Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Ek is met julle”

“Ek is met julle”

“Ek is met julle”

“Baie sal rondswerf, en die ware kennis sal oorvloedig word.”—DAN. 12:4.

HOE SAL JY ANTWOORD?

Hoe het “die ware kennis” in die moderne tyd bekend geword?

Hoe het dié wat die waarheid aanneem, “baie” geword?

Hoe het juiste kennis “oorvloedig” geword?

1, 2. (a) Hoe weet ons dat Jesus nou met sy onderdane is en in die toekoms met hulle sal wees? (b) Wat sou volgens Daniël 12:4 die gevolg wees van ’n noukeurige studie van die Skrif?

STEL jou voor jy is in die Paradys. Elke oggend wanneer jy wakker word, voel jy verfris en is jy gretig om met die dag te begin. Jy het geen pyne of kwale nie. Al die gebreke wat jy voorheen gehad het, is weg. Al jou sintuie—jou gesig, gehoor, reuk, gevoel en smaak—werk volmaak. Jy het oorgenoeg energie, jou werk is lekker, jy het baie vriende en jy het geen bekommernisse nie. Dít sal die seëninge wees wat jy onder God se Koninkryk kan geniet. Christus Jesus, die aangestelde Koning, sal sy onderdane seën en hulle in die kennis van Jehovah onderrig.

2 Jehovah sal met sy lojale knegte wees wanneer hulle aan hierdie toekomstige wêreldwye onderrigtingswerk deelneem. God en sy Seun is al eeue lank met getroues. Voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het hy sy lojale dissipels verseker dat hy met hulle sou wees. (Lees Matteus 28:19, 20.) Om ons geloof in hierdie versekering te versterk, gaan ons slegs een sin van ’n goddelik geïnspireerde profesie ondersoek wat meer as 2 500 jaar gelede in eertydse Babilon neergeskryf is. Die profeet Daniël het aangaande “die tyd van die einde” waarin ons nou lewe, geskryf: “Baie sal rondswerf, en die ware kennis sal oorvloedig word” (Dan. 12:4). Wanneer die Hebreeuse werkwoord wat hier met “rondswerf” vertaal word, metafories en in die lig van die feite van ons dag beskou word, dra dit die gedagte van ’n noukeurige ondersoek oor. Watter wonderlike seëninge sou hierdie rondswerwery tog tot gevolg hê! Diegene wat die Skrif noukeurig bestudeer, sou met die ware, of juiste, kennis van God se Woord geseën word. Die profesie sê ook dat baie “die ware kennis” sou aanneem. Daarbenewens sou hierdie kennis oorvloedig wees. Dit sou op groot skaal versprei word en geredelik beskikbaar wees. Terwyl ons die vervulling van hierdie profesie ondersoek, sal ons sien dat Jesus vandag met sy dissipels is en dat Jehovah heeltemal in staat is om alles uit te voer wat hy belowe het.

“DIE WARE KENNIS” WORD BEKEND

3. Wat het ná die dood van die apostels met “die ware kennis” gebeur?

3 Ná die dood van die apostels het die voorspelde afvalligheid van die ware Christelike godsdiens ontstaan en soos ’n veldbrand versprei (Hand. 20:28-30; 2 Tess. 2:1-3). Gedurende die daaropvolgende eeue was “die ware kennis” allesbehalwe oorvloedig, nie net onder diegene wat niks van die Bybel geweet het nie, maar ook onder verklaarde Christene. Hoewel die leiers van die Christendom beweer het dat hulle in die Bybel glo, het hulle godsdiensleuens verkondig—“leringe van demone” wat God oneer aangedoen het (1 Tim. 4:1). Mense in die algemeen is in geestelike onkunde gehou. Afvallige leerstellings het die valse leringe ingesluit dat God ’n Drie-eenheid is, dat die siel nie sterf nie en dat party siele vir ewig in ’n helse vuur gefolter word.

4. Hoe het ’n groep Christene in die 1870’s na “die ware kennis” begin soek?

4 Maar in die 1870’s—omtrent vier dekades voordat “die laaste dae” begin het—het ’n groepie opregte Christene in Pennsilvanië, VSA, bymekaargekom om die Bybel ywerig te bestudeer en na “die ware kennis” te soek (2 Tim. 3:1). Hulle het hulleself Bybelstudente genoem. Hulle was nie “die wyse en intellektuele mense” van wie Jesus gepraat en gesê het dat kennis vir hulle verberg sou word nie (Matt. 11:25). Hulle was nederige mense met ’n opregte begeerte om God se wil te doen. Hulle het die Skrif noukeurig en biddend gelees, dit bespreek en daaroor gepeins. Hulle het ook Skrifgedeeltes vergelyk en die geskrifte bestudeer van ander wat ’n soortgelyke ondersoek gedoen het. Hierdie Bybelstudente het geleidelik waarhede onderskei wat eeue lank verborge was.

5. Wat was die oogmerk van die reeks traktate The Old Theology?

5 Hoewel die Bybelstudente opgewonde was oor wat hulle geleer het, het hulle nie toegelaat dat hulle nuutgevonde kennis hulle opgeblase van trots maak nie; ook het hulle nie beweer dat hulle iets nuuts verkondig nie (1 Kor. 8:1). Hulle het eerder ’n reeks traktate uitgegee met die titel The Old Theology. Die oogmerk daarvan was om lesers vertroud te maak met skriftuurlike waarhede wat in die Bybel opgeteken is. Die eerste van hierdie traktate het ’n aanbod bevat van “verdere leesstof om te help met ’n studie van die Bybel, met die doel om ontslae te raak van al die valse tradisies van mense en om die ou teologie van ons Here en die apostels ten volle te herstel”.—The Old Theology, Nr. 1, April 1889, bl. 32.

6, 7. (a) Watter waarhede is ons sedert die 1870’s gehelp om te verstaan? (b) Watter waarhede waardeer jy in die besonder?

6 Watter wonderlike waarhede is tog onthul sedert daardie klein begin meer as 100 jaar gelede! * Hierdie waarhede is nie vervelige, akademiese sake vir teoloë om oor te debatteer nie. Dit is opwindende, bevrydende waarhede wat ons lewe sinvol maak en ons met vreugde en hoop vervul. Dit help ons om Jehovah te leer ken—sy liefdevolle persoonlikheid en sy voornemens. Dit toon ook wat Jesus se rol is, verduidelik waarom hy gelewe en gesterf het en dui aan wat hy nou doen. Hierdie kosbare waarhede openbaar waarom God goddeloosheid toelaat, waarom ons sterf, hoe ons moet bid en hoe ons waarlik gelukkig kan wees.

7 Ons kan nou die betekenis begryp van profesieë wat eeue lank ’n “geheim” was maar wat nou in hierdie tyd van die einde vervul word (Dan. 12:9). Dit sluit profesieë regdeur die Bybel in, veral in die Evangelies en in die boek Openbaring. Jehovah het ons selfs gehelp om gebeure te verstaan wat ons nie kon sien nie—die kroning van Jesus, die oorlog in die hemel en die neerwerping van Satan na die aarde (Op. 12:7-12). God het ons ook gehelp om die betekenis te verstaan van wat ons kan sien—oorloë, aardbewings, pessiektes, voedseltekorte sowel as goddelose mense wat bydra tot hierdie “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”.—2 Tim. 3:1-5; Luk. 21:10, 11.

8. Aan wie gee ons die eer vir die dinge wat ons sien en hoor?

8 Ons kan ons maklik vereenselwig met Jesus se woorde aan sy dissipels: “Gelukkig is die oë wat die dinge sien wat julle sien. Want ek sê vir julle: Baie profete en konings het begeer om die dinge te sien wat julle sien, maar het dit nie gesien nie, en om die dinge te hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie” (Luk. 10:23, 24). Ons gee die eer aan Jehovah God omdat hy ons in staat gestel het om hierdie dinge te sien en te hoor. En hoe dankbaar is ons tog dat “die helper”, God se heilige gees, gestuur is om Jesus se volgelinge “in die hele waarheid” in te lei! (Lees Johannes 16:7, 13.) Mag ons altyd “die ware kennis” as kosbaar ag en dit onselfsugtig met ander deel!

“BAIE” NEEM “DIE WARE KENNIS” AAN

9. Watter oproep is in hierdie tydskrif se nommer van April 1881 gedoen?

9 In April 1881, minder as twee jaar nadat die eerste nommer van die Watch Tower uitgegee is, het hierdie tydskrif ’n oproep om 1 000 predikers gedoen. Die artikel het gesê: “Aan dié wie se omstandighede hulle toelaat om die helfte of meer van hulle tyd uitsluitlik aan die werk van die Here te wy, het ons ’n plan wat ons wil voorstel . . . , naamlik: Dat julle, volgens julle vermoë, as Kolporteurs of Evangeliste na groot of klein stede gaan en op elke plek die ernstige Christene probeer vind. Julle sal vind dat baie van hulle ’n ywer vir God het, maar nie ooreenkomstig kennis nie; probeer om aan hulle die rykdom van Onse Vader se genade en die prag van Sy woord bekend te maak.”

10. Hoe het mense gereageer op die oproep om voltydse predikers?

10 Daardie oproep het getoon dat die Bybelstudente besef het dat die verkondiging van die goeie nuus ’n noodsaaklike werk vir ware Christene is. Die oproep om 1 000 voltydse predikers was egter optimisties, aangesien net ’n paar honderd op daardie stadium die vergaderinge van die Bybelstudente bygewoon het. Maar baie mense het, nadat hulle ’n traktaat of ’n tydskrif gelees het, besef dat dit die waarheid is en geredelik op die oproep gereageer. Byvoorbeeld, nadat ’n man in Londen, Engeland, ’n nommer van die Watch Tower en ’n boekie van die Bybelstudente gelees het, het hy in 1882 geskryf: “Sê asseblief vir my hoe en wat om te preek sodat ek die geseënde werk wat God gedoen wil hê, kan uitvoer.”

11, 12. (a) Watter oogmerk het ons in gemeen met die kolporteurs van destyds? (b) Hoe het die kolporteurs “klasse”, of gemeentes, gevorm?

11 Teen 1885 het omtrent 300 Bybelstudente aan die kolporteurwerk deelgeneem. Daardie voltydse bedienaars het dieselfde oogmerk gehad wat ons vandag het—om dissipels van Jesus Christus te maak. Maar hulle metodes was anders as ons s’n. Vandag studeer ons die Bybel gewoonlik met een persoon op ’n slag en voorsien ons sodoende individuele onderrig. Dan nooi ons die Bybelstudent om met ’n reeds bestaande gemeente te assosieer. Aan die begin het die kolporteurs boeke versprei en dan belangstellendes bymekaargebring om die Bybel as ’n groep te bestudeer. Hulle het nie met individue gestudeer nie, maar het eerder “klasse”, of gemeentes, gevorm.

12 In 1907 het ’n groep kolporteurs byvoorbeeld ’n sekere stad gefynkam om mense te vind wat reeds eksemplare besit van die Millennial Dawn (wat ook Studies in the Scriptures genoem is). Die Watch Tower het gesê: “Hierdie [belangstellendes] is in een van hulle huise vir ’n klein vergadering bymekaargebring. Die Kolporteur het ’n hele Sondag lank die Divine Plan of the Ages met hulle bespreek, en die volgende Sondag het hy hulle aangespoor om gereeld bymekaar te kom.” In 1911 het die broers die prosedure gewysig. Agt-en-vyftig spesiale reisende bedienaars het openbare lesings oral in die Verenigde State en Kanada gehou. Hierdie broers het die name en adresse verkry van belangstellendes wat die lesings bygewoon het en gereël dat hulle in huise bymekaarkom om nuwe “klasse” te vorm. Teen 1914 was daar 1 200 gemeentes van Bybelstudente regoor die wêreld.

13. Wat omtrent die hedendaagse omvang van “die ware kennis” beïndruk jou?

13 Vandag is daar omtrent 109 400 gemeentes regoor die wêreld, en sowat 895 800 broers en susters dien as pioniers. Byna agtmiljoen mense neem nou “die ware kennis” aan en pas dit in hulle lewe toe. (Lees Jesaja 60:22.) * Dit is baie indrukwekkend, aangesien Jesus voorspel het dat sy dissipels weens sy naam “vir alle mense voorwerpe van haat” sou wees. Hy het verder gesê dat sy volgelinge vervolg, opgesluit en selfs doodgemaak sou word (Luk. 21:12-17). Ten spyte van die teenstand wat Satan, sy demone en menseteenstanders bied, het Jehovah se volk merkwaardige sukses behaal in die uitvoering van hulle opdrag om dissipels te maak. Vandag preek hulle in “die hele bewoonde aarde”, van tropiese woude tot ysige toendras, in berge, in woestyne, in stede en in die mees afgeleë plattelandse gebiede (Matt. 24:14). Dit sou nooit sonder goddelike steun verrig kon word nie.

“DIE WARE KENNIS” WORD “OORVLOEDIG”

14. Hoe het “die ware kennis” deur middel van die gedrukte woord wyd en syd bekend geword?

14 “Die ware kennis” het oorvloedig geword deur middel van die baie wat die goeie nuus verkondig. Dit het ook oorvloedig geword deur middel van die gedrukte woord. In Julie 1879 het die Bybelstudente die eerste nommer van hierdie tydskrif uitgegee, met die titel Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence. Daardie nommer, wat deur ’n handelsfirma gedruk is, het ’n oplaag van 6 000 eksemplare gehad en was slegs in Engels beskikbaar. Die 27-jarige Charles Taze Russell is as die redakteur gekies, en vyf ander geestelik volwasse Bybelstudente het gereeld materiaal bygedra. Die Wagtoring word nou in 195 tale uitgegee. Dit is die tydskrif met die grootste verspreiding op aarde, met ’n oplaag van 42 182 000 eksemplare per nommer. In die tweede plek is sy medetydskrif die Ontwaak! met ’n oplaag van 41 042 000 in 84 tale. Daarbenewens word ongeveer 100 miljoen boeke en Bybels elke jaar gedruk.

15. Hoe word ons drukwerk gefinansier?

15 Hierdie ontsaglike werk word deur vrywillige bydraes gefinansier. (Lees Matteus 10:8.) Dit op sigself is ongelooflik vir mense in die drukkersbedryf wat weet hoeveel drukperse, papier, ink en ander materiaal kos. ’n Broer wat by wêreldwye aankope betrokke is, het gesê: “Besigheidsmense wat ons drukkerye besoek, is verstom dat ’n fasiliteit wat so tegnologies gevorderd is en sulke hoë produksie lewer, deur vrywillige bydraes gefinansier kan word. Hulle is net so beïndruk dat ons Betheliete wat in die drukkerye werk, so jonk en gelukkig is.”

DIE AARDE SAL VOL WEES VAN DIE KENNIS VAN GOD

16. Met watter doel is “die ware kennis” bekend gemaak?

16 “Die ware kennis” het oorvloedig geword met ’n goeie doel. God se wil is dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Tim. 2:3, 4). Jehovah wil hê dat mense die waarheid moet leer ken sodat hulle hom op die regte manier kan aanbid en sy seën kan ontvang. Deur “die ware kennis” bekend te maak, het Jehovah ’n getroue oorblyfsel van gesalfde Christene ingesamel. Hy samel ook “’n groot menigte” uit “alle nasies en stamme en volke en tale” in, wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe.—Op. 7:9.

17. Tot watter gevolgtrekking lei die uitbreiding van ware aanbidding?

17 Die uitbreiding van ware aanbidding oor die afgelope 130 jaar lei tot die oorweldigende gevolgtrekking dat God en sy aangestelde Koning, Jesus Christus, met Jehovah se knegte op die aarde is—om hulle te rig, te beskerm, te organiseer en te onderrig. Hulle vermeerdering beklemtoon ook die feit dat Jehovah se beloftes vir die toekoms ongetwyfeld vervul sal word. “Die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek” (Jes. 11:9). Watter seëninge sal die mensdom dan tog ondervind!

[Voetnote]

^ par. 6 Jy sal daarby baat vind om te kyk na die DVD’s Jehovah’s Witnesses—Faith in Action, Part 1: Out of Darkness en Jehovah’s Witnesses—Faith in Action, Part 2: Let the Light Shine.

^ par. 13 Sien Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom II, bladsy 320.

[Studievrae]

[Prent op bladsy 6]

Vroeë Bybelstudente was nederige mense met ’n opregte begeerte om God se wil te doen

[Prent op bladsy 7]

Jehovah waardeer jou pogings ter verspreiding van “die ware kennis” van God