Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Voordat ons kennis van die waarheid opgedoen het, het ek en my vrou van in vitro-bevrugting gebruik gemaak omdat ons ’n baba wou hê. Nie al ons bevrugte eierselle (embrio’s) is gebruik nie; party is bevries en geberg. Moet ons dit hou, of mag ons daarvan ontslae raak?

Dit is maar net een van talle gewigtige sedelike/etiese kwessies waarvoor ’n egpaar te staan sal kom as hulle kies om van in vitro-bevrugting (IVB) gebruik te maak. Elke egpaar is teenoor Jehovah aanspreeklik vir hulle besluit. Maar dit sal moontlik nuttig wees om ’n oorsig te kry van hierdie geassisteerde voortplantingstegnologie.

In 1978 het ’n vrou in Engeland vir die eerste keer geboorte gegee aan wat deur baie ’n proefbuisbaba genoem is. Sy kon nie voorheen swanger raak nie omdat haar Fallopiusbuise verstop was en sperm dus nie haar eiersel(le) kon bereik nie. Mediese personeel het ’n ryp eiersel chirurgies uit haar verwyder, in ’n glasbak geplaas en dit met haar man se sperm bevrug. Die embrio wat so ontstaan het, is toegelaat om in voedingstowwe te ontwikkel en toe in haar baarmoeder geplaas, waar dit ingeplant het. Ná verloop van tyd het sy ’n babadogtertjie gehad. Hierdie prosedure, en variasies daarvan, is in vitro- (in glas) bevrugting, of IVB, genoem.

Hoewel die besonderhede moontlik van land tot land verskil, behels IVB gewoonlik die volgende: Die vrou word weke lank kragtige vrugbaarheidsmiddels gegee om haar eierstokke te stimuleer om baie eierselle voort te bring. Die man sal moontlik gevra word om vars sperm te voorsien deur middel van masturbasie. Die eierselle en “gewaste”, of verwerkte, sperm word in die laboratorium gekombineer. Meer as een eiersel sal dalk bevrug word en begin verdeel, wat dan menslike embrio’s word. Ná ’n dag of wat word hierdie nuwe embrio’s sorgvuldig ondersoek om te onderskei tussen dié wat dalk defektief is en dié wat gesond lyk en heel waarskynlik sal inplant en ontwikkel. Gewoonlik word daar, teen ongeveer die derde dag, nie een nie, maar twee of drie van die beste embrio’s in die vrou se baarmoeder oorgeplaas om die kanse op swangerskap te vergroot. As een of meer inplant, is sy swanger en na verwagting sal sy ná verloop van tyd geboorte gee.

Maar wat van embrio’s wat nie oorgeplaas is nie, insluitende dié wat nie so gesond gelyk het nie of wat selfs defektief was? As hulle net so gelaat word, sal hierdie ekstra embrio’s kort voor lank nie meer lewensvatbaar wees nie. Voordat dit gebeur, kan hierdie embrio’s in vloeibare stikstof bevries word. Waarom? Want as die eerste IVB-poging misluk, kan van hierdie gebergte embrio’s in nog ’n IVB-siklus gebruik word, teen ’n laer koste. Maar dit laat etiese kwessies ontstaan. Soos in die geval van die egpaar wat die vraag hierbo gevra het, vind baie dit moeilik om te besluit wat om met hulle bevrore embrio’s te doen. Dalk wil hulle nie nog kinders hê nie. Weens die ouers se ouderdom of finansies is nog ’n probeerslag miskien nie wenslik nie. Hulle vrees moontlik die risiko’s wat aan meervoudige swangerskappe verbonde is. * Of as een of albei huweliksmaats doodgaan of weer trou, kan dit sake kompliseer. Ja, dit is ’n ingewikkelde besluit, en daarom betaal party egpare jare lank bergingsgelde.

In 2008 het ’n vername embrioloog in The New York Times gesê dat die besluit oor wat om met die ekstra embrio’s te doen, vir baie pasiënte werklik ’n dilemma is. Die artikel het gesê: “Daar is ten minste 400 000 bevrore embrio’s in klinieke regoor die land, en elke dag word daar nog bygevoeg . . . Embrio’s kan ’n dekade of langer lewensvatbaar bly as hulle reg bevries word, maar nie almal oorleef wanneer hulle ontdooi word nie.” (Ons kursiveer.) Hierdie feit gee party Christene iets om oor na te dink. Waarom?

Christenegpare wat voor kwessies in verband met IVB te staan kom, kan gerus nadink oor die implikasies van ’n soortgelyke mediese situasie. ’n Christen moet dalk besluit wat om te doen in die geval van ’n geliefde wat terminaal siek is en aan die lewe gehou word deur kunsmatige lewensondersteuning, soos ’n ventilator vir asemhaling. Ware Christene is gekant teen mediese verwaarlosing; in ooreenstemming met Eksodus 20:13 en Psalm 36:9 heg hulle groot waarde aan die lewe. Die Ontwaak! van 22 Julie 1974 sê: “Uit eerbied vir God se beskouing van die heiligheid van lewe, uit agting vir hulle eie gewetens en in gehoorsaamheid aan die wette van die regering sal diegene wat volgens Bybelbeginsels wil lewe nooit van positiewe eutanasie gebruik maak nie”, dit wil sê, hulle sal nooit ’n pasiënt se lewe opsetlik beëindig nie. Maar in sommige situasies word ’n geliefde net aan die lewe gehou deur middel van lewensondersteuningstegnologie. Gesinslede moet besluit of hulle hierdie kunsmatige lewensondersteuning wil voortsit of wil beëindig.

Dit is weliswaar nie dieselfde situasie waarin ’n egpaar hulle bevind wat van IVB gebruik gemaak het en wat nou gebergte embrio’s het nie. Maar een opsie wat hulle gebied kan word, is om die embrio’s uit die stikstofvrieskas te verwyder en dit te laat ontdooi. Sonder die kunsmatige omgewing van die vrieskas sal die embrio’s gou agteruitgaan totdat dit die punt bereik waar dit nie meer lewensvatbaar is nie. Die egpaar moet besluit of hulle dit sal toelaat.—Gal. 6:7.

Omdat ’n egpaar vrywillig besluit het om van IVB gebruik te maak om ’n baba te hê, sal hulle moontlik besluit om die koste te dra om hulle gebergte embrio’s bevrore te hou of om dit in die toekoms te gebruik in ’n poging om ’n kind te hê. Maar ’n ander egpaar besluit dalk dat hulle die lewensinstandhouding van die bevrore embrio’s kan beëindig, aangesien hulle meen dat die embrio’s net op kunsmatige wyse lewensvatbaar gehou word. Christene wat voor hierdie besluit te staan kom, is voor God verantwoordelik om hulle Bybelopgeleide gewete te gebruik. Dit moet hulle begeerte wees om ’n skoon gewete te hê, terwyl hulle nie ander se gewetens ignoreer nie.—1 Tim. 1:19.

Christene wat voor hierdie besluit te staan kom, is voor God verantwoordelik om hulle Bybelopgeleide gewete te gebruik

’n Deskundige op die gebied van reproduktiewe endokrinologie het gevind dat die meeste egpare “verward is en terselfdertyd diep gekwel word deur die verantwoordelikheid om te besluit wat om met hulle [bevrore] embrio’s te doen”. Hy het tot die slotsom gekom: “Vir baie egpare lyk dit asof daar geen goeie besluit is nie.”

Ware Christene wat IVB selfs net oorweeg, moet dus goed nadink oor al die ernstige implikasies van hierdie tegnologie. Die Bybel sê: “’n Skerpsinnige persoon sien die gevaar en verberg hom, maar ’n naïewe persoon gaan verder, en ly as gevolg daarvan.”—Spr. 22:3, NET Bible.

’n Ongetroude paartjie wat die Bybel studeer, wil gedoop word, maar hulle kan nie hulle huwelik wettig nie omdat die man onwettig in die land is. Die regering laat nie toe dat ’n onwettige immigrant trou nie. Kan hulle ’n plegtige verklaring van getrouheid aan mekaar onderteken en dan gedoop word?

Dit lyk dalk soos ’n oplossing, maar dit is nie ’n skriftuurlike oplossing nie. Om te sien waarom dit die geval is, kom ons bespreek eers die doel van so ’n plegtige verklaring van getrouheid, waarom dit bestaan, en hoe en waar dit moontlik van toepassing sal wees.

Hierdie dokument is ’n geskrewe verklaring wat voor getuies onderteken word deur ’n paartjie wat nie kan trou nie weens die rede wat hieronder genoem word. In die dokument belowe hulle plegtig om aan mekaar getrou te wees en om hulle huwelik te wettig as dit moontlik word. Die gemeente sal hulle beskou as ’n paartjie wat in die openbaar voor God verklaar het om aan mekaar getrou te wees, en hulle verbintenis sal dus beskou word asof dit deur die burgerlike owerheid geldig verklaar is.

Waarom en wanneer word so ’n plegtige verklaring van getrouheid gebruik? Jehovah het die huwelik ingestel en het groot agting daarvoor. Sy Seun het gesê: “Wat God . . . onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matt. 19:5, 6; Gen. 2:22-24). Jesus het bygevoeg: “Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van hoerery [geslagsonsedelikheid], en met ’n ander trou, [pleeg] egbreuk” (Matt. 19:9). “Hoerery”, oftewel geslagsonsedelikheid, is dus die enigste grondslag vir egskeiding wat ’n huwelik skriftuurlik kan beëindig. As ’n man byvoorbeeld geslagsomgang buite die huwelik het, kan sy onskuldige vrou besluit of sy van hom wil skei of nie. As sy wel van hom skei, is sy vry om met iemand anders te trou.

Maar in party lande het die invloedrykste kerk, veral in die verlede, nie hierdie duidelike Bybelse riglyn aanvaar nie. Dit het eerder geleer dat ’n egskeiding om geen rede verkry kan word nie. Op party plekke waar die kerk baie invloed gehad het, maak die burgerlike wette dus geen voorsiening vir egskeiding nie, selfs nie op grond van die geldige rede wat Jesus gegee het nie. In ander lande is egskeiding moontlik, maar is die proses baie lank, ingewikkeld en veeleisend. Dit kan etlike jare neem om ’n egskeiding te verkry. Dit is asof die kerk of die regering iets “verhinder” wat vir God aanvaarbaar is.—Hand. 11:17.

Byvoorbeeld, ’n paartjie woon moontlik in ’n land waar dit onmoontlik of uiters moeilik is om ’n egskeiding te verkry en dit dalk jare sal neem om wetlik erken te word. As hulle alles in hulle vermoë gedoen het om ’n wettige huwelik te beëindig en hulle in God se oë vry is om te trou, kan hulle ’n plegtige verklaring van getrouheid onderteken. Hierdie voorsiening is ’n liefdevolle reëling van die Christengemeente wat in sulke lande van toepassing is. Maar dit is nie ’n voorsiening vir lande waar egskeiding moontlik is, al is die proses redelik duur of ingewikkeld nie.

Party wat nie ’n plegtige verklaring van getrouheid verstaan nie en wat in ’n land woon waar egskeiding moontlik is, het gevra of hulle so ’n dokument kan onderteken om enige komplikasies of ongerief te vermy.

In die bogenoemde geval wil die man en vrou wat saambly, trou. Elkeen is skriftuurlik vry; nie een van die twee is aan ’n vorige maat gebonde nie. Maar die man is onwettig in die land, en die regering laat nie toe dat ’n onwettige immigrant trou nie. (In baie lande sal die owerheid ’n huwelik toelaat, selfs as een of albei partye onwettig in die land is.) In die geval onder bespreking maak die landswet wel voorsiening vir ’n egskeiding. Om ’n plegtige verklaring van getrouheid te onderteken, is dus nie daar ’n opsie nie. Let wel: Dit is nie ’n geval waar die man of die vrou ’n egskeiding moet verkry, maar verhinder word om dit te doen nie. Hulle is albei vry om te trou. Maar hoe kan hulle dit doen, aangesien die man onwettig in die land is? Hulle sal dalk na ’n ander land moet gaan waar sy status nie ’n probleem sal wees nie. Of hulle sal dalk selfs kan trou in die land waar hulle nou woon as die man stappe doen om wetlike status te verkry.

Ja, die paartjie kan hulle lewe met God se standaarde én die keiser se wet in ooreenstemming bring (Mark. 12:17; Rom. 13:1). Hopelik sal hulle dit doen. Dan kan hulle kwalifiseer om gedoop te word.—Heb. 13:4.

^ par. 6 Sê nou dit lyk asof die ontwikkelende fetus abnormaal is, of sê nou ’n hele paar embrio’s plant in die baarmoeder in? Die opsetlike beëindiging van ’n swangerskap sou ’n aborsie wees. By IVB is meervoudige swangerskappe (tweeling, drieling of meer) redelik algemeen, wat meer risiko’s inhou, soos vroeggeboorte en bloeding by die moeder. ’n Vrou wat swanger is met baie fetusse, sal dalk aangespoor word om “selektiewe vermindering” te oorweeg en sodoende toe te laat dat een of meer van die fetusse doodgemaak word. Dit sal ’n opsetlike aborsie wees, wat neerkom op moord.—Eks. 21:22, 23; Ps. 139:16.