Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die vereenvoudigde Wagtoring—Waarom word dit uitgegee?

Die vereenvoudigde Wagtoring—Waarom word dit uitgegee?

MANNE en vroue regoor die wêreld waardeer al dekades lank die Bybelse inligting wat in Die Wagtoring gepubliseer word en vind daarby baat. In Julie 2011 is die eerste nommer van die vereenvoudigde studie-uitgawe van hierdie tydskrif in Engels uitgegee. Hierdie nommer het verduidelik: “Hierdie nuwe uitgawe sal vir ’n proeftydperk van ’n jaar gepubliseer word, en as dit nuttig is, sal ons daarmee volhou.”

Nou is ons bly om aan te kondig dat ons besluit het om aan te hou om dit te publiseer. Wat meer is, ná verloop van tyd sal ’n vereenvoudigde uitgawe beskikbaar wees in Frans, Portugees en Spaans.

WAAROM DIT WAARDEER WORD

Nadat hulle die vereenvoudigde uitgawe ontvang het, het ’n hele paar mense in die Stille Suidsee gesê: “Nou kan die broers werklik Die Wagtoring ten volle verstaan.” Nog ’n brief het gesê: “Die tyd wat vroeër daaraan bestee is om woorde na te slaan en uitdrukkings te verduidelik, word nou gebruik om die teksverwysings te verstaan en te sien hoe dit met die les verband hou.”

In die Verenigde State het ’n suster met ’n universiteitsgraad gesê: “Ek het 18 jaar lank die abstrakte taal van hoër onderwys gepraat en so geskryf. Ek het in die gewoonte gekom om te praat en te dink op ’n manier wat onnodig ingewikkeld is. Ek het besef dat ek groot veranderinge moet aanbring wanneer dit kom by my denkwyse en my spraak.” Nou is sy ’n bekwame evangeliedienaar en sy skryf: “Die vereenvoudigde Wagtoring het my baie gehelp. Die taal wat dit gebruik, is vir my ’n uitstekende voorbeeld van hoe om dinge eenvoudig te stel.”

In Engeland het ’n suster wat in 1972 gedoop is, aangaande die vereenvoudigde Wagtoring geskryf: “Toe ek die heel eerste nommer gelees het, het dit vir my gevoel asof Jehovah langs my sit met sy arm om my skouers en ons dit saam lees. Dit was soos ’n aardse vader wat vir sy kind ’n slaaptydstorie lees.”

In die Verenigde State het ’n suster wat by Bethel dien en meer as 40 jaar gelede gedoop is, gesê dat die vereenvoudigde uitgawe haar by tye nuwe insig gegee het. Byvoorbeeld, die venster “Wat party uitdrukkings beteken” in die nommer van 15 September 2011 het die uitdrukking “groot wolk van getuies” in Hebreërs 12:1 soos volg verduidelik: “Daar was so baie dat hulle nie getel kon word nie.” Sy het gesê: “Dit het my gehelp om hierdie vers beter te verstaan.” Aangaande die weeklikse vergadering het sy bygevoeg: “Selfs as ’n kind regstreeks uit die vereenvoudigde uitgawe antwoord, is die woorde nie dieselfde as in die standaarduitgawe van Die Wagtoring wat die meeste mense voor hulle het nie. Die kind se kommentare is dus vir die gehoor verkwikkend.”

’n Ander suster by Bethel het geskryf: “Ek sien gretig daarna uit om die kommentare van die kleintjies in die gemeente te hoor. Die vereenvoudigde Wagtoring het hulle gehelp om hulle met soveel oortuiging uit te spreek. Hulle kommentare is vir my baie aanmoedigend.”

’n Suster wat in 1984 gedoop is, het haar waardering vir die vereenvoudigde uitgawe soos volg uitgespreek: “Ek voel dat dit net vir my geskryf is. Dit maak dit werklik vir my maklik om te verstaan wat ek lees. Nou het ek selfvertroue en kan ek by die Wagtoring-studie antwoord.”

’N HULPMIDDEL WAT OUERS WAARDEER

’n Moeder van ’n sewejarige seun het gesê: “Dit het voorheen baie tyd en moeite geverg om baie van die sinne tydens ons voorbereiding vir die Wagtoring-studie aan hom te verduidelik.” Hoe het die vereenvoudigde uitgawe gehelp? Sy skryf: “Ek is verbaas dat hy ook van die paragrawe kan lees en dit werklik kan verstaan. Omdat die woorde nie moeilik is nie en die sinne korter is, voel hy nie geïntimideer nie. Hy het begin om sy antwoorde vir die vergaderinge sonder my hulp voor te berei, en hy konsentreer gedurende die hele studie op die tydskrif.”

Die moeder van ’n negejarige meisie het geskryf: “Voorheen moes ons haar help met haar antwoorde. Nou berei sy op haar eie voor. Ons hoef selde die inligting aan haar te verduidelik of dit eenvoudiger te stel. Omdat dit nie vir haar te moeilik is nie, voel sy nou dat sy ’n deelname aan die Wagtoring-studie kan hê.”

WAT SÊ DIE KINDERS?

Baie kinders voel dat die vereenvoudigde Wagtoring spesiaal vir hulle voorsien is. Die twaalfjarige Rebecca het gevra: “Hou asseblief aan om die nuwe uitgawe te publiseer!” Sy het bygevoeg: “Ek hou baie van die venster ‘Wat party uitdrukkings beteken’. Vir kinders is dit baie eenvoudig.”

Die sewejarige Nicolette voel ook so: “Die Wagtoring was vir my moeilik om te verstaan. Nou kan ek meer antwoorde op my eie gee.” Emma, wat nege jaar oud is, het geskryf: “Dit het my en my boetie, wat ses is, baie gehelp. Ons kan nou baie beter verstaan! Dankie!”

Dit is duidelik dat baie mense baat vind by die uitgawe van Die Wagtoring wat maklik verstaanbare woorde in eenvoudige sinne gebruik. Dit voorsien in ’n behoefte en sal steeds uitgegee word tesame met die standaarduitgawe, wat sedert 1879 so ’n waardevolle voorsiening is.