Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dien die God van vryheid

Dien die God van vryheid

Dien die God van vryheid

“Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie.”—1 JOH. 5:3.

KAN JY ANTWOORD?

Hoe probeer Satan die indruk skep dat God se wette swaar is?

Waarom moet ons baie versigtig wees in ons keuse van vriende?

Wat sal ons help om lojaal te bly teenoor die God van vryheid?

1. Hoe beskou Jehovah vryheid, en hoe het hy dit in sy handelinge met Adam en Eva getoon?

JEHOVAH is die enigste Persoon met absolute vryheid. Tog misbruik hy dit nooit; ook monopoliseer hy nie vryheid deur elke aspek van sy knegte se lewe te reguleer nie. Hy het hulle eerder wilsvryheid gegee, wat hulle in staat stel om inisiatief aan die dag te lê en al hulle gepaste begeertes te bevredig. God het Adam en Eva byvoorbeeld slegs een beperkende opdrag gegee—hulle is verbied om van “die boom van die kennis van goed en kwaad” te eet (Gen. 2:17). Wat ’n verstommende mate van vryheid het hulle tog geniet in die uitvoering van hulle Skepper se wil!

2. Waarom het ons eerste ouers hulle godgegewe vryheid verloor?

2 Waarom het God ons eerste ouers soveel vryheid gegee? Hy het hulle na sy beeld geskep en vir hulle ’n gewete gegee, en hy het tereg verwag dat hulle liefde vir hom as hulle Skepper hulle op die regte weg sou lei (Gen. 1:27; Rom. 2:15). Ongelukkig het Adam en Eva nie hulle wonderlike Lewegewer en die vryheid wat hy hulle gegee het, waardeer nie. Hulle het eerder die ongeoorloofde vryheid gekies wat Satan aangebied het, naamlik sedelike onafhanklikheid. Maar pleks van meer vryheid te verkry, het ons eerste ouers hulle en hulle toekomstige nakomelinge in slawerny aan die sonde verkoop, met rampspoedige gevolge.—Rom. 5:12.

3, 4. Hoe probeer Satan ons bedrieg met betrekking tot Jehovah se standaarde?

3 As Satan twee volmaakte mense—asook ’n aantal geesskepsele—kon oorhaal om God se soewereiniteit te verwerp, kan hy ons ook bedrieg. Sy strategie is nog baie dieselfde. Hy probeer ons mislei om te dink dat God se standaarde swaar is en ons van pret en opwinding beroof (1 Joh. 5:3). Hierdie denke kan groot druk uitoefen as ons herhaaldelik daaraan blootgestel word. “Slegte omgang het ’n groot invloed op my gehad, veral omdat ek bang was om ’n ander opinie as my portuurs te hê”, het ’n 24-jarige suster gesê wat haar aan geslagsonsedelikheid skuldig gemaak het. Dalk het jy al soortgelyke portuurdruk ondervind.

4 Ongelukkig kan negatiewe portuurdruk ook soms van binne die Christengemeente kom. “Ek het ’n paar jongmense geken wat met ongelowiges uitgegaan het”, het ’n jong Getuie gesê. “Maar uiteindelik het dit my getref: Hoe meer tyd ek saam met hulle deurgebring het, hoe meer het ek soos hulle geword. My geestelikheid het daaronder begin ly. Ek het nie die geestelike voedsel by die vergaderinge geniet nie, en ek het skaars velddiens gedoen. Dit was vir my ’n teken dat ek moet ophou om met hulle te assosieer, en dit is presies wat ek gedoen het!” Is jy bewus van die invloed wat jou vriende op jou kan hê? Beskou ’n tydige Bybelvoorbeeld.—Rom. 15:4.

HY HET HULLE HARTE GESTEEL

5, 6. Hoe het Absalom ander mislei, en het sy plan geslaag?

5 Die Bybel bevat baie voorbeelde van mense wat ’n slegte invloed op ander gehad het. Een voorbeeld hiervan is Absalom, ’n seun van koning Dawid. Absalom was ’n buitengewoon aantreklike man. Maar hy het mettertyd, soos Satan, toegelaat dat hebsugtige ambisie sy hart vul, want hy het sy vader se troon begin begeer, waarop hy nie geregtig was nie. * In ’n slinkse poging om die koningskap wederregtelik oor te neem, het Absalom diepe besorgdheid oor sy mede-Israeliete geveins terwyl hy listig geïnsinueer het dat die koning se hof nie oor hulle besorg is nie. Ja, net soos die Duiwel in die tuin van Eden, het Absalom voorgegee dat hy ’n weldoener is terwyl hy terselfdertyd sy eie vader wreed beswadder het.—2 Sam. 15:1-5.

6 Het Absalom se slinkse plan geslaag? In sekere mate, ja, want die Bybelverslag sê: “Absalom het die hart van die manne van Israel bly steel” (2 Sam. 15:6). Maar op die ou end het Absalom se verwaandheid tot sy ondergang gelei. En dit het, tragies genoeg, ook gelei tot sy dood sowel as die dood van die duisende wat deur hom mislei is.—2 Sam. 18:7, 14-17.

7. Watter lesse kan ons uit die verslag oor Absalom leer? (Sien die prent op bladsy 14.)

7 Waarom is daardie Israeliete so maklik bedrieg? Dalk het hulle die dinge begeer wat Absalom hulle belowe het. Of miskien is hulle deur sy fisiese voorkoms beïnvloed. Hoe dit ook al sy, ons kan hiervan seker wees: Hulle was nie lojaal teenoor Jehovah en sy aangestelde koning nie. Vandag gebruik Satan nog steeds “Absaloms” in sy poging om die harte van Jehovah se knegte te steel. ‘Jehovah se standaarde is te beperkend’, sê hulle dalk. ‘En kyk na al die mense wat Jehovah nie dien nie. Hulle het soveel meer pret!’ Sal jy insien dat dit veragtelike leuens is en lojaal teenoor God bly? Sal jy besef dat slegs Jehovah se “volmaakte wet”, die wet van die Christus, jou na ware vryheid kan lei? (Jak. 1:25). Indien wel, koester hierdie wet, en moet nooit in die versoeking kom om jou Christelike vryheid te misbruik nie.—Lees 1 Petrus 2:16.

8. Watter ondervindinge lig toe dat dit nie geluk meebring as Jehovah se standaarde verontagsaam word nie?

8 Veral jongmense is ’n teiken vir Satan. ’n Broer wat nou in sy 30’s is, het oor sy tienerjare gesê: “Ek het Jehovah se sedelike standaarde as ’n beperking beskou, nie as ’n beskerming nie.” Gevolglik het hy hom aan geslagsonsedelikheid skuldig gemaak. Maar dit het hom glad nie gelukkig gemaak nie. “Sterk skuldgevoelens en diepe spyt het my jare lank geteister”, het hy gesê. ’n Suster wat aan haar tienerjare teruggedink het, het geskryf: “Nadat jy jou aan onsedelikheid skuldig gemaak het, voel jy koud en leeg. Selfs nou, ná 19 jaar, kom slegte herinneringe by my op.” ’n Ander suster het gesê: “Die gedagte dat my gedrag die mense wat ek so liefhet, verpletter het, het verstandelik, geestelik en emosioneel ’n verwoestende uitwerking op my gehad. Dit is vreeslik om sonder Jehovah se guns te lewe.” Satan wil nie hê dat jy aan hierdie gevolge van sonde moet dink nie.

9. (a) Watter vrae kan ons help om ons beskouing van Jehovah en sy wette en beginsels te ontleed? (b) Waarom is dit belangrik om God goed te ken?

9 Hoe tragies is dit tog dat baie jongmense in die waarheid—en selfs ’n aantal ouer mense—deur bittere ervaring moes leer dat ’n mens dikwels duur betaal vir sondige genietinge! (Gal. 6:7, 8). Vra jou dus af: ‘Kan ek Satan se planne sien vir wat dit werklik is—’n wrede bedrogspul? Beskou ek Jehovah as my hegste Vriend, die een wat altyd die waarheid praat en die beste vir my wil hê? Is ek ten volle daarvan oortuig dat hy nooit iets van my sal weerhou wat werklik goed is en wat vir my groot geluk sal meebring nie?’ (Lees Jesaja 48:17, 18.) Om uit die hart ja te kan antwoord, moet jy meer as net oppervlakkige kennis van Jehovah hê. Jy moet hom intiem ken en besef dat die wette en beginsels in die Bybel sy liefde vir jou weerspieël, nie ’n begeerte om jou in te perk nie.—Ps. 25:14.

BID VIR ’N WYSE EN GEHOORSAME HART

10. Waarom moet ons daarna streef om die jong koning Salomo na te volg?

10 Toe Salomo nog ’n jong man was, het hy nederig in gebed gesê: “Ek is nog maar ’n seuntjie. Ek weet nie hoe om uit te gaan en hoe om in te kom nie.” Hy het toe vir ’n wyse en gehoorsame hart gebid (1 Kon. 3:7-9, 12). Jehovah het hierdie opregte versoek toegestaan, en hy sal dit ook in jou geval doen, hetsy jy jonk of oud is. Jehovah sal jou natuurlik nie wonderdadige insig en wysheid gee nie. Maar hy sal jou wys maak as jy sy Woord ywerig bestudeer, vir heilige gees bid en die geestelike voorsienings wat deur middel van die Christengemeente beskikbaar gestel word, ten volle benut (Jak. 1:5). Ja, so maak Jehovah selfs sy jong knegte wyser as almal wat sy raad ignoreer, selfs die sogenaamde “wyse en intellektuele mense” van hierdie wêreld.—Luk. 10:21; lees Psalm 119:98-100.

11-13. (a) Watter waardevolle lesse kan ons uit Psalm 26:4, Spreuke 13:20 en 1 Korintiërs 15:33 leer? (b) Hoe sal jy hierdie skriftuurlike beginsels toepas?

11 Om toe te lig hoe waardevol dit is om die Bybel te bestudeer en te peins oor wat ons lees ten einde Jehovah intiem te leer ken, gaan ons na die volgende tekste kyk. Elkeen bevat ’n belangrike beginsel in verband met ons keuse van vriende: “Ek het nie by mense van onwaarheid gesit nie; en by dié wat verberg wat hulle is, gaan ek nie in nie” (Ps. 26:4). “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan” (Spr. 13:20). “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.”—1 Kor. 15:33.

12 Watter waardevolle lesse kan ons uit hierdie tekste leer? (1) Jehovah wil hê dat ons selektief moet wees in ons keuse van vriende. Hy wil ons sedelik en geestelik beskerm. (2) Die mense met wie ons assosieer, het óf ’n goeie óf ’n slegte invloed op ons; dit is eenvoudig ’n lewensfeit. Die bewoording van die verse hierbo toon dat Jehovah tot ons hart spreek. Hoe so? Let op dat nie een van die verse as ’n reël gestel word nie, byvoorbeeld “jy mag nie . . . ” Dit is eerder as onomwonde verklarings van waarheid opgeteken. Jehovah sê as ’t ware vir ons: ‘Hier is die feite. Hoe sal jy reageer? Wat is in jou hart?’

13 Laastens, omdat die drie verse as grondwaarhede gestel word, is dit tydloos en het dit ’n baie breë toepassing. Ter toeligting kan jy jou vrae afvra soos: Hoe kan ek assosiasie vermy met mense “wat verberg wat hulle is”? Onder watter omstandighede kom ek dalk in aanraking met sulke mense? (Spr. 3:32; 6:12). Wie is die “wyses” met wie Jehovah wil hê ek moet assosieer? Wie is die “sotte” wat hy wil hê ek moet vermy? (Ps. 111:10; 112:1; Spr. 1:7). Watter “nuttige gewoontes” sal ek bederf deur slegte vriende te kies? Sal ek slegte vriende net in die wêreld teëkom? (2 Pet. 2:1-3). Hoe sal jy hierdie vrae beantwoord?

14. Hoe kan julle julle aand vir Gesinsaanbidding verryk?

14 Noudat jy oor hierdie Bybeltekste geredeneer het, kan jy gerus ander tekste ondersoek wat God se denke openbaar oor sake wat jou of jou gesin raak. * Ouers, oorweeg dit om hierdie onderwerpe gedurende julle aand vir Gesinsaanbidding te bespreek. Terwyl julle dit doen, hou in gedagte dat dit julle oogmerk is om elke gesinslid te help om groter waardering op te bou vir God se innige liefde vir ons soos dit in sy wette en beginsels geopenbaar word (Ps. 119:72). Ja, so ’n studie behoort almal in die gesin nader aan Jehovah en nader aan mekaar te laat kom.

15. Hoe kan jy vasstel of jy ’n wyse en gehoorsame hart ontwikkel?

15 Hoe kan jy vasstel of jy ’n wyse en gehoorsame hart ontwikkel? Een manier is om jou denke te vergelyk met dié van getroue manne van ouds, soos koning Dawid, wat geskryf het: “Ek het daarin behae geskep, o my God, om u wil te doen, en u wet is in my ingewande” (Ps. 40:8). Die skrywer van Psalm 119 het eweneens gesê: “Hoe lief het ek u wet tog! Die hele dag oordink ek dit” (Ps. 119:97). Hierdie liefde groei nie in vlak grond nie. Dit is eerder die gevolg van diep studie, gebed, bepeinsing en ondervinding—om die tallose seëninge in jou eie lewe te sien wat uit die nakoming van God se standaarde spruit.—Ps. 34:8.

STRY VIR JOU CHRISTELIKE VRYHEID!

16. Wat moet ons besef as ons wil seëvier in ons stryd om ware vryheid?

16 Deur die geskiedenis heen het nasies wrede oorloë in die naam van vryheid gevoer. Hoeveel te meer moet jy dan bereid wees om ’n geestelike stryd om jou Christelike vryheid te voer! Jy moet besef dat jou vyande nie net Satan, die wêreld en die giftige gees daarvan is nie. Jy moet ook teen jou eie onvolmaakthede, insluitende ’n verraderlike hart, stry (Jer. 17:9; Ef. 2:3). Maar met Jehovah se hulp kan jy seëvier. Wat meer is, elke oorwinning—hetsy groot of klein—sal ten minste twee positiewe gevolge hê. Eerstens, jy sal Jehovah se hart bly maak (Spr. 27:11). Tweedens, wanneer jy die bevrydende krag ervaar van God se “volmaakte wet wat tot vryheid behoort”, sal jy selfs meer vasbeslote word om op die ‘smal pad’ na die ewige lewe te bly. Later sal jy die groter vryheid geniet wat vir Jehovah se lojales voorlê.—Jak. 1:25; Matt. 7:13, 14.

17. Waarom moet ons nie mismoedig word oor ons onvolmaakthede nie, en watter hulp voorsien Jehovah?

17 Ons almal maak natuurlik soms foute (Pred. 7:20). Wanneer dit gebeur, moet jy nie waardeloos of uitermate mismoedig voel nie. As jy struikel, moet jy opstaan en voortgaan—al beteken dit dat jy die plaaslike ouer manne om hulp moet vra. Hulle “gebed van geloof”, het Jakobus geskryf, “sal die een wat ongesteld is, gesond maak, en Jehovah sal hom oprig. Ook as hy sondes gepleeg het, sal dit hom vergewe word” (Jak. 5:15). Ja, moet nooit vergeet dat God werklik barmhartig is en dat hy jou getrek het om in die gemeente te wees omdat hy jou potensiaal gesien het nie. (Lees Psalm 103:8, 9.) Solank jy ’n volkome hart teenoor Jehovah behou, sal hy dus nooit hoop opgee met jou nie.—1 Kron. 28:9.

18. Hoe kan ons in ooreenstemming met Jesus se gebed in Johannes 17:15 optree?

18 In sy gebed op sy laaste aand saam met sy 11 getroue apostels het Jesus hierdie onvergeetlike woorde ten behoewe van hulle gesê: ‘Waak oor hulle weens die bose’ (Joh. 17:15). Jesus was nie net oor sy apostels besorg nie, maar oor al sy volgelinge. Ons kan dus seker wees dat Jehovah Jesus se gebed sal verhoor deur in hierdie kritieke tye oor ons te waak. “Vir dié wat in onkreukbaarheid wandel, is [Jehovah] ’n skild . . . Hy sal die weg van sy lojales bewaak” (Spr. 2:7, 8). Ja, die weg van onkreukbaarheid het sy uitdagings, maar dit is die enigste weg na die ewige lewe en ware vryheid (Rom. 8:21). Laat niemand jou daarvan weglok nie!

[Voetnote]

^ par. 5 God se belofte aan Dawid dat ’n toekomstige “saad” die troon sou beërf, is Absalom se geboorte gegee. Absalom moes dus geweet het dat Jehovah hom nie as Dawid se opvolger gekies het nie.—2 Sam. 3:3; 7:12.

^ par. 14 Goeie voorbeelde is 1 Korintiërs 13:4-8, waar Paulus liefde beskryf, en Psalm 19:7-11, waar baie van die seëninge uiteengesit word wat uit gehoorsaamheid aan Jehovah se wette spruit.

[Studievrae]

[Prente op bladsy 14]

Hoe kan ons hedendaagse Absaloms identifiseer en ons teen hulle beskerm?