Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Pasop vir die Duiwel se strikke!

Pasop vir die Duiwel se strikke!

Pasop vir die Duiwel se strikke!

“Kom . . . uit die strik van die Duiwel.”—2 TIM. 2:26.

HOE SAL JY ANTWOORD?

Watter selfondersoek is nodig as jy geneig is om oormatig krities teenoor ander te wees?

Hoe kan die voorbeelde van Pilatus en Petrus jou help om nie voor vrees en druk te swig nie?

Hoe kan jy oordrewe skuldgevoelens vermy?

1, 2. Watter strikke van die Duiwel sal ons in hierdie artikel bespreek?

DIE Duiwel maak jag op Jehovah se knegte. Sy oogmerk is nie noodwendig om hulle te vernietig, soos ’n grootwildjagter sy prooi doodmaak nie. Die Duiwel se vernaamste oogmerk is eerder om sy prooi lewend te vang en die persoon vir sy doeleindes te gebruik.—Lees 2 Timoteus 2:24-26.

2 Om prooi lewend te vang, gebruik ’n jagter moontlik die een of ander strik. Hy probeer die dier dalk in die oopte uitlok waar hy ’n vangriem kan gebruik. Of hy gebruik miskien ’n versteekte strik wat deur ’n niksvermoedende dier afgetrap word. Die Duiwel gebruik soortgelyke strikke om God se knegte lewend te vang. As ons nie gevang wil word nie, moet ons wakker wees en ag slaan op waarskuwingstekens wat aandui dat een van Satan se strikke, of lokvalle, naby is. Hierdie artikel sal bespreek hoe ons kan waak teen drie van die strikke waarmee die Duiwel al ’n mate van sukses behaal het. Dit is (1) onbeheerste spraak, (2) vrees en druk en (3) oordrewe skuldgevoelens. Die volgende artikel sal nog twee strikke, of lokvalle, van Satan bespreek.

BLUS DIE VUUR VAN ONBEHEERSTE SPRAAK

3, 4. Wat kan dit tot gevolg hê as ons nie ons tong beheers nie? Gee ’n voorbeeld.

3 Om diere uit ’n skuilplek te dryf, steek ’n jagter dalk ’n deel van die bos aan die brand en vang hy die diere terwyl hulle probeer wegkom. In figuurlike sin sal die Duiwel die Christengemeente graag aan die brand wil steek. As hy hierin slaag, kan hy die gemeentelede uit hierdie veilige hawe dryf, reg in sy kloue in. Hoe kan ons onwetend met hom saamwerk en sodoende deur hom verstrik word?

4 Die dissipel Jakobus het die tong met ’n vuur vergelyk. (Lees Jakobus 3:6-8.) As ons nie ons tong beheers nie, kan ons ’n figuurlike bosbrand in die gemeente stig. Hoe kan dit gebeur? Beskou die volgende scenario: By ’n gemeentelike vergadering word daar aangekondig dat ’n sekere suster as ’n gewone pionier aangestel is. Ná die vergadering bespreek twee verkondigers hierdie aankondiging. Die een sê hoe bly sy is en hoop dat alles goed sal gaan met die nuwe pionier. Die ander bevraagteken die pionier se beweegredes en gee te kenne dat sy net aansien in die gemeente nastreef. Watter een van hierdie twee verkondigers wil jy as ’n vriendin hê? Dit is nie moeilik om te sien watter een se spraak meer geneig sal wees om ’n brand in die gemeente te stig nie.

5. Watter selfondersoek moet ons doen as ons die vuur van onbeheerste spraak wil blus?

5 Hoe kan ons die vuur van onbeheerste spraak blus? Jesus het gesê: “Uit die oorvloed van die hart spreek die mond” (Matt. 12:34). Die eerste stap is dus om ons hart te ondersoek. Sorg ons dat die slegte gevoelens wat verwoestende spraak aanvuur, nie by ons posvat nie? Wanneer ons byvoorbeeld hoor dat ’n broer die een of ander diensvoorreg nastreef, glo ons geredelik dat sy beweegredes suiwer is, of dink ons dat hy deur eiebelang aangedryf word? As ons geneig is om sinies te wees, is dit goed om te onthou dat die Duiwel die beweegredes van God se getroue kneg Job bevraagteken het (Job 1:9-11). In plaas van agterdogtig teenoor ons broer te wees, moet ons eerder ontleed waarom ons krities teenoor hom is. Het ons werklik goeie rede om so te wees? Of is ons hart vergiftig deur die liefdelose gees wat gedurende hierdie laaste dae so algemeen is?—2 Tim. 3:1-4.

6, 7. (a) Wat is party redes waarom ons dalk krities teenoor ander is? (b) Hoe moet ons reageer as iemand sleg praat van ons?

6 Kom ons kyk na nog ’n paar redes waarom ons dalk krities teenoor ander is. Een rede is miskien dat ons ons eie prestasies opvallender wil maak. Ons probeer as ’t ware om uit te staan deur ander af te druk. Of ons probeer dalk verskoning soek vir ons versuim om positief op te tree. Hetsy ons deur trots, afguns of onsekerheid aangedryf word, die gevolg is verwoestend.

7 Dalk voel ons geregverdig wanneer ons krities van iemand praat. Miskien was ons al die slagoffer van sy of haar onbeheerste spraak. As dit die geval is, is vergelding nie die antwoord nie. Dít gooi net olie op die vuur en is in ooreenstemming met die Duiwel se wil, nie God s’n nie (2 Tim. 2:26). Ons moet Jesus in hierdie verband navolg. Toe hy uitgeskel is, “het hy nie terug uitgeskel nie”. Hy het hom eerder “bly toevertrou aan die een wat regverdig oordeel” (1 Pet. 2:21-23). Jesus was vol vertroue dat Jehovah op Sý manier en tyd na sake sou omsien. Ons moet dieselfde vertroue in God hê. Wanneer ons ons spraak gebruik om te genees, help ons om die “verenigende band van vrede” in ons gemeente te bewaar.—Lees Efesiërs 4:1-3.

ONTSNAP UIT DIE VANGRIEM VAN VREES EN DRUK

8, 9. Waarom het Pilatus Jesus veroordeel?

8 ’n Dier wat in ’n strik gevang is, kan nie meer vryelik beweeg nie. So ook verloor ’n persoon wat voor vrees en verwante druk swig, ten minste ’n mate van beheer oor sy lewe. (Lees Spreuke 29:25.) Kom ons bespreek die voorbeelde van twee heeltemal verskillende mans wat voor druk en vrees geswig het en kyk wat ons uit hulle ondervinding kan leer.

9 Die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus het geweet dat Jesus ’n onskuldige man is en wou hom blykbaar nie leed aandoen nie. Trouens, Pilatus het gesê dat Jesus “niks gedoen [het] wat die dood verdien nie”. Nietemin het Pilatus hom ter dood veroordeel. Waarom? Omdat Pilatus voor die druk van die oproerige skare geswig het (Luk. 23:15, 21-25). “As u hierdie man vrylaat, is u nie ’n vriend van die keiser nie”, het daardie teenstanders uitgeroep en sodoende druk uitgeoefen om hulle sin te kry (Joh. 19:12). Pilatus was dalk bang dat hy sy posisie—of moontlik sy lewe—sou verloor as hy vir Christus opkom. Hy het hom dus laat oorhaal om die Duiwel se wil te doen.

10. Wat het veroorsaak dat Petrus Christus verloën het?

10 Die apostel Petrus was een van Jesus se intiemste metgeselle. Hy het in die openbaar verklaar dat Jesus die Messias is (Matt. 16:16). Petrus het lojaal gebly toe ander dissipels nie die betekenis van Jesus se woorde begryp het nie en Hom verlaat het (Joh. 6:66-69). En toe vyande Jesus in hegtenis kom neem het, het Petrus ’n swaard gebruik om sy Heer te verdedig (Joh. 18:10, 11). Maar later het Petrus voor vrees geswig en gesê dat hy Jesus Christus nie eens ken nie. Die apostel is ’n kort rukkie deur mensevrees verstrik en het toegelaat dat dit hom verhinder om moedig op te tree.—Matt. 26:74, 75.

11. Met watter negatiewe invloede het ons dalk te kampe?

11 As Christene moet ons druk weerstaan om dinge te doen wat God sal mishaag. Werkgewers of ander probeer ons dalk dwing om oneerlik te wees of probeer miskien om ons te kry om ons aan geslagsonsedelikheid skuldig te maak. Leerlinge het miskien te kampe met portuurdruk om oneerlik te wees in eksamens, na pornografie te kyk, te rook, dwelms te gebruik, alkohol te misbruik of hulle aan geslagsonsedelikheid skuldig te maak. Wat kan ons dus help om die strik van vrees en van druk om te doen wat Jehovah mishaag, te vermy?

12. Watter lesse kan ons by Pilatus en Petrus leer?

12 Kom ons kyk wat ons uit die voorbeelde van Pilatus en Petrus kan leer. Pilatus het min kennis omtrent Christus gehad. Nietemin het hy geweet dat Jesus onskuldig is en nie ’n gewone mens is nie. Maar Pilatus het nie nederigheid of liefde vir die ware God gehad nie. Die Duiwel het hom maklik lewend gevang. Petrus het juiste kennis sowel as liefde vir God gehad. Maar hy was by tye nie beskeie nie, het vreesbevange geword en het voor druk geswig. Voor Jesus se inhegtenisname het Petrus gespog: “Selfs al struikel al die ander, tog sal ek nie” (Mark. 14:29). Die apostel sou beter voorbereid gewees het vir die toetse wat voorgelê het as hy dieselfde beskouing gehad het as die psalmis wat sy vertroue in God gestel het en gesing het: “Jehovah is aan my kant; ek sal nie vrees nie. Wat kan die mens aan my doen?” (Ps. 118:6). Op die laaste aand van Sy aardse lewe het Jesus Petrus en twee ander apostels saam met hom diep in die tuin van Getsemane ingeneem. Maar in plaas van wakker te bly, het Petrus en sy metgeselle aan die slaap geraak. Jesus het hulle wakker gemaak en gesê: “Manne, hou aan waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie” (Mark. 14:38). Maar Petrus het weer aan die slaap geraak en later voor vrees en druk geswig.

13. Hoe kan ons druk weerstaan om iets verkeerds te doen?

13 Die voorbeelde van Pilatus en Petrus kan ons nog ’n noodsaaklike les leer: Om druk suksesvol te weerstaan, het ons ’n kombinasie van elemente nodig soos juiste kennis, nederigheid, beskeidenheid, liefde vir God en vrees vir Jehovah, nie mense nie. As ons geloof op juiste kennis gegrond is, sal ons moedig en met oortuiging oor ons opvattings praat. Dit sal ons help om druk te weerstaan en mensevrees te bowe te kom. Ons moet natuurlik nooit ons eie krag oorskat nie. Ons moet eerder nederig erken dat ons God se krag nodig het om druk te weerstaan. Ons moet vir Jehovah se gees bid en toelaat dat liefde vir hom ons beweeg om sy naam hoog te hou en sy standaarde te handhaaf. Wat meer is, ons moet ons vir druk voorberei voordat ons voor ’n toets te staan kom. Voorbereiding tesame met gebed kan byvoorbeeld ons kinders help om op die regte wyse te reageer wanneer hulle portuurs hulle probeer kry om iets verkeerds te doen.—2 Kor. 13:7. *

VERMY DIE STRIK WAT VERBRYSEL—OORDREWE SKULDGEVOELENS

14. Tot watter slotsom wil die Duiwel hê moet ons kom in verband met foute wat ons in die verlede begaan het?

14 Soms word ’n strik vir diere gestel deur ’n swaar stomp of klip bo ’n paadjie te hang waarlangs die prooi dikwels loop. ’n Niksvermoedende dier trap die strik af sodat die stomp of klip val en die slagoffer verbrysel. Oordrewe skuldgevoelens kan met daardie swaar, verbryselende voorwerp vergelyk word. Wanneer ons dink aan ’n fout wat ons in die verlede begaan het, voel ons dalk “erg verbryseld”. (Lees Psalm 38:3-5, 8.) Satan wil hê dat ons tot die slotsom moet kom dat ons glad nie Jehovah se barmhartigheid verdien of Sy vereistes kan nakom nie.

15, 16. Hoe kan jy die strik vermy om aan oordrewe skuldgevoelens toe te gee?

15 Hoe kan jy hierdie strik wat verbrysel, vermy? As jy by ernstige sonde betrokke geraak het, moet jy nou stappe doen om jou vriendskap met Jehovah te herstel. Kom in aanraking met die ouer manne, en vra hulle om hulp (Jak. 5:14-16). Doen wat jy kan om die oortreding reg te stel (2 Kor. 7:11). As jy dissipline ontvang, moet jy nie mismoedig word nie. Dissipline is ’n duidelike teken dat Jehovah jou liefhet (Heb. 12:6). Wees vasbeslote om nie die stappe wat tot die sonde gelei het, te herhaal nie, en tree op in ooreenstemming met hierdie voorneme. Nadat jy berou getoon en omgedraai het, moet jy geloof hê dat die losprysoffer van Jesus Christus werklik jou oortredings kan bedek.—1 Joh. 4:9, 14.

16 Party mense hou aan om skuldgevoelens te koester oor sondes waarvoor hulle reeds vergewe is. As dit met jou die geval is, moet jy onthou dat Jehovah Petrus en die ander apostels daarvoor vergewe het dat hulle Sy geliefde Seun in sy grootste uur van nood verlaat het. Jehovah het die man vergewe wat weens skandelike onsedelikheid uit die gemeente in Korinte gesit is, maar wat later berou getoon het (1 Kor. 5:1-5; 2 Kor. 2:6-8). God se Woord praat van growwe sondaars wat berou getoon het en deur God vergewe is.—2 Kron. 33:2, 10-13; 1 Kor. 6:9-11.

17. Wat kan die losprys vir ons doen?

17 Jehovah sal jou oortredings van die verlede vergewe en vergeet as jy waarlik berouvol is en sy barmhartigheid aanvaar. Moet nooit dink dat Jesus se losprysoffer nie jou sondes kan bedek nie. As jy dit doen, sal jy ’n slagoffer van een van Satan se strikke word. Ondanks wat die Duiwel wil hê jy moet glo, kan die losprys die sondes bedek van almal wat in sonde verval het en berou getoon het (Spr. 24:16). Geloof in die losprys kan die las van oordrewe skuldgevoelens van jou skouers verwyder en kan jou die krag gee om God met jou hele hart, verstand en siel te dien.—Matt. 22:37.

ONS IS NIE ONKUNDIG OMTRENT SATAN SE PLANNE NIE

18. Hoe kan ons die Duiwel se strikke vermy?

18 Satan gee nie om in watter strik ons beland nie, solank ons deur hom gevang word. Aangesien ons nie onkundig is omtrent Satan se planne nie, kan ons verhoed dat die Duiwel die oorhand oor ons kry (2 Kor. 2:10, 11). Ons sal nie in sy strikke, of lokvalle, gevang word as ons bid vir wysheid om ons beproewinge die hoof te bied nie. “As een van julle dan wysheid kortkom,” het Jakobus geskryf, “laat hom aanhou om God te vra, want hy gee aan almal mildelik en sonder om te verwyt; en dit sal aan hom gegee word” (Jak. 1:5). Ons moet in ooreenstemming met ons gebede optree deur gereeld persoonlike studie te doen en deur God se Woord toe te pas. Die Bybelstudiehulpe wat deur die “getroue en verstandige slaaf”-klas voorsien word, werp lig op die strikke wat deur die Duiwel gestel word en help ons om dit te vermy.

19, 20. Waarom moet ons haat wat sleg is?

19 Gebed en Bybelstudie wek in ons ’n liefde vir wat goed is. Maar dit is ewe belangrik dat ons leer om te haat wat sleg is (Ps. 97:10). As ons peins oor die gevolge van ’n strewe na selfsugtige begeertes, kan dit ons help om sulke begeertes te vermy (Jak. 1:14, 15). Wanneer ons leer om te haat wat sleg is en waarlik lief is vir wat goed is, is die lokaas wat Satan in sy strikke plaas, vir ons afstootlik; dit trek ons glad nie aan nie.

20 Hoe dankbaar is ons tog dat God ons help sodat Satan nie die oorhand oor ons kry nie! Deur middel van Sy gees, Woord en organisasie verlos Jehovah ons “van die bose” (Matt. 6:13). In die volgende artikel sal ons leer hoe om nog twee strikke te vermy wat die Duiwel al met welslae gebruik het om God se knegte lewend te vang.

[Voetnoot]

^ par. 13 Dit sal goed wees as ouers die “Portuurdrukplan” in die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, bladsye 132-133, met hulle kinders bespreek. Hierdie materiaal kan op die aand vir Gesinsaanbidding gebruik word.

[Studievrae]

[Prent op bladsy 21]

Onbeheerste spraak kan ’n brand van probleme in die gemeente stig

[Prent op bladsy 24]

Jy kan ontslae raak van die las van oordrewe skuldgevoelens