Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Laat jou Ja Ja beteken

Laat jou Ja Ja beteken

“Laat julle woord Ja eenvoudig Ja beteken, julle Nee, Nee.”—MATT. 5:37.

1. Wat het Jesus oor ede gesê, en waarom?

OOR die algemeen hoef ware Christene nie geswore ede af te lê nie. Dit is omdat hulle Jesus gehoorsaam, wat gesê het: “Laat julle woord Ja eenvoudig Ja beteken.” Hy het bedoel dat ’n persoon sy woord gestand moet doen. Voordat Jesus hierdie bevel gegee het, het hy gesê: “Moet glad nie sweer nie.” Hy het dit gesê ter veroordeling van die gewoonte wat baie mense het om herhaaldelik in hulle daaglikse gesprekke oor iets te sweer sonder dat hulle enigsins van plan is om te doen wat hulle sê. Deur “meer as” Ja of Nee te sê om hulle voornemens bekend te maak, toon sulke mense dat hulle in werklikheid onbetroubaar is en dus onder die invloed van “die bose” is.—Lees Matteus 5:33-37.

2. Verduidelik waarom dit nie altyd verkeerd is om ’n geswore eed af te lê nie.

2 Beteken Jesus se woorde dat dit altyd verkeerd is om ’n eed af te lê? Hoe kan dit wees? Soos ons in die vorige artikel gesien het, het Jehovah God en sy regverdige kneg Abraham by belangrike geleenthede geswore ede afgelê. God se Wet het ook vereis dat ’n geswore eed afgelê moet word om sekere geskille te besleg (Eks. 22:10, 11; Num. 5:21, 22). Dit sal moontlik ook vir ’n Christen nodig wees om te sweer dat hy die waarheid sal praat wanneer hy in ’n geregshof getuienis moet lewer. Of by uitsondering sal ’n Christen dit dalk nodig vind om ’n geswore eed af te lê om ander van sy voornemens te verseker of om ’n saak te help besleg. Trouens, toe die hoëpriester Jesus onder eed gestel het, het hy nie daarteen beswaar gemaak nie, maar het hy voor die Joodse Hoë Raad die waarheid gepraat (Matt. 26:63, 64). Maar dit was nie vir Jesus nodig om vir enigiemand te sweer nie. Nogtans het hy, om die betroubaarheid van sy boodskap te beklemtoon, dikwels met hierdie unieke uitdrukking begin: “Voorwaar, voorwaar, [oftewel, “Waarlik, waarlik”, vtn. in NW] ek sê vir julle” (Joh. 1:51; 13:16, 20, 21, 38). Kom ons kyk wat ons nog kan leer uit die voorbeelde van Jesus, Paulus en ander wie se Ja Ja beteken het.

JESUS—DIE BESTE VOORBEELD

3. Wat het Jesus God in gebed belowe, en hoe het sy hemelse Vader gereageer?

3 “Kyk! Ek het gekom . . . om u wil te doen, o God” (Heb. 10:7). Met hierdie betekenisvolle woorde het Jesus homself vir God aangebied om alles uit te voer wat oor die beloofde Saad voorspel is, insluitende dat hy deur Satan ‘in die hakskeen gewond’ sou word (Gen. 3:15). Geen ander mens het al ooit aangebied om so ’n groot verantwoordelikheid op hom te neem nie. Vanuit die hemel het Jehovah sy volle vertroue in sy Seun uitgespreek, hoewel hy nie vereis het dat Jesus sweer om by sy woord te bly nie.—Luk. 3:21, 22.

4. In watter mate het Jesus sy Ja Ja laat beteken?

4 Jesus het altyd toegepas wat hy ander geleer het, en daarom het hy sy Ja Ja laat beteken. Hy het nie toegelaat dat sy aandag afgelei word van die opdrag wat hy van sy Vader ontvang het om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en om dissipels te maak van almal wat God na Jesus getrek het nie (Joh. 6:44). Die Bybel beskryf in watter mate Jesus getrou was met hierdie bekende woorde: “Ongeag hoeveel beloftes van God daar is, hulle het deur middel van hom Ja geword” (2 Kor. 1:20). Ja, Jesus is die beste voorbeeld van iemand wat sy belofte aan sy Vader nagekom het. Kom ons kyk nou na iemand wat sy bes gedoen het om Jesus na te volg.

PAULUS—’N MAN VAN SY WOORD

5. Watter voorbeeld het die apostel Paulus vir ons gestel?

5 “Wat moet ek doen, Here?” (Hand. 22:10). Paulus, wat toe bekend was as Saulus, het met hierdie opregte woorde gereageer toe die verheerlikte Here Jesus in ’n visioen aan hom verskyn het om te keer dat hy Christus se dissipels verder vervolg. As gevolg van hierdie voorval het Saulus nederig oor sy vorige lewenswyse berou gehad, is hy gedoop en het hy die spesiale toewysing aanvaar wat aan hom gegee is om vir die nasies van Jesus te getuig. Van toe af het Paulus van Jesus as sy “Here” gepraat, en hy het tot aan die einde van sy aardse lewe dienooreenkomstig opgetree (Hand. 22:6-16; 2 Kor. 4:5; 2 Tim. 4:8). Paulus was nie soos ander van wie Jesus gesê het: “Waarom noem julle my dan ‘Here! Here!’ maar doen nie wat ek sê nie?” (Luk. 6:46). Ja, Jesus verwag dat almal wat sê dat hulle hom as Here aanvaar, hulle woord gestand moet doen, soos die apostel Paulus gedoen het.

6, 7. (a) Waarom het Paulus sy plan verander om Korinte te besoek, en waarom was dit verkeerd om sy betroubaarheid te bevraagteken? (b) Hoe moet ons diegene beskou wat aangestel is om die leiding onder ons te neem?

6 Paulus het die Koninkryksboodskap ywerig verkondig regdeur Klein-Asië en tot in Europa, en hy het baie gemeentes gestig en hulle weer besoek. Soms het hy dit nodig geag om te sweer dat wat hy geskryf het, waar is (Gal. 1:20). Toe party in Korinte Paulus daarvan beskuldig het dat hy onbetroubaar is, het hy hom verdedig en geskryf: “Op God kan vertrou word dat ons woord wat tot julle gerig word, nie Ja en tog Nee is nie” (2 Kor. 1:18). Toe Paulus hierdie woorde geskryf het, het hy Efese al verlaat en was hy in Masedonië op pad na Korinte. Hy het aanvanklik beplan om Korinte te besoek voordat hy na Masedonië sou gaan (2 Kor. 1:15, 16). Maar soos in die geval van reisende opsieners van vandag, moet roetes soms verander word. Sulke veranderinge word nie om onbenullige, selfsugtige redes gemaak nie, maar weens die een of ander noodgeval. Paulus het byvoorbeeld sy beplande besoek aan Korinte uitgestel omdat dit tot die gemeente se beswil sou wees. Hoe so?

7 ’n Ruk nadat Paulus sy oorspronklike planne gemaak het, het hy die ontstellende nuus ontvang dat onenigheid en onsedelikheid in Korinte geduld word (1 Kor. 1:11; 5:1). Om die situasie reg te stel, het hy die Korintiërs streng raad gegee in sy eerste brief aan hulle. Paulus het nie direk van Efese na Korinte geseil nie, maar het besluit om sy broers tyd te gee om sy raad toe te pas sodat sy besoek, wanneer hy uiteindelik daar aankom, aanmoedigender kon wees. Om hulle te verseker dat dit werklik die rede was waarom hy sy planne verander het, het Paulus in sy tweede brief geskryf: “Ek roep God dan nou tot getuie teen my eie siel dat dit is om julle te spaar dat ek nog nie na Korinte gekom het nie” (2 Kor. 1:23). Mag ons nooit wees soos dié wat Paulus gekritiseer het nie; laat ons eerder diep respek toon vir diegene wat aangestel is om die leiding onder ons te neem. Trouens, dit sal goed wees as ons Paulus navolg, net soos hy Christus nagevolg het.—1 Kor. 11:1; Heb. 13:7.

ANDER UITSTEKENDE VOORBEELDE

8. Watter voorbeeld het Rebekka vir ons gestel?

8 “Ek is bereid om te gaan” (Gen. 24:58). Dít was Rebekka se eenvoudige antwoord toe haar ma en haar broer haar gevra het of sy bereid is om haar tuiste daardie selfde dag te verlaat en meer as 800 kilometer met ’n vreemdeling te reis om die vrou te word van Abraham se seun Isak (Gen. 24:50-58). Rebekka se Ja het Ja beteken, en sy was vir Isak ’n getroue en godvresende vrou. Sy het die res van haar lewe in tente gewoon as ’n vreemdeling in die Beloofde Land. Sy is vir haar getrouheid beloon, aangesien sy een van die voorouers van die beloofde Saad, Jesus Christus, geword het.—Heb. 11:9, 13.

9. Hoe het Rut by haar woord gebly?

9 “Nee, maar saam met u sal ons na u volk terugkeer” (Rut 1:10). Die Moabitiese weduwees Rut en Orpa het hierdie woorde bly sê vir hulle weduwee-skoonmoeder, Naomi, wat van Moab na Betlehem teruggekeer het. Uiteindelik het Orpa, op aandrang van Naomi, na haar geboorteland teruggekeer. Maar Rut se Nee het Nee beteken. (Lees Rut 1:16, 17.) Sy het Naomi lojaal bly aankleef en het haar familie en die valse godsdiens van Moab vir ewig agtergelaat. Sy het as ’n getroue aanbidder van Jehovah volhard en sy is beloon—sy was een van net vyf vroue wat deur Matteus in Christus se geslagslyn genoem word.—Matt. 1:1, 3, 5, 6, 16.

10. Waarom was Jesaja vir ons ’n goeie voorbeeld?

10 “Hier is ek! Stuur my” (Jes. 6:8). Voordat Jesaja hierdie woorde gespreek het, het hy ’n glorieryke visioen gesien waarin Jehovah op Sy troon sit bo Israel se tempel. Terwyl Jesaja na hierdie glorieryke toneel gekyk het, het hy Jehovah hoor sê: “Wie sal ek stuur, en wie sal vir ons gaan?” Dit was ’n uitnodiging om Jehovah se woordvoerder te wees om God se boodskap aan Sy eiesinnige volk oor te dra. Jesaja het by sy woord gebly—sy Ja het Ja beteken. Hy het meer as 46 jaar lank getrou as ’n profeet gedien en het kragtige oordeelsboodskappe sowel as wonderlike beloftes oor die herstel van ware aanbidding bekendgemaak.

11. (a) Waarom is dit so belangrik om by ons woord te bly? (b) Watter waarskuwende voorbeelde is daar van mense wat nie by hulle woord gebly het nie?

11 Waarom het Jehovah die bogenoemde voorbeelde in sy Woord laat opteken? En hoe belangrik is dit om jou Ja Ja te laat beteken? Die Bybel waarsku duidelik dat iemand wat “ontrou aan ooreenkomste” is, onder diegene tel wat “die dood verdien” (Rom. 1:31, 32). Farao van Egipte, die Judese koning Sedekia en Ananias en Saffira is party van die slegte voorbeelde wat in die Bybel gemeld word van persone wie se Ja nie Ja beteken het nie. Hulle het almal sleg gevaar en dien as waarskuwende voorbeelde vir ons.—Eks. 9:27, 28, 34, 35; Eseg. 17:13-15, 19, 20; Hand. 5:1-10.

12. Wat sal ons help om by ons woord te bly?

12 Aangesien ons “in die laaste dae” lewe, word ons omring deur mense wat “dislojaal” is, mense “wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën” (2 Tim. 3:1-5). Ons moet sulke slegte omgang sover moontlik vermy. Ons moet eerder gereeld met diegene vergader wat hard probeer om hulle Ja Ja te laat beteken.—Heb. 10:24, 25.

JOU BELANGRIKSTE JA

13. Wat is die belangrikste Ja wat ’n volgeling van Jesus Christus kan sê?

13 Die belangrikste belofte wat ’n persoon kan maak, hou verband met sy of haar toewyding aan God. Dié wat hulle as dissipels van Jesus wil verloën, kry drie keer die geleentheid om Ja te antwoord op vrae oor hulle voornemens (Matt. 16:24). Wanneer twee ouer manne ’n onderhoud voer met iemand wat ’n ongedoopte verkondiger wil word, vra hulle die persoon: “Wil jy werklik een van Jehovah se Getuies wees?” Later, wanneer die persoon verdere geestelike vordering gemaak het en vir doop goedgekeur wil word, sal die ouer manne met hom of haar vergader en vra: “Het jy jou persoonlik in gebed aan Jehovah toegewy?” Uiteindelik, op sy of haar doopdag, word elke kandidaat gevra: “Het jy, op grond van die offerande van Jesus Christus, berou oor jou sondes en het jy jou aan Jehovah toegewy om sy wil te doen?” Voor getuies sê hierdie nuwelinge dan Ja met betrekking tot hulle belofte om God vir ewig te dien.

14. Watter selfondersoek moet ons van tyd tot tyd doen?

14 Hetsy jy onlangs gedoop is of God al dekades lank dien, jy moet van tyd tot tyd ’n selfondersoek doen en jou vrae soos die volgende afvra: ‘Volg ek Jesus Christus na deur getrou te wees aan my belangrikste Ja? Is ek nog steeds aan Jesus gehoorsaam deur die predikings- en dissipelmaakwerk die middelpunt van my lewe te maak?’—Lees 2 Korintiërs 13:5.

15. In watter aspekte van die lewe is dit belangrik om jou Ja Ja te laat beteken?

15 Om ons toewydingsgelofte gestand te doen, beteken dat ons ook in ander belangrike sake getrou moet wees. Byvoorbeeld: Is jy getroud? Hou dan aan om die kosbare gelofte te eer wat jy afgelê het om jou huweliksmaat lief te hê en te koester. Het jy ’n sakekontrak geteken of ’n aansoekvorm vir teokratiese voorregte ingevul? Dan moet jy jou verpligtinge en beloftes nakom. Het jy ’n uitnodiging aanvaar na ’n maaltyd by iemand wat dit nie breed het nie? Moet dit dan nie kanselleer as jy ’n ander uitnodiging ontvang wat jy dink beter sal wees nie. Of het jy iemand wat jy in die huis-tot-huis-bediening ontmoet het, belowe dat jy sal terugkeer om verdere geestelike hulp te verleen? Dan moet jy jou Ja beslis Ja laat beteken, en Jehovah sal jou bediening seën.—Lees Lukas 16:10.

HOE ONS BY ONS HOËPRIESTER EN KONING BAAT VIND

16. Wat moet ons doen as ons besef dat ons nie ons woord gehou het nie?

16 Die Bybel sê dat ons as onvolmaakte mense ‘almal dikwels struikel’, veral wanneer dit kom by die gebruik van ons tong (Jak. 3:2). Wat moet ons doen as ons besef dat ons nie ons woord gehou het nie? In God se Wet aan Israel was daar ’n barmhartige voorsiening vir iemand wat daaraan skuldig was dat hy ‘onnadenkend met sy lippe gespreek het’ (Lev. 5:4-7, 11). Daar bestaan ook ’n liefdevolle voorsiening vir Christene wat so ’n sonde begaan. As ons die spesifieke sonde aan Jehovah bely, sal hy ons barmhartig vergewe op grond van die rol wat Jesus Christus as ons Hoëpriester speel (1 Joh. 2:1, 2). Maar om in God se guns te bly, moet ons vrugte voortbring wat by berou pas deur sulke sondes nie te beoefen nie en deur ons bes te doen om te vergoed vir enige skade wat ons onnadenkende woorde aangerig het (Spr. 6:2, 3). Dit is natuurlik baie beter om mooi te dink voordat ons beloftes maak wat ons nie kan nakom nie.—Lees Prediker 5:2.

17, 18. Watter wonderlike toekoms wag op almal wat hard probeer om hulle Ja Ja te laat beteken?

17 Wat ’n wonderlike toekoms wag op alle aanbidders van Jehovah wat hard probeer om hulle Ja Ja te laat beteken! Die 144 000 gesalfdes sal onsterflike lewe in die hemel ontvang, waar hulle saam met Jesus “duisend jaar lank . . . as konings [sal] heers” in sy Koninkryk (Op. 20:6). Tallose miljoene sal baat vind by Christus se Koninkryksheerskappy en in ’n aardse paradys lewe. Daar sal hulle gehelp word om fisiese en verstandelike volmaaktheid te bereik.—Op. 21:3-5.

18 As ons getrou bly gedurende die finale toets aan die einde van Jesus se Duisendjarige Heerskappy, sal ons nooit weer rede hê om aan enigiemand se woord te twyfel nie (Op. 20:7-10). Elke Ja sal Ja beteken, en elke Nee, Nee, want dan sal almal wat lewe ’n volmaakte navolger wees van ons liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, “die God van waarheid”.—Ps. 31:5.