Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lewensverhaal

Jehovah het my geleer om sy wil te doen

Jehovah het my geleer om sy wil te doen

Soos vertel deur Max Lloyd

Dit was laat een aand in 1955. Ek en ’n medesendeling was in ons toewysing in Paraguay, Suid-Amerika, toe die huis waarin ons was, omsingel is deur ’n woedende skare wat geskreeu het: “Ons god is ’n bloeddorstige god, en hy soek die bloed van die gringo’s.” Hoe het dit gekom dat ons, die gringo’s (buitelanders), hier was?

DIT het alles jare gelede in Australië begin waar ek grootgeword het en waar Jehovah my begin leer het om sy wil te doen. My pa het in 1938 die boek Vyande by ’n Getuie geneem. Hy en my ma was alreeds ontevrede met die plaaslike geestelikes, wat gesê het dat sekere dele van die Bybel fabels is. Ongeveer ’n jaar later het my ouers hulle toewyding aan Jehovah deur doop gesimboliseer. Van toe af het ons as ’n gesin die uitvoering van Jehovah se wil eerste gestel. My suster, Lesley, wat vyf jaar ouer as ek was, is ’n rukkie ná my ouers gedoop, en ek is in 1940 gedoop toe ek nege jaar oud was.

Kort nadat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, is die druk en verspreiding van die Bybellektuur van Jehovah se Getuies in Australië verbied. Ek het dus van jongs af geleer om die grondslag van my geloof te verduidelik deur net die Bybel te gebruik. Ek het ’n gewoonte daarvan gemaak om my Bybel skool toe te neem sodat ek kon wys waarom ek nie die vlag sou salueer of die nasies se oorlogspogings sou ondersteun nie.—Eks. 20:4, 5; Matt. 4:10; Joh. 17:16; 1 Joh. 5:21.

Baie van die skoolkinders het nie met my geassosieer nie omdat ek as “’n Duitse spioen” bestempel is. Destyds is rolprente by die skool vertoon. Voordat die rolprent begin het, moes almal opstaan en die volkslied sing. Wanneer ek bly sit het, het twee of drie seuns my aan my hare van my stoel af probeer optrek. Ek is uiteindelik uit die skool gesit omdat ek vasgehou het aan my Bybelse oortuigings. Ek kon egter korrespondensiekursusse by die huis volg.

’N DOELWIT WAT EK EINDELIK BEREIK HET

Dit was my doelwit om op 14-jarige ouderdom die voltydse bediening as ’n pionier te betree. Ek was dus baie teleurgesteld toe my ouers vir my sê dat ek eers moet gaan werk. Hulle het daarop aangedring dat ek vir my kos en blyplek betaal, maar het belowe dat ek kan begin pionier wanneer ek 18 is. Dit het gelei tot gereelde besprekings oor die geld wat ek verdien het. Ek het gesê dat ek dit vir my pionierdiens wil spaar, maar hulle het dit gevat.

Toe die tyd aanbreek om te begin pionier, het my ouers by my kom sit en verduidelik dat hulle die geld wat ek vir hulle gegee het, in ’n spaarrekening gesit het. Toe het hulle dit alles vir my teruggegee om klere en ander benodigdhede vir my pionierdiens te koop. Só het hulle my geleer om vir myself te sorg en nie te verwag dat ander dit doen nie. Wanneer ek terugdink, besef ek dat daardie opleiding baie waardevol was.

Terwyl ek en Lesley grootgeword het, het pioniers dikwels by ons tuisgegaan, en ons het dit geniet om saam met hulle velddiens te doen. Oor naweke het ons van huis tot huis en op straat getuig en Bybelstudies gehou. Die doelwit vir ’n gemeentelike verkondiger was destyds 60 uur per maand. My ma het byna altyd hierdie doelwit bereik, wat ’n goeie voorbeeld vir my en Lesley gestel het.

PIONIERDIENS IN TASMANIË

My eerste pioniertoewysing was op die Australiese eiland Tasmanië, waar ek by my suster en haar man aangesluit het. Hulle het egter kort daarna vertrek sodat hulle die 15de klas van die Gileadskool kon bywoon. Ek was baie skaam, en dit was die eerste keer dat ek my ouerhuis verlaat het. Party het gedink dat ek dit net drie maande sou uithou. Maar binne ’n jaar, in 1950, is ek aangestel as groepkneg, nou die koördineerder van die liggaam van ouer manne. Later is ek as ’n spesiale pionier aangestel, en ’n ander jong broer het my pioniermaat geword.

Ons is na ’n afgeleë kopermyndorp gestuur waar daar geen Getuies was nie. Ons het laat een middag per bus daar aangekom en het die eerste nag in ’n ou hotel gebly. Terwyl ons die volgende dag van huis tot huis getuig het, het ons die huisbewoners gevra of hulle weet van ’n kamer wat te huur is. Laat in die dag het iemand gesê dat die predikant se huis langs die Presbiteriaanse kerk leeg staan en dat ons met die diaken moet praat. Hy was vriendelik en het die huis aan ons beskikbaar gestel. Dit het vreemd gevoel om elke dag by die predikant se huis uit te stap om die predikingswerk te gaan doen.

Die gebied was vrugbaar. Ons het goeie gesprekke gehad en baie Bybelstudies begin. Toe die kerkowerheid in die hoofstad hiervan te hore kom en uitvind dat Jehovah se Getuies in die predikant se huis bly, het hulle geëis dat die diaken ons onmiddellik moet uitsit. Ons was weer eens sonder verblyf!

Nadat ons die volgende dag tot in die namiddag gepreek het, het ons slaapplek vir daardie nag gesoek. Die paviljoen by die sportstadion was ons beste opsie. Ons het ons tasse daar weggesteek en verder gepreek. Dit het begin donker word, maar ons het besluit om nog die laaste paar huise in daardie straat te besoek. By een huis het ’n man vir ons verblyf aangebied in ’n huisie met twee vertrekke agter op sy erf!

KRINGWERK EN GILEAD

Ná ongeveer agt maande in hierdie predikingstoewysing is ek deur die Australiese takkantoor genooi om ’n kringopsiener te word. Dit was vir my ’n skok, want ek was net 20 jaar oud. Nadat ek ’n paar weke lank opleiding ontvang het, het ek die gemeentes gereeld begin besoek om hulle aan te moedig. Diegene wat ouer as ek was—en dit was byna almal—het nie op my jeug neergesien nie, maar het die werk wat ek gedoen het, gerespekteer.

My reise tussen die gemeentes het baie verskil! Een week het ek per bus gereis, ’n ander week per trem, dan per motor of agterop ’n motorfiets terwyl ek ’n koffer en ’n velddienssak vashou. Dit was ’n groot vreugde om by mede-Getuies te bly. Eenkeer wou ’n groepkneg baie graag hê dat ek by hom moet bly, al was sy huis nog nie klaar gebou nie. Daardie week het ek in die bad geslaap, maar wat ’n geestelik vreugdevolle week het ons tog saam deurgebring!

In 1953 het ek nog ’n verrassing gekry toe ek ’n aansoekvorm vir die 22ste klas van die Gileadskool ontvang het. Ek was verheug, maar terselfdertyd ook bang. Waarom? Wel, nadat my suster en haar man op 30 Julie 1950 aan Gilead gegradueer het, is hulle na Pakistan gestuur. Minder as ’n jaar later het Lesley siek geword en is sy daar oorlede. Hoe sal my ouers voel, het ek gewonder, as ek so kort hierna êrens ver in die wêreld gestuur word? Hulle het egter gesê: “Gaan dien Jehovah waar hy jou ook al stuur.” Ek het my pa nooit weer gesien nie. Hy is in die laat 1950’s oorlede.

Kort voor lank het ek saam met vyf ander Australiërs op ’n seereis van ses weke na New York-stad vertrek. Gedurende die reis het ons die Bybel gelees, gestudeer en vir medepassasiers getuig. Voordat ons na die skool in South Lansing, in die noorde van die staat New York, vertrek het, het ons die internasionale byeenkoms in Julie 1953 by die Yankee-stadion bygewoon. Daar was ’n hoogtepunt van 165 829 byeenkomsgangers!

Ons klas van 120 Gileadstudente het uit alle dele van die wêreld gekom. Eers op gradueringsdag is ons vertel waarheen ons gestuur sou word. Ons is so gou moontlik na die Gileadbiblioteek om meer uit te vind oor die lande waarheen ons gestuur sou word. Ek het uitgevind dat Paraguay, waarheen ek gestuur sou word, ’n land met ’n geskiedenis van politieke revolusies is. Kort nadat ek daar aangekom het, het ek die ander sendelinge een oggend gevra waaroor die mense die vorige nag “feesgevier” het. Hulle het geglimlag en gesê: “Jy het jou eerste revolusie beleef. Kyk by die voordeur uit.” Daar was soldate op elke hoek!

’N ONVERGEETLIKE ONDERVINDING

Eenkeer het ek die kringopsiener vergesel om ’n afgeleë gemeente te besoek en die rolprent The New World Society in Action te vertoon. Ons het agt of nege uur gereis, eers met die trein, toe met ’n perdekar en laastens met ’n oskar. Ons het ’n kragopwekker en ’n projektor saamgeneem. Nadat ons uiteindelik ons bestemming bereik het, het ons die volgende dag plase besoek en almal na die vertoning van die rolprent daardie aand genooi. Sowat 15 mense het dit bygewoon.

Ongeveer 20 minute nadat die vertoning begin het, is daar vir ons gesê om so gou moontlik in die huis in te gaan. Ons het die projektor gegryp en ingehardloop. Dit is toe dat mans begin skreeu het, skote afgevuur het en oor en oor uitgeroep het: “Ons god is ’n bloeddorstige god, en hy soek die bloed van die gringo’s.” Daar was net twee gringo’s daar, en ek was een van hulle! Die mense wat die vertoning bygewoon het, het die oproerige skare verhinder om in die huis in te breek. Maar die teenstanders het ongeveer drieuur die oggend teruggekom, hulle vuurwapens afgevuur en belowe dat hulle ons later daardie dag op pad terug dorp toe in die hande sou kry.

Die broers het met die sheriff in aanraking gekom, en hy het ons daardie middag met twee perde kom haal. Op pad terug dorp toe het hy elke keer as ons naby ’n klompie bosse of bome gekom het, sy vuurwapen uitgehaal en vooruit gery om te kyk of dit veilig is. Ek kon sien dat ’n perd ’n belangrike vervoermiddel is, en daarom het ek later een aangeskaf.

NOG SENDELINGE

Die predikingswerk het steeds goeie resultate gelewer ondanks gereelde teenstand deur die geestelikes. In 1955 het vyf nuwe sendelinge in die land aangekom, onder andere ’n jong Kanadese suster met die naam Elsie Swanson, wat aan die 25ste klas van Gilead gegradueer het. Ons was ’n ruk lank saam by die takkantoor voordat sy na ’n ander dorp gestuur is. Sy het haar lewe aan Jehovah se diens gewy sonder noemenswaardige hulp van haar ouers, wat nooit die waarheid aangeneem het nie. Op 31 Desember 1957 is ek en Elsie getroud, en ons het alleen in ’n sendinghuis in die suidelike deel van Paraguay gewoon.

Ons huis het nie lopende water gehad nie; net ’n put in die agterplaas. Daar was dus geen binnenshuise stort of toilet, geen wasmasjien of selfs ’n yskas nie. Ons moes dus elke dag kos koop. Maar die eenvoudige lewenswyse en die liefdevolle verhoudings met ons broers en susters in die gemeente het dit ’n baie gelukkige tydperk in ons getroude lewe gemaak.

In 1963, kort nadat ons in Australië aangekom het om my ma te besoek, het sy ’n hartaanval gekry, wat skynbaar veroorsaak is deur die opgewondenheid om haar seun ná tien jaar te sien. Toe die tyd nader gekom het om na ons toewysing in Paraguay terug te keer, het ons voor een van die moeilikste besluite van ons lewe te staan gekom. Moet ons my ma in ’n hospitaal agterlaat in die hoop dat iemand na haar sal omsien en terugkeer na ons toewysing in Paraguay, wat ons na aan die hart gelê het? Nadat ons baie gebid het, het ek en Elsie besluit om te bly en vir my ma te sorg. Ons het daarin geslaag om dit te doen én in die voltydse bediening te bly totdat sy in 1966 oorlede is.

Dit was ’n voorreg om ’n aantal jare in die kring- en streekwerk in Australië te dien en om by die Koninkryksbedieningskool vir ouer manne onderrig te gee. Toe het daar nog ’n verandering in ons lewe gekom. Ek is as lid van die eerste Takkomitee in Australië aangestel. En toe ons ’n nuwe takkantoor moes bou, is ek as voorsitter van die boukomitee aangestel. Met die hulp van talle ervare, behulpsame werkers is ’n pragtige takkantoor gebou.

My volgende toewysing was in die Diensafdeling, wat toesig hou oor die predikingswerk in die land. Ek het ook die voorreg ontvang om ander takkantore oor die hele wêreld as sone-opsiener te besoek om hulp en ondersteuning te bied. Dit was vir my baie geloofversterkend om in sekere lande diegene te besoek wat jare—selfs dekades—in tronke en konsentrasiekampe was weens hulle getroue gehoorsaamheid aan Jehovah.

ONS HUIDIGE TOEWYSING

Toe ons in 2001 van ’n vermoeiende sonebesoek terugkeer, was daar ’n brief waarin ek genooi is om na Brooklyn, New York, te kom om as ’n lid van die pas gestigte Takkomitee van die Verenigde State te dien. Ek en Elsie het die uitnodiging biddend oorweeg, en ons het die toewysing vreugdevol aanvaar. Ná meer as 11 jaar is ons nog steeds in Brooklyn.

Ek is baie bly dat ek ’n vrou het wat met graagte alles doen wat Jehovah vra. Ek en Elsie is nou in ons vroeë 80’s en geniet nog steeds redelik goeie gesondheid. Ons sien daarna uit om tot in ewigheid deur Jehovah geleer te word en al die ryk seëninge te geniet wat dié sal ontvang wat aanhou om sy wil te doen.

[Lokteks op bladsy 19]

Een week het ek per bus gereis, ’n ander week per trem, dan per motor of agterop ’n motorfiets terwyl ek ’n koffer en ’n velddienssak vashou

[Lokteks op bladsy 21]

Ons sien daarna uit om tot in ewigheid deur Jehovah geleer te word

[Prente op bladsy 18]

Links: In die kringwerk in Australië

Regs: Saam met my ouers

[Prent op bladsy 20]

Ons troudag, 31 Desember 1957