Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Daar is ’n beloning vir julle werk”

“Daar is ’n beloning vir julle werk”

“Daar is ’n beloning vir julle werk”

AAN die hoof van sy leër beweeg koning Asa vinnig met die diep vallei langs, van die Judese bergstreek na die kusvlakte. Waar die vallei breër word, gaan staan Asa en snak hy na sy asem. Onder hom lê ’n vyandelike kamp—en dit is ontsaglik! Daar moet ten minste ’n miljoen Etiopiese soldate wees. Asa se leër bestaan uit net meer as die helfte soveel manskappe.

’n Geveg staar Asa in die gesig, maar wat vul sy gedagtes hoofsaaklik? Bevele vir sy generaals? Aanmoediging vir sy troepe? Briewe aan sy gesin? Glad nie! Te midde van hierdie krisis bid Asa.

Voordat ons hierdie gebed bespreek en ondersoek wat by hierdie geleentheid gebeur het, gaan ons eers kyk na watter soort persoon Asa was. Wat was die dryfveer agter sy optrede? Het hy rede gehad om hulp van God te verwag? Wat vertel die verslag omtrent Asa ons oor hoe Jehovah die bedrywighede van Sy knegte seën?

WATTER SOORT PERSOON WAS ASA?

Gedurende die 20 jaar nadat Israel in twee koninkryke verdeel is, is Juda heeltemal deur heidense gebruike verderf. Toe Asa in 977 VHJ koning geword het, is die aanbidding van Kanaänitiese vrugbaarheidsgode selfs in die koninklike hof beoefen. Maar die geïnspireerde verslag van Asa se bewind sê dat hy “gedoen [het] wat goed en reg was in die oë van Jehovah sy God”. Asa “het die vreemde altare en die hoogtes verwyder en die heilige pilare stukkend gebreek en die heilige pale afgekap” (2 Kron. 14:2, 3). Asa het ook “die manlike tempelprostitute”, wat sodomie in die naam van godsdiens beoefen het, uit die koninkryk van Juda verdryf. En dit is nie die enigste suiwering wat Asa bewerkstellig het nie. Hy het die volk ook aangespoor om “Jehovah, die God van hulle voorvaders, [te] soek” en om “die wet en die gebod” van God te onderhou.—1 Kon. 15:12, 13; 2 Kron. 14:4.

Asa se ywer vir ware aanbidding het Jehovah behaag, en Hy het hom met jare van vrede geseën. Die koning kon dus sê: “Ons [het] Jehovah ons God gesoek . . . Ons het gesoek, en hy gee ons aan alle kante rus.” Die volk het hierdie situasie benut deur die stede van die koninkryk van Juda te versterk. “Hulle het gebou en was suksesvol”, sê die Bybelverslag.—2 Kron. 14:1, 6, 7

OP DIE SLAGVELD

In die lig van die soort persoon wat Asa was, moet ons nie verbaas wees dat hy gebid het toe hy te staan gekom het teenoor die grootste menseleër wat in die Skrif gemeld word nie. Asa het geweet dat God dade van geloof beloon. In sy gebed het die koning Jehovah om hulp gesmeek. Asa het besef dat dit nie saak maak hoe talryk of magtig die vyand is as hy op God vertrou en Sy ondersteuning het nie. Jehovah se naam was by hierdie geveg betrokke, en Asa het God dus op grond hiervan aangeroep. Die koning het gebid: “Help ons, o Jehovah ons God, want op u steun ons, en in u naam het ons teen hierdie menigte gekom. O Jehovah, u is ons God. Moenie die sterflike mens krag teen u laat behou nie” (2 Kron. 14:11). Dit was asof hy gesê het: ‘Die Etiopiese inval is ’n aanval op u, Jehovah. Moenie dat u naam onteer word deur nietige mense toe te laat om diegene te verslaan wat u naam dra nie.’ Gevolglik het “Jehovah die Etiopiërs voor Asa en voor Juda verslaan, en die Etiopiërs het gevlug”.—2 Kron. 14:12.

Vandag het Jehovah se volk met talle magtige teenstanders te kampe. Ons sal nie met vleeslike wapens op ’n letterlike slagveld teen hulle veg nie. Maar ons kan seker wees dat Jehovah alle getroues wat ’n geestelike oorlog in sy naam voer, met oorwinning sal beloon. Ons persoonlike stryde sluit dalk in dat ons ons moet inspan om die deurdringende gees van sedelike laksheid te weerstaan, om teen ons eie swakhede te stry of om ons gesin teen verontreinigende invloede te beskerm. Maar ongeag watter teëspoed ons ondervind, ons kan aanmoediging uit Asa se gebed put. Sy oorwinning was Jehovah se oorwinning. Dit het getoon wat almal kan verwag wat op God vertrou. Geen menslike mag kan teen Jehovah staande bly nie.

AANMOEDIGING EN ’N WAARSKUWING

Toe Asa van die slagveld teruggekeer het, het Asarja hom tegemoetgegaan. Hierdie profeet het aanmoediging sowel as ’n waarskuwing gegee: “Luister na my, o Asa en die hele Juda en Benjamin! Jehovah is met julle solank julle met hom is; en as julle hom soek, sal hy hom deur julle laat vind, maar as julle hom verlaat, sal hy julle verlaat. . . . Wees moedig en moenie julle hande slap laat word nie, want daar is ’n beloning vir julle werk.”—2 Kron. 15:1, 2, 7.

Hierdie woorde kan ons geloof versterk. Dit toon dat Jehovah met ons sal wees solank ons hom getrou dien. Wanneer ons hom aanroep om hulp, kan ons die vertroue hê dat hy ons hoor. “Wees moedig”, het Asarja gesê. Dit verg dikwels groot moed om te doen wat reg is, maar ons weet dat ons dit met Jehovah se hulp kan doen.

Omdat Asa se grootmoeder Maäga “’n afstootlike afgod vir die heilige paal” gemaak het, het Asa die moeilike taak gehad om haar uit haar koninklike posisie as “dame” te verwyder. Hy het dit gedoen en het ook haar afgod verbrand (1 Kon. 15:13). Asa is geseën vir sy vasbeslotenheid en moed. Ons moet ook Jehovah en sy regverdige standaarde onwrikbaar aankleef, ongeag of ons familielede lojaal is aan God of nie. As ons dit doen, sal Jehovah ons vir ons getroue gedrag beloon.

Deel van Asa se beloning was dat hy talle Israeliete uit die afvallige noordelike koninkryk na Juda sien stroom het toe hulle gesien het dat Jehovah met hom is. Hulle het rein aanbidding so waardeer dat hulle gekies het om hulle huise te verlaat sodat hulle onder knegte van Jehovah kon woon. Asa en die hele Juda het toe met gejuig ‘’n verbond aangegaan dat hulle Jehovah met hulle hele hart en met hulle hele siel sou soek’. Die gevolg? God het “hom deur hulle laat vind . . . ; en Jehovah het hulle aan alle kante rus bly gee” (2 Kron. 15:9-15). Hoe verheug is ons tog wanneer liefhebbers van regverdigheid die rein aanbidding van Jehovah aanneem!

Maar die woorde van die profeet Asarja het ook ’n ernstige waarskuwing bevat. Hy het gesê: “As julle [Jehovah] verlaat, sal hy julle verlaat.” Mag dit nooit met ons gebeur nie, want die gevolge kan tragies wees! (2 Pet. 2:20-22). Die Bybel openbaar nie waarom Jehovah Asa hierdie waarskuwing gegee het nie, maar die koning het nie daarop ag geslaan nie.

“HIERIN HET U DWAAS OPGETREE”

In die 36ste jaar van Asa se bewind het koning Baäsa van Israel vyandig teenoor Juda opgetree. Baäsa het die grensstad Rama, agt kilometer noord van Jerusalem, begin versterk, moontlik omdat hy wou voorkom dat sy onderdane lojaliteit aan Asa en ware aanbidding betoon. In plaas van hulp by God te soek, soos in die geval van die Etiopiese inval, het Asa hulp by mense gesoek. Hy het ’n geskenk aan die koning van Sirië gestuur en hom gevra om die noordelike koninkryk van Israel aan te val. Toe die Siriërs ’n paar aanvalle teen Baäsa gerig het, het hy uit Rama weggetrek.—2 Kron. 16:1-5.

Jehovah was ontevrede met Asa en het die profeet Hanani gestuur om dit vir hom te sê. Omdat Asa geweet het hoe God teen die Etiopiërs opgetree het, moes hy besef het dat “Jehovah se oë . . . die hele aarde [deurloop] om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is”. Asa het dalk slegte raad ontvang of het Baäsa en sy strydmagte nie as ’n baie groot bedreiging beskou nie en gedink dat hy die situasie self kon behartig. Hoe dit ook al sy, Asa het op menslike denke gesteun en nie op Jehovah vertrou nie. “Hierin het u dwaas opgetree”, het Hanani gesê, “want van nou af sal daar oorloë teen u wees.”—2 Kron. 16:7-9.

Asa het nie goed hierop gereageer nie. Hy was woedend en het die profeet Hanani in die blok gesit (2 Kron. 16:10). Het Asa dalk gedink: ‘Verdien ek teregwysing ná al die jare van getroue diens?’ Het hy nou op ’n gevorderde ouderdom nie meer helder gedink nie? Die Bybel sê nie.

In sy 39ste regeringsjaar het Asa baie siek geword weens ’n siekte aan sy voete. “Selfs in sy siekte het hy Jehovah nie gesoek nie, maar die genesers”, sê die verslag. Dit lyk asof Asa teen dié tyd sy geestelike gesondheid verwaarloos het. Hy was klaarblyklik nog in hierdie fisiese en geestestoestand toe hy in sy 41ste regeringsjaar gesterf het.—2 Kron. 16:12-14.

Maar Asa se goeie eienskappe en ywer vir ware aanbidding het blykbaar sy foute oortref. Hy het nooit opgehou om Jehovah te dien nie (1 Kon. 15:14). Wat kan ons in die lig hiervan uit sy lewensverhaal leer? Dit kan ons help besef dat ons moet peins oor hoe Jehovah ons in die verlede gehelp het, want hierdie kosbare herinneringe kan ons beweeg om vir sy hulp te bid wanneer ons voor nuwe beproewinge te staan kom. Ons moet egter nie aanneem dat ons geen skriftuurlike raad nodig het omdat ons God al jare lank getrou dien nie. Jehovah sal ons teregwys as ons ’n oortreding begaan, ongeag ons jare van diens. Ons moet sulke teregwysing in sagmoedigheid aanvaar sodat ons daarby kan baat vind. Van die allergrootste belang is dat ons hemelse Vader met ons sal wees solank ons met hom is. Jehovah se oë deurloop die hele aarde, op soek na diegene wat getrou is aan hom. Hy beloon hulle deur sy krag ten behoewe van hulle te gebruik. Jehovah het dit vir Asa gedoen, en Hy kan dit ook vir ons doen.

[Lokteks op bladsy 9]

Jehovah beloon getroues wat ’n geestelike oorlog voer

[Lokteks op bladsy 10]

Moed is nodig om te doen wat reg is in Jehovah se oë