Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrede duisend jaar lank—En langer!

Vrede duisend jaar lank—En langer!

“Sodat God alles vir elkeen kan wees.”—1 KOR. 15:28.

1. Watter opwindende vooruitsig het die “groot menigte”?

KAN jy jou voorstel hoeveel goeie dinge ’n magtige regering met ’n regverdige en medelydende heerser gedurende duisend jaar vir sy onderdane kan doen? Wonderlike gebeure lê voor vir die ontelbare “groot menigte”—oorlewendes van “die groot verdrukking”, wat die huidige goddelose stelsel van dinge tot ’n algehele einde sal bring.—Op. 7:9, 14.

2. Wat het die mensdom gedurende die afgelope 6 000 jaar ervaar?

2 Gedurende 6 000 jaar van die mensegeskiedenis het selfbeskikking en selfbestuur ’n tragiese oorvloed van pyn en lyding vir die mensdom meegebring. Die Bybel het lank gelede gesê dat “die mens oor die mens geheers het tot sy nadeel” (Pred. 8:9). Wat sien ons vandag? Benewens oorloë en opstande is daar verwoestende probleme soos armoede, siekte, die vernietiging van die omgewing, klimaatsverandering en nog meer. Regeringsamptenare het gewaarsku dat die uiteinde rampspoedig sal wees as ons nie ons onverskillige gesindheid verander nie.

3. Wat sal die Duisendjarige Heerskappy teweegbring?

3 Onder die Messiaanse Koning Jesus Christus en sy 144 000 medeheersers sal God se Koninkryk progressiewe stappe doen om al die skade ongedaan te maak wat die mens en sy tuiste, die planeet Aarde, aangedoen is. Die Duisendjarige Heerskappy sal die vervulling van die hartverblydende belofte van Jehovah God teweegbring: “Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde; en die vorige dinge sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie” (Jes. 65:17). Watter wonderlike gebeure wat nog nie gesien word nie, lê vir ons voor? Kom ons kry met behulp van God se profetiese Woord ’n kykie in die wonderlike dinge wat nog “nie gesien word nie”.—2 Kor. 4:18.

‘HULLE SAL HUISE BOU EN WINGERDE PLANT’

4. In watter situasie bevind baie hulle vandag wat behuising betref?

4 Wie wil nie graag sy eie huis hê nie, ’n plek waar hy en sy gesin veilig en gerus kan voel? Maar in vandag se wêreld is voldoende behuising ’n ernstige probleem. Mense woon in oorbevolkte stede. Baie moet tevrede wees met tydelike wonings in plakkersdorpe en krotbuurte. Om hulle eie huis te hê, bly vir hulle maar net ’n droom.

5, 6. (a) Hoe sal Jesaja 65:21 en Miga 4:4 vervul word? (b) Hoe kan ons daardie seën ontvang?

5 Onder Koninkryksheerskappy sal die begeerte van elke inwoner om sy eie huis te hê, vervul word, want dit is deur Jesaja voorspel: “Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon; en hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet” (Jes. 65:21). Maar om hulle eie huis te hê, is nie die enigste vooruitsig nie. Party woon immers vandag al in hulle eie huis, en ’n paar selfs in ’n spogwoning of op ’n deftige landgoed. Maar daar is altyd die bekommernis dat die huis weens finansiële terugslae verloor kan word of dat diewe—of selfs gevaarliker persone—sal inbreek. Hoe anders sal alles tog onder Koninkryksheerskappy wees! Die profeet Miga het geskryf: “Hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie.”—Miga 4:4.

6 Wat moet ons doen terwyl ons hierdie wonderlike vooruitsig voor oë hou? Ons het almal natuurlik ’n geskikte blyplek nodig. Maar sal dit nie verstandig van ons wees om ons eerder op Jehovah se belofte toe te spits as om daarna te streef om nou daardie droomhuis te verkry—dalk deur groot skuld aan te gaan nie? Dink aan wat Jesus oor homself gesê het: “Jakkalse het gate en voëls van die hemel het slaapplekke, maar die Seun van die mens het geen plek om sy kop neer te lê nie” (Luk. 9:58). Jesus het die vermoë en die mag gehad om die allerbeste huis te bou of te verkry. Waarom het hy dit nie gedoen nie? Dit is duidelik dat Jesus enige afleiding en verstrikking wou vermy wat hom sou verhinder om die Koninkryk eerste te stel. Kan ons sy voorbeeld volg en ons oog eenvoudig hou—vry van materialistiese verstrikking en sorge?—Matt. 6:33, 34.

“DIE WOLF EN DIE LAM SAL SAAM WEI”

7. Watter bevel het Jehovah aan die begin in verband met die verhouding tussen mense en diere gegee?

7 Tydens die skeppingsproses het Jehovah die mens laaste gemaak, die hoogtepunt van sy aardse werke. Jehovah het vir sy Meesterwerker, sy eersgebore Seun, gesê wat sy spesifieke voorneme is: “Laat ons mense maak na ons beeld, ooreenkomstig ons gelykenis, en laat die visse van die see en die voëls van die hemel en die mak diere en die hele aarde en al die kruipende diere wat op die aarde kruip, aan hulle onderworpe wees” (Gen. 1:26). Adam en Eva, en uiteindelik alle mense, is dus die bevel gegee om gesag oor die diereskepping uit te oefen.

8. Watter gedrag is vandag algemeen onder diere?

8 Is dit werklik moontlik dat al die diere aan mense onderworpe sal wees en dat daar vrede tussen mense en diere sal wees? Talle mense is baie na aan hulle troeteldiere, soos katte en honde. Maar wat van wilde diere? ’n Verslag sê: “Wetenskaplikes wat ten nouste met diere saamgelewe het en hulle bestudeer het, het gevind dat alle soogdiere emosioneel is.” Ons sien natuurlik dat diere bang of aggressief word wanneer hulle bedreig word, maar is hulle in staat tot wat sommige dalk as tere gevoelens sou beskryf? Die verslag gaan voort: “Wanneer soogdiere hulle kleintjies grootmaak, kom hulle beste eienskap na vore—hulle wonderlike vermoë om tere liefde te toon.”

9. Watter veranderinge kan ons verwag wat die diere betref?

9 Ons moet dus nie verbaas wees wanneer ons in die Bybel lees dat daar vrede tussen mense en diere sal wees nie. (Lees Jesaja 11:6-9; 65:25.) Waarom nie? Onthou dat Jehovah vir Noag en sy gesin gesê het toe hulle ná die Vloed uit die ark gekom het: “’n Vrees vir julle en ’n skrik vir julle sal op elke dier van die aarde . . . bly.” Dit was ter wille van die diere se selfbehoud (Gen. 9:2, 3). Kan Jehovah nie ’n mate van hierdie vrees en skrik verwyder sodat sy oorspronklike opdrag vervul sal word nie? (Hos. 2:18). Wat ’n genotvolle tyd lê tog voor vir al die oorlewendes wat dan op die aarde sal woon!

‘HY SAL ELKE TRAAN AFVEE’

10. Waarom is dit iets algemeens dat mense trane stort?

10 Toe Salomo “al die dade van onderdrukking . . . wat onder die son gepleeg word”, gesien het, het hy gekla: “Kyk! die trane van die onderdruktes, maar hulle het geen vertrooster gehad nie” (Pred. 4:1). Vandag is toestande dieselfde, indien nie erger nie. Wie van ons het nie al om die een of ander rede trane gestort nie? Dit is weliswaar soms trane van vreugde. Maar oor die algemeen dui trane aan dat ’n persoon uiting gee aan ’n beangste hart.

11. Watter Bybelverslag in die besonder raak jou hart?

11 Dink aan al die hartroerende en emosionele tonele waarvan ons in die Bybel lees. Toe Sara op die ouderdom van 127 gesterf het, het “Abraham . . . ingekom om oor Sara te weeklaag en te huil” (Gen. 23:1, 2). Toe Naomi van haar twee weduweeskoondogters afskeid geneem het, het hulle “hulle stem begin verhef en gehuil”, en toe “het hulle hulle stem verhef en nog meer gehuil” (Rut 1:9, 14). Toe koning Hiskia deur ’n siekte geteister is wat tot ’n gewisse dood sou lei, het hy tot God gebid en “bitterlik begin huil”, wat klaarblyklik Jehovah se hart geraak het (2 Kon. 20:1-5). En wie word nie geroer deur die verslag van die apostel Petrus se verloëning van Jesus nie? Toe Petrus die haan hoor kraai het, het hy “buitentoe gegaan en bitterlik gehuil”.—Matt. 26:75.

12. Hoe sal Koninkryksheerskappy ware verligting vir die mensdom bewerkstellig?

12 Weens die tragiese gebeure—klein en groot—wat oor ons kom, het die mensdom ’n dringende behoefte aan vertroosting en verligting. Dít is wat die Duisendjarige Heerskappy vir sy onderdane sal bewerkstellig: “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie” (Op. 21:4). God se belofte sluit nie net die wonderlike vooruitsig in dat daar nie meer verdriet, angsgeroep en pyn sal wees nie, maar ook dat die mensdom se laaste vyand—die dood—uit die weg geruim sal word. Hoe sal dit gebeur?

“ALMAL WAT IN DIE GEDENKGRAFTE IS, . . . SAL UITKOM”

13. Watter uitwerking het die dood sedert Adam se sondeval op die mens?

13 Al vandat Adam gesondig het, heers die dood as koning oor die mens. Dit is ’n onoorwinlike vyand, die onvermydelike uiteinde vir sondige mense, die bron van onmeetlike droefheid en smart (Rom. 5:12, 14). Trouens, “uit vrees vir die dood” is miljoene “hulle hele lewe lank aan slawerny onderworpe”.—Heb. 2:15.

14. Wat sal die gevolg wees wanneer die dood tot niet gemaak word?

14 Die Bybel praat van die tyd wanneer die dood ‘as die laaste vyand tot niet gemaak gaan word’ (1 Kor. 15:26). Twee groepe kan gemeld word wat daarby sal kan baat vind. Vir die “groot menigte”, wat nou lewe, sal dit moontlik wees om tot in die beloofde nuwe wêreld behoue te bly met die ewige lewe in die vooruitsig. Vir die miljarde wat reeds deur die dood verslind is, sal ’n opstanding moontlik wees. Kan jy jou die vreugde en opwinding voorstel wanneer lede van die eersgenoemde groep die laasgenoemdes terugverwelkom? As ons ’n paar van die opstandingsverslae in die Bybel van naderby beskou, kan ons ’n voorsmakie kry van hoe dit dalk sal wees.—Lees Markus 5:38-42; Lukas 7:11-17.

15. Hoe sal jy moontlik reageer wanneer jy sien hoe ’n geliefde opgewek word?

15 Dink aan die uitdrukkings ‘hulle was buite hulleself van groot ekstase’ en “hulle het God begin verheerlik”. As jy by daardie geleenthede teenwoordig was, sou jy dalk ook so gevoel het. Ja, wanneer ons sien hoe ons afgestorwe geliefdes deur middel van die opstanding weer lewend word, sal ons oorstelp van vreugde, asook opgewonde wees. Jesus het gesê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy stem sal hoor en sal uitkom” (Joh. 5:28, 29). Niemand van ons het al so iets sien plaasvind nie; dit sal ongetwyfeld een van die wonderlikste dinge wees wat nog “nie gesien word nie”.

GOD SAL “ALLES VIR ELKEEN” WEES

16. (a) Waarom moet ons geesdriftig praat oor die seëninge wat nog nie gesien word nie? (b) Wat het Paulus gesê om die Christene in Korinte aan te moedig?

16 Ja, ’n glorieryke toekoms lê voor vir diegene wat in hierdie kritieke tye getrou aan Jehovah bly! As ons die wonderlike seëninge goed in gedagte hou, hoewel dit nog nie gesien word nie, sal dit ons help om ons toe te spits op wat werklik belangrik is en om ons aandag nie deur die kortstondige aanloklikhede van die huidige stelsel van dinge te laat aflei nie (Luk. 21:34; 1 Tim. 6:17-19). Laat ons gedurende ons gesinstudie en -aanbidding, gesprekke met medegelowiges en besprekings met Bybelstudente en belangstellendes geesdriftig praat oor ons wonderlike hoop en vooruitsigte. Dit sal ons help om dit in ons verstand en hart helder te hou. Dit is presies wat die apostel Paulus gedoen het toe hy sy mede-Christene aangemoedig het. Hy het hulle as ’t ware tot aan die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy geneem. Probeer jou die volle betekenis van Paulus se woorde in 1 Korintiërs 15:24, 25, 28 voorstel.—Lees.

17, 18. (a) Hoe was Jehovah aan die begin van die mensegeskiedenis “alles vir elkeen”? (b) Wat sal Jesus doen om eenheid en harmonie te herstel?

17 Niks kan die groot klimaks beter beskryf as die woorde “sodat God alles vir elkeen kan wees” nie. Wat beteken dit? Dink terug aan die tyd in Eden toe die volmaakte mense, Adam en Eva, deel van Jehovah se vreedsame en harmoniese universele gesin was. Jehovah, die Universele Soewerein, het regstreeks oor sy hele skepping geheers, engele sowel as mense. Hulle kon persoonlik met hom kommunikeer, hom aanbid en deur hom geseën word. Hy was “alles vir elkeen”.

18 Hierdie harmoniese verhouding is versteur toe mense, onder Satan se invloed, teen Jehovah se soewereiniteit in opstand gekom het. Maar die Messiaanse Koninkryk doen al sedert 1914 progressiewe stappe om hierdie eenheid en harmonie te herstel (Ef. 1:9, 10). Gedurende die Duisendjarige Heerskappy sal wonderlike dinge wat tans “nie gesien word nie”, ’n werklikheid word. Dan kom “die einde”, dit wil sê die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy. Wat sal dan gebeur? Hoewel “alle gesag in die hemel en op die aarde” aan Jesus gegee is, is hy nie ambisieus nie. Hy is glad nie van voorneme om hom Jehovah se posisie toe te eien nie. Hy sal nederig “die koninkryk aan sy God en Vader oorgee”. Hy sal sy unieke posisie en gesag “tot die heerlikheid van God die Vader” gebruik.—Matt. 28:18; Fil. 2:9-11.

19, 20. (a) Hoe sal alle Koninkryksonderdane toon of hulle Jehovah se soewereiniteit aanvaar? (b) Watter wonderlike vooruitsig het ons?

19 Teen daardie tyd sal die aardse onderdane van die Koninkryk tot volmaaktheid gebring wees. Hulle sal Jesus se voorbeeld volg en Jehovah se soewereiniteit nederig en gewillig erken. Hulle sal die geleentheid hê om te toon dat hulle dit wil doen deur die finale toets suksesvol te deurstaan (Op. 20:7-10). Daarna sal alle opstandelinge—mense sowel as geesskepsele—vir ewig vernietig word. Wat ’n vreugdevolle tyd sal dit tog wees! Die ganse universele gesin sal Jehovah, wat “alles vir elkeen” sal wees, met blydskap loof.—Lees Psalm 99:1-3.

20 Sal die glorieryke Koninkrykswerklikhede wat op hande is, jou beweeg om jou aandag en pogings daarop toe te spits om God se wil te doen? Kan jy voorkom dat jou aandag afgelei word deur die valse hoop en vertroosting wat Satan se wêreld bied? Sal jy meer vasbeslote wees om Jehovah se soewereiniteit te ondersteun en te verdedig? Mag jou dade bewys dat dit jou begeerte is om dit vir ewig te doen. Dan sal jy die voorreg hê om duisend jaar lank—en langer—vrede en voorspoed te geniet!