Lewensverhaal
’n Vriendskap van 60 jaar is maar net die begin
Op ’n somersaand in 1951 het vier jong mans, almal in hulle vroeë 20’s, in aangrensende telefoonhokkies in Ithaca, New York, VSA, gestaan en opgewonde langafstandoproepe gemaak na Michigan, Iowa en Kalifornië. Hulle het goeie nuus gehad!
DIE vorige Februarie het 122 pioniers uit alle oorde na South Lansing, New York, gekom om die 17de klas van die Gileadskool by te woon. Onder die toekomstige sendelinge was Lowell Turner, William (Bill) Kasten, Richard Kelsey en Ramon Templeton. Lowell en Bill, albei van Michigan, Richard van Iowa en Ramon van Kalifornië het mekaar kort voor lank goed leer ken.
Sowat vyf maande later was almal baie opgewonde toe daar aangekondig is dat broer Nathan Knorr van die wêreldhoofkwartier met die studente gaan kom praat. Die vier broers het gesê dat hulle graag in dieselfde land wil dien—indien moontlik. Sou hulle nou meer inligting kry oor hulle buitelandse sendingtoewysings? Ja!
Die opgewondenheid het toegeneem toe broer Knorr die hele klas toegespreek het en hulle buitelandse toewysings begin aankondig het. Die eerstes wat na die verhoog genooi is, was die vier senuweeagtige, maar verligte jong mans wat uiteindelik gehoor het dat hulle bymekaar kon bly! Maar waar? Hulle klasmaats was verbaas en het lank hande geklap toe daar aangekondig is dat hulle na Duitsland gestuur word.
Jehovah se Getuies regoor die wêreld het hulle verwonder oor die rekord van getrouheid van die Getuies in Duitsland vanaf 1933 onder Hitler se bewind. Baie studente het onthou hoe hulle ná die Tweede Wêreldoorlog besendings klere en hulppakkette vir hulle Europese broers opgemaak het. God se knegte in Duitsland was voorbeelde van uitsonderlike geloof, vasbeslotenheid, moed en vertroue in Jehovah. Lowell onthou dat hy gedink het: ‘Nou sal ons hierdie dierbare broers en susters persoonlik leer ken.’ Geen wonder dat almal so opgewonde was en dat telefoonoproepe nog daardie selfde aand gemaak moes word nie!
OP PAD DUITSLAND TOE
Op 27 Julie 1951 het die stoomskip Homeland van sy vasmeerplek aan New York se Eastrivier vertrek, en die vier vriende was op ’n 11 dae lange seereis na Duitsland. Broer Albert Schroeder, een van hulle Gileadinstrukteurs en later ’n lid van
die Bestuursliggaam, het hulle hulle eerste sinne in Duits geleer. Met verskeie Duitse passasiers aan boord kon hulle miskien nou meer leer. Maar die passasiers het blykbaar verskillende Duitse dialekte gepraat. Hoe verwarrend was dit tog!Op Dinsdagoggend 7 Augustus het die broers, nadat hulle ’n hele paar keer seesiek was, uiteindelik in Hamburg, Duitsland, aangekom. Hulle het oral die letsels van die oorlog gesien wat net ses jaar tevore geëindig het. Hulle was bedroef oor wat hulle gesien het, en hulle het op ’n nagtrein vertrek na Wiesbaden, waar die takkantoor destyds was.
Vroeg Woensdagoggend het hulle vir die eerste keer ’n Getuie in Duitsland ontmoet—en hy het ’n tipiese Duitse naam gehad! Hans het hulle met ’n motor van die stasie na Bethel geneem, waar hy hulle in die sorg gelaat het van ’n baie vasberade ou suster wat glad nie Engels kon praat nie. Sy het blykbaar gedink dat sy die taalprobleem kon oorkom deur eenvoudig harder te praat. Maar ongeag hoe hard sy gepraat het, sy en die vier broers het al hoe meer gefrustreerd geraak. Eindelik het broer Erich Frost, die takkneg, opgedaag en hulle vriendelik in Engels gegroet. Dinge het beter begin lyk.
Teen die einde van Augustus het die vier hulle eerste Duitse streekbyeenkoms bygewoon, die “Rein aanbidding”-byeenkoms in Frankfurt am Main. Die opkomshoogtepunt van 47 432 en die feit dat 2 373 gedoop is, het die broers se sendingywer en begeerte om te preek, hernieu. Maar ’n paar dae later het broer Knorr gesê dat hulle by Bethel moet bly en daar moet werk.
Die vreugde wat hulle in hulle toewysing gesmaak het, het hulle ten volle daarvan oortuig dat Jehovah altyd weet wat die beste is
Omdat Ramon ’n sterk begeerte gehad het om sendingwerk te doen, het hy vroeër die geleentheid om na Bethel in die Verenigde State te gaan, van die hand gewys. Nie Richard of Bill het Betheldiens ooit oorweeg nie. Maar die vreugde wat hulle sedertdien in hulle toewysing gesmaak het, het hulle ten volle daarvan oortuig dat Jehovah altyd weet wat die beste is. Hoe verstandig is dit tog om eerder op sy leiding te vertrou as om ons eie begeertes na te streef! Iemand wat hierdie les geleer
het, sal gelukkig wees in sy diens aan Jehovah, ongeag waar en in watter toewysing hy dien.VERBOTEN!
Baie in die Bethelgesin in Duitsland was bly om Amerikaners onder hulle te hê met wie hulle Engels kon praat sodat hulle hulle Engels kon verbeter. Maar eendag, in die eetsaal, is hierdie verwagtinge skielik verpletter. Broer Frost het, op sy tipiese geesdriftige manier, in Duits begin praat oor iets wat klaarblyklik redelik ernstig was. Die meeste in die gesin het doodstil gesit, met hulle oë stip op hulle borde gerig. Hoewel die nuwe aankomelinge nie kon verstaan wat gesê word nie, het hulle stadigaan begin besef dat dit iets met hulle te doen het. Toe broer Frost “VERBOTEN!” (“Verbode!”) uitgebulder het, en dit vir nadruk met ’n harder stem herhaal het, het hulle dus ongemaklik gevoel. Wat het hulle gedoen om sulke sterk emosie uit te lok?
Ná die maaltyd is almal haastig na hulle kamers toe. Later het ’n broer verduidelik: “As julle ons wil help, moet julle Duits kan praat. Dis waarom broer Frost gesê het dat dit VERBOTEN is om met julle Engels te praat totdat julle die taal geleer het.”
Die Bethelgesin het die versoek dadelik gehoorsaam. Dit het die nuwelinge nie net gehelp om Duits te leer nie, maar dit het hulle ook geleer dat raad wat deur ’n liefdevolle broer gegee word, al is dit aanvanklik moeilik om toe te pas, dikwels vir ons eie beswil is. Broer Frost se raad het sy belangstelling in die welsyn van Jehovah se organisasie weerspieël, asook sy liefde vir sy broers. * Geen wonder die vier het vir hom lief geraak nie!
ONS LEER BY ONS VRIENDE
Ons kan waardevolle lesse by godvresende vriende leer, wat ons dan help om beter vriende van Jehovah te word. Die vier het baie geleer by talle getroue Duitse broers en susters—te veel om by name te noem—maar hulle het ook by mekaar geleer. Richard verduidelik: “Lowell het ’n bietjie Duits geken en het goed daarmee reggekom, maar die res van ons het gesukkel. Aangesien hy ook die oudste in ons groep was, was hy vanselfsprekend die een by wie ons hulp met die taal gevra het en na wie ons opgesien het om die leiding te neem.” Ramon sê: “Hoe verheug was ek tog toe ’n Switserse broer vir ons sy berghut in Switserland aangebied het vir ons eerste vakansie ná ’n jaar in Duitsland! Twee weke op ons eie waartydens ons nie met Duits hoef te sukkel nie! Maar ek het
nie rekening gehou met Lowell nie. Hy het daarop aangedring dat ons elke oggend die dagteks lees en bespreek—in Duits! Tot my ergernis het hy voet by stuk gehou. Maar ons het ’n waardevolle les geleer. Volg die leiding van diegene wat jou belange op die hart dra, al stem jy soms nie daarmee saam nie. Hierdie gesindheid het ons deur die jare heen goed te pas gekom en het dit vir ons makliker gemaak om ons aan teokratiese leiding te onderwerp.”Die vier vriende het ook geleer om mekaar se sterk punte te waardeer en om, soos Filippense 2:3 sê, ‘met ootmoed die ander hoër as hulleself te ag’. Die ander het Bill dus dikwels gevra om take te verrig wat al drie gedink het hy beter as hulle kon behartig. “Wanneer ernstige of onaangename stappe gedoen moes word om moeilike sake op te los”, sê Lowell, “het ons Bill gevra om dit te doen. Hy het geweet presies hoe om onaangename situasies te hanteer. Hy het dit gedoen soos ons almal gedink het dit gedoen moet word, maar nie die moed of vermoë gehad het om te doen nie.”
GELUKKIGE HUWELIKE
Die vier het die een ná die ander besluit om te trou. Hulle vriendskap was gegrond op wedersydse liefde vir Jehovah en die voltydse bediening, en daarom was hulle vasbeslote om huweliksmaats te vind wat bereid was om Jehovah eerste te stel. Die voltydse diens het hulle geleer dat dit bevredigender is om te gee as om te ontvang en dat persoonlike begeertes minder belangrik as Koninkryksbelange geag moet word. Hulle het dus susters gekies wat die voltydse diens reeds uit hulle eie betree het. Dit het gelei tot vier sterk en gelukkige huwelike.
As ’n mens wil hê dat ’n vriendskap of ’n huwelik waarlik blywend moet wees, moet Jehovah deel wees van die verhouding (Pred. 4:12). Hoewel Bill en Ramon later hulle huweliksmaats aan die dood afgestaan het, het albei die vreugde en ondersteuning gehad wat ’n getroue vrou kan bied. Lowell en Richard geniet nog steeds hierdie ondersteuning, en Bill, wat weer getrou het, het ’n verstandige keuse met betrekking tot ’n huweliksmaat gemaak sodat hy in die voltydse diens kon bly.
In latere jare het hulle toewysings hulle na verskillende plekke geneem—hoofsaaklik in Duitsland, Oostenryk, Luxemburg, Kanada en die Verenigde State. Gevolglik kon die vier vriende nie soveel tyd saam deurbring as wat hulle graag wou nie. Maar al was hulle ver van mekaar af, het hulle altyd in aanraking gebly, en hulle het hulle verheug oor mekaar se seëninge en gehuil oor mekaar se hartseer (Rom. 12:15). Sulke vriende moet gekoester word en nooit as vanselfsprekend aanvaar word nie. Hulle is kosbare gawes van Jehovah (Spr. 17:17). Hoe skaars is ware vriende tog in vandag se wêreld! Maar elke ware Christen kan oorgenoeg ware vriende hê. As Jehovah se Getuies geniet ons vriendskap met medeaanbidders regoor die wêreld en, bowenal, met Jehovah God en Jesus Christus.
Soos met ons almal die geval is, het hierdie vier vriende soms moeilike tye ondervind—hetsy weens die smart wat deur die dood van ’n huweliksmaat meegebring word, die stres wat deur ’n ernstige siekte veroorsaak word, die kwellinge wat met die versorging van bejaarde ouers gepaardgaan, die probleme wat dit skep om as voltydse dienaars ’n kind groot te maak, die angstigheid wat deur nuwe teokratiese toewysings veroorsaak word of die steeds toenemende probleme wat met die ouderdom gepaardgaan. Maar hulle weet ook uit ondervinding dat vriende—naby en ver—liefhebbers van Jehovah help om elke uitdaging met welslae die hoof te bied.
’N VRIENDSKAP MET DIE EWIGHEID IN DIE VOORUITSIG
Hoe goed was dit tog dat Lowell, Ramon, Bill en Richard hulle onderskeidelik op die ouderdomme van 18, 12, 11 en 10 aan Jehovah toegewy het en dat hulle almal tussen die ouderdomme van 17 en 21 die voltydse diens betree het. Hulle het gedoen wat Prediker 12:1 hulle aangespoor het: “Dink dan nou aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid.”
As jy ’n jong Christenman is, kan jy gerus Jehovah se uitnodiging aanvaar om die voltydse diens te betree, indien moontlik. Danksy sy onverdiende goedhartigheid kan jy dan—soos hierdie vier vriende—die vreugde smaak om kring-, streek- of sonewerk te doen; by Bethel te dien, insluitende op ’n Takkomitee; ’n instrukteur by die Koninkryksbediening- en Pionierskool te wees; en toesprake by byeenkomste, groot sowel as klein, te hou. Hoe het hierdie vier hulle tog verheug in die wete dat tienduisende mense by hulle werk baat gevind het! Dit alles was moontlik bloot omdat hulle as jong mans Jehovah se liefdevolle uitnodiging aangeneem het om hom met hulle hele siel te dien.—Kol 3:23.
Vandag dien Lowell, Richard en Ramon weer eens saam by die takkantoor, nou in Selters, Duitsland. Ongelukkig is Bill in 2010 oorlede terwyl hy as ’n spesiale pionier in die Verenigde State gedien het. ’n Baie spesiale vriendskap tussen vier broers van byna 60 jaar is deur die dood verpletter! Maar ons God, Jehovah, vergeet nooit sy vriende nie. Ons kan seker wees dat elke Christelike vriendskap wat tydelik deur die dood verbreek word, onder sy Koninkryksheerskappy herstel sal word.
“Ek kan nie aan ’n enkele onaangename oomblik in die hele 60 jaar van ons vriendskap dink nie”
Kort voor sy dood het Bill geskryf: “Ek kan nie aan ’n enkele onaangename oomblik in die hele 60 jaar van ons vriendskap dink nie. Ons verhouding was nog altyd vir my iets baie spesiaals.” Met die vooruitsig om hulle vriendskap in die nuwe wêreld voort te sit, voeg sy drie vriende vinnig by: “En ons het maar nog net begin.”
^ par. 17 Broer Frost se opwindende lewensverhaal is gepubliseer in The Watchtower van 15 April 1961, bladsye 244-249.