Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Een Jehovah” bring sy gesin byeen

“Een Jehovah” bring sy gesin byeen

“Een Jehovah” bring sy gesin byeen

‘Ek versoek julle dringend om die eenheid van die gees te bewaar.’—EF. 4:1, 3.

HOE SAL JY VERDUIDELIK?

Wat is die doel van God se administrasie?

Hoe ‘bewaar ons die eenheid van die gees’?

Wat sal ons help om ‘goedhartig te word teenoor mekaar’?

1, 2. Wat is Jehovah se voorneme met die aarde en met die mensdom?

GESIN. Waaraan laat hierdie woord jou dink? Hartlikheid? Geluk? Samewerking om ’n gemeenskaplike doelwit te bereik? ’n Veilige hawe waarin persone kan groei, leer en gedagtes uitruil? Dit is heel moontlik die geval as jy ’n lid van ’n liefdevolle gesin is. Jehovah is die Insteller van die gesinsreëling (Ef. 3:14, 15). Dit was sy voorneme dat al sy skepsele in die hemel en op die aarde ’n gevoel van veiligheid, wedersydse vertroue en ware eenheid geniet.

2 Nadat hulle gesondig het, was mense nie meer deel van God se universele gesin nie; tog is Jehovah se voorneme nie gedwarsboom nie. Hy sal seker maak dat die Paradysaarde gevul word met die nakomelinge van Adam en Eva (Gen. 1:28; Jes. 45:18). Hy het al die voorbereidings getref om hierdie voorneme te verwesenlik. ’n Aantal van hierdie reëlings word onder ons aandag gebring in die Bybelboek Efesiërs, waarvan eenheid die tema is. Kom ons bespreek ’n paar verse uit hierdie boek en sien hoe ons met Jehovah se voorneme om sy skepping te verenig, kan saamwerk.

DIE ADMINISTRASIE EN DIE WERK DAARVAN

3. Wat is God se administrasie waarvan Efesiërs 1:10 praat, en wanneer het die eerste fase daarvan in werking getree?

3 Moses het vir die Israeliete gesê: “Jehovah ons God is een Jehovah” (Deut. 6:4). Jehovah se dade en voorneme stem ooreen. God het dus “aan die voleinding van die vasgestelde tye ’n administrasie” in werking gestel—dit wil sê ’n reëling om al sy intelligente skepsele te verenig. (Lees Efesiërs 1:8-10.) Hierdie administrasie sal sy doelwit in twee fases bereik. Die eerste fase berei die gemeente van gesalfdes voor vir hemelse lewe onder Jesus Christus as hulle geestelike Hoof. Hierdie fase het op Pinkster 33 HJ begin toe Jehovah diegene wat saam met Christus in die hemel sou regeer, begin byeenbring het (Hand. 2:1-4). Aangesien die gesalfdes op grond van Christus se losprysoffer regverdig verklaar is vir die lewe, erken hulle geredelik dat hulle as “God se kinders” aangeneem is.—Rom. 3:23, 24; 5:1; 8:15-17.

4, 5. Wat is die tweede fase van die administrasie?

4 Die tweede fase berei diegene voor wat in die Paradys op aarde onder Christus se Messiaanse Koninkryk sal lewe. Die “groot menigte” maak die eerste deel van hierdie groep uit (Op. 7:9, 13-17; 21:1-5). Gedurende die Duisendjarige Heerskappy sal miljarde verresenes by hulle aansluit (Op. 20:12, 13). Dink net hoe die opstanding verdere bewys van ons eenheid sal lewer! Aan die einde van die duisend jaar sal die “dinge op die aarde” aan ’n finale toets onderwerp word. Dié wat getrou bly, sal as aardse “kinders van God” aangeneem word.—Rom. 8:21; Op. 20:7, 8.

5 Albei fases van God se administrasie is vandag aan die gang—ten opsigte van die hemel en die aarde. Maar hoe werk ons nou as individue saam met God se administrasie?

‘BEWAAR DIE EENHEID VAN DIE GEES’

6. Hoe toon die Skrif dat Christene met mekaar moet assosieer?

6 Die Skrif toon dat Christene bymekaar moet kom (1 Kor. 14:23; Heb. 10:24, 25). Dit beteken baie meer as om net tyd saam deur te bring op dieselfde plek, soos mense wat na ’n mark of ’n sportstadion gaan. Ware eenheid behels meer as dit. Ons verkry hierdie eenheid wanneer ons Jehovah se riglyne toepas en ons deur God se heilige gees laat vorm.

7. Wat beteken dit om ‘die eenheid van die gees te bewaar’?

7 Hoewel Jehovah op grond van Christus se losprysoffer sy gesalfdes regverdig verklaar het as seuns en die ander skape regverdig verklaar het as vriende, sal persoonlike verskille ontstaan solank ons in hierdie stelsel van dinge op die aarde lewe (Rom. 5:9; Jak. 2:23). Andersins sou die geïnspireerde raad om aan te hou om ‘mekaar te verdra’, onnodig gewees het. Hoe word eenheid met medegelowiges bereik? Ons moet “algehele ootmoed en sagmoedigheid” aankweek. Daarbenewens spoor Paulus ons aan om ons ywerig in te span “om die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede te bewaar”. (Lees Efesiërs 4:1-3.) Om hierdie raad toe te pas, moet ons ons aan die invloed van God se gees onderwerp en toelaat dat dit die vrug daarvan in ons voortbring. Hierdie vrug ruim onenigheid tussen individue uit die weg, in teenstelling met die werke van die vlees, wat altyd verdelend is.

8. In watter sin veroorsaak die werke van die vlees verdeeldheid?

8 Let op hoe “die werke van die vlees” verdeeldheid veroorsaak. (Lees Galasiërs 5:19-21.) Hoerery skei die een wat dit beoefen van Jehovah en die gemeente, en egbreuk kan op wrede wyse kinders van ouers en onskuldige maats van hulle huweliksmaat skei. Onreinheid ondermyn ’n persoon se eenheid met God en met diegene wat hom liefhet. Iemand wat al probeer het om twee dinge aan mekaar vas te plak, weet dat albei oppervlakke skoon moet wees vir die gom om behoorlik te werk. Skaamtelose gedrag toon algehele minagting vir God se regverdige wette. Elkeen van die ander werke van die vlees skei mense van mekaar en van God. Sulke gedrag is heeltemal teenstrydig met Jehovah se persoonlikheid.

9. Watter vrae kan ons ons afvra om vas te stel of ons ‘ywerig daarna streef om die eenheid van die gees te bewaar’?

9 Elkeen van ons moet ons dus afvra: ‘Hoe hard probeer ek werklik “om die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede te bewaar”? Hoe reageer ek wanneer probleme ontstaan? Lug ek my griewe vir almal om te hoor, in die hoop dat ek ondersteuning van etlike vriende sal kry? Verwag ek dat die ouer manne vir my tussenbeide moet tree in plaas van self ’n daadwerklike poging aan te wend om ’n vreedsame verhouding te herstel? Vermy ek ander sodat ek hulle nie herinner aan wat hulle teen my het nie, dalk deur wye draaie om hulle te loop?’ Sal sulke gedrag toon dat ons optree in ooreenstemming met Jehovah se voorneme om alles weer in die Christus byeen te bring?

10, 11. (a) Hoe belangrik is dit om in vrede met ons broers te verkeer? (b) Watter dade sal vrede en geestelike voorspoed meebring?

10 Jesus het gesê: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar voor die altaar en gaan weg; maak eers vrede met jou broer en offer dan, wanneer jy teruggekom het, jou gawe. Wees gou om sake te skik” (Matt. 5:23-25). Jakobus het geskryf: “Die vrug van regverdigheid word onder vreedsame toestande gesaai vir diegene wat vrede maak” (Jak. 3:17, 18). Ons kan dus nie regverdige gedrag handhaaf in die afwesigheid van vrede nie.

11 Ter toeligting: In party oorloggeteisterde lande sou die inwoners na raming 35 persent meer grond kon bewerk het as hulle hulle nie oor die teenwoordigheid van landmyne hoef te bekommer nie. Wanneer ’n landmyn ontplof, verlaat boere hulle landerye, verloor dorpies hulle bron van inkomste en is daar nie voedsel vir stede nie. Net so word ons geestelike groei belemmer as ons eienskappe het wat die vrede met ons broers kan versteur. Maar as ons gou is om te vergewe en ten behoewe van ander werk, skep dit toestande wat tot ware voorspoed lei.

12. Hoe kan ouer manne ons help om verenig te wees?

12 Daarbenewens kan “gawes in die vorm van mense” eenheid grootliks bevorder. Hulle is gegee om ons te help om ‘tot die eenheid in die geloof te kom’ (Ef. 4:8, 13). Wanneer ouer manne saam met ons werk om heilige diens te verrig en skerpsinnige waarnemings bied wat op God se Woord gegrond is, help hulle ons om ons in groter mate met die nuwe persoonlikheid te beklee (Ef. 4:22-24). Sien jy in hulle raad Jehovah se pogings om jou voor te berei vir die lewe in die nuwe wêreld onder die heerskappy van sy Seun? Ouer manne, probeer julle ander reghelp met hierdie doel voor oë?—Gal. 6:1.

“WORD GOEDHARTIG TEENOOR MEKAAR”

13. Wat sal die gevolg wees as ons die raad in Efesiërs 4:25-32 verontagsaam?

13 Efesiërs 4:25-29 identifiseer gedrag wat ons spesifiek moet vermy. Dit sluit in om onwaarhede te uiter, om toornig of lui te wees en om slegte woorde te spreek in plaas van woorde wat goed en opbouend is. As iemand hierdie raad verontagsaam, sal hy God se gees bedroef, want die heilige gees is ’n krag wat eenheid bevorder (Ef. 4:30). Die toepassing van wat Paulus vervolgens geskryf het, is ook noodsaaklik vir vrede en eenheid: “Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word, saam met alle slegtheid. Maar word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het.”—Ef. 4:31, 32.

14. (a) Wat gee die woorde “word goedhartig” te kenne? (b) Wat sal ons help om goedhartig te wees?

14 Die woorde “word goedhartig” gee te kenne dat ons moontlik nie altyd goedhartig is nie en dat ons moet verbeter. Hoe gepas is dit tog dat ons leer om die gevoelens van ander bo ons eie te stel! (Fil. 2:4). Miskien sal iets wat ons wil sê, mense laat lag of ons intelligent laat lyk, maar sal dit goedhartig wees? As ons dit in gedagte hou voordat ons iets sê, sal dit ons help om ‘goedhartig te word’.

KWEEK LIEFDE EN RESPEK IN DIE GESIN AAN

15. Op watter faset van Christus se handelinge met die gemeente het Paulus in Efesiërs 5:28 gesinspeel?

15 Die Bybel vergelyk Christus se verhouding met die gemeente met dié van ’n man met sy vrou. Dit moet ons onmiddellik laat dink aan die leiding wat ’n man moet gee en die liefde en sorg wat hy aan die dag moet lê—sowel as die onderdanigheid wat die vrou moet openbaar—in die huwelik (Ef. 5:22-33). Waarom het Paulus geskryf: “Só behoort mans hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam”? (Ef. 5:28). Sy vroeëre woorde het die aandag gevestig op die manier waarop “Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het, . . . deur dit met die waterbad deur middel van die woord te reinig”. Ja, om op te tree in ooreenstemming met Jehovah se voorneme om alles weer in die Christus byeen te bring, moet ’n man seker maak dat hy sy gesin geestelik voed.

16. Wat het dit tot gevolg wanneer ouers hulle skriftuurlike verantwoordelikhede in die huis nakom?

16 Ouers moet onthou dat hulle ’n toewysing van Jehovah uitvoer. Ongelukkig is baie in vandag se wêreld “sonder natuurlike geneentheid” (2 Tim. 3:1, 3). Baie vaders kom nie hulle verantwoordelikhede na nie—tot die onsteltenis en nadeel van hulle kinders. Maar Paulus het Christenvaders gemaan: “Moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Ef. 6:4). Waar anders as in die gesin vorm kinders hulle eerste indrukke van liefde en gesag? Ouers wat hierdie lesse met welslae aan hulle kinders geleer het, het in ooreenstemming met Jehovah se administrasie opgetree. Deur ons huis ’n hawe van liefde te maak, waar ons alle toorn en gramskap en smadende taal aflê, leer ons ons kinders noodsaaklike lesse oor hoe om liefde te betoon en gesag te respekteer. Dit sal hulle voorberei vir die lewe in God se nuwe wêreld.

17. Wat is nodig as ons die Duiwel wil weerstaan?

17 Ons moet besef dat die Duiwel, die een wat die universele vrede oorspronklik versteur het, ons pogings om God se wil te doen, hewig sal teëstaan. Satan se oogmerke word ongetwyfeld bevorder namate die egskeidingsyfer die hoogte inskiet, mense saambly eerder as trou en huwelike tussen homoseksuele geduld word. Ons vorm nie ons gedrag of gesindhede na die tendense in die hedendaagse samelewing nie. Christus is ons voorbeeld (Ef. 4:17-21). Ons word dus vermaan om ‘die volle wapenrusting van God aan te trek’ sodat ons die Duiwel en sy demone met welslae kan weerstaan.—Lees Efesiërs 6:10-13.

“GAAN VOORT OM IN LIEFDE TE WANDEL”

18. Wat is die sleutel tot ons Christelike eenheid?

18 Die ware sleutel tot ons Christelike eenheid is liefde. Met harte vol liefde vir ons “een Here”, vir ons “een God” en vir mekaar is ons vasbeslote “om die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede te bewaar” (Ef. 4:3-6). Jesus het oor hierdie liefde gebid: “Ek doen nie net aangaande hulle versoek nie, maar ook aangaande dié wat deur hulle woord geloof in my stel; sodat hulle almal een kan wees, net soos u, Vader, in eenheid met my en ek in eenheid met u is, dat hulle ook in eenheid met ons kan wees . . . En ek het u naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee u my liefgehad het, in hulle kan wees en ek in eenheid met hulle.”—Joh. 17:20, 21, 26.

19. Wat is jy vasbeslote om te doen?

19 As ons innerlike konflik weens ons onvolmaaktheid ervaar, mag liefde ons dan beweeg om soos die psalmis te bid: “Verenig my hart om u naam te vrees” (Ps. 86:11). Laat ons vasbeslote wees om die Duiwel se pogings te weerstaan om ons te skei van ons liefdevolle Vader en diegene wat hy goedkeur. Werk hard om “navolgers van God, as geliefde kinders,” te word en “gaan voort om in liefde te wandel”—in die gesin, in die bediening en in die gemeente.—Ef. 5:1, 2.

[Studievrae]

[Prent op bladsy 29]

Hy laat staan sy gawe by die altaar en gaan maak vrede met sy broer

[Prent op bladsy 31]

Ouers, leer julle kinders om respek te toon