Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bied vandag se probleme moedig die hoof

Bied vandag se probleme moedig die hoof

“God is vir ons ’n toevlug en sterkte, ’n hulp wat gedurende benoudhede maklik gevind kan word.”—PS. 46:1.

1, 2. Watter probleme het baie ondervind, maar wat is die begeerte van God se knegte?

ONS lewe in moeilike tye. Die aarde word deur rampe geteister. Aardbewings, tsoenami’s, brande, oorstromings, vulkane, tornado’s, tifone en orkane het onder die mensdom verwoesting gesaai. Daarbenewens het gesinsprobleme en persoonlike dilemmas vrees en droefheid meegebring. Dit ly geen twyfel nie dat “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” ons almal tref.—Pred. 9:11.

2 God se knegte as ’n geheel het sulke angswekkende omstandighede met welslae die hoof gebied. Ons wil nietemin gereed wees vir enige probleme waarmee ons moontlik in die toekoms te kampe sal hê terwyl hierdie stelsel sy einde nader. Hoe kan ons hierdie uitdagings die hoof bied en nie daardeur oorweldig word nie? Wat sal ons help om vandag se probleme moedig tegemoet te gaan?

LEER BY DIÉ WAT DIE LEWE MOEDIG TEGEMOETGEGAAN HET

3. Hoe kan ons volgens Romeine 15:4 vertroos word wanneer ons ontmoedigende omstandighede ondervind?

3 Hoewel meer mense as ooit tevore moeilike omstandighede ondervind, is angswekkende probleme vir die mensdom niks nuuts nie. Kom ons kyk wat ons kan leer by party van God se knegte van die verlede wat die lewe moedig tegemoetgegaan het.—Rom. 15:4.

4. Watter teëspoed het Dawid verduur, en wat het hom gehelp?

4 Dink aan Dawid. Hy moes onder meer die toorn van ’n koning, vyandelike aanvalle, die ontvoering van sy vroue, verraad in sy eie geledere en emosionele angs verduur (1 Sam. 18:8, 9; 30:1-5; 2 Sam. 17:1-3; 24:15, 17; Ps. 38:4-8). Die Bybelverslae van Dawid se lewe toon duidelik hoeveel pyn hierdie teëspoed vir hom veroorsaak het. Maar dit het hom nie geestelik verpletter nie. Met sterk geloof het hy gesê: “Jehovah is die vesting van my lewe. Wie sou ek vrees?”—Ps. 27:1; lees Psalm 27:5, 10.

5. Wat het Abraham en Sara gehelp om ondanks ’n moeilike lewe moedig te bly?

5 Abraham en Sara het die grootste deel van hulle lewe in tente gewoon as vreemdelinge in vreemde lande. Die lewe was nie altyd vir hulle maklik nie. Nogtans het hulle dinge soos ’n hongersnood en gevare van die nasies om hulle onverskrokke die hoof gebied (Gen. 12:10; 14:14-16). Hoe het hulle dit reggekry? God se Woord sê vir ons dat Abraham “gewag [het] op die stad wat ware fondamente het, waarvan God die bouer en maker is” (Heb. 11:8-10). Abraham en Sara het hulle gedagtes gerig gehou op die dinge wat voorlê en het nie toegelaat dat die wêreld om hulle hulle onderkry nie.

6. Hoe kan ons Job navolg?

6 Job het hewige druk ervaar. Stel jou voor hoe hy gevoel het toe dit gelyk het asof alles in sy lewe skeefloop (Job 3:3, 11). Om sake te vererger, het hy nie ten volle verstaan waarom al hierdie dinge met hom gebeur nie. Nogtans het hy nooit moed opgegee nie. Hy het sy onkreukbaarheid gehandhaaf en sy geloof in God behou. (Lees Job 27:5.) Wat ’n uitstekende voorbeeld vir ons!

7. Wat het Paulus in sy diens aan God ondervind, maar watter besef het hom die moed gegee om voort te gaan?

7 Beskou ook die apostel Paulus se voorbeeld. Hy het ‘gevare in die stad, gevare in die wildernis en gevare op see’ ondervind. Hy maak melding van ‘honger en dors, koue en naaktheid’. Paulus sê ook dat hy ‘’n nag en ’n dag in die see deurgebring het’, waarskynlik een van die kere dat hy skipbreuk gely het (2 Kor. 11:23-27). Let op die gesindheid wat hy ondanks hierdie teëspoed geopenbaar het toe hy die dood in die gesig gestaar het omdat hy God dien: “Dit was sodat ons ons vertroue nie in onsself sou stel nie, maar in die God wat die dooies opwek. Uit iets so groot soos die dood het hy ons gered en sal hy ons red” (2 Kor. 1:8-10). Nie baie mense het al soveel slegte ondervindinge soos Paulus deurgemaak nie. Maar baie van ons kan ons met sy gevoelens vereenselwig en kan uit sy moedige voorbeeld vertroosting put.

MOENIE DEUR NEGATIEWE GEBEURE OORWELDIG WORD NIE

8. Watter uitwerking kan vandag se probleme op ons hê? Lig toe.

8 Vandag se wêreld waarin daar soveel rampe, probleme en druk is, laat baie mense oorweldig voel. Selfs party Christene het al so gevoel. Lani, * wat saam met haar man in die voltydse diens was in Australië, sê dat dit haar verpletter het toe sy met borskanker gediagnoseer is. Die nuus het haar soos ’n weerligstraal getref. “Die behandeling het my baie siek gemaak, en my selfbeeld was heeltemal vernietig”, sê sy. Boonop moes sy haar man versorg, wat ’n rugoperasie ondergaan het. Wat kan ons doen as ons ons in so ’n situasie bevind?

9, 10. (a) Wat moet ons Satan nie toelaat om te doen nie? (b) Hoe kan ons die werklikheid wat in Handelinge 14:22 gemeld word, die hoof bied?

9 Ons moet in gedagte hou dat Satan die beproewinge wat ons deurmaak, wil gebruik om ons geloof te ondermyn. Maar ons moenie toelaat dat hy ons op hierdie manier van ons vreugde beroof nie. Spreuke 24:10 sê: “Was jy mismoedig in die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees.” As ons peins oor Bybelvoorbeelde, soos dié wat ons vroeër bespreek het, sal dit ons help om moed bymekaar te skraap wanneer ons teëspoed ondervind.

10 Dit is ook goed om in gedagte te hou dat ons nie alle probleme uit die weg kan ruim nie. Trouens, ons moet probleme verwag (2 Tim. 3:12). Handelinge 14:22 sê: “Ons moet deur baie verdrukkinge heen in die koninkryk van God ingaan.” Moenie neerslagtig raak nie, maar beskou dit eerder as geleenthede om moed aan die dag te lê wat gegrond is op jou geloof in God se vermoë om jou te help.

11. Hoe kan ons voorkom dat teëspoed ons oorweldig?

11 Ons moet op positiewe dinge fokus. God se Woord sê vir ons: “’n Vreugdevolle hart het ’n goeie uitwerking op die gesig, maar weens die pyn van die hart is daar ’n verslae gees” (Spr. 15:13). Mediese navorsers erken al lank dat positiewe denke geneeskragtige waarde het. Baie pasiënte vir wie daar foppille (plasebo’s) gegee is, het ’n verligting van hulle simptome ondervind bloot omdat hulle onder die indruk was dat hulle hulp ontvang. Die teenoorgestelde, wat die nosebo-effek genoem word, is ook al bewys. Pasiënte se gesondheid het al agteruitgegaan bloot omdat daar vir hulle gesê is dat ’n sekere medisyne ’n negatiewe uitwerking sou hê. As ons die hele tyd oor situasies tob wat ons nie kan verander nie, sal dit ons net afbreek. Aan die positiewe kant gee Jehovah ons nie “foppille” nie. Selfs in rampspoedige tye gee hy ons ware hulp deur middel van die aanmoediging in sy Woord, ons ondersteunende broederskap en die krag van die heilige gees. As ons op hierdie dinge fokus, sal dit ons bemoedig. Moenie oor negatiewe gebeure tob nie, maar doen wat jy kan om elke probleem die hoof te bied en konsentreer op die positiewe aspekte van jou lewe.—Spr. 17:22.

12, 13. (a) Wat het God se knegte gehelp om ondanks rampe te volhard? Lig toe. (b) Hoe word dit gedurende rampspoedige tye duidelik wat die belangrikste in ’n persoon se lewe is?

12 In onlangse tye is party lande deur groot rampe getref. Baie broers in hierdie lande het op merkwaardige wyse hiervan herstel. Dit beteken nie dat dit maklik was nie. Vroeg in 2010 het ’n enorme aardbewing en tsoenami in Chili baie van ons broers se huise en besittings en in party gevalle hulle lewensbestaan vernietig. Ten spyte hiervan het die broers geestelik bedrywig gebly. Samuel, wie se huis heeltemal vernietig is, het gesê: “Selfs onder daardie uiters moeilike omstandighede het ek en my vrou nooit opgehou om vergaderinge by te woon en te preek nie. Ek dink hierdie gewoontes het ons gehelp om nie desperaat te raak nie.” Soos in die geval van baie ander, was die ramp vir hulle iets van die verlede en het hulle in Jehovah se diens volhard.

13 In September 2009 is meer as 80 persent van Manila, in die Filippyne, oorstroom as gevolg van stortreën. ’n Ryk man wat baie verloor het, het gesê: “Die oorstroming was ’n groot gelykmaker, aangesien dit vir rykes sowel as armes probleme en lyding meegebring het.” Dit laat ons dink aan Jesus se verstandige raad: “Gaar . . . vir julle skatte in die hemel op, waar nie mot of roes verteer nie en waar diewe nie inbreek en steel nie” (Matt. 6:20). As ’n mens jou lewe om materiële dinge bou, wat so maklik kan verdwyn, lei dit dikwels tot teleurstelling. Dit is tog soveel verstandiger om ons verhouding met Jehovah die middelpunt van ons lewe te maak, want dit kan behoue bly ongeag wat om ons gebeur!—Lees Hebreërs 13:5, 6

REDES OM MOED AAN DIE DAG TE LÊ

14. Watter redes het ons om moed aan die dag te lê?

14 Jesus het erken dat daar gedurende sy teenwoordigheid probleme sou wees, maar hy het gesê: “[Moenie] verskrik word nie” (Luk. 21:9). Met hom as ons Koning en met die ondersteuning van die Skepper van die heelal het ons alle rede om vol vertroue te wees. Paulus het Timoteus aangemoedig deur te sê: “God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag en van liefde en van gesonde verstand.”—2 Tim. 1:7.

15. Gee voorbeelde van hoe party van God se knegte hulle oortuiging uitgespreek het, en verduidelik hoe ons soortgelyke moed aan die dag kan lê.

15 Let op hoe ’n paar van God se knegte hulle sterk oortuiging uitgespreek het. Dawid het gesê: “Jehovah is my sterkte en my skild. Op hom het my hart vertrou, en ek is gehelp, sodat my hart jubel” (Ps. 28:7). Paulus het sy onwankelbare vertroue uitgespreek en gesê: “In al hierdie dinge is ons heeltemal seëvierend deur hom wat ons liefgehad het” (Rom. 8:37). Net so het Jesus, toe gevaar gedreig het, geen twyfel gelaat by sy toehoorders dat hy ’n sterk verhouding met God het nie, want hy het gesê: “Ek [is] nie alleen nie, omdat die Vader met my is” (Joh. 16:32). Wat kom duidelik in elkeen se woorde na vore? Elkeen lewer bewys van onwankelbare vertroue in Jehovah. As ons soortgelyke vertroue in God opbou, kan dit ons die moed gee om enige probleme van vandag die hoof te bied.—Lees Psalm 46:1-3.

VIND BAAT BY VOORSIENINGS OM MOEDIG TE BLY

16. Waarom is dit vir ons belangrik om God se Woord te studeer?

16 Ons verkry Christelike moed nie deur op onsself te vertrou nie. Ons verkry dit eerder wanneer ons God leer ken en op hom vertrou. Ons kan dit doen deur sy geskrewe Woord, die Bybel, te studeer. ’n Suster wat aan depressie ly, verduidelik wat haar help: “Ek lees Bybelgedeeltes wat ek veral vertroostend vind, oor en oor.” Het ons die raad toegepas om ’n vaste tyd vir gesinsaanbidding te stel? As ons hierdie dinge doen, sal dit ons help om die gesindheid te hê van die psalmis, wat gesê het: “Hoe lief het ek u wet tog! Die hele dag oordink ek dit.”—Ps. 119:97.

17. (a) Watter voorsiening kan ons help om ’n moedige lewensuitkyk te behou? (b) Gee ’n voorbeeld van hoe ’n gepubliseerde lewensverhaal jou gehelp het.

17 Ons het ook Bybelpublikasies wat inligting bevat wat ons vertroue in Jehovah versterk. Baie broers het die lewensverhale in ons tydskrifte baie nuttig gevind. ’n Suster in Asië wat aan bipolêre gemoedsversteuring ly, is grootliks aangemoedig toe sy die lewensverhaal gelees het van ’n voormalige sendelingbroer wat dieselfde versteuring met welslae die hoof gebied het. Sy het geskryf: “Dit het my gehelp om my eie probleem te verstaan en het my hoop gegee.”

18. Waarom moet ons die voorsiening van gebed benut?

18 Gebed kan ons in allerhande situasies help. Die apostel Paulus het die aandag gevestig op die waarde van hierdie voorsiening en het gesê: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Fil. 4:6, 7). Benut ons hierdie voorsiening ten volle sodat ons krag te midde van teëspoed kan verkry? Alex, ’n broer in Brittanje wat al lank aan depressie ly, het gesê: “Om met Jehovah in gebed te praat en om na hom te luister deur sy Woord te lees, was vir my ’n lewenslyn.”

19. Hoe moet ons die bywoning van Christelike vergaderinge beskou?

19 Assosiasie by vergaderinge is nog ’n noodsaaklike voorsiening wat ons kan help. ’n Psalmis het geskryf: “My siel het vurig verlang en ook gesmag na die voorhowe van Jehovah” (Ps. 84:2). Is dit hoe ons voel? Lani, wat vroeër genoem is, beskryf haar beskouing van Christelike assosiasie: “Om vergaderinge by te woon, was nie opsioneel nie. Ek het geweet dat ek daar moet wees as ek wou hê dat Jehovah my moet help.”

20. Hoe sal dit ons help as ons aan die predikingswerk deelneem?

20 Ons verkry ook moed deur in die Koninkrykspredikingswerk bedrywig te bly (1 Tim. 4:16). ’n Suster in Australië wat al baie probleme deurgemaak het, het gesê: “Velddiens was die laaste ding wat ek wou doen, maar ’n ouer man het my genooi om saam met hom te werk, en ek het gegaan. Jehovah het my ongetwyfeld gehelp; elke keer dat ek velddiens gedoen het, het ek so gelukkig gevoel” (Spr. 16:20). Baie het gevind dat hulle eie geloof versterk word wanneer hulle ander help om geloof in Jehovah op te bou. Dit help hulle om nie oor hulle eie probleme te tob nie en om op die belangriker dinge te konsentreer.—Fil. 1:10, 11.

21. Watter versekering het ons in verband met die probleme waarmee ons te kampe het?

21 Jehovah voorsien ons van oorvloedige hulp om vandag se probleme moedig die hoof te bied. As ons al hierdie voorsienings benut en die goeie voorbeelde van moedige knegte van God bepeins en navolg, het ons die versekering dat ons teëspoed sal kan verduur. Hoewel baie negatiewe dinge dalk nog sal gebeur terwyl hierdie stelsel sy einde nader, kan ons soos Paulus voel, wat gesê het: “Ons word neergewerp, maar nie vernietig nie. . . . Ons [gee] nie moed op nie” (2 Kor. 4:9, 16). Met Jehovah se hulp kan ons vandag se probleme moedig die hoof bied.—Lees 2 Korintiërs 4:17, 18.

^ par. 8 Van die name is verander.