Bybelprofesieë moet verstaan?

6 Jehovah wil hê dat sy aanbidders skriftuurlike profesieë moet verstaan en daarby moet baat vind. Hoewel God nie deur ons begrip van tyd beperk word nie, gebruik hy uitdrukkings wat ons kan verstaan wanneer hy voorspel dat ’n gebeurtenis op ’n spesifieke tyd sal plaasvind. (Lees Psalm 90:4.) Die boek Openbaring verwys byvoorbeeld na “die vier engele” wat “gereedgemaak is vir die uur en dag en maand en jaar”—eenhede van tyd wat ons kan verstaan (Op. 9:14, 15). Wanneer ons sien hoe profesieë op die gespesifiseerde tye vervul is, boesem dit geloof in in die God van “tye en tydperke” en in sy Woord. Kom ons bespreek ’n paar voorbeelde.

7. Hoe toon die vervulling van Jeremia se profesie oor Jerusalem en Juda dat Jehovah die Groot Tydhouer is?

7 Kom ons gaan eers na die sewende eeu VHJ. “In die vierde jaar van Jojakim, die seun van Josia, die koning van Juda,” het die woord van die Groot Tydhouer “tot Jeremia gekom . . . oor die hele volk van Juda” (Jer. 25:1). Jehovah het die verwoesting van Jerusalem en die wegvoering van die Jode uit die land van Juda na Babilon voorspel. Daar sou hulle “die koning van Babilon sewentig jaar lank . . . dien”. Die Babiloniese leërs het Jerusalem in 607 VHJ vernietig, en Jode van Juda is inderdaad na Babilon weggevoer. Maar wat sou aan die einde van 70 jaar gebeur? Jeremia het voorspel: “Só het Jehovah gesê: ‘Wanneer sewentig jaar in Babilon vervul is, sal ek my aandag op julle rig, en ek sal my goeie woord teenoor julle bevestig deur julle na hierdie plek terug te bring’” (Jer. 25:11, 12; 29:10). Hierdie profesie is presies op tyd vervul—in 537 VHJ nadat die Mede en die Perse die Jode uit Babilon bevry het.

8, 9. Hoe toon Daniël se profesieë oor die koms van die Messias en die oprigting van die hemelse Koninkryk dat Jehovah die God van “tye en tydperke” is?

8 Kyk na nog ’n profesie in verband met God se eertydse volk. Ongeveer twee jaar voordat die Jode Babilon verlaat het, het God deur die profeet Daniël voorspel dat die Messias sou verskyn 483 jaar nadat die bevel gegee is om Jerusalem te herbou. Die Medo-Persiese koning het hierdie bevel in 455 VHJ gegee. Presies 483 jaar later—in 29 HJ—is Jesus van Nasaret by sy doop deur heilige gees gesalf en het hy so die Messias geword. *Neh. 2:1, 5-8; Dan. 9:24, 25; Luk. 3:1, 2, 21, 22.

9 Let nou op wat die Skrif aangaande die Koninkryk voorspel het. Bybelprofesieë het aangedui dat die Messiaanse Koninkryk in 1914 in die hemel opgerig sou word. Die Bybel het dit gedoen deur onder andere “die teken” van Jesus se teenwoordigheid te gee, wat gewys het na die tyd wanneer Satan uit die hemel gewerp sou word, wat tot groot weë vir die aarde sou lei (Matt. 24:3-14; Op. 12:9, 12). Daarbenewens het Bybelprofesieë gewys na die presiese tyd—1914—wanneer “die vasgestelde tye van die nasies vervul” sou word en Koninkryksheerskappy in die hemel sou begin.—Luk. 21:24; Dan. 4:10-17. *

10. Watter toekomstige gebeure sal vir seker op tyd plaasvind?

10 Die “groot verdrukking” wat deur Jesus voorspel is, lê nog voor. Dit sal deur sy Duisendjarige Heerskappy gevolg word. Daar bestaan geen twyfel dat hierdie dinge presies op tyd sal gebeur nie. Toe Jesus op die aarde was, het Jehovah reeds die “dag en uur” vasgestel waarop hierdie gebeure sal plaasvind.—Matt. 24:21, 36; Op. 20:6.

‘KOOP DIE GELEË TYD UIT’

11. Watter uitwerking moet die wete dat ons in die tyd van die einde lewe, op ons hê?

11 Watter uitwerking moet dit op ons hê wanneer ons besef dat Koninkryksheerskappy begin het en dat ons in “die tyd van die einde” lewe? (Dan. 12:4). Baie sien hoe wêreldtoestande vererger, maar erken nie dat hierdie verwikkelinge Bybelprofesieë oor die laaste dae vervul nie. Hulle verwag dalk dat hierdie stelsel eendag in duie sal stort of glo moontlik dat mensepogings op die een of ander manier “vrede en veiligheid” sal bewerkstellig (1 Tess. 5:3). Maar wat van ons? Moet ons nie, as ons besef dat ons diep in die laaste dae van Satan se wêreld lewe, daarna streef om die oorblywende tyd te gebruik om die God van “tye en tydperke” te dien en ander te help om hom te leer ken nie? (2 Tim. 3:1). Ons moet wyse besluite neem oor hoe ons ons tyd gebruik.—Lees Efesiërs 5:15-17.

12. Wat kan ons leer uit Jesus se woorde aangaande Noag se dag?

12 Dit is nie maklik om ‘die geleë tyd uit te koop’ in ’n wêreld vol afleidings nie. “Net soos die dae van Noag was”, het Jesus gewaarsku, “so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees.” Hoe was die dae van Noag? Daar is voorspel dat die wêreld van destyds tot ’n einde sou kom. Wanneer dit gebeur, sou goddelose mense in die waters van ’n wêreldwye vloed verdrink. As “’n prediker van regverdigheid” het Noag God se boodskap getrou verkondig aan die mense van sy dag (Matt. 24:37; 2 Pet. 2:5). Maar “hulle het geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee, . . . en hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie”. Jesus het sy volgelinge dus gewaarsku: “Julle [moet] gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie” (Matt. 24:38, 39, 44). Ons moet soos Noag wees, nie soos die mense van sy dag nie. Wat sal ons help om gereed te bly?

13, 14. Wat omtrent Jehovah moet ons in gedagte hou wat ons sal help om hom getrou te dien terwyl ons wag vir die koms van die Seun van die mens?

13 Hoewel die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan ons dit nie dink nie, moet ons in gedagte hou dat Jehovah die Groot Tydhouer is. Sy tydrooster word nie deur wêreldgebeure en menseplanne beheer nie. Jehovah beheer die tydreëling en die uitkoms van sake om sy wil te volbring. (Lees Daniël 2:21.) Trouens, Spreuke 21:1 sê vir ons: “’n Koning se hart is soos waterstrome in die hand van Jehovah. Hy lei dit oral waar dit hom behaag.”

14 Jehovah kan gebeure beïnvloed om sy voorneme te verwesenlik en dit op tyd te vervul. Baie van die betekenisvolle veranderinge in die wêreld het profesieë vervul, veral met betrekking tot die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk. Dink aan die val van die Sowjetunie en die gevolge daarvan. Min mense sou gedink het dat sulke ontsaglike politieke veranderinge so vinnig kan gebeur. Maar as gevolg van hierdie veranderinge word die goeie nuus nou in baie lande verkondig waar ons werk voorheen verbied is. Laat ons dan beslis die geleë tyd uitkoop om die God van “tye en tydperke” getrou te dien.

BEOEFEN GELOOF IN JEHOVAH SE TYDREËLING

15. Hoe kan ons geloof toon met betrekking tot organisatoriese aanpassings?

15 Dit verg geloof in Jehovah se tydreëling om in hierdie laaste dae in die Koninkrykspredikingswerk te volhard. Die veranderende wêreldsituasie vereis moontlik dat veranderinge aangebring word in die manier waarop die dissipelmaakwerk uitgevoer word. Die organisasie maak van tyd tot tyd aanpassings om in die behoeftes van ons werk as Koninkryksverkondigers te voorsien. Ons toon geloof in die God van “tye en tydperke” deur hierdie aanpassings ten volle te ondersteun terwyl ons lojaal onder sy Seun, die “hoof van die gemeente”, dien.—Ef. 5:23.

16. Waarom kan ons vertrou dat Jehovah hulp op die regte tyd sal voorsien?

16 Jehovah wil hê dat ons vryelik tot hom moet bid in die volle vertroue dat hy die nodige “hulp op die regte tyd” sal voorsien (Heb. 4:16). Lewer dít nie bewys van sy liefdevolle besorgdheid oor ons as individue nie? (Matt. 6:8; 10:29-31). Ons toon ons geloof in Jehovah God deur gereeld vir sy hulp te bid en dan in ooreenstemming met ons gebede en sy leiding op te tree. Daarbenewens onthou ons om vir ons medegelowiges te bid.

17, 18. (a) Hoe sal Jehovah binnekort teen sy vyande optree? (b) Watter strik moet ons vermy?

17 Dit is nie nou die tyd om ‘in ’n gebrek aan geloof te wankel nie’; dit is die tyd om deur geloof kragtig te word (Rom. 4:20). God se vyande—Satan en diegene onder sy invloed—probeer die werk stopsit wat Jesus aan Sy volgelinge, insluitende ons, gegee het (Matt. 28:19, 20). Ondanks die Duiwel se aanvalle, ken ons Jehovah as “’n lewende God, wat ’n Redder is van alle soorte mense, veral van getroues”. Hy “weet . . . hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos”.—1 Tim. 4:10; 2 Pet. 2:9.

18 Jehovah sal binnekort ’n einde maak aan hierdie goddelose stelsel van dinge. Hoewel ons nie al die besonderhede gegee is of weet presies wanneer dit sal gebeur nie, weet ons wel dat Christus God se vyande op presies die regte tyd sal uitwis, en Jehovah se soewereiniteit sal geregverdig wees. Wat ’n fout sal dit dan tog wees om nie “die tye en die tydperke” waarin ons nou lewe, te onderskei nie! Mag ons nooit in die strik trap om te dink dat “alles [bly] net soos van die begin van die skepping af” nie.—1 Tess. 5:1; 2 Pet. 3:3, 4.

‘NEEM ’N WAGTENDE HOUDING IN’

19, 20. Waarom moet ons ’n wagtende houding teenoor Jehovah inneem?

19 Jehovah God se oorspronklike voorneme met die mensdom het ingesluit dat hulle eindelose tyd sou hê om van hom en sy pragtige skepping te leer. Prediker 3:11 sê: “Alles het hy [Jehovah] mooi gemaak op die tyd daarvoor. Selfs onbepaalde tyd het hy in hulle hart gesit, dat die mensdom nooit die werk wat die ware God gemaak het, van begin tot einde kan uitvind nie.”

20 Hoe bly kan ons tog wees dat Jehovah nooit sy voorneme met die mens verander het nie! (Mal. 3:6). By God “is daar geen verandering van die draaiing van die skaduwee nie” (Jak. 1:17). Sy tydrooster word nie beheer deur menslike middele om tyd te meet, soos die rotasie van die aarde nie. Jehovah is “die ewige Koning” (1 Tim. 1:17, vtn. in NW). Laat ons dus “’n wagtende houding teenoor die God van [ons] redding inneem” (Miga 7:7). Ja, “wees moedig, en laat julle hart sterk wees, almal wat op Jehovah wag”.—Ps. 31:24.

[Voetnote]

^ par. 8 Sien Gee ag op Daniël se profesie! bladsye 186-195.

^ par. 9 Sien Gee ag op Daniël se profesie! bladsye 94-97.

[Studievrae]

[Prent op bladsy 19]

Daniël het geloof gestel in die vervulling van godgegewe profesieë

[Prent op bladsy 21]

Maak jy goeie gebruik van tyd om Jehovah se wil te doen?