Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Staan vas en vermy Satan se strikke!

Staan vas en vermy Satan se strikke!

Staan vas en vermy Satan se strikke!

“[Staan vas] teen die sette van die Duiwel.”—EF. 6:11.

HOE SAL JY ANTWOORD?

Hoe kan ’n kneg van Jehovah dit vermy om in die strik van materialisme te trap?

Wat kan ’n getroude Christen help om nie in die kuil van egbreuk te val nie?

Waarom meen jy dat dit voordelig is om ferm standpunt in te neem teen materialisme en geslagsonsedelikheid?

1, 2. (a) Waarom het Satan nie medelye vir die gesalfdes en die “ander skape” nie? (b) Watter strikke van Satan sal in hierdie artikel bespreek word?

SATAN DIE DUIWEL het geen medelye vir mense nie, veral nie vir dié wat Jehovah dien nie. Trouens, Satan voer oorlog teen die gesalfde oorblyfsel (Op. 12:17). Hierdie standvastige Christene neem die voortou met die hedendaagse Koninkrykspredikingswerk en het Satan as die heerser van hierdie wêreld ontmasker. Die Duiwel het ook geen liefde vir die “ander skape”, wat die gesalfdes ondersteun en die vooruitsig op ewige lewe het nie—’n vooruitsig wat Satan nie meer het nie (Joh. 10:16). Geen wonder dat hy toornig is nie! Of ons die hemelse hoop of die aardse hoop het, Satan stel nie die minste in ons welsyn belang nie. Sy oogmerk is om ons sy slagoffers te maak.—1 Pet. 5:8.

2 Om sy oogmerk te bereik, stel Satan verskillende strikke, of lokvalle. Aangesien hy “die verstande van die ongelowiges verblind het”, neem hulle nie die goeie nuus aan nie en kan hulle nie hierdie strikke sien nie. Maar die Duiwel verstrik ook party wat wel die Koninkryksboodskap aangeneem het (2 Kor. 4:3, 4). Die vorige artikel het getoon hoe ons drie van Satan se strikke kan vermy: (1) onbeheerste spraak, (2) vrees en druk en (3) oordrewe skuldgevoelens. Kom ons bespreek nou hoe ons kan vasstaan teen twee ander sataniese strikke—materialisme en die versoeking om egbreuk te pleeg.

MATERIALISME—DIE STRIK WAT VERSTIK

3, 4. Hoe kan die sorge van hierdie stelsel van dinge tot materialisme lei?

3 In een van sy illustrasies het Jesus gepraat van saad wat tussen dorings gesaai word. Hy het daarop gewys dat ’n persoon moontlik die woord hoor, ‘maar dat die sorge van hierdie stelsel van dinge en die bedrieglike krag van rykdom die woord verstik en dat hy onvrugbaar word’ (Matt. 13:22). Ja, materialisme is een van die strikke wat ons vyand Satan gebruik.

4 ’n Kombinasie van twee faktore verstik die woord. Een faktor is “die sorge van hierdie stelsel van dinge”. In hierdie ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, is daar baie dinge wat jou angstig kan maak (2 Tim. 3:1). As gevolg van die hoë lewenskoste en toename in werkloosheid sukkel jy dalk om kop bo water te hou. Jy is miskien ook besorg oor die toekoms en wonder: ‘Sal my inkomste genoeg wees wanneer ek aftree?’ Weens hierdie sorge het party rykdom begin najaag omdat hulle dink dat geld veiligheid sal verseker.

5. Hoe kan die “krag van rykdom” bedrieglik wees?

5 Jesus het die ander faktor gemeld—“die bedrieglike krag van rykdom”. Hierdie element tesame met besorgdheid kan die woord verstik. Die Bybel erken dat “geld as ’n beskerming dien” (Pred. 7:12). Maar dit is nie verstandig om rykdom na te jaag nie. Baie het gevind dat hulle in hulle strewe na rykdom al hoe meer deur materialisme verstrik word. Party het selfs ’n slaaf van rykdom geword.—Matt. 6:24.

6, 7. (a) Hoe kan materialisme ’n gevaar word by ons sekulêre werk? (b) Watter faktore moet ’n Christen oorweeg wanneer hy die geleentheid gebied word om oortyd te werk?

6 Die begeerte na rykdom begin moontlik heel onskuldig. Beskou byvoorbeeld hierdie scenario. Jou werkgewer kom na jou toe en sê: “Ek het goeie nuus! Die maatskappy het ’n groot kontrak gekry. Dit sal beteken dat jy oor die volgende paar maande heelwat oortyd moet werk. Maar ek verseker jou dat die geld dit beslis vir jou die moeite werd sal maak.” Hoe sal jy op so ’n aanbod reageer? Om materieel vir jou gesin te sorg, is natuurlik ’n ernstige verantwoordelikheid, maar dit is nie jou enigste verantwoordelikheid nie (1 Tim. 5:8). Daar is etlike ander faktore wat jy in ag moet neem. Hoeveel oortyd sal dit beteken? Sal jou sekulêre werk inbreuk maak op jou geestelike bedrywighede, onder andere gemeentelike vergaderinge en jou aand vir Gesinsaanbidding?

7 Watter faktor sal die grootste invloed op jou besluit uitoefen—watter uitwerking die oortyd op jou bankrekening sal hê of watter uitwerking dit moontlik op jou geestelikheid sal hê? Sal die begeerte om meer geld te maak, veroorsaak dat jy Koninkryksbelange op die agtergrond skuif? Kan jy sien watter uitwerking materialisme op jou sal hê as jy jou en jou gesin se geestelike gesondheid sou verwaarloos? As jy jou nou in hierdie situasie bevind, hoe kan jy dan vasstaan en verhoed dat jy deur materialisme verstik word?—Lees 1 Timoteus 6:9, 10.

8. Watter voorbeelde in die Bybel kan ons help om ons lewenswyse te ondersoek?

8 As jy nie deur materialisme verstik wil word nie, moet jy van tyd tot tyd jou lewenswyse ondersoek. Jy wil nooit soos Esau wees, wat deur sy dade getoon het dat hy geestelike dinge verag nie! (Gen. 25:34; Heb. 12:16). En jy moet beslis nie soos die ryk man wees wat genooi is om sy besittings te verkoop, vir die armes te gee en Jesus te volg nie. In plaas van dit te doen, het die man “bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad” (Matt. 19:21, 22). Daardie man is deur rykdom verstrik en het gevolglik ’n groot voorreg verbeur—om die grootste man wat nog geleef het, te volg! Pasop dat jy nie die voorreg verbeur om ’n dissipel van Jesus Christus te wees nie.

9, 10. Wat sal jy sê is die skriftuurlike beskouing van materiële dinge?

9 Om oordrewe besorgdheid oor materiële dinge teë te werk, moet jy ag slaan op Jesus se vermaning: “Moet julle . . . nooit kwel en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. Want al hierdie dinge jaag die nasies gretig na. Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.”—Matt. 6:31, 32; Luk. 21:34, 35.

10 Moenie ’n slagoffer van die bedrieglike krag van rykdom word nie, maar probeer eerder om dieselfde beskouing te hê as die Bybelskrywer Agur, wat gesê het: “Moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het” (Spr. 30:8, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Dit is duidelik dat Agur bewus was van die beskermende waarde van geld asook die bedrieglike krag van rykdom. Jy moet besef dat die sorge van hierdie stelsel en die bedrieglike krag van rykdom tot geestelike ondergang kan lei. Oordrewe kommer oor materiële dinge kan al jou tyd en energie in beslag neem sodat jy min of geen begeerte het om Koninkryksbelange na te streef nie. Neem jou dus voor om nie in Satan se strik van materialisme gevang te word nie!—Lees Hebreërs 13:5.

EGBREUK—’N GOED VERSTEEKTE KUIL

11, 12. Hoe kan ’n Christen hom of haar by die werksplek aan egbreuk skuldig maak?

11 Jagters wat ’n sterk dier wil vang, grawe soms ’n kuil op ’n pad waarlangs die prooi dikwels loop. Die kuil word gewoonlik met ’n dun laag stokkies en grond bedek. Een van Satan se doeltreffendste versoekings is soos hierdie strik. Dit is die sonde van onsedelikheid (Spr. 22:14; 23:27). ’n Aantal Christene het in hierdie kuil geval deur toe te laat dat hulle in situasies beland waarin dit baie maklik is om ’n mens se beginsels prys te gee. Party getroude Christene het hulle aan egbreuk skuldig gemaak nadat hulle ’n onvanpaste romantiese verhouding aangeknoop het.

12 ’n Onvanpaste romantiese verhouding kan by jou werksplek ontwikkel. Trouens, ’n sekulêre studie het getoon dat meer as die helfte van owerspelige vroue en bykans 3 uit 4 owerspelige mans ongeoorloofde geslagsomgang met ’n werksmaat gehad het. Vereis jou sekulêre werk dat jy met lede van die teenoorgestelde geslag assosieer? Indien wel, watter soort verhouding het jy met hulle? Stel jy grense sodat dit professioneel bly en nie iets meers word nie? Byvoorbeeld, ná herhaalde informele gesprekke met ’n medewerker praat ’n Christensuster miskien met hom oor persoonlike sake en vertel sy hom dalk selfs van haar huweliksprobleme. Of nadat ’n Christenman vriende gemaak het met ’n vrou saam met wie hy werk, redeneer hy dalk: “Sy stel my mening op prys en luister werklik wanneer ek met haar praat. En sy waardeer my. Ek wens my vrou het my so behandel!” Kan jy sien hoe Christene in sulke situasies gevaar kan loop om egbreuk te pleeg?

13. Hoe kan ’n onvanpaste romantiese verhouding in die gemeente ontwikkel?

13 ’n Onvanpaste romantiese verhouding kan in die gemeente ontwikkel. Beskou hierdie werklike voorbeeld. Daniel en sy vrou, Sarah, * was gewone pioniers. Daniel was ook, soos hy dit stel, “’n ouer man wat nooit nee gesê het nie”. Hy het elke voorreg gretig aanvaar. In sy bediening het Daniel Bybelstudies met vyf jong mans gehou—van wie drie later gedoop is. Hierdie pas gedoopte broers het baie hulp nodig gehad. Wanneer Daniel besig was met al sy teokratiese toewysings, het Sarah dikwels hierdie hulp voorsien. Kort voor lank het hierdie patroon ontwikkel: Daniel se voormalige Bybelstudente het emosionele ondersteuning nodig gehad, en hulle het dit by Sarah gekry. Sy het aandag nodig gehad, en sy het dit by Daniel se Bybelstudente gekry. ’n Dodelik strik is gestel. “Omdat my vrou maande lank van haarself gegee het, het dit haar geestelik en emosioneel uitgeput”, sê Daniel. “Dit, tesame met die feit dat ek haar verwaarloos het, het rampspoedige gevolge gehad. My vrou het egbreuk gepleeg met een van my voormalige studente. Sy het reg onder my neus geestelik swak geword, en ek was te besorg oor al my voorregte om dit selfs agter te kom.” Hoe kan jy so ’n tragedie vermy?

14, 15. Watter faktore kan getroude Christene help om die kuil van egbreuk te vermy?

14 Om die kuil van egbreuk te vermy, moet jy nadink oor die betekenis van ’n huweliksverbintenis. Jesus het gesê: “Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matt. 19:6). Moet nooit dink dat jou teokratiese voorregte belangriker is as jou huweliksmaat nie. En as jy dikwels weens onbelangrike bedrywighede weg is van jou maat, moet jy besef dat dit ’n aanduiding kan wees dat julle huwelik verswak het en dat dit tot versoeking en moontlik tot ernstige sonde kan lei.

15 Maar gestel jy is ’n ouer man; wat van die kudde? Die apostel Petrus het geskryf: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is, nie onder dwang nie, maar gewillig; ook nie uit liefde vir oneerlike gewin nie, maar gretig” (1 Pet. 5:2). Gemeentelede wat onder jou sorg is, moet beslis nie geïgnoreer word nie. Maar jy moenie jou rol as ’n herder vervul ten koste van jou rol as ’n eggenoot nie. Dit sou sinloos—selfs gevaarlik—wees om al jou aandag daaraan te skenk om die gemeente te voed terwyl jou maat by die huis “honger ly”. Daniel sê: “Die lewe behels baie meer as om só besig te wees om na voorregte om te sien dat jy jou gesin verwaarloos.”

16, 17. (a) Watter praktiese stappe kan getroude Christene by die werksplek doen om ’n duidelike boodskap uit te stuur dat hulle nie vir ’n romantiese verhouding beskikbaar is nie? (b) Gee ’n voorbeeld van gedrukte materiaal wat Christene kan help om egbreuk te vermy.

16 Baie nuttige raad het al in Die Wagtoring en Ontwaak! verskyn om getroude Christene te help om nie in die strik van egbreuk te trap nie. Die Wagtoring van 15 September 2006 het byvoorbeeld hierdie raad gegee: “Wees versigtig vir situasies by die werksplek en elders wat tot intimiteit kan lei. Om byvoorbeeld ekstra ure in noue kontak met iemand van die teenoorgestelde geslag saam te werk, kan tot versoeking aanleiding gee. As ’n getroude man of vrou moet jy duidelik deur jou spraak en gedrag toon dat jy eenvoudig nie beskikbaar is nie. As iemand wat godvrugtige toegewydheid nastreef, sal jy beslis nie ongepaste aandag wil uitlok deur te flankeer of deur onbeskeie kleredrag en persoonsversorging nie . . . As jy foto’s van jou huweliksmaat en jou kinders by die werk het, sal dit vir jou en vir ander ’n sigbare herinnering wees dat hulle jou prioriteit is. Wees vasbeslote om nooit romantiese toenadering aan te moedig—of selfs te duld nie.”

17 Die artikel “Huwelikstrou—Wat beteken dit werklik?” in die Ontwaak! van April 2009 het gewaarsku teen seksuele fantasieë oor iemand anders as jou huweliksmaat. Die artikel het getoon dat seksuele fantasieë die moontlikheid sal vergroot dat jy egbreuk pleeg (Jak. 1:14, 15). As jy getroud is, sal dit verstandig wees as jy en jou huweliksmaat hierdie inligting van tyd tot tyd saam deurgaan. Die huwelik is ’n reëling wat deur Jehovah ingestel is, en dit is heilig. Om tyd opsy te sit om met jou maat oor julle huwelik te praat, is ’n goeie manier om te toon dat jy heilige dinge waardeer.—Gen. 2:21-24.

18, 19. (a) Wat is die gevolge van egbreuk? (b) Watter voordele bring huwelikstrou mee?

18 As jy in die versoeking kom om ’n onvanpaste romantiese verhouding aan te knoop, moet jy peins oor die skadelike gevolge van hoerery en egbreuk (Spr. 7:22, 23; Gal. 6:7). Diegene wat hulle aan onsedelikheid skuldig maak, mishaag Jehovah en maak hulle maat en hulleself seer. (Lees Maleagi 2:13, 14.) Dink in teenstelling hiermee aan die voordele wat diegene geniet wat kuis gedrag handhaaf. Hulle het nie net die hoop om vir ewig te lewe nie, maar geniet nou ook die beste lewe, insluitende ’n skoon gewete.—Lees Spreuke 3:1, 2.

19 Die psalmis het gesing: “Oorvloedige vrede behoort aan dié wat u [God se] wet liefhet, en vir hulle is daar geen struikelblok nie” (Ps. 119:165). Wees dus lief vir die waarheid, en ‘let streng op hoe jy in hierdie bose dae wandel, dat dit nie as ’n onwyse is nie, maar as ’n wyse’ (Ef. 5:15, 16). Die paaie wat ons bewandel, is vol strikke wat Satan stel om ware aanbidders te verstrik. Maar ons is goed toegerus om onsself te beskerm. Jehovah het ons gegee wat ons nodig het om ‘vas te staan’ en ‘al die brandende pyle van die bose te blus’!—Ef. 6:11, 16.

[Voetnoot]

^ par. 13 Name is verander.

[Studievrae]

[Prent op bladsy 26]

Materialisme kan ’n mens geestelik verstik. Moenie toelaat dat dit met jou gebeur nie

[Prent op bladsy 29]

As jy flankeer—of daarop reageer—kan jy ’n slagoffer van egbreuk word