Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Weerkaats jy die heerlikheid van Jehovah?

Weerkaats jy die heerlikheid van Jehovah?

Weerkaats jy die heerlikheid van Jehovah?

“Ons [weerkaats] die heerlikheid van Jehovah soos spieëls.”—2 KOR. 3:18.

HOE SAL JY ANTWOORD?

Hoe kan ons Jehovah verheerlik ondanks ons sondige toestand?

Hoe help ons gebede en ons teenwoordigheid by Christelike vergaderinge ons om God se heerlikheid te weerkaats?

Wat kan ons help om aan te hou om Jehovah te verheerlik?

1, 2. Waarom is dit redelik om te verwag dat ons Jehovah se eienskappe kan navolg?

ONS almal toon op die een of ander manier ’n ooreenkoms met ons ouers. Dit is dus nie verbasend nie om iemand vir ’n seun te hoor sê: ‘Jy is net soos jou pa.’ Vir ’n meisie word daar dalk gesê: ‘Jy laat my aan jou ma dink.’ En kinders volg dikwels na wat hulle in hulle ouers sien. Maar wat van ons? Kan ons ons hemelse Vader, Jehovah, navolg? Hoewel ons hom nie gesien het nie, kan ons sy kosbare eienskappe sien deur sy Woord te bestudeer, deur sy skepping waar te neem en deur oor die Skrif en veral oor die woorde en dade van God se Seun, Jesus Christus, te peins (Joh. 1:18; Rom. 1:20). Dit is vir ons moontlik om Jehovah se heerlikheid te weerkaats.

2 Voordat Adam en Eva geskep is, het God die vertroue gehad dat mense in staat sal wees om sy wil vir hulle uit te voer, sy eienskappe te weerspieël en hom te verheerlik. (Lees Genesis 1:26, 27.) Om godvrugtige toegewydheid te beoefen, moet ons die eienskappe van die Een wat ons gemaak het, aan die dag lê. As ons dit doen, het ons die geseënde voorreg om God se heerlikheid te weerkaats ongeag ons kultuur, ons opvoeding of ons etniese agtergrond. Waarom? Omdat “God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik”.—Hand. 10:34, 35.

3. Watter gevoel kan Christene ervaar wanneer hulle Jehovah dien?

3 Gesalfde Christene weerkaats Jehovah se heerlikheid. Die geesverwekte apostel Paulus het dus geskryf: “Terwyl ons met ongesluierde gesigte die heerlikheid van Jehovah soos spieëls weerkaats, word ons almal van heerlikheid tot heerlikheid in dieselfde beeld verander” (2 Kor. 3:18). Toe die profeet Moses teen die berg Sinai afgeklim het met die tafels waarop die Tien Gebooie was, het sy gesig geglinster omdat Jehovah met hom gepraat het (Eks. 34:29, 30). Hoewel Christene nie so ’n ondervinding gehad het en hulle gesigte nie glinster nie, straal hulle van vreugde wanneer hulle ander van Jehovah, sy eienskappe en sy wonderlike voorneme met die mensdom vertel. Soos gepoleerde metaalspieëls van die ou tyd weerkaats gesalfdes en hulle aardse metgeselle dus Jehovah se heerlikheid in hulle lewe en bediening (2 Kor. 4:1). Weerkaats jy Jehovah se heerlikheid deur jou godvrugtige gedrag en deur jou bedrywighede as ’n gereelde Koninkryksverkondiger?

ONS WIL JEHOVAH SE HEERLIKHEID WEERKAATS

4, 5. (a) Watter stryd soos dié van Paulus het ons? (b) Watter uitwerking het sonde op ons?

4 As Jehovah se knegte wil ons beslis ons Skepper eer en verheerlik in alles wat ons doen. Maar alte dikwels slaag ons nie daarin om te doen wat ons wil doen nie. Paulus het self met hierdie probleem te kampe gehad. (Lees Romeine 7:21-25.) Hy het verduidelik waarom ons so ’n stryd het en geskryf: “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God” (Rom. 3:23). Ja, weens die mensdom se erfenis van die sondige Adam het hulle onderworpe geword aan die wrede heerskappy van ‘koning Sonde’.—Rom. 5:12; 6:12.

5 Wat is sonde? Dit is enigiets wat in stryd is met Jehovah se persoonlikheid, weë, standaarde en wil. Sonde skend ’n persoon se verhouding met God. Sonde veroorsaak dat ons die teiken mis, net soos ’n boogskutter ’n pyl kan afskiet maar sy teiken mis. Ons kan opsetlik of onopsetlik sondig (Num. 15:27-31). Sonde is diepgewortel in mense en skep ’n versperring tussen hulle en hulle Skepper (Ps. 51:5; Jes. 59:2; Kol. 1:21). Gevolglik is die mensdom in die algemeen glad nie in harmonie met Jehovah nie en verbeur hulle die kosbare geleentheid om God se heerlikheid te weerkaats. Sonde is ongetwyfeld die ergste gebrek wat die mensdom teister.

6. Hoe kan ons God verheerlik ondanks ons sondige toestand?

6 Maar Jehovah is “die God wat hoop gee” ondanks ons sondige toestand (Rom. 15:13). Hy het die middel voorsien om sonde tot niet te maak—die losprysoffer van Jesus Christus. As ons geloof in hierdie offerande beoefen, is ons nie meer “slawe van die sonde” nie, maar is ons in ’n posisie om Jehovah se heerlikheid te weerkaats (Rom. 5:19; 6:6; Joh. 3:16). En as ons hierdie goedgekeurde verhouding met God behou, verseker dit ons van Jehovah se seën nou sowel as van die toekomstige voordele van volmaaktheid en die ewige lewe. Wat ’n seën is dit tog om deur God beskou te word as persone wat sy heerlikheid kan weerkaats al is ons nog sondige mense!

WAT HELP ONS OM GOD SE HEERLIKHEID TE WEERKAATS?

7. Wat moet ons omtrent onsself erken as ons God se heerlikheid wil weerkaats?

7 Om in die regte posisie te wees om God se heerlikheid te weerkaats, moet ons ons sondige natuur eerlik erken (2 Kron. 6:36). Ons moet ons sondige neigings erken en ons inspan om dit te beheer sodat ons kan vorder tot die punt waar ons God werklik verheerlik. Byvoorbeeld, as ons in die skandelike sonde verval het om na pornografie te kyk, moet ons die feit onder die oë sien dat ons geestelike hulp nodig het—en daadwerklik optree om dit te kry (Jak. 5:14, 15). Dit sal die eerste stap wees in die strewe na ’n lewe wat God ten volle eer. As aanbidders van Jehovah moet ons ons voortdurend ondersoek om vas te stel of ons aan sy regverdige standaarde voldoen (Spr. 28:18; 1 Kor. 10:12). Wat die aard van ons sondige neigings ook al is, ons moet aanhou om dit te bedwing sodat ons God se heerlikheid kan weerkaats.

8. Wat moet ons doen, al is ons nie volmaak nie?

8 Jesus was die enigste mens wat ooit gelewe en gesterf het en nooit versuim het om God te behaag en Sy heerlikheid te weerkaats nie. Hoewel ons, in teenstelling met Jesus, nie volmaak is nie, kan en moet ons daarna streef om sy voorbeeld te volg (1 Pet. 2:21). Jehovah sien die poging wat ons aanwend sowel as die vordering wat ons maak, en hy seën ons ywerige strewe om hom te verheerlik.

9. Watter rol speel die Bybel in die lewe van Christene wat aan God se vereistes wil voldoen?

9 Jehovah se geskrewe Woord kan vir ons die pad na verbetering verlig. Diepgaande studie van die Skrif en peinsende Bybellees is noodsaaklik (Ps. 1:1-3). As ons die Skrif elke dag lees, sal dit ons help om te verbeter. (Lees Jakobus 1:22-25.) Bybelkennis is die grondslag vir ons geloof en is die middel waardeur ons ons vasbeslotenheid versterk om ernstige sonde te vermy en Jehovah te behaag.—Ps. 119:11, 47, 48.

10. Hoe kan gebed ons help om Jehovah in groter mate te dien?

10 As ons God se heerlikheid wil weerkaats, moet ons ook ‘volhou met gebed’ (Rom. 12:12). Ons kan en moet bid dat Jehovah ons help om hom op aanneemlike wyse te dien. Met dié doel kan ons gepas tot hom bid vir heilige gees, meer geloof, krag om versoeking te weerstaan en die vermoë om ‘die woord van die waarheid reg te hanteer’ (2 Tim. 2:15; Matt. 6:13; Luk. 11:13; 17:5). Soos ’n kind op sy pa vertrou, moet ons op ons hemelse Vader, Jehovah, vertrou. As ons hom vra om ons te help om hom in groter mate te dien, kan ons die vertroue hê dat hy dit sal doen. Ons moet nooit voel dat ons vir hom ’n oorlas is nie! Laat ons hom eerder in gebed loof, hom dank, hom om sy leiding vra, veral wanneer ons met beproewinge te kampe het, en vra dat hy ons help om hom te dien op maniere wat sy heilige naam verheerlik.—Ps. 86:12; Jak. 1:5-7.

11. Hoe help gemeentelike vergaderinge ons om God se heerlikheid te weerkaats?

11 God het die sorg van sy kosbare skape aan “die getroue en verstandige slaaf” toevertrou (Matt. 24:45-47; Ps. 100:3). Die slaafklas stel baie belang in hoe medegelowiges Jehovah se heerlikheid weerkaats. Ons voorkoms as Christenbedienaars word by ons vergaderinge reggestel, net soos ons ’n kleremaker ons klere sal laat verstel sodat ons beter lyk (Heb. 10:24, 25). Laat ons dus betyds wees, want as ons die gewoonte het om laat te kom, loop ons ten minste ’n mate van die geestelike ‘verstelling’ mis wat nodig is om ons voorkoms as Jehovah se knegte te verbeter.

LAAT ONS GOD NAVOLG

12. Hoe kan ons God navolg?

12 As ons Jehovah se heerlikheid wil weerkaats, moet ons ‘navolgers van God word’ (Ef. 5:1). Een manier waarop ons Jehovah kan navolg, is om sy beskouing van sake ons eie te maak. As ons op enige ander wyse probeer lewe, onteer ons hom en benadeel ons onsself. Aangesien die wêreld om ons onder die invloed is van die bose, Satan die Duiwel, moet ons ons daarop toelê om te haat wat Jehovah haat en innig lief te hê wat hy liefhet (Ps. 97:10; 1 Joh. 5:19). Ons moet opreg oortuig wees dat die enigste gepaste manier om God te dien, is om alles tot sy heerlikheid te doen.—Lees 1 Korintiërs 10:31.

13. Waarom moet ons sonde haat, en wat sal dit ons beweeg om te doen?

13 Jehovah haat sonde, en ons moet ook. Ja, ons moet so ver moontlik wegbeweeg van oortreding en nie kyk hoe naby ons daaraan kan kom sonder om deur sonde oorweldig te word nie. Ons moet byvoorbeeld daarteen waak om te swig voor afvalligheid, ’n sonde wat ons ongeskik sal maak om God te verheerlik (Deut. 13:6-9). Laat ons dus niks te doen hê met afvalliges of enigiemand wat sê dat hy ’n broer is, maar wat God onteer nie. Dit moet die geval wees selfs al is hy ’n gesinslid (1 Kor. 5:11). Dit strek ons nie tot voordeel om die argumente van afvalliges of diegene wat krities is oor Jehovah se organisasie, te probeer weerlê nie. Trouens, dit is geestelik gevaarlik en onvanpas om hulle inligting te ondersoek, hetsy dit in geskrewe vorm of op die Internet voorkom.—Lees Jesaja 5:20; Matteus 7:6.

14. Watter eienskap moet in ons opvallend wees wanneer ons daarna streef om God se heerlikheid te weerkaats, en waarom?

14 Om liefde te betoon, is ’n voortreflike manier om ons hemelse Vader na te volg. Ja, soos hy, moet ons liefdevol wees (1 Joh. 4:16-19). Trouens, die liefde wat ons onder mekaar het, identifiseer ons as Jesus se dissipels en Jehovah se knegte (Joh. 13:34, 35). Hoewel ons ingebore sondige toestand soms ’n struikelblok is, moet ons dit te bowe kom en te alle tye liefdevol wees. As ons liefde en ander goddelike eienskappe aankweek, sal dit verhoed dat ons liefdelose en sondige dinge doen.—2 Pet. 1:5-7.

15. Watter uitwerking het liefde op ons verhouding met ander?

15 Liefde beweeg ons om goeie dinge vir ander te wil doen (Rom. 13:8-10). Byvoorbeeld, liefde vir ons eggenoot sal die huweliksbed vry van verontreiniging hou. Liefde vir die ouer manne, tesame met respek vir hulle werk, sal ons help om gehoorsaam en onderdanig aan hulle leiding te wees. Kinders wat hulle ouers liefhet, gehoorsaam en eer hulle en sê nie negatiewe dinge oor hulle nie. As ons ons medemens liefhet, sal ons hulle nie as minderwaardig beskou of disrespekvol met hulle praat nie (Jak. 3:9). En ouer manne wat God se skape liefhet, sal hulle met teerheid behandel.—Hand. 20:28, 29.

16. Hoe sal dit ons in ons bediening help as ons liefde betoon?

16 Liefde moet ook in ons bediening opvallend wees. Weens ons innige liefde vir Jehovah sal ons nie toelaat dat die onverskilligheid of negatiewe reaksie van party huisbewoners ons ontmoedig nie. Ons sal eerder aanhou om die goeie nuus te verkondig. Liefde sal ons beweeg om goed voor te berei en om daarna te streef om doeltreffend in die bediening te wees. As ons God en ons naaste werklik liefhet, sal ons die Koninkrykspredikingswerk nie as ’n onaangename taak of ’n blote plig beskou nie. Ons sal dit eerder ’n groot voorreg ag en dit met vreugde doen.—Matt. 10:7.

HOU AAN OM JEHOVAH TE VERHEERLIK

17. Waarom vind ons daarby baat as ons erken dat ons te kort skiet aan God se heerlikheid?

17 Die wêreld in die algemeen is nie bewus van die erns van sonde nie, maar ons is. Dít laat ons besef hoe belangrik dit is om teen ons sondige neigings te stry. As ons ons sondige natuur erken, stel dit ons in staat om ons gewete op te lei sodat dit ons sal beweeg om reg op te tree wanneer ’n drang om te sondig, in ons verstand en hart ontstaan (Rom. 7:22, 23). Ons is weliswaar swak, maar God kan ons versterk om te doen wat reg is in enige situasie.—2 Kor. 12:10.

18, 19. (a) Wat stel ons in staat om met welslae teen bose geesmagte te stry? (b) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

18 As ons Jehovah wil verheerlik, moet ons ook teen bose geesmagte stry. Ons godgegewe geestelike wapenrusting stel ons in staat om dit met welslae te doen (Ef. 6:11-13). Satan probeer sonder ophou om Jehovah die heerlikheid te ontneem wat Hom alleen toekom. Die Duiwel hou ook aan om alles in sy vermoë te doen om ons verhouding met Jehovah te vernietig. Maar wat ’n swaar slag is dit tog vir Satan wanneer ons en miljoene ander onvolmaakte mans, vroue en kinders onkreukbaarheid handhaaf en God verheerlik! Laat ons dus voortgaan om Jehovah te loof, soos die hemelwesens wat uitroep: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.”—Op. 4:11.

19 Mag ons vasbeslote wees om aan te hou om Jehovah te verheerlik, kom wat wil. Hy is ongetwyfeld bly dat so baie lojale mense hulle uiterste bes doen om hom na te volg en sy heerlikheid te weerkaats (Spr. 27:11). Mag ons voel soos Dawid, wat gesing het: “Ek prys u, o Jehovah my God, met my hele hart, en ek sal u naam tot onbepaalde tyd verheerlik” (Ps. 86:12). Hoe smag ons tog na die dag wanneer ons die heerlikheid van Jehovah volmaak sal weerkaats en hom vir ewig kan loof! Gehoorsame mense sal hierdie vreugde smaak. Weerkaats jy die heerlikheid van Jehovah God nou, met die vooruitsig om dit tot in alle ewigheid te doen?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 27]

Weerkaats jy Jehovah se heerlikheid op hierdie maniere?