Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Laat Jehovah jou na ware vryheid lei

Laat Jehovah jou na ware vryheid lei

Laat Jehovah jou na ware vryheid lei

“Kyk [diep] in die volmaakte wet wat tot vryheid behoort.”—JAK. 1:25.

KAN JY VERDUIDELIK?

Watter wet lei na ware vryheid, en wie vind baat by hierdie wet?

Wat is die geheim om ware vryheid te verkry?

Watter vryheid wag op almal wat op die weg na die lewe bly?

1, 2. (a) Wat gebeur met die wêreld se vryhede, en waarom? (b) Watter vryheid lê vir Jehovah se knegte voor?

ONS lewe in ’n tyd van toenemende gierigheid, wetteloosheid en geweld (2 Tim. 3:1-5). In reaksie hierop maak regerings meer wette, versterk hulle hulle polisiemag en installeer hulle elektroniese waarnemingstelsels. In party lande probeer mense hulle huise veiliger maak deur alarmstelsels sowel as ekstra slotte en selfs elektriese heinings te installeer. Baie weier om in die aand uit te gaan of om hulle kinders sonder toesig buite te laat speel—bedags of saans. Dit is duidelik dat vryheid aan die afneem is, en die neiging sal waarskynlik voortduur.

2 In die tuin van Eden het Satan beweer dat die sleutel tot ware vryheid onafhanklikheid van Jehovah is. Wat ’n kwaadwillige en afgryslike leuen was dit tog! Trouens, hoe meer die mens die sedelike en geestelike perke verontagsaam wat God gestel het, hoe meer ly die samelewing as ’n geheel. Hierdie verslegtende situasie het ook ’n uitwerking op ons as Jehovah se knegte. Ons het nietemin die hoop om te sien hoe ’n einde gemaak word aan die mensdom se slawerny aan sonde en verderflikheid en om “die glorieryke vryheid van die kinders van God”, soos die Bybel dit noem, te geniet (Rom. 8:21). Om die waarheid te sê, Jehovah het reeds sy knegte vir hierdie vryheid begin voorberei. Hoe?

3. Watter wet het Jehovah aan Christus se volgelinge gegee, en watter vrae sal ons bespreek?

3 Die antwoord lê in wat die Bybelskrywer Jakobus “die volmaakte wet wat tot vryheid behoort”, genoem het. (Lees Jakobus 1:25.) Ander Bybelvertalings gee hierdie frase weer met “die wet wat ons vrymaak” (The New English Bible) en “die volmaakte wet van vryheid” (The New American Bible). Maar mense assosieer wette gewoonlik met beperkings, nie met vryheid nie. Wat is “die volmaakte wet wat tot vryheid behoort” dan? En hoe maak hierdie wet ons vry?

DIE WET WAT VRYMAAK

4. Wat is “die volmaakte wet wat tot vryheid behoort”, en wie vind daarby baat?

4 “Die volmaakte wet wat tot vryheid behoort”, is nie die Mosaïese Wet nie, want daardie wet het oortredings openbaar gemaak en is in Christus vervul (Matt. 5:17; Gal. 3:19). Na watter wet het Jakobus dan verwys? Hy het “die wet van die Christus” in gedagte gehad, wat ook “die wet van geloof” en “die wet van ’n vry volk” genoem word (Gal. 6:2; Rom. 3:27; Jak. 2:12). “Die volmaakte wet” omvat dus alles wat Jehovah van ons vereis. Gesalfde Christene sowel as die “ander skape” vind daarby baat.—Joh. 10:16.

5. Waarom is die wet van vryheid nie swaar nie?

5 In teenstelling met die wette van baie lande is “die volmaakte wet” nie ingewikkeld of swaar nie, maar dit bestaan uit eenvoudige gebooie en basiese beginsels (1 Joh. 5:3). “My juk is sag en my vrag is lig”, het Jesus gesê (Matt. 11:29, 30). Daarbenewens het “die volmaakte wet” nie ’n lang lys strafmaatreëls nodig nie, want dit is gegrond op liefde en is gegraveer op verstande en harte, nie op kliptafels nie.Lees Hebreërs 8:6, 10.

HOE “DIE VOLMAAKTE WET” ONS VRYMAAK

6, 7. Wat kan gesê word oor Jehovah se standaarde, en hoe bevry die wet van vryheid ons?

6 Die perke wat Jehovah vir sy intelligente skepsele gestel het, is tot hulle voordeel en beskerming. Neem byvoorbeeld die natuurwette wat energie en materie beheer. Mense kla nie dat hulle deur hierdie wette onderdruk word nie. Hulle waardeer dit eerder, want hulle besef dat natuurwette noodsaaklik is vir hulle welsyn. Net so is Jehovah se sedelike en geestelike standaarde, wat deur “die volmaakte wet” van die Christus weerspieël word, tot die mens se voordeel.

7 Die wet van vryheid dien nie net as ’n beskerming nie, maar laat ons ook toe om al ons gepaste begeertes te bevredig sonder om onsself leed aan te doen of inbreuk te maak op die regte en vryhede van ander. Die geheim om waarlik vry te wees—om te kan doen wat ons graag wil—is dus om die regte begeertes aan te kweek, begeertes wat met Jehovah se persoonlikheid en standaarde ooreenstem. Met ander woorde, ons moet leer om lief te hê wat Jehovah liefhet en te haat wat hy haat, en die wet van vryheid help ons om dit te doen.—Amos 5:15.

8, 9. Watter voordele geniet diegene wat die wet van vryheid aankleef? Lig toe.

8 In ons onvolmaakte toestand sukkel ons om verkeerde begeertes te onderdruk. Maar as ons die wet van vryheid lojaal aankleef, kan ons nou reeds die bevrydende uitwerking daarvan ervaar. Ter toeligting: ’n Nuwe Bybelstudent met die naam Jay was aan tabak verslaaf. Toe hy uitgevind het dat sy gewoonte God mishaag, moes hy ’n besluit neem. Sou hy aanhou om hom aan sy vlees te onderwerp of sou hy hom aan Jehovah onderwerp? Hy het wyslik besluit om God te dien, al het sy vlees na nikotien gesmag. Hoe het hy gevoel nadat hy sy gewoonte te bowe gekom het? “Ek het baie vry en verheug gevoel”, het hy later gesê.

9 Jay het deur ondervinding geleer dat die wêreld se vryhede, wat mense ‘die vlees laat bedink’, hulle eintlik tot slawe maak, terwyl Jehovah se vryhede, wat beteken “om die gees te bedink”, mense vrymaak en na “lewe en vrede” lei (Rom. 8:5, 6). Waar het Jay die krag gekry om sy verslawende gewoonte te bowe te kom? Nie in homself nie; dit het van God gekom. “Ek het die Bybel gereeld bestudeer, vir heilige gees gebid en die liefdevolle hulp aanvaar wat die Christengemeente my gewillig aangebied het”, het hy gesê. Hierdie selfde voorsienings kan ons almal help in ons strewe na ware vryheid. Kom ons kyk hoe.

KYK DIEP IN GOD SE WOORD

10. Wat beteken dit om ‘diep te kyk’ in God se wet?

10 Jakobus 1:25 sê deels: “Hy wat diep kyk in die volmaakte wet wat tot vryheid behoort en daarby bly, [sal] gelukkig wees deurdat hy dit doen.” Die oorspronklike Griekse woord wat met “diep kyk” vertaal word, beteken “om vooroor te buig om te kyk in”, wat dui op toegespitste inspanning. Ja, as ons wil hê dat die wet van vryheid ons verstand en hart moet beïnvloed, moet ons ons deel doen deur die Bybel ywerig te bestudeer en biddend te peins oor wat ons lees.—1 Tim. 4:15.

11, 12. (a) Hoe het Jesus beklemtoon dat ons die waarheid ons lewenswyse moet maak? (b) Watter gevaar moet veral jongmense vermy, soos hierbo toegelig word?

11 Terselfdertyd moet ons daarby “bly”, of daarin volhard, om God se Woord toe te pas en die waarheid sodoende ons lewenswyse te maak. Jesus het ’n soortgelyke gedagte uitgespreek toe hy vir party wat in hom geglo het, gesê het: “As julle in my woord bly, is julle werklik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:31, 32). Om te “ken”, sê ’n naslaanwerk, beteken hier ook om waardering te hê omdat “wat ‘geken’ word, van waarde of belang is vir die een wat dit ken”. Ons “ken” dus die waarheid in die volste sin wanneer ons dit ons lewenswyse maak. Dan kan ons tereg sê dat “die woord van God” in ons “aan die werk is”, dat dit ons persoonlikheid vorm sodat ons ons hemelse Vader in groter mate weerspieël.—1 Tess. 2:13.

12 Vra jou af: ‘Ken ek werklik die waarheid? Het ek dit my lewenswyse gemaak? Of smag ek nog steeds na party van die “vryhede” van die wêreld?’ ’n Suster wat deur Christenouers grootgemaak is, het teruggedink aan haar jong dae en geskryf: “Wanneer jy in die waarheid grootword, is Jehovah as ’t ware altyd daar. Maar ék het hom nooit werklik leer ken nie. Ek het nooit geleer om te haat wat hy haat nie. Ek het nooit geglo dat wat ek doen, vir hom saak maak nie. En ek het nooit geleer om op hom te vertrou wanneer ek in die moeilikheid was nie. Ek het op my eie begrip gesteun, en dit was belaglik, want ek het niks geweet nie.” Gelukkig het die suster later besef hoe verkeerd haar denke was, en sy het groot veranderinge aangebring. Sy het selfs as ’n gewone pionier begin dien.

HEILIGE GEES KAN HELP OM JOU VRY TE MAAK

13. Hoe help God se heilige gees om ons vry te maak?

13 In 2 Korintiërs 3:17 lees ons: “Waar die gees van Jehovah is, daar is vryheid.” Hoe dra heilige gees by tot ons vryheid? Dit bring onder andere eienskappe in ons voort wat noodsaaklik is vir vryheid—“liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Gal. 5:22, 23). Sonder hierdie eienskappe, veral liefde, kan geen gemeenskap werklik vry wees nie—’n feit wat duidelik in vandag se wêreld gesien kan word. Interessant genoeg, nadat die apostel Paulus die aspekte van die vrug van die gees opgenoem het, het hy bygevoeg: “Teen sulke dinge is daar geen wet nie.” Wat het hy bedoel? Die vrug van God se gees word nie beperk deur enige wet wat die groei daarvan kan belemmer nie (Gal. 5:18). Wat sou immers die nut van so ’n wet wees? Dit is Jehovah se wil dat ons vir ewig Christelike eienskappe aankweek en dit sonder beperking openbaar.

14. In watter opsigte maak die wêreld se gees slawe van diegene wat hulle daaraan onderwerp?

14 Dié wat deur die wêreld se gees meegesleur word en wat vrye teuels aan hulle vleeslike begeertes gee, dink dalk dat hulle vry is. (Lees 2 Petrus 2:18, 19.) Maar die werklikheid is presies die teenoorgestelde. ’n Magdom reëls en regulasies is nodig om hulle skadelike begeertes en gedrag te bedwing. “Die wet [word] nie vir ’n regverdige uitgevaardig . . . nie, maar vir wetteloses en weerbarstiges”, sê Paulus (1 Tim. 1:9, 10). Hulle is ook slawe van die sonde en word gedryf om ‘die dinge te doen wat volgens die wil is van die vlees’, wat ’n wrede meester is (Ef. 2:1-3). In sekere sin is hierdie mense soos insekte wat in ’n bak heuning inkruip. Hulle word deur hulle begeerte aangedryf en is kort voor lank vasgevang.—Jak. 1:14, 15.

VRYGEMAAK IN DIE CHRISTENGEMEENTE

15, 16. Hoe belangrik is ons assosiasie met die gemeente, en watter vryheid geniet ons?

15 Toe jy met die Christengemeente begin assosieer het, het jy nie by die een of ander sosiale klub aangesluit nie. Jy het eerder in die gemeente ingekom omdat Jehovah jou getrek het (Joh. 6:44). Wat het hom beweeg om dit te doen? Het hy ’n regverdige, godvresende persoon gesien? “Beslis nie!” sê jy dalk. Wat het God dan gesien? Hy het ’n hart gesien wat ontvanklik sou wees vir sy wet wat vrymaak, ’n hart wat hom aan Sy liefdevolle leiding sou onderwerp. In die gemeente het Jehovah na jou hart omgesien deur jou geestelik te voed, wat jou vrygemaak het van godsdiensleuens en bygelowe, en deur jou te leer hoe om die Christelike persoonlikheid aan te kweek. (Lees Efesiërs 4:22-24.) Gevolglik het jy die voorreg om onder die enigste mense in die wêreld te wees wat tereg “’n vry volk” genoem kan word.—Jak. 2:12.

16 Dink hieraan: Voel jy bang wanneer jy in die geselskap is van diegene wat Jehovah met hulle hele hart liefhet? Vind jy dat jy heeltyd agterdogtig rondkyk? Hou jy jou besittings styf vas wanneer jy met iemand by die Koninkryksaal gesels uit vrees dat dit sal verdwyn? Glad nie! Jy voel gerus en vry. Sal jy so voel by ’n wêreldlike geleentheid? Waarskynlik nie! Wat meer is, die vryheid wat jy nou onder God se volk geniet, is net ’n voorsmakie van die vryheid wat voorlê.

“DIE GLORIERYKE VRYHEID VAN DIE KINDERS VAN GOD”

17. Hoe hou die mensdom se vryheid verband met “die openbaring van die seuns van God”?

17 Toe Paulus die vryheid bespreek het wat Jehovah vir sy aardse knegte in die vooruitsig stel, het hy geskryf: “Die skepping wag met gretige verwagting op die openbaring van die seuns van God.” Toe het hy bygevoeg “dat die skepping self ook van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak sal word en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê” (Rom. 8:19-21). “Die skepping” verwys na die mense wat die aardse hoop het, diegene wat sal baat vind by “die openbaring” van God se geesgesalfde seuns. Hierdie openbaring sal begin wanneer hierdie “seuns”, wat tot lewe in die geesteryk opgewek word, saam met Christus die aarde van boosheid reinig en “’n groot menigte” tot in die nuwe stelsel van dinge bewaar.—Op. 7:9, 14.

18. Hoe sal die gehoorsame mensdom groter vryheid verkry, en watter vryheid sal hulle uiteindelik geniet?

18 Die losgekoopte mensdom sal dan ’n heeltemal nuwe vryheid ervaar—hulle sal vry wees van die invloed van Satan en die demone (Op. 20:1-3). Watter verligting sal dit tog wees! Daarna sal Christus se 144 000 medekonings en -priesters voortgaan om die mensdom te bevry deur geleidelik die voordele van die losprysoffer aan te wend totdat Adamitiese sonde en onvolmaaktheid heeltemal uit die weg geruim is (Op. 5:9, 10). Nadat hulle ondanks ’n toets van geloof getrou gebly het, sal mense die volmaakte vryheid verkry wat Jehovah oorspronklik vir hulle wou hê—“die glorieryke vryheid van die kinders van God”. Dink net! Jy sal nie meer sukkel om te doen wat reg is in God se oë nie, want jy sal in elke opsig volmaak wees, en jou persoonlikheid sal heeltemal verander wees volgens God se beeld.

19. Wat moet ons vandag voortgaan om te doen sodat ons op die weg na ware vryheid kan bly?

19 Smag jy na “die glorieryke vryheid van die kinders van God”? Indien wel, laat “die volmaakte wet wat tot vryheid behoort”, voortgaan om jou verstand en hart te beïnvloed. Ja, bestudeer die Skrif ywerig. Maak die waarheid jou eie en leef dit uit. Bid vir heilige gees. Maak ten volle gebruik van die Christengemeente en die geestelike voedsel wat Jehovah voorsien. Moenie dat Satan jou bedrieg, soos hy Eva bedrieg het om te dink dat God se weë onnodig beperkend is nie. Ja, die Duiwel kan baie slim wees. Maar soos ons in die volgende artikel sal sien, kan ons verhoed dat Satan “die oorhand oor ons [kry], want ons is nie onkundig omtrent sy planne nie”.—2 Kor. 2:11.

[Studievrae]

[Prente op bladsy 9]

Smag ek nog steeds na party van die “vryhede” van die wêreld?

[Prente op bladsy 9]

Het ek die waarheid my lewenswyse gemaak?