Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gehoorsaam God en vind baat by sy geswore beloftes

Gehoorsaam God en vind baat by sy geswore beloftes

“[God] het . . . by homself gesweer, aangesien hy by niemand groter kon sweer nie.”—HEB. 6:13.

1. Hoe verskil Jehovah se woord van dié van sondige mense?

JEHOVAH is “die God van waarheid” (Ps. 31:5). Hoewel sondige mense nie altyd vertrou kan word nie, is “dit . . . onmoontlik vir God om te lieg”. (Heb. 6:18; lees Numeri 23:19.) Sy voornemens om die mensdom te bevoordeel, word altyd verwesenlik. Alles wat God byvoorbeeld gesê het hy aan die begin van elke skeppingstydperk sou doen, ‘het so gebeur’. Gevolglik het God, teen die einde van die sesde skeppingsdag, “gekyk na alles wat hy gemaak het, en dit was baie goed”.—Gen. 1:6, 7, 30, 31, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

2. Wat is God se rusdag, en waarom het hy “dit geheilig”?

2 Nadat Jehovah God sy skeppingswerke beskou het, het hy die begin van ’n sewende dag aangekondig—nie ’n dag van 24 uur nie, maar ’n lang tydperk waartydens hy van verdere aardse skeppingswerke gerus het (Gen. 2:2). God se rusdag het nog nie geëindig nie (Heb. 4:9, 10). Die Bybel openbaar nie presies wanneer dit begin het nie. Dit was die een of ander tyd ná die skepping van Adam se vrou, Eva, omtrent 6 000 jaar gelede. Die Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus lê voor, wat sal verseker dat God se voorneme verwesenlik sal word dat die aarde ’n ewige paradys moet wees wat met volmaakte mense gevul is (Gen. 1:27, 28; Op. 20:6). Kan jy seker wees dat jy so ’n gelukkige toekoms sal geniet? Ja, jy kan! Want “God het die sewende dag begin seën en dit geheilig”. Dit was ’n waarborg dat God se voorneme teen die einde van sy rusdag beslis verwesenlik sou word, ongeag watter onvoorsiene probleme ontstaan.—Gen. 2:3.

3. (a) Watter opstand het ná die begin van God se rusdag plaasgevind? (b) Hoe het Jehovah sy voorneme uitgespreek om ’n einde te maak aan die opstand?

3 Maar nadat God se rusdag begin het, het iets rampspoedigs gebeur. Satan, ’n engeleseun van God, het homself ’n mededingende god gemaak. Hy het die eerste leuen vertel en Eva bedrieg sodat sy aan Jehovah ongehoorsaam was (1 Tim. 2:14). En Eva het haar man oorgehaal om by die opstand aan te sluit (Gen. 3:1-6). Selfs op daardie laagtepunt in die heelal se geskiedenis, toe God se waaragtigheid bevraagteken is, het Jehovah dit nie nodig geag om met ’n eed te bevestig dat sy voorneme wel verwesenlik sal word nie. Maar met woorde wat op God se bestemde tyd verstaan sou word, het hy eenvoudig gesê hoe hy ’n einde aan die opstand sou maak: “Ek sal vyandskap stel tussen jou [Satan] en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy [die beloofde Saad] sal jou kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen wond.”—Gen. 3:15; Op. 12:9.

’N GESWORE EED—’N NUTTIGE REGSMIDDEL

4, 5. Van watter regsmiddel het Abraham soms gebruik gemaak?

4 Op daardie vroeë stadium in die mensegeskiedenis was dit heel moontlik nie nodig om ’n eed af te lê om die waaragtigheid van ’n saak te bevestig nie. ’n Eed het waarskynlik nie deel uitgemaak van die woordeskat wat God aan Adam en Eva gegee het nie. Vir volmaakte skepsele wat God liefhet en hom navolg, is dit nie nodig om ’n eed af te lê nie; hulle vertel altyd die waarheid en vertrou mekaar ten volle. Maar dinge het verander toe die mens sondig en onvolmaak geword het. Uiteindelik, toe leuens en bedrog algemeen was, het dit nodig geword om ’n eed af te lê om die waaragtigheid van ’n belangrike saak te bevestig.

5 ’n Eed is ’n regsmiddel waarvan die aartsvader Abraham by ten minste drie geleenthede doeltreffend gebruik gemaak het (Gen. 21:22-24; 24:2-4, 9). Dit het byvoorbeeld gebeur toe hy teruggekeer het nadat hy die koning van Elam en sy bondgenote verslaan het. Die konings van Salem en Sodom het Abraham tegemoetgekom. Melgisedek, die koning van Salem, was ook “’n priester van die Allerhoogste God”. As priester het hy Abraham geseën en God geloof omdat Hy Abraham die oorwinning oor sy vyande gegee het (Gen. 14:17-20). Daarna, toe die koning van Sodom Abraham wou beloon omdat hy die koning se volk uit die hand van die invallende leërs gered het, het Abraham gesweer: “Ek hef my hand op in ’n eed tot Jehovah, die Allerhoogste God, Voortbringer van hemel en aarde, dat ek, van ’n garingdraad tot ’n sandaalriem, nee, niks sal neem van enigiets wat aan u behoort nie, sodat u nie kan sê: ‘Ek het Abram ryk gemaak’ nie.”—Gen. 14:21-23.

JEHOVAH SE GESWORE BELOFTE AAN ABRAHAM

6. (a) Watter voorbeeld het Abraham vir ons gestel? (b) Hoe kan ons by Abraham se gehoorsaamheid baat vind?

6 Ten behoewe van die sondige mensdom het Jehovah God ook van ede gebruik gemaak deur uitdrukkings te gebruik soos: “‘So waar as ek lewe’, is die woord van die Soewereine Heer Jehovah” (Eseg. 17:16). In die Bybel is daar meer as 40 gevalle waar Jehovah God geswore ede afgelê het. Die bekendste voorbeeld is waarskynlik God se geswore beloftes aan Abraham. Oor ’n tydperk van baie jare het Jehovah etlike verbondsbeloftes aan Abraham gemaak wat gesamentlik bewys lewer dat die beloofde Saad ’n afstammeling sou wees van Abraham deur middel van sy seun Isak (Gen. 12:1-3, 7; 13:14-17; 15:5, 18; 21:12). Toe het Jehovah Abraham aan ’n swaar toets onderwerp deur hom te beveel om sy geliefde seun op te offer. Abraham het God sonder versuim gehoorsaam en was op die punt om Isak op te offer toe ’n engel van God hom gekeer het. Daarna het God hierdie eed afgelê: “Ek sweer by myself . . . omdat jy hierdie ding gedoen het en jy jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, sal ek jou gewis seën en sal ek jou saad gewis vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sandkorrels wat aan die seestrand is; en jou saad sal die poort van sy vyande in besit neem. En deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën omdat jy na my stem geluister het.”—Gen. 22:1-3, 9-12, 15-18.

7, 8. (a) Waarom het God vir Abraham gesweer? (b) Hoe sal Jesus se “ander skape” by God se geswore belofte baat vind?

7 Waarom het God vir Abraham gesweer dat Sy beloftes bewaarheid sal word? Om diegene wat mede-erfgename met Christus sou word en die sekondêre deel van die beloofde “saad” uitmaak, te verseker en hulle geloof te versterk. (Lees Hebreërs 6:13-18; Gal. 3:29.) Soos die apostel Paulus verduidelik het, het Jehovah “met ’n eed ingetree, sodat ons . . . deur middel van twee onveranderlike dinge [sy belofte en sy eed] waarin dit onmoontlik is vir God om te lieg, kragtige aanmoediging kan hê om die hoop vas te gryp wat vir ons in die vooruitsig gestel is.”

8 Gesalfde Christene is nie die enigstes wat by God se geswore eed aan Abraham baat vind nie. Jehovah het gesweer dat mense van “al die nasies van die aarde hulleself gewis [sou] seën” deur middel van Abraham se “saad” (Gen. 22:18). Hierdie geseëndes sluit Christus se gehoorsame “ander skape” in, wat die hoop op die ewige lewe op ’n aardse paradys het (Joh. 10:16). Hetsy jy die hemelse of die aardse hoop het, jy moet dit ‘vasgryp’ deur voort te gaan om ’n lewe van gehoorsaamheid aan God te lei.—Lees Hebreërs 6:11, 12.

VERWANTE EDE VAN GOD

9. Watter geswore eed het God afgelê toe Abraham se nakomelinge deur die Egiptenaars in slawerny gehou is?

9 Eeue later het Jehovah weer met betrekking tot die bogenoemde beloftes gesweer toe hy Moses gestuur het om met Abraham se nakomelinge te praat, wat destyds deur die Egiptenaars in slawerny gehou is (Eks. 6:6-8). God het verwys na daardie geleentheid en gesê: “Die dag toe ek Israel uitgekies het . . . het ek vir hulle my hand in ’n eed opgehef om hulle uit Egipteland uit te lei na ’n land wat ek vir hulle verken het, wat oorloop van melk en heuning.”—Eseg. 20:5, 6.

10. Watter belofte het God aan Israel gemaak nadat hy hulle uit Egipte verlos het?

10 Toe, nadat Israel uit Egipte verlos is, het Jehovah nog ’n geswore belofte aan hulle gemaak: “As julle . . . my stem nougeset gehoorsaam en my verbond inderdaad hou, dan sal julle beslis my spesiale eiendom uit al die ander volke word, want die hele aarde behoort aan my. En julle sal vir my ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie word” (Eks. 19:5, 6). Wat ’n bevoorregte posisie het God Israel dus aangebied! Dit het beteken dat individue uit daardie nasie, as hulle gehoorsaam was, die hoop kon hê om deur God gebruik te word as ’n koninkryk van priesters tot seën van die res van die mensdom. Later het Jehovah verwys na wat hy by daardie geleentheid vir Israel gedoen het en gesê: “Ek [het] ’n beëdigde verklaring aan jou afgelê en ’n verbond met jou aangegaan.”—Eseg. 16:8.

11. Hoe het Israel gereageer toe God hulle genooi het om as sy uitverkore volk in ’n verbondsverhouding met hom te kom?

11 Op daardie stadium het Jehovah Israel nie verplig om met ’n geswore eed te belowe dat hulle gehoorsaam sou wees nie; God het die Israeliete ook nie in hierdie bevoorregte verhouding ingedwing nie. Hulle het eerder uit vrye wil gesê: “Alles wat Jehovah gespreek het, is ons bereid om te doen” (Eks. 19:8). Drie dae later het Jehovah God aan Israel bekend gemaak wat hy van sy uitverkore volk sou vereis. Eers het hulle die Tien Gebooie gehoor, en toe het Moses vir hulle verdere gebooie gegee wat in Eksodus 20:22 tot Eksodus 23:33 opgeteken is. Hoe het Israel gereageer? “Die hele volk het met een stem geantwoord en gesê: ‘Al die woorde wat Jehovah gespreek het, is ons bereid om te doen’” (Eks. 24:3). Toe het Moses die wette in “die boek van die verbond” neergeskryf en dit hardop gelees sodat die hele volk dit weer kon hoor. Daarna het die volk ’n derde keer gesweer: “Alles wat Jehovah gespreek het, is ons bereid om te doen, en ons sal gehoorsaam wees.”—Eks. 24:4, 7, 8.

12. Wat het Jehovah gedoen nadat hy die verbond met sy uitverkore volk gesluit het, en wat het hulle gedoen?

12 Jehovah het onmiddellik sy kant van die Wetsverbond begin nakom deur reëlings te tref vir ’n tent van aanbidding en ’n priesterdom wat dit vir sondige mense moontlik gemaak het om hom te nader. Maar Israel het hulle toewyding aan God gou vergeet en “het die Heilige van Israel bedroef” (Ps. 78:41). Byvoorbeeld, terwyl Moses verdere instruksies op die berg Sinai ontvang het, het die Israeliete ongeduldig geraak en geloof in God begin verloor omdat hulle gedink het dat Moses hulle verlaat het. Hulle het dus ’n goue beeld van ’n kalf gemaak en gesê: “Dit is jou God, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het” (Eks. 32:1, 4). Daarna het hulle ’n fees gehou wat hulle “’n fees vir Jehovah” genoem het, en hulle het voor hulle mensgemaakte beeld neergebuig en offerandes daaraan gebring. Toe Jehovah dit sien, het hy vir Moses gesê: “Hulle het gou van die weg afgewyk wat ek hulle beveel het om te gaan” (Eks. 32:5, 6, 8). Van toe af het Israel ongelukkig daarvoor bekend geword dat hulle geloftes aan God doen, maar dit later verbreek.—Num. 30:2.

NOG TWEE EDE

13. Watter geswore belofte het God aan koning Dawid gemaak, en hoe hou dit met die beloofde Saad verband?

13 Gedurende die heerskappy van koning Dawid het Jehovah nog twee geswore beloftes gemaak ten behoewe van almal wat hom gehoorsaam. Eerstens het hy aan Dawid gesweer dat sy troon vir ewig sou bly staan (Ps. 89:35, 36; 132:11, 12). Daarom sou die beloofde Saad “die seun van Dawid” genoem word (Matt. 1:1; 21:9). Dawid het hierdie toekomstige nakomeling nederig “Here” genoem, aangesien die Christus ’n hoër posisie sou beklee.—Matt. 22:42-44.

14. Watter geswore belofte het Jehovah aangaande die beloofde Saad gemaak, en hoe vind ons daarby baat?

14 Tweedens het Jehovah Dawid geïnspireer om te voorspel dat hierdie uitsonderlike Koning ook as die mensdom se Hoëpriester sou dien. In Israel was die koningskap en priesterdom heeltemal van mekaar afgeskeie. Die priesters was van die stam Levi, en die konings was van die stam Juda. Maar Dawid het aangaande hierdie roemryke toekomstige erfgenaam voorspel: “Jehovah het vir my Here gesê: ‘Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande ’n voetbank vir jou voete maak.’ Jehovah het gesweer (en hy sal nie spyt wees nie): ‘Jy is ’n priester tot onbepaalde tyd volgens die wyse van Melgisedek!’” (Ps. 110:1, 4). Ter vervulling van hierdie profesie heers Jesus Christus, die beloofde Saad, nou in die hemel. Hy dien ook as die mensdom se Hoëpriester deur berouvolles te help om ’n goeie verhouding met God te verkry.—Lees Hebreërs 7:21, 25, 26.

DIE NUWE ISRAEL VAN GOD

15, 16. (a) Na watter twee Israels word daar in die Bybel verwys, en watter een geniet vandag God se seën? (b) Wat het Jesus sy volgelinge met betrekking tot geswore ede beveel?

15 Omdat die nasie Israel Jesus Christus verwerp het, het hulle uiteindelik hulle begunstigde posisie voor God verloor, tesame met die vooruitsig om ooit “’n koninkryk van priesters” te word. Soos Jesus vir die Joodse leiers gesê het: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n nasie gegee word wat die vrugte daarvan voortbring” (Matt. 21:43). Hierdie nuwe nasie is gebore op Pinkster 33 HJ, toe God se gees uitgestort is op ongeveer 120 dissipels van Jesus wat in Jerusalem bymekaargekom het. Hulle is “die Israel van God” genoem, en kort voor lank was daar etlike duisende van hulle uit elke nasie in die destyds bekende wêreld.—Gal. 6:16.

16 In teenstelling met natuurlike Israel het God se nuwe geestelike nasie aangehou om goeie vrugte voort te bring omdat hulle aan God gehoorsaam gebly het. Een van die gebooie wat die lede van hierdie nasie gehoorsaam, hou verband met geswore ede. Toe Jesus op die aarde was, het mense eedswering misbruik, aangesien hulle valslik of oor onbenullige sake gesweer het (Matt. 23:16-22). Jesus het sy volgelinge geleer: “Moet glad nie sweer nie . . . Laat julle woord Ja eenvoudig Ja beteken, julle Nee, Nee; want wat meer as dit is, is uit die bose.”—Matt. 5:34, 37.

Jehovah se beloftes word altyd bewaarheid

17. Watter vrae sal in die volgende studieartikel bespreek word?

17 Beteken dit dat dit altyd verkeerd is om ’n geswore eed af te lê? Nog belangriker, wat behels dit om ons Ja Ja te laat beteken? Hierdie vrae sal in die volgende studieartikel bespreek word. Mag ons volgehoue bepeinsing van God se Woord ons beweeg om aan Jehovah gehoorsaam te bly. Dan sal hy behae daarin vind om ons vir ewig te seën in ooreenstemming met sy kosbare geswore beloftes.