Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waardeer jy werklik God se gawe van die huwelik?

Waardeer jy werklik God se gawe van die huwelik?

Waardeer jy werklik God se gawe van die huwelik?

“Mag Jehovah aan julle ’n geskenk gee, en vind ’n rusplek, elkeen in die huis van haar man.”—RUT 1:9.

SOEK DIE ANTWOORDE:

Waarom kan ons sê dat eertydse knegte van God sy gawe van die huwelik waardeer het?

Hoe weet ons dat ons keuse van ’n huweliksmaat vir Jehovah belangrik is?

Watter Bybelraad oor die huwelik is jy van plan om in jou lewe toe te pas?

1. Beskryf Adam se reaksie toe hy ’n vrou gekry het.

“DIT is eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal Mannin genoem word, want sy is uit die man geneem” (Gen. 2:23). Hoe verheug was die eerste man, Adam, tog om ’n vrou te kry! Geen wonder dat hy liries geraak het nie! Nadat Jehovah ’n diep slaap op Adam laat val het, het Hy hierdie pragtige vrou uit een van die man se ribbebene geskep. Adam het haar later Eva genoem. God het die twee in ’n gelukkige huwelik verenig. Aangesien Jehovah Adam se ribbebeen gebruik het om haar te skep, was Adam en Eva nader aan mekaar as enige hedendaagse egpaar.

2. Waarom voel mans en vroue tot mekaar aangetrokke?

2 In sy weergalose wysheid het Jehovah die mens geskep met die vermoë tot romantiese liefde—’n eienskap wat mans en vroue tot mekaar aangetrokke laat voel. The World Book Encyclopedia sê: “’n Man en vrou wat trou, hoop om ’n seksuele verhouding te hê en dat hulle romantiese aangetrokkenheid blywend sal wees.” Dit gebeur telkens onder Jehovah se volk.

HULLE WAS DANKBAAR VIR DIE GAWE VAN DIE HUWELIK

3. Hoe het Isak ’n vrou gekry?

3 Die getroue Abraham het groot respek vir die huwelik gehad. Daarom het hy sy oudste kneg na Mesopotamië gestuur om ’n vrou vir Isak te kry. Gebed deur hierdie kneg het goeie resultate gelewer. Die godvresende Rebekka het Isak se geliefde vrou geword en ’n rol gespeel in Jehovah se reëling om Abraham se saad te bewaar (Gen. 22:18; 24:12-14, 67). Ons moenie hieruit aflei dat ’n persoon—al is dit met goeie bedoelings—ongevraagd vir iemand anders ’n maat moet soek nie. In die hedendaagse samelewing kies baie hulle eie huweliksmaat. Huwelike word natuurlik nie in die hemel gesluit nie, maar God sal Christene in hierdie en ander aspekte van die lewe rig as hulle vir hulp bid en hulle deur sy gees laat lei.—Gal. 5:18, 25.

4, 5. Wat oortuig jou daarvan dat die Sulammitiese meisie en die herder spesiale gevoelens vir mekaar gekoester het?

4 ’n Pragtige Sulammitiese meisie in eertydse Israel wou nie hê dat haar vriendinne druk op haar moet uitoefen om een van koning Salomo se baie vrouens te word nie. Sy het gesê: “Ek het julle onder eed gestel, o dogters van Jerusalem, dat julle nie die liefde in my probeer wakker maak of opwek voordat dit daartoe geneig voel nie” (Hoogl. 8:4). Die Sulammitiese meisie en ’n sekere herder het spesiale gevoelens vir mekaar gekoester. Sy het nederig gesê: “Ek is maar net ’n saffraan van die kusvlakte, ’n lelie van die laagvlaktes.” Maar die herder het gesê: “Soos ’n lelie tussen doringrige onkruid, so is my vriendin onder die dogters”! (Hoogl. 2:1, 2). Hulle het mekaar werklik liefgehad.

5 Omdat die Sulammitiese meisie en die herder God allereers liefgehad het, sou hulle huweliksband inderdaad sterk wees. Trouens, die Sulammitiese meisie het vir haar geliefde herder gesê: “Plaas my as ’n seël op jou hart, as ’n seël op jou arm; want die liefde is so sterk soos die dood, die aandrang op uitsluitlike toegewydheid is so onversetlik soos Sjeool. Die gloed daarvan is die gloed van ’n vuur, die vlam van Jah [want dit kom van hom]. Baie waters kan die liefde nie blus nie, en ook kan riviere dit nie wegspoel nie. As ’n man al die waardevolle dinge van sy huis vir die liefde gee, sou mense dit gewis verag” (Hoogl. 8:6, 7). Waarom sal ’n kneg van Jehovah dan met iets minders tevrede wees wanneer hy of sy dit oorweeg om te trou?

’N KEUSE WAT VIR GOD BELANGRIK IS

6, 7. Hoe weet ons dat ons keuse van ’n huweliksmaat vir God belangrik is?

6 Jou keuse van ’n huweliksmaat is vir Jehovah belangrik. Die Israeliete is aangaande die inwoners van Kanaän beveel: “Jy mag geen huweliksverbintenis met hulle aangaan nie. Jou dogter mag jy nie aan sy seun gee nie, en sy dogter mag jy nie vir jou seun neem nie. Want hy sal jou seun daarvan afkeer om my te volg, en hulle sal beslis ander gode dien; en Jehovah se toorn sal inderdaad teen julle ontvlam, en hy sal jou beslis gou verdelg” (Deut. 7:3, 4). Eeue later het die priester Esra gesê: “Julle het ontrou gehandel deurdat julle uitlandse vrouens by julle laat woon het om die skuld van Israel te vergroot” (Esra 10:10). En die apostel Paulus het vir mede-Christene gesê: “’n Vrou is gebind gedurende die hele tyd dat haar man lewe. Maar as haar man ontslaap, is sy vry om te trou met wie sy wil, net in die Here.”1 Kor. 7:39.

7 As ’n toegewyde kneg van Jehovah met ’n ongelowige trou, sal dit ’n daad van ongehoorsaamheid aan God wees. Die Israeliete van Esra se dag het ontrou gehandel deur ‘uitlandse vrouens by hulle te laat woon’, en dit sal verkeerd wees om die duidelike verklarings in die Skrif te probeer afwater (Esra 10:10; 2 Kor. 6:14, 15). ’n Christen wat met ’n ongelowige trou, is nie voorbeeldig nie en het ’n gebrek aan ware waardering vir God se gawe van die huwelik. As iemand wat gedoop is, so ’n verbintenis aangaan, kan hy of sy sekere voorregte onder God se volk verloor. En dit sal onlogies wees om seëninge te verwag terwyl ’n mens in gebed erken: ‘Jehovah, ek was opsetlik ongehoorsaam aan u, maar seën my in elk geval, asseblief.’

ONS HEMELSE VADER WEET WAT DIE BESTE IS

8. Verduidelik waarom ons God se leiding oor die huwelik moet volg.

8 Die maker van ’n masjien weet presies hoe dit werk. As die toestel aanmekaargesit moet word, kan hy die nodige besonderhede daaroor verskaf. Maar sê nou ons ignoreer die instruksies en sit dit op ons eie manier aanmekaar? Die gevolge sal waarskynlik rampspoedig wees—dit is nou te sê as die masjien hoegenaamd werk. Wel, as ons ons begeerte na ’n gelukkige huwelik wil vervul, moet ons die instruksies volg wat deur Jehovah, die Insteller van die huwelik, voorsien word.

9. Waarom kan ons sê dat Jehovah gevoelens van eensaamheid verstaan, asook die vreugde wat moontlik is in die huwelik?

9 Jehovah weet alles wat daar te wete is oor die mens en die huwelik. Hy het mense met ’n seksuele behoefte geskep sodat hulle ‘vrugbaar sal wees en baie sal word’ (Gen. 1:28). God verstaan gevoelens van eensaamheid, want voordat hy die eerste vrou geskep het, het hy gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas” (Gen. 2:18, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Jehovah is ook ten volle bewus van die vreugde wat moontlik is in die huwelik.—Lees Spreuke 5:15-18.

10. Watter faktore moet die geslagsomgang van Christenhuweliksmaats beïnvloed?

10 As gevolg van die sonde en onvolmaaktheid wat deur die sondige Adam aan die mensdom oorgedra is, is geen huwelik vandag volmaak nie. Maar onder Jehovah se knegte kan die huwelik ware vreugde verskaf as God se Woord gevolg word. Kyk byvoorbeeld na Paulus se duidelike raad oor geslagsomgang in die huwelik. (Lees 1 Korintiërs 7:1-5.) Dit is nie ’n skriftuurlike vereiste dat huweliksmaats geslagsomgang beperk tot pogings om kinders voort te bring nie. Hierdie intimiteit kan tereg in emosionele en fisiese behoeftes voorsien. Maar perverse gebruike behaag God beslis nie. Christenhuweliksmaats sal ongetwyfeld in hierdie belangrike aspek van hulle lewe teerheid aan die dag wil lê sodat hulle opregte liefde aan mekaar kan betoon. En hulle moet natuurlik enige dade vermy wat Jehovah sal mishaag.

11. Hoe is Rut geseën omdat sy dinge op Jehovah se manier gedoen het?

11 Die huwelik moet vreugdevol wees, nie ongelukkig en sieldodend nie. Die Christenhuis in die besonder moet ’n plek van rus en vrede wees. Dink aan wat ongeveer 3 000 jaar gelede gebeur het toe die bejaarde weduwee Naomi en haar weduweeskoondogters, Orpa en Rut, van Moab op pad Juda toe was. Naomi het die jonger vroue aangespoor om na hulle volk terug te keer. Die Moabitiese vrou Rut het by Naomi gebly, was getrou aan die ware God en is verseker van ‘’n volmaakte loon van Jehovah, onder wie se vleuels sy toevlug gesoek het’ (Rut 1:9; 2:12). Met groot waardering vir God se gawe van die huwelik het Rut die vrou geword van die bejaarde Boas, ’n ware aanbidder van Jehovah. Wanneer sy in God se nuwe wêreld op die aarde opgewek word, sal sy verheug wees om uit te vind dat sy ’n voorouer van Jesus Christus geword het (Matt. 1:1, 5, 6; Luk. 3:23, 32). Watter seëninge het sy tog ontvang omdat sy dinge op Jehovah se manier gedoen het!

BETROUBARE RAAD VIR ’N SUKSESVOLLE HUWELIK

12. Waar kan ’n mens betroubare raad oor die huwelik vind?

12 Die Insteller van die huwelik sê vir ons wat ons omtrent ’n suksesvolle huwelik moet weet. Geen mens weet soveel nie. Die Bybel is altyd reg, en die enigste manier waarop enigiemand die aandag op betroubare raad oor die huwelik kan vestig, is om te bly by die standaarde wat in die Skrif uiteengesit word. Die apostel Paulus het byvoorbeeld onder inspirasie geskryf: “Elkeen van julle moet . . . afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself; die vrou daarenteen moet diep respek vir haar man hê” (Ef. 5:33). Daar is niks omtrent hierdie Bybelraad wat volwasse Christene nie kan verstaan nie. Die vraag is: Sal hulle Jehovah se Woord toepas? Hulle sál as hulle sy gawe van die huwelik werklik waardeer. *

13. Wat kan dit tot gevolg hê as die raad in 1 Petrus 3:7 nie toegepas word nie?

13 ’n Christenman moet sy vrou liefdevol behandel. Die apostel Petrus het geskryf: “Mans, [julle moet] voortgaan om ooreenkomstig kennis met hulle saam te woon en aan hulle eer toe te ken as ’n swakker vat, die vroulike, aangesien julle ook saam met hulle erfgename van die onverdiende guns van die lewe is, sodat julle gebede nie verhinder word nie” (1 Pet. 3:7). ’n Man se gebede kan verhinder word as hy nie Jehovah se raad toepas nie. Dit sal waarskynlik ’n nadelige uitwerking op die geestelikheid van albei maats hê, wat tot groot spanning, rusies en hardvogtige optrede kan lei.

14. Watter uitwerking kan ’n liefdevolle vrou op die gesinslewe hê?

14 ’n Vrou wat deur Jehovah se Woord en sy heilige gees gerig word, kan baie doen om haar huis ’n rustige en gelukkige plek te maak. Dit is natuurlik vir ’n godvresende man om sy vrou lief te hê en haar fisies en geestelik te beskerm. Sy smag na sy liefde, en dit vereis dat sy beminlik moet wees. “Die vrou wat waarlik wys is, het haar huis opgebou”, sê Spreuke 14:1, “maar die dwase breek dit met haar eie hande af.” ’n Verstandige en liefdevolle vrou dra grootliks by tot die sukses en geluk van haar gesin. Sy toon ook dat sy God se gawe van die huwelik werklik waardeer.

15. Watter raad word in Efesiërs 5:22-25 gevind?

15 Mans en vrouens wat in hulle huwelik Jesus se voorbeeld volg in hoe hy met sy gemeente handel, toon waardering vir God se gawe van die huwelik. (Lees Efesiërs 5:22-25.) Watter seëninge geniet huweliksmaats tog wanneer hulle mekaar werklik liefhet en nooit toelaat dat trots, kinderagtige stilswye of ander onchristelike eienskappe hulle huwelik skaad nie!

GEEN MENS MOET HULLE SKEI NIE

16. Waarom bly party Christene ongetroud?

16 Hoewel die meeste mense beplan om die een of ander tyd te trou, bly sekere knegte van Jehovah ongetroud omdat hulle nie ’n maat kan vind met wie hulle graag wil trou en wat Jehovah sal behaag nie. Ander het die godgegewe gawe om ongetroud te bly, wat hulle in staat stel om hulle aan Jehovah se diens te wy sonder die afleidings van die huwelik. Die ongetroude lewe moet natuurlik geniet word binne die perke wat deur Jehovah gestel word.—Matt. 19:10-12; 1 Kor. 7:1, 6, 7, 17.

17. (a) Watter woorde van Jesus oor die huwelik moet ons in gedagte hou? (b) Wat moet enige Christen sonder versuim doen as hy selfs net begin om ’n ander se huweliksmaat te begeer?

17 Hetsy ons ongetroud of getroud is, ons almal moet Jesus se woorde in gedagte hou: “Het julle nie gelees dat hy [God] wat hulle geskep het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie en gesê het: ‘Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees wees’? Sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matt. 19:4-6). Dit is ’n sonde om iemand anders se huweliksmaat te begeer (Deut. 5:21). As enige Christen so ’n hebsugtige begeerte begin koester, moet hy of sy vinnig optree om hierdie onrein begeerte uit te roei, al veroorsaak dit ook groot emosionele pyn omdat selfsugtige drange toegelaat is om te groei (Matt. 5:27-30). Dit is noodsaaklik om sulke denke reg te stel en die sondige verlange van ’n verraderlike hart te onderdruk.—Jer. 17:9.

18. Hoe dink jy moet ons God se gawe van die huwelik beskou?

18 Selfs baie mense wat min of niks van Jehovah God en sy wonderlike gawe van die huwelik weet nie, toon ten minste ’n mate van waardering vir die huweliksband. Hoeveel te meer moet ons wat aan “die gelukkige God”, Jehovah, toegewy is, ons in al sy voorsienings verheug en bewys lewer dat ons God se gawe van die huwelik werklik waardeer!—1 Tim. 1:11.

[Voetnoot]

^ par. 12 Vir breedvoerige besprekings oor die huwelik, sien hoofstukke 10 en 11 van die boek ‘Hou julle in God se liefde’.

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 6]

’n Goeie huwelik eer Jehovah en kan almal in die gesin groot vreugde verskaf

[Prent op bladsy 5]

Rut het waardering getoon vir God se gawe van die huwelik

[Prent op bladsy 7]

Toon jy dat jy Jehovah se gawe van die huwelik werklik waardeer?