Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle het hulle gewillig aangebied—in Ecuador

Hulle het hulle gewillig aangebied—in Ecuador

Hulle het hulle gewillig aangebied—In Ecuador

’N JONG broer in Italië was onder druk. Hy het kort tevore sy hoërskoolloopbaan voltooi en die hoogste punte in sy klas behaal, en nou het familielede en onderwysers hom aangespoor om hoër onderwys na te jaag. Maar ’n paar jaar vroeër het Bruno hom aan Jehovah toegewy en belowe om God se wil eerste te stel in sy lewe. Watter keuse het hy gemaak? Hy verduidelik: “Ek het in gebed vir Jehovah gesê dat ek my toewyding aan hom sal uitleef en hom eerste sal stel. Maar ek het ook in my gebed eerlik erken dat ek nie ’n saai lewe wil lei nie, maar een wat met ’n verskeidenheid aktiwiteite in sy diens gevul is.”

Bruno het hom ’n paar jaar later in Ecuador, Suid-Amerika, bevind. Hy sê: “Jehovah het my gebed verhoor op ’n manier wat my verwagtinge ver oortref het.” Toe hy in Ecuador aankom, het hy tot sy verbasing baie ander jong volwassenes ontmoet wat ook daarheen getrek het om meer in Jehovah se diens te doen.

JONGMENSE WAT ‘JEHOVAH OP DIE PROEF STEL’

Soos duisende ander jongmense regoor die wêreld, het Bruno Jehovah se uitnodiging aanvaar: “Stel my asseblief . . . op die proef . . . of ek nie vir julle die sluise van die hemel sal oopmaak en op julle ’n seën sal uitstort . . . nie” (Mal. 3:10). Liefde vir God het hulle laat besluit om ‘Jehovah op die proef te stel’ deur gewillig hulle tyd, energie en middele aan te bied om sy belange te ondersteun in ’n land waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is.

Kort ná hulle aankoms in hulle nuwe toewysing sien hierdie gewillige werkers met hulle eie oë dat ‘die oes groot is, maar dat die werkers min is’ (Matt. 9:37). Byvoorbeeld, Jaqueline van Duitsland het geesdriftig aan die takkantoor in Ecuador geskryf: “Ek dien nou net oor die twee jaar in Ecuador en ek het reeds 13 Bybelstudies, van wie 4 die vergaderinge gereeld bywoon. Is dit nie fantasties nie?” Chantal van Kanada vertel: “In 2008 het ek na ’n gebied aan die kus van Ecuador getrek waar daar net een gemeente was. Nou is daar drie gemeentes en meer as 30 pioniers in daardie gebied. Daar is niks wonderliker as om te sien dat soveel nuwelinge vordering maak nie!” Sy voeg by: “Ek het onlangs na ’n stad getrek wat 2 743 meter hoog in die Andesgebergte is. Die stad het meer as 75 000 inwoners, maar net een gemeente. Dit is ’n baie produktiewe gebied! Ek geniet my bediening terdeë.”

DIE UITDAGINGS WAT DIT BIED

Om in ’n ander land te dien, bied natuurlik groot uitdagings. Trouens, sommige jongmense het struikelblokke teëgekom nog voordat hulle getrek het. Kayla van die Verenigde State sê: “Die negatiewe reaksie van sommige welmenende broers by die huis was ontmoedigend. Hulle het nie verstaan waarom ek na ’n ander land wou trek om te gaan pionier nie. Soms het dit my laat wonder: ‘Neem ek die regte besluit?’” Kayla het nogtans besluit om te trek. Sy verduidelik: “Baie gebede tot Jehovah en lang gesprekke met ryp broers en susters het my gehelp om te sien dat Jehovah ’n gewillige gees seën.”

Vir baie is dit ’n struikelblok om ’n nuwe taal te leer. Siobhan van Ierland vertel: “Dit was vir my moeilik dat ek my nie kon uitdruk nie. Ek moes leer om geduldig te wees, die taal pligsgetrou bestudeer en vir myself lag wanneer ek foute gemaak het.” Anna van Estland voeg by: “Dit was baie makliker om aan die tropiese hitte, al die stof en ’n gebrek aan warm stortbaddens gewoond te raak as om Spaans te leer. Ek wou soms tou opgooi. Ek moes leer om op my vordering te konsentreer, nie op my foute nie.”

Moet ook nie vergeet wat ’n uitdaging heimwee kan wees nie. Jonathan van die Verenigde State erken: “Kort nadat ek hier aangekom het, het ek mismoedig geraak omdat ek ver van my vriende en familie af was. Maar ek het hierdie gevoelens te bowe gekom deur te konsentreer op my persoonlike Bybelstudie en die bediening. Kort voor lank het die opwindende ondervindinge wat ek in die veld gehad het en die nuwe vriende wat ek in die gemeente gemaak het, my gehelp om my vreugde te herwin.”

Nog ’n uitdaging is die lewensomstandighede. Dit sal waarskynlik nie dieselfde wees as waaraan jy gewoond is nie. Beau van Kanada sê: “In jou vaderland neem jy basiese dienste soos elektrisiteit en lopende water as vanselfsprekend aan. Maar hier kan ’n mens nie daarop staatmaak nie.” Armoede, ongerieflike vervoermiddels en ongeletterdheid is ook algemeen in baie ontwikkelende lande. Ines van Oostenryk bied sulke toestande die hoof deur te konsentreer op die positiewe eienskappe van die plaaslike mense. “Hulle is so gasvry, saggeaard, behulpsaam en nederig”, sê sy. “Bowenal stel hulle baie daarin belang om meer oor God te leer.”

‘’N SEËN TOTDAT DAAR GEEN GEBREK MEER IS NIE’

Hoewel al hierdie jong volwassenes wat in Ecuador dien, opofferings gemaak het, vind hulle dat Jehovah “oneindig meer” voorsien as wat hulle verwag het (Ef. 3:20). Ja, hulle voel dat hulle “’n seën [ontvang het] totdat daar geen gebrek meer is nie” (Mal. 3:10). Hulle vertel hoe hulle oor hulle bediening voel:

Bruno: “Ek het my bediening hier in Ecuador in die fassinerende Amasonestreek begin. Later het ek met die aanbouings aan die takkantoor in Ecuador gehelp. Nou dien ek by Bethel. Toe ek nog in Italië was, het ek besluit om Jehovah eerste te stel, en hy vervul waarlik my begeerte na ’n opwindende lewe vol verskeidenheid in sy diens.”

Beau: “Ek het baie nader aan Jehovah gekom omdat ek in Ecuador al my tyd aan geestelike bedrywighede kan wy. Terselfdertyd het ek die bykomende seëning om na fassinerende plekke te reis—iets wat ek nog altyd wou doen.”

Anna: “Ek het nie gedink dat dit vir my as ’n ongetroude suster moontlik sou wees om ’n lewe soos dié van ’n sendeling te lei nie. Maar nou weet ek dat dit wel moontlik is. Danksy Jehovah se seën geniet ek dit om dissipels te maak, Koninkryksale te bou en nuwe vriende te maak.”

Elke: “In my vaderland, Oostenryk, het ek dikwels tot Jehovah gebid vir net een Bybelstudie. Hier het ek 15 Bybelstudies! Dit is vir my baie bevredigend om die gelukkige gesigte van progressiewe Bybelstudente te sien.”

Joel: “Dit is ’n wonderlike ondervinding om by ’n onbekende plek aan te kom om Jehovah te dien. Jy leer om baie meer op hom te vertrou, en dit is opwindend om te sien hoe hy jou pogings seën! In my eerste jaar nadat ek uit die Verenigde State hier aangekom het, het die groep waar ek dien, van 6 tot 21 verkondigers gegroei. Ons het ’n Gedenkmaalopkoms van 110 gehad.”

WAT VAN JOU?

Jong broers en susters, laat julle omstandighede julle toe om in ’n land te dien waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is? So ’n groot besluit sal natuurlik noukeurige beplanning vereis. Bowenal is ’n innige liefde vir Jehovah en vir jou naaste noodsaaklik om so ’n verandering te maak. As jy hierdie liefde het, en ook in ander opsigte kwalifiseer, moet jy ernstig tot Jehovah bid vir sy leiding in hierdie saak. Praat ook met jou Christenouers en die gemeentelike ouer manne oor jou begeerte. Jy kom dalk tot die slotsom dat jy ook aan hierdie opwindende en bevredigende vorm van heilige diens kan deelneem.

[Lokteks op bladsy 3]

“Baie gebede tot Jehovah en lang gesprekke met ryp broers en susters het my gehelp om te sien dat Jehovah ’n gewillige gees seën.”—Kayla van die Verenigde State

[Venster/Prent op bladsy 6]

Hoe om voor te berei om in ’n ander land te dien

• Kweek goeie persoonlike studiegewoontes aan

• Hersien Ons Koninkryksbediening vir Augustus 2011, bladsye 4-6

• Praat met ander wat in ’n ander land gedien het

• Doen navorsing oor die land se kultuur en geskiedenis

• Neem ’n basiese taalkursus

[Venster/Prent op bladsy 6]

Party wat in ’n ander land dien, onderhou hulle finansieel deur . . . 

• ’n paar maande elke jaar in hulle vaderland te werk

• hulle huis, woonstel of besigheid te verhuur

• oor die Internet te werk

[Prente op bladsye 4, 5]

1 Jaqueline van Duitsland

2 Bruno van Italië

3 Beau van Kanada

4 Siobhan van Ierland

5 Joel van die Verenigde State

6 Jonathan van die Verenigde State

7 Anna van Estland

8 Elke van Oostenryk

9 Chantal van Kanada

10 Ines van Oostenryk