“Wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs”
“Wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs”
Jesus het sy dissipels gewaarsku: “Wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs, wat huigelary is” (Luk. 12:1). ’n Parallelle verslag van Jesus se woorde maak dit duidelik dat hy “die leer” van die Fariseërs veroordeel het.—Matt. 16:12.
Die Bybel gebruik soms “suurdeeg”, of gis, as ’n simbool van verdorwenheid. Die leringe sowel as die gesindheid van die Fariseërs het ongetwyfeld ’n verderflike invloed op hulle toehoorders gehad. Waarom was die Fariseërs se leer gevaarlik?
1 Die Fariseërs het daarop geroem dat hulle regverdig is, en hulle het op die gewone mense neergesien.
Hierdie eiegeregtigheid kom in een van Jesus se gelykenisse na vore. Hy het gesê: “Die Fariseër het gaan staan en hierdie dinge by homself begin bid: ‘O God, ek dank u dat ek nie soos die res van die mense is nie: afpersers, onregverdig, egbrekers, of selfs soos hierdie belastinggaarder. Ek vas twee keer per week, ek gee die tiende van alles wat ek verkry.’ Maar die belastinggaarder, wat op ’n afstand gestaan het, wou nie eens sy oë na die hemel opslaan nie, maar het op sy bors bly slaan en gesê: ‘O God, wees my, ’n sondaar, genadig.’”—Luk. 18:11-13.
Jesus het die belastinggaarder se nederige gesindheid geprys en gesê: “Ek sê vir julle: Hierdie man het na sy huis afgegaan, regverdiger as [die Fariseër]; want elkeen wat hom verhef, sal verneder word, maar hy wat hom verneder, sal verhef word” (Luk. 18:14). Hoewel belastinggaarders bekend was vir hulle oneerlikheid, het Jesus dié onder hulle wat na hom geluister het, probeer help. Ten minste twee belastinggaarders—Matteus en Saggeus—het sy volgelinge geword.
Sê nou ons dink dat ons beter is as ander weens ons godgegewe vermoëns of voorregte of weens die tekortkominge en swakhede van ander? Ons moet sulke gedagtes gou verwerp, want die Skrif sê: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig. Die liefde is nie jaloers nie, dit praat nie groot nie, raak nie opgeblase nie, gedra hom nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, raak nie ergerlik nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie. Dit is nie bly oor onregverdigheid nie, maar is bly saam met die waarheid.”—1 Kor. 13:4-6.
Ons moet ’n gesindheid soos dié van die apostel Paulus hê. Nadat Paulus gesê het dat “Christus Jesus in die wêreld ingekom het om sondaars te red”, het hy bygevoeg: “Van hulle is ek die vernaamste.”—1 Tim. 1:15.
Vrae vir bepeinsing:
Erken ek dat ek ’n sondaar is en dat my redding van Jehovah se onverdiende goedhartigheid afhang? Of dink ek dat baie jare van getroue diens, voorregte in God se organisasie of natuurlike vermoëns my beter as ander maak?
2 Die Fariseërs het ander probeer beïndruk deur hulle openbare vertoon van regverdigheid. Hulle het vernaamheid en vleiende titels begeer.
Maar Jesus het gewaarsku: “Al die werke wat hulle doen, doen hulle om deur die mense gesien te word; want hulle maak die geskriftedosies breër wat hulle as beskermmiddel dra, en hulle vergroot die fraiings van hulle klere. Hulle hou van die vernaamste plek by aandmaaltye en die voorste sitplekke in die sinagoges en die begroetinge op die markpleine en om deur die mense Rabbi genoem te word” (Matt. 23:5-7). Vergelyk hulle gesindheid met dié van Jesus. Hoewel hy die volmaakte Seun van God was, was hy nederig. Toe ’n sekere man hom “goed” genoem het, het Jesus gesê: “Waarom noem jy my goed? Niemand is goed nie, behalwe een, God” (Mark. 10:18). By ’n ander geleentheid het Jesus die voete van sy dissipels gewas en sodoende vir sy volgelinge ’n voorbeeld van nederigheid gestel.—Joh. 13:1-15.
’n Ware Christen moet medegelowiges dien (Gal. 5:13). Dit is veral die geval met diegene wat as opsieners in die gemeente wil kwalifiseer. Dit is gepas om ‘na ’n opsienersamp te streef’, maar hierdie doelwit moet voortspruit uit ’n begeerte om ander te help. Hierdie ‘amp’ is nie ’n posisie van vernaamheid of mag nie. Soos Jesus, moet diegene wat as opsieners dien, “nederig van hart” wees.—1 Tim. 3:1, 6; Matt. 11:29.
Vrae vir bepeinsing:
Is ek geneig om diegene in die gemeente te begunstig wat verantwoordelike posisies beklee, miskien in die hoop om vernaamheid of bykomende voorregte te verkry? Is ek geneig om my hoofsaaklik toe te spits op aspekte van God se diens wat oënskynlik erkenning en lof meebring? Probeer ek ander beïndruk?
3 Die Fariseërs se reëls en tradisies het die toepassing van die Wet vir die gewone mense baie moeilik gemaak.
Die Mosaïese Wet het die algemene raamwerk vir Israel se aanbidding van Jehovah voorsien. Fyn besonderhede is egter nie verskaf nie. Byvoorbeeld, die Wet het werk op die Sabbat verbied, maar dit het nie presies omskryf wat as werk bestempel word en wat nie (Eks. 20:10). Die Fariseërs wou hierdie sogenaamde leemtes in die Wet deur middel van hulle wette, definisies en tradisies vul. Hoewel Jesus die arbitrêre reëls van die Fariseërs geïgnoreer het, het hy wel die Mosaïese Wet onderhou (Matt. 5:17, 18; 23:23). Hy het verder gekyk as die letter van die Wet. Jesus het die gees van die Wet onderskei, asook die noodsaaklikheid van barmhartigheid en medelye. Hy was redelik, selfs toe sy volgelinge hom in die steek gelaat het. Byvoorbeeld, hoewel hy die aand van sy inhegtenisname drie van sy apostels aangespoor het om wakker te bly en aan te hou waak, het hulle herhaaldelik aan die slaap geraak. Nietemin het hy simpatiek gesê: “Die gees is natuurlik gretig, maar die vlees is swak.”—Mark. 14:34-42.
Vrae vir bepeinsing:
Probeer ek om arbitrêre, onbuigsame reëls neer te lê of om my persoonlike opinies in wette te verander? Is ek redelik in wat ek van ander verwag?
Dink aan die verskil tussen Jesus se leringe en dié van die Fariseërs. Sien jy maniere waarop jy kan verbeter? Indien wel, neem jou gerus voor om dit te doen.
[Prent op bladsy 28]
Die Fariseërs het geskriftedosies gedra.—Matt. 23:2, 5
[Prente op bladsy 29]
In teenstelling met die hoogmoedige Fariseërs dien nederige Christen- ouer manne ander
[Prent op bladsy 30]
Is jy, soos Jesus, redelik in wat jy van ander verwag?