Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Tydelike inwoners”, verenig in ware aanbidding

“Tydelike inwoners”, verenig in ware aanbidding

“Uitlanders sal julle landbouers en julle wingerdarbeiders wees. En wat julle betref, julle sal die priesters van Jehovah genoem word.”—JES. 61:5, 6.

1. Hoe beskou party mense uitlanders, maar waarom is dit nie geregverdig nie?

SOOS die vorige artikel getoon het, gebruik mense die woord “uitlander” op ’n neerhalende manier, wat dui op minagting, selfs openlike veragting. Dit is disrespekvol om mense van ’n ander nasie as minderwaardig aan mense van ons eie land te beskou. Wat meer is, so ’n gesindheid toon dat ons onkundig is wat die feite betref. Die publikasie The Races of Mankind sê: “Die rasse van die mensdom is wat die Bybel sê dit is—broers.” Broers verskil dikwels baie, maar hulle is nogtans broers.

2, 3. Hoe beskou Jehovah uitlanders?

2 Daar is natuurlik uitlanders in ons gemeenskap ongeag waar ons woon. Dit was ook die geval met die eertydse Israeliete, wat deur middel van die Wetsverbond in ’n spesiale verhouding met Jehovah God was. Die regte van nie-Israeliete was ietwat beperk, maar die Israeliete moes hulle op respekvolle en regverdige wyse behandel. Wat ’n uitstekende voorbeeld vir ons! Daar is geen plek vir partydigheid of vooroordeel onder ware Christene nie. Waarom nie? Die apostel Petrus het gesê: “Ek sien vir seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik.”—Hand. 10:34, 35.

3 Uitlanders in eertydse Israel het baat gevind by hulle noue omgang met die Israeliete. Dit het Jehovah se beskouing van die saak weerspieël, soos gesien kan word uit die apostel Paulus se woorde toe hy jare later oor Jehovah gevra het: “Is hy net die God van die Jode? Is hy dit nie ook van mense van die nasies nie? Ja, ook van mense van die nasies.”—Rom. 3:29; Joël 2:32.

4. Waarom kan daar gesê word dat daar geen uitlanders in “die Israel van God” is nie?

4 Die gemeente van gesalfde Christene het letterlike Israel deur middel van die nuwe verbond vervang as die nasie met wie God ’n spesiale verhouding sou hê. Daarom word dit “die Israel van God” genoem (Gal. 6:16). En soos Paulus verduidelik het, is daar in hierdie nuwe nasie “nie Griek of Jood, besnydenis of onbesnedenheid, uitlander, Skitiër, slaaf, vrygeborene . . . nie, maar [is] Christus alles en in almal” (Kol. 3:11). In hierdie sin sou daar dus geen uitlanders in die Christengemeente wees nie.

5, 6. (a) Watter vraag ontstaan moontlik in verband met Jesaja 61:5, 6? (b) Wie is “die priesters van Jehovah” en “die uitlanders” waarvan Jesaja praat? (c) Wat het die twee groepe in gemeen?

5 Aan die ander kant sal iemand dalk verwys na Jesaja hoofstuk 61, wat ’n profesie bevat wat in die Christengemeente vervulling vind. Vers 6 van hierdie hoofstuk praat van diegene wat as “priesters van Jehovah” sal dien. Maar vers 5 praat van “uitlanders” wat hulle samewerking sou gee aan hierdie “priesters” en hulle met hulle werk sou help. Hoe moet ons dit verstaan?

6 Ons weet dat hierdie “priesters van Jehovah” gesalfde Christene is wat deel het “aan die eerste opstanding” en wat “priesters van God en van die Christus [sal] wees en . . . die duisend jaar lank saam met hom as konings [sal] heers” (Op. 20:6). Daar is ook talle lojale Christene wat die aardse hoop het. Hoewel hulle noue omgang het met diegene wat in die hemel sal dien en saam met hulle werk, is hulle in figuurlike sin uitlanders. Hulle ondersteun en werk vreugdevol saam met “die priesters van Jehovah” en dien as ’t ware as hulle “landbouers” en “wingerdarbeiders”. Ja, hulle help om geestelike vrugte tot heerlikheid van God te kweek deur die waarheid aan ander te verkondig en hulle te leer. Trouens, die gesalfdes sowel as die “ander skape” vind opregte persone wat God vir ewig wil dien en hou dan liefdevol as herders toesig oor hulle.—Joh. 10:16.

“TYDELIKE INWONERS” SOOS ABRAHAM

7. In watter opsig is hedendaagse Christene soos Abraham en ander getroue manne van ouds?

7 Soos ons in die vorige artikel gesien het, is ware Christene soos uitlanders, of tydelike inwoners, in Satan se goddelose wêreld. In hierdie opsig is hulle soos getroue manne van ouds—insluitende Abraham—van wie daar gesê word dat “hulle vreemdelinge en tydelike inwoners in die land” was (Heb. 11:13). Ongeag wat ons hoop vir die toekoms is, ons het die voorreg om die soort verhouding met Jehovah te hê wat Abraham gehad het. Jakobus verduidelik: “‘Abraham het geloof in Jehovah gestel, en dit is hom as regverdigheid toegereken’, en hy is ‘Jehovah se vriend’ genoem.”—Jak. 2:23.

8. Watter belofte is aan Abraham gemaak, en hoe het hy oor die vervulling daarvan gevoel?

8 God het belowe dat al die families van die aarde—nie net een nasie nie—deur middel van Abraham en sy nakomelinge geseën sal word. (Lees Genesis 22:15-18.) Hoewel hierdie godgegewe belofte eers in die verre toekoms vervul sou word, het Abraham sy vertroue in die vervulling daarvan behou. Hy het meer as die helfte van sy lewe met sy familie van plek tot plek geswerf. En die hele tyd het Abraham sy vriendskap met Jehovah gehandhaaf.

9, 10. (a) Hoe kan ons Abraham se voorbeeld navolg? (b) Watter uitnodiging kan ons aan mense rig?

9 Hoewel Abraham nie geweet het hoe lank hy sou moes wag totdat sy hoop verwesenlik sou word nie, het hy nooit in sy liefde en toegewydheid aan Jehovah gewankel nie. Hy het gefokus gebly en het hom nie as ’n permanente inwoner in die een of ander nasie gevestig nie (Heb. 11:14, 15). Hoe verstandig sal dit tog van ons wees om Abraham se voorbeeld te volg deur ’n eenvoudige lewe te lei en nie toe te laat dat ons oorbesorg raak oor materiële besittings, sosiale stand of ’n loopbaan nie! Waarom ’n sogenaamde normale lewe probeer lei in ’n stelsel wat binnekort tot ’n einde gaan kom? Waarom te geheg word aan dinge wat net tydelik is? Soos in die geval van Abraham, lê iets baie beters vir ons voor. Ons is bereid om ’n geduldige, wagtende houding te openbaar totdat ons hoop verwesenlik word.—Lees Romeine 8:25.

10 Jehovah nooi mense van al die nasies nog steeds om deur middel van Abraham se saad geseën te word. En die gesalfde “priesters van Jehovah” sowel as die ander skape, die “uitlanders”, rig hierdie uitnodiging in meer as 600 tale aan mense regoor die wêreld.

KYK VERDER AS NASIONALE GRENSE

11. Watter beskouing met betrekking tot uitlanders het Salomo se gebed weerspieël?

11 By die inwyding van die tempel in 1026 VHJ en in ooreenstemming met die belofte wat Jehovah aan Abraham gemaak het, het Salomo gesê dat mense van al die nasies Jehovah saam met die Israeliete sou loof. In ’n hartgrondige gebed het hy gesê: “Ook na die uitlander, wat geen deel uitmaak van u volk Israel nie en wat weens u naam uit ’n ver land kom (want hulle sal hoor van u groot naam en van u sterk hand en van u uitgestrekte arm), en hy kom en bid na hierdie huis toe, mag u luister vanuit die hemel, u vaste woonplek, en u moet doen volgens alles waaroor die uitlander u aanroep; sodat al die volke van die aarde u naam kan leer ken, om u te vrees net soos u volk Israel.”—1 Kon. 8:41-43.

12. Waarom beskou party mense Jehovah se Getuies dalk as vreemd of as “uitlanders”?

12 ’n Uitlander is iemand wat in ’n land is wat nie sy eie is nie. Jehovah se Getuies bevind hulle in ’n soortgelyke situasie. Hulle is slegs trou verskuldig aan ’n hemelse regering, God se Koninkryk onder Christus. Daarom bly hulle streng neutraal in politieke aangeleenthede, selfs as party mense dink dat hulle vreemd is en nie in die samelewing van vandag inpas nie.

13. (a) Hoe hang ons beskouing van “uitlanders”, of vreemdelinge, van ons sienswyse af? (b) Was dit Jehovah se oorspronklike voorneme dat daar uitlanders moet wees? Verduidelik.

13 Uitlanders word dikwels herken aan kenmerke wat hulle as ’n minderheidsgroep in gemeen het. Dit is dalk die taal wat hulle praat, hulle gebruike, hulle fisiese kenmerke, selfs hulle kleredrag. Nogtans is die dinge wat hulle met alle ander mense in gemeen het, ongeag hulle nasionaliteit, belangriker as enige van hierdie kenmerke. In werklikheid is ’n uitlander, of ’n vreemdeling, dus bloot ’n persoon wat as sodanig beskou word omdat hy in sekere opsigte anders is. Wanneer ons leer om verder te kyk as hierdie werklike of denkbeeldige verskille, verloor die woord “uitlander” baie van sy betekenis. As almal op aarde onder dieselfde politiese entiteit of regering was, sou niemand in die politiese betekenis van die woord ’n uitlander wees nie. Trouens, dit was Jehovah se oorspronklike voorneme dat alle mense as een gesin onder een heerskappy—sy heerskappy—verenig moet wees. Is so iets nou moontlik vir mense van alle nasies regoor die wêreld?

14, 15. Wat het Jehovah se Getuies as ’n groep geleer om te doen?

14 In hierdie selfsugtige en nasionalistiese wêreld is dit verkwikkend om mense te vind wat verder kyk as nasionale grense. Toegegee, dit kan moeilik wees om vooroordeel te oorkom. Die stigter van die televisienetwerk CNN, Ted Turner, lewer kommentaar oor sy werk met ’n aantal talentvolle persone uit verskeie nasies: “Dit was vir my ’n ongelooflike ondervinding om hierdie mense te ontmoet. Ek het mense van ander lande begin sien as medeburgers van die planeet, en nie as ‘uitlanders’ nie. Ek het die woord ‘uitlander’ as neerhalend begin beskou en het ’n reël in CNN gemaak dat dit nie oor die lug of in gesprekke in die kantoor gebruik mag word nie. Die woord ‘internasionaal’ moes eerder gebruik word.”

15 In lande regoor die wêreld is Jehovah se Getuies die enigste mense wat God se denkwyse as ’n groep volg. Deur te leer om Jehovah se beskouing van dinge te hê, het hulle dit reggekry om nasionale skeidsmure verstandelik en emosioneel af te breek. Hulle behandel nie mense van verskillende nasionale groepe met wantroue of agterdog nie en hulle haat hulle nie. Hulle het eerder geleer om die verskeidenheid kenmerke en vermoëns van hierdie groepe as iets pragtigs te beskou. Het jy al nagedink oor hierdie prestasie en hoe dit jou tot voordeel gestrek het in jou handelinge met ander?

’N WÊRELD SONDER UITLANDERS

16, 17. Wat kan die vervulling van Openbaring 16:16 en Daniël 2:44 vir jou beteken?

16 Binnekort sal alle hedendaagse nasies teen Jesus Christus en sy hemelse magte te staan kom in die finale oorlog teen God se heerskappy, ’n oorlog wat “in Hebreeus Har–Magedon genoem word” (Op. 16:14, 16; 19:11-16). Meer as 2 500 jaar gelede is die profeet Daniël geïnspireer om te voorspel hoe sake sou afloop vir menseregerings wat God se voorneme teëstaan en het geskryf: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan.”—Dan. 2:44.

17 Kan jy jou indink wat die vervulling hiervan vir jou sal beteken? Mensgemaakte nasionale grense, wat vandag in sekere sin van alle mense uitlanders maak, sal nie meer bestaan nie. Enige verskille in voorkoms of enige oorblywende normale fisiese kenmerke sal bloot getuig van die wonderlike verskeidenheid wat in God se skepping gevind word. So ’n opwindende vooruitsig moet ons almal beweeg om aan te hou om ons Skepper, Jehovah God, tot die beste van ons vermoë te loof en te eer.

Sien jy uit na die tyd wanneer daar geen mensgemaakte nasionale grense sal wees nie en wanneer die idee van “uitlanders” iets van die verlede sal wees?

18. Watter onlangse verwikkelinge toon dat mense mekaar nie as “uitlanders” hoef te beskou nie?

18 Is dit onrealisties om te glo dat so ’n wêreldwye verandering kan plaasvind? Nee, beslis nie. Trouens, dit is heeltemal redelik om te glo dat dit sal gebeur. Die hele idee van “uitlanders”, of vreemdelinge, het reeds grotendeels sy betekenis verloor onder Jehovah se Getuies, wat min aandag skenk aan mense se nasionaliteit. ’n Hele paar van hulle klein takkantore is byvoorbeeld onlangs saamgesmelt om toesighouding te vereenvoudig en die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk op doeltreffender wyse te kan verrig (Matt. 24:14). Toe dit gedoen is, is nasionale grense geïgnoreer tensy wetlike vereistes dit onmoontlik gemaak het. Dit is nog ’n sigbare bewys dat Jesus Christus as Jehovah se regmatig gekroonde Heerser besig is om menslike skeidsmure af te breek, en hy is die een wat binnekort “sy oorwinning [sal] voltooi”!—Op. 6:2.

19. Wat is deur die suiwer taal van die waarheid moontlik gemaak?

19 Jehovah se Getuies, wat uit baie nasies kom en dus baie verskillende tale praat, streef daarna om die suiwer taal van die waarheid te praat. Dit skep ’n band van eenheid wat onbreekbaar is. (Lees Sefanja 3:9.) Hulle is ’n internasionale gesin wat hulle in die teenswoordige goddelose stelsel bevind, maar geen deel daarvan is nie. Hierdie verenigde gesin is maar net ’n voorskou van die wêreld wat kom—’n wêreld sonder uitlanders. Dan sal almal wat lewe, sonder uitsondering, die waaragtigheid erken van die woorde wat vroeër in hierdie artikel aangehaal is: “Die rasse van die mensdom is wat die Bybel sê dit is—broers.”—The Races of Mankind.