Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat beteken Jehovah se vergifnis vir jou?

Wat beteken Jehovah se vergifnis vir jou?

“Jehovah [is] ’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie . . . , wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe.”—EKS. 34:6, 7.

1, 2. (a) Watter soort God was Jehovah vir die nasie Israel? (b) Watter vraag word in hierdie artikel bespreek?

IN DIE dae van Nehemia het ’n groep Leviete in openbare gebed erken dat hulle voorvaders herhaaldelik “geweier [het] om te luister” na Jehovah se gebooie. Maar Jehovah was oor en oor vir hulle “’n God van dade van vergifnis, genadig en barmhartig, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid”. Jehovah het aangehou om onverdiende goedhartigheid aan daardie teruggekeerde ballinge in Nehemia se tyd te betoon.—Neh. 9:16, 17.

2 Op persoonlike vlak kan elkeen van ons ons afvra: ‘Wat beteken Jehovah se vergifnis vir my?’ Om ’n antwoord op hierdie belangrike vraag te vind, kan ons kyk na God se handelinge met twee manne wat by Jehovah se vergifnis baat gevind het—die twee konings Dawid en Manasse.

DAWID SE ERNSTIGE SONDES

3-5. Hoe het Dawid by ernstige sonde betrokke geraak?

3 Hoewel Dawid ’n godvresende man was, het hy ernstige sondes gepleeg. Twee van hierdie sondes het verband gehou met ’n egpaar, Uria en Batseba. Die gevolge daarvan was pynlik vir almal wat daardeur geraak is. Nietemin openbaar die manier waarop God Dawid tereggewys het, baie oor Jehovah se vergifnis. Kyk wat gebeur het.

4 Dawid het Israel se leër gestuur om die hoofstad van die Ammoniete, Rabba, te beleër. Dit was sowat 80 kilometer oos van Jerusalem, aan die oorkant van die Jordaanrivier, geleë. Intussen het Dawid, terwyl hy op die dak van sy paleis in Jerusalem was, Batseba—’n getroude vrou—sien bad. Haar man was nie daar nie. Dawid was so seksueel geprikkel toe hy na Batseba gekyk het dat hy haar na sy paleis laat bring het, waar hy met haar egbreuk gepleeg het.—2 Sam. 11:1-4.

5 Toe Dawid uitgevind het dat Batseba swanger is, het hy haar man, Uria, na Jerusalem laat terugbring in die hoop dat hy met haar geslagsomgang sal hê. Maar Uria wou nie eers in sy huis ingaan nie—ten spyte van Dawid se pogings om hom te kry om dit te doen. Die koning het dus in die geheim aan sy leërhoof geskryf dat hy Uria “aan die voorpunt van die hewigste stormaanvalle” moet sit en dat sy medesoldate agter hom moet terugtrek. Uria was dus ’n maklike teiken en het in die oorlog gesterf, net soos Dawid beplan het (2 Sam. 11:12-17). Die koning se sonde van egbreuk is dus vererger deur die feit dat hy ’n onskuldige man laat doodmaak het.

DAWID SE GESINDHEID VERANDER

6. Hoe het God op Dawid se sondes gereageer, en wat openbaar dit omtrent Jehovah?

6 Jehovah het natuurlik alles gesien. Niks ontgaan sy aandag nie (Spr. 15:3). Hoewel die koning daarna met Batseba getrou het, was “wat Dawid gedoen het, . . . sleg in die oë van Jehovah” (2 Sam. 11:27). Hoe het God dus gereageer toe Dawid ernstige sondes gepleeg het? Hy het sy profeet Natan na Dawid gestuur. Omdat Jehovah ’n vergewensgesinde God is, wou hy blykbaar ’n grondslag vind om barmhartigheid aan Dawid te bewys. Vind jy Jehovah se benadering nie bemoedigend nie? Hy het Dawid nie gedwing om sy sonde te bely nie, maar het eenvoudig dat Natan die koning ’n verhaal vertel wat toegelig het hoe sleg sy sondes was. (Lees 2 Samuel 12:1-4.) Wat ’n doeltreffende manier was dit tog om hierdie sensitiewe situasie te hanteer!

7. Hoe het Dawid op Natan se illustrasie gereageer?

7 Natan se illustrasie het die koning se sin vir geregtigheid opgewek. Dawid het kwaad geword vir die ryk man in die verhaal en het vir Natan gesê: “So waar as Jehovah lewe, die man wat dit doen, verdien om te sterf!” Wat meer is, Dawid het gesê dat die slagoffer van so ’n onreg vir sy verliese vergoed moet word. Maar toe kom Natan se verpletterende woorde: “U is die man!” Daar is toe vir Dawid gesê dat “’n swaard” nie van sy huis sou wyk nie en dat rampspoed sy familie sou tref as gevolg van sy dade. Hy sou ook in die openbaar vir sy sondes verneder word. Dawid het die erns van sy dade besef en het berouvol erken: “Ek het teen Jehovah gesondig.”—2 Sam. 12:5-14.

DAWID SE GEBED EN JEHOVAH SE VERGIFNIS

8, 9. Hoe openbaar Psalm 51 Dawid se diepste gedagtes, en wat leer dit ons omtrent Jehovah?

8 Die woorde van ’n lied wat koning Dawid daarna geskryf het, lewer bewys van sy hartgrondige berou. Psalm 51 bevat Dawid se hartroerende smeekbedes tot Jehovah en toon duidelik dat hy nie net sy foute erken het nie, maar ook oor sy sondes berou gehad het. Dawid was hoofsaaklik bekommerd oor sy verhouding met God. “Teen u, u alleen, het ek gesondig”, het hy bely. Hy het by Jehovah gepleit: “Skep in my ook ’n suiwer hart, o God, en plaas in my ’n nuwe, standvastige gees . . . Gee my tog weer die vreugde van redding deur u, en mag u my ook met ’n gewillige gees ondersteun” (Ps. 51:1-4, 7-12). Praat jy op so ’n opregte en openhartige wyse met Jehovah oor jou tekortkominge?

9 Jehovah het nie die pynlike gevolge van Dawid se sondes verwyder nie. Hy sou vir die res van sy lewe die gevolge daarvan ly. Maar Jehovah het Dawid se berouvolle gees raakgesien—hy het “’n gebroke en verbryselde hart” gehad—en hy het hom vergewe. (Lees Psalm 32:5; Ps. 51:17) God die Almagtige verstaan die ware gesindheid en beweegrede agter sondes. Jehovah het die egbrekers nie deur menslike regters volgens die Mosaïese Wet ter dood laat veroordeel nie, maar het barmhartig tussenbeide getree en Dawid en Batseba self geoordeel (Lev. 20:10). God het hulle seun Salomo selfs Israel se volgende koning gemaak.—1 Kron. 22:9, 10.

10. (a) Watter grondslag het Jehovah moontlik gevind om Dawid te vergewe? (b) Watter faktore beweeg Jehovah om vergifnis te skenk?

10 Nog ’n rede waarom Jehovah Dawid vergewe het, is moontlik die feit dat Dawid self barmhartigheid aan Saul bewys het (1 Sam. 24:4-7). Soos Jesus verduidelik het, behandel Jehovah ons soos ons ander behandel. “Hou op om te oordeel, sodat julle nie geoordeel word nie”, het Jesus gesê, “want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle uitmeet, sal hulle vir julle uitmeet” (Matt. 7:1, 2). Wat ’n verligting is dit tog om te weet dat Jehovah ons sondes sal vergewe—selfs sondes wat so ernstig soos egbreuk en moord is! Hy sal dit doen as ons ’n vergewensgesinde gees het, as ons ons sondes voor hom bely en as ons ’n veranderde gesindheid teenoor ons slegte dade openbaar. “Tye van verkwikking” kom van Jehovah wanneer sondaars opregte berou toon.Lees Handelinge 3:19.

MANASSE SONDIG ERNSTIG, MAAR TOON BEROU

11. Hoe het koning Manasse gedoen wat sleg was in God se oë?

11 Kyk na nog ’n Bybelverslag wat toelig in watter mate Jehovah bereid is om te vergewe. Sowat 360 jaar ná die begin van Dawid se heerskappy het Manasse koning van Juda geword. Sy 55 jaar lange heerskappy was berug weens sy goddeloosheid, en Jehovah het hom as gevolg van sy verfoeilike dade veroordeel. Manasse het onder meer altare vir Baäl opgerig, “die hele leër van die hemel” aanbid, sy seuns deur die vuur laat gaan en spiritistiese gebruike bevorder. Ja, “hy het op groot skaal gedoen wat sleg was in die oë van Jehovah”.—2 Kron. 33:1-6.

12. Hoe het Manasse tot Jehovah teruggekeer?

12 Uiteindelik is Manasse uit sy vaderland geneem en in ’n Babiloniese tronk gegooi. Daar het hy dalk gedink aan Moses se woorde aan Israel: “Wanneer jy in groot nood verkeer en al hierdie woorde jou aan die einde van die dae oorgekom het, dan sal jy tot Jehovah jou God moet terugkeer en na sy stem moet luister” (Deut. 4:30). Manasse het tot Jehovah teruggekeer. Hoe? Hy het “hom grootliks bly verneder” en tot God “bly bid” (soos uitgebeeld op bladsy 21; 2 Kron. 33:12, 13). Ons weet nie presies watter woorde Manasse in daardie gebede gebruik het nie, maar ons kan ons voorstel dat dit in party opsigte soortgelyk sou gewees het aan dié van koning Dawid, wat opgeteken is in Psalm 51. Hoe dit ook al sy, Manasse het heeltemal van gesindheid verander.

13. Waarom het Jehovah Manasse vergewe?

13 Hoe het Jehovah op Manasse se gebede gereageer? “Hy [het Manasse se] dringende versoek aangehoor . . . en Hy [het] sy versoek om guns gehoor.” Soos Dawid voor hom, het Manasse die erns van sy sondes besef en was hy waarlik berouvol. Dit is waarom God Manasse vergewe het en hom in die koningskap in Jerusalem herstel het. Gevolglik het “Manasse . . . te wete gekom dat Jehovah die ware God is” (2 Kron. 33:13). Hoe bemoedigend is dit tog om hierdie verdere bewyse te hê dat ons barmhartige God diegene vergewe wat opreg berouvol is!

HET JEHOVAH SE VERGIFNIS PERKE?

14. Wat bepaal of Jehovah ’n sondaar sal vergewe of nie?

14 Min mense onder God se hedendaagse volk sal ooit om vergifnis moet vra vir sondes wat so ernstig soos dié van Dawid en Manasse is. Maar die feit dat Jehovah hierdie twee konings vergewe het, help ons om te besef dat God bereid is om selfs ernstige sondes te vergewe as die sondaar waarlik berouvol is.

15. Hoe weet ons dat Jehovah se vergifnis nie outomaties is nie?

15 Ons kan natuurlik nie tereg die gevolgtrekking maak dat Jehovah outomaties alle mense se sondes vergewe nie. Om hierdie punt toe te lig, kan ons die gesindheid van Dawid en Manasse vergelyk met dié van die weerspannige mense van Israel en Juda. God het Natan gestuur om Dawid te konfronteer en hom ’n geleentheid te gee om sy gesindheid te verander. Dawid het hierdie aanbod dankbaar aanvaar. Toe Manasse in groot nood verkeer het, was hy beweeg om opreg berou te toon. Maar dikwels het die inwoners van Israel en Juda nie berou getoon nie. Daarom het Jehovah hulle nie vergewe nie. Hy het sy profete eerder herhaaldelik gestuur om bekend te maak hoe hy hulle ongehoorsame gedrag beskou het. (Lees Nehemia 9:30.) Selfs nadat die ballinge uit Babilon na hulle vaderland teruggekeer het, het Jehovah aangehou om getroue boodskappers, soos die priester Esra en die profeet Maleagi, te verwek. Wanneer die volk in ooreenstemming met Jehovah se wil opgetree het, het hulle groot vreugde ervaar.—Neh. 12:43-47.

16. (a) Wat was die gevolge van ’n onberouvolle gesindheid vir die nasie Israel as ’n geheel? (b) Watter moontlikheid bestaan vir individuele afstammelinge van die eertydse Israeliete?

16 Nadat Jehovah Jesus na die aarde gestuur het en die een volmaakte losprysoffer voorsien het, het hy nie meer Israel se diereoffers aanvaar nie (1 Joh. 4:9, 10). As ’n mens het Jesus sy Vader se beskouing weerspieël toe hy hierdie roerende woorde gesê het: “Jerusalem, Jerusalem, wat die profete doodmaak en dié stenig wat na haar gestuur is—hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak, soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak! Maar julle wou nie.” Daarom het Jesus gesê: “Kyk! Julle huis word vir julle verlate agtergelaat” (Matt. 23:37, 38). Die sondige en onberouvolle nasie is dus deur geestelike Israel vervang (Matt. 21:43; Gal. 6:16). Maar wat van individuele lede van natuurlike Israel? Hulle kan baat vind by Jehovah se vergifnis en barmhartigheid as hulle geloof in God en in die offerande van Jesus Christus beoefen. Mense wat gesterf het sonder om oor hulle sondes berou te hê en op ’n gereinigde aarde opgewek word, sal ook hierdie geleentheid kry.—Joh. 5:28, 29; Hand. 24:15.

VIND BAAT BY JEHOVAH SE VERGIFNIS

17, 18. Hoe kan ons Jehovah se vergifnis ontvang?

17 Hoe moet ons reageer op Jehovah se bereidwilligheid om te vergewe? Ons moet sekerlik soos Dawid en Manasse optree. Ons moet erken dat ons sondig is, oor ons foute berou hê, Jehovah opreg om vergifnis smeek en hom vra om ’n suiwer hart in ons te skep (Ps. 51:10). As ons ernstig gesondig het, moet ons ook die ouer manne om geestelike hulp vra (Jak. 5:14, 15). Ongeag wat ons omstandighede is, dit is vertroostend om in gedagte te hou dat Jehovah is soos hy hom aan Moses beskryf het—“’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid, wat liefderyke goedhartigheid vir duisende bewaar, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe”. Jehovah het nie verander nie.—Eks. 34:6, 7.

18 Jehovah het berouvolle Israeliete deur middel van ’n kragtige vergelyking belowe dat hy die vlek van hulle sondes heeltemal sou verwyder, dat hy wat “skarlaken” is, so wit soos “sneeu” sou maak. (Lees Jesaja 1:18.) Wat beteken Jehovah se vergifnis dan vir ons? Dat al ons sondes en foute vergewe sal word, mits ons ’n dankbare en berouvolle gesindheid openbaar.

19. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

19 Hoe kan ons, aangesien ons Jehovah se vergifnis ontvang, hom in ons handelinge met mekaar navolg? Hoe kan ons voorkom dat ons ’n onvergewensgesinde gesindheid ontwikkel teenoor diegene wat ernstig sondig, maar opregte berou toon? Die volgende artikel sal ons help om ons hart te ondersoek sodat ons in voller mate soos ons Vader, Jehovah, kan wees, wat “goed en vergewensgesind” is.—Ps. 86:5.