Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vind ware sukses in die lewe

Vind ware sukses in die lewe

“Jy [sal] jou weg suksesvol maak en . . . wys handel.”—JOS. 1:8.

1, 2. (a) Hoe definieer baie mense sukses? (b) Hoe kan jy bepaal wat jou beskouing van sukses is?

WAT beteken dit om suksesvol te wees in die lewe? As jy mense hierdie vraag vra, sal jy vind dat hulle antwoorde baie verskil. Baie definieer sukses byvoorbeeld as besondere prestasie op finansiële, professionele of akademiese gebied. Vir ander sluit dit ook verhoudings in—hoe goed hulle met familie, vriende of werksmaats oor die weg kom. Iemand wat God dien, sal sukses dalk selfs verbind met ’n verantwoordelike posisie in die gemeente of met die resultate wat hy of sy in die bediening behaal.

2 Om te bepaal wat jou eie beskouing van sukses is, kan jy die name neerskryf van ’n paar mense wat jy dink suksesvol is—dié wat jy die meeste bewonder en respekteer. Wat het hulle in gemeen? Is hulle ryk of beroemd? Is hulle vooraanstaande persone? Die antwoorde kan heel moontlik openbaar wat in jou hart is, en dit kan ’n groot invloed hê op die keuses wat jy maak en die doelwitte wat jy nastreef.—Luk. 6:45.

3. (a) Wat moes Josua doen om sy weg suksesvol te maak? (b) Wat sal ons nou bespreek?

3 Wat van die allergrootste belang is, is of Jehovah ons as suksesvol beskou, want ons lewe hang van sy goedkeuring af. Toe Jehovah Josua die gewigtige toewysing gegee het om die Israeliete in die Beloofde Land in te lei, het hy vir hom gesê om die Mosaïese Wet “dag en nag” te lees en om sorgvuldig te gehoorsaam wat daarin geskrywe staan. God het hom verseker: “Dan sal jy jou weg suksesvol maak en dan sal jy wys handel” (Jos. 1:7, 8). En Josua was inderdaad suksesvol. Wat van ons? Hoe kan ons vasstel of ons beskouing van sukses met dié van God ooreenstem? Kom ons kyk na die lewens van twee manne wat in die Bybel genoem word.

WAS SALOMO SUKSESVOL IN DIE LEWE?

4. Waarom kan daar gesê word dat Salomo suksesvol was?

4 Salomo was in baie opsigte buitengewoon suksesvol. Waarom? Omdat hy Jehovah ’n aantal jare lank gevrees en gehoorsaam het en Jehovah hom ryklik geseën het. Onthou dat koning Salomo, toe Jehovah vir hom gesê het om ’n versoek tot hom te rig, gevra het vir wysheid om die volk te lei. Toe het God hom met wysheid sowel as rykdom geseën. (Lees 1 Konings 3:10-14.) Sy wysheid “was oorvloediger as die wysheid van al die Oosterlinge en as al die wysheid van Egipte”. Salomo se roem het “na al die nasies rondom” versprei (1 Kon. 4:30, 31). Wat rykdom betref, het sy jaarlikse inkomste aan goud alleen sowat 25 ton geweeg! (2 Kron. 9:13). Hy het uitgeblink in die diplomasie, konstruksie en die handel. Ja, solank Salomo sy regverdige posisie voor God behou het, was hy suksesvol.—2 Kron. 9:22-24.

5. Watter slotsom het Salomo bereik oor diegene wat in God se oë suksesvol is?

5 Wat Salomo in die boek Prediker geskryf het, toon dat hy nie onder die wanindruk was dat sukses en vreugde beperk is tot diegene wat ryk is of aansien het nie. Geensins nie. Hy het geskryf: “Ek het te wete gekom dat daar vir hulle niks beters is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe; en ook dat elke mens eet en inderdaad drink en die goeie sien vir al sy harde werk. Dit is die gawe van God” (Pred. 3:12, 13). En hy het besef dat sulke genietinge werklik betekenisvol is vir iemand wat God se goedkeuring geniet, iemand wat ’n goeie verhouding met Hom het. Salomo het tereg gesê: “Die slot van die saak, nadat alles gehoor is, is: Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens.”—Pred. 12:13.

6. Hoe help Salomo se voorbeeld ons om te bepaal wat ware sukses is?

6 Salomo het jare lank in die vrees van God gewandel. Ons lees dat hy “voortgegaan [het] om Jehovah lief te hê deur in die insettinge van sy vader Dawid te wandel” (1 Kon. 3:3). Sal jy dít nie as ware sukses beskou nie? Op God se bevel het Salomo ’n indrukwekkende tempel vir ware aanbidding gebou en drie Bybelboeke geskryf. Hoewel ons nie verwag om dieselfde dinge te doen nie, kan Salomo se voorbeeld toe hy aan God getrou was, ons help om te bepaal wat ware sukses is en ons dus help om dit te behaal. In hierdie verband moet ons in gedagte hou dat Salomo onder inspirasie geskryf het dat rykdom, wysheid, roem en mag—die dinge wat die meeste mense van vandag as maatstawwe van sukses beskou—nietigheid is. Sulke dinge is in werklikheid leeg, “’n gejaag na wind”. Het jy nie al gesien dat baie mense wat lief is vir rykdom, daarna smag om meer en meer te hê nie? En dikwels bekommer hulle hulle oor hulle besittings. Wat meer is, ander sal eendag hulle rykdom kry.—Lees Prediker 2:8-11, 17; 5:10-12.

7, 8.  Hoe was Salomo ontrou, en wat was die gevolg?

7 Ons weet dat Salomo uiteindelik van die weg van getroue gehoorsaamheid afgedwaal het. God se Woord sê: “Toe Salomo oud word, het sy vrouens sy hart laat afwyk om ander gode te volg; en sy hart was nie volkome met Jehovah sy God soos die hart van sy vader Dawid nie. . . . Salomo het begin doen wat sleg was in die oë van Jehovah.”—1 Kon. 11:4-6.

8 Jehovah was met rede verontwaardig en het vir Salomo gesê: “Omdat . . . jy my verbond en my insettinge wat ek jou beveel het, nie gehou het nie, sal ek vir seker die koninkryk van jou afskeur, en ek sal dit beslis aan jou kneg gee” (1 Kon. 11:11). Hoe tragies tog! Hoewel Salomo in baie opsigte suksesvol was, het hy Jehovah ná verloop van tyd teleurgestel. Op die belangrikste lewensgebied—getrouheid aan Jehovah—het Salomo misluk. Elkeen van ons kan ons afvra: ‘Is ek vasbeslote om die les wat ek uit Salomo se lewe geleer het, toe te pas sodat ek suksesvol kan wees?’

’N WAARLIK SUKSESVOLLE LEWE

9. Het Paulus, volgens die wêreld se standaarde, sukses behaal? Verduidelik.

9 Die apostel Paulus se lewe het grootliks verskil van dié van koning Salomo. Paulus het nie ’n ivoortroon gehad of feesmaaltye met konings geëet nie. Inteendeel, soms moes hy honger, dors, koue en naaktheid verduur (2 Kor. 11:24-27). Nadat Paulus Jesus as die Messias aangeneem het, het hy nie ’n ereposisie in die Joodse godsdiens gehad nie. Die Joodse godsdiensleiers het hom eerder gehaat. Hy is in die tronk gegooi, met ’n sweep geslaan, met stokke geslaan en gestenig. Paulus het gesê dat hy en sy mede-Christene uitgeskel, vervolg en beswadder is. “Ons het soos die skuim van die wêreld geword, die afskraapsel van alle dinge, tot nou toe.”—1 Kor. 4:11-13.

10. Waarom het dit dalk gelyk asof Paulus sukses die rug toegekeer het?

10 Toe die apostel Paulus nog ’n jong man was en as Saulus bekend gestaan het, was daar blykbaar baie wat in sy guns getel het. Hy is gebore in ’n vooraanstaande gesin en het gestudeer onder Gamaliël, ’n gerespekteerde onderrigter. Hy het later geskryf: “Ek het groter vooruitgang in die Judaïsme gemaak as talle van my eie ouderdom” (Gal. 1:14). Saulus, wat Hebreeus en Grieks vlot kon praat, het Romeinse burgerskap gehad, wat hom benydenswaardige voorregte en regte gegee het. As hy besluit het om aan te hou om sulke wêreldse sukses na te jaag, sou hy waarskynlik groter aansien en finansiële sekerheid verkry het. Maar hy het ’n lewensweg gekies wat vir ander—dalk selfs party familielede—soos volslae dwaasheid gelyk het. Waarom?

11. Watter waardes en watter doelwit was vir Paulus belangrik, en waarom?

11 Paulus was lief vir Jehovah en wou eerder sy goedkeuring hê as rykdom en aansien onder mense. Omdat Paulus juiste kennis van die waarheid opgedoen het, het hy ’n waardering ontwikkel vir die losprys, die Christelike bediening en die hoop op lewe in die hemel—dinge waarvan die meeste mense in die wêreld nie weet nie en waaroor hulle nie omgee nie. Paulus het besef dat daar ’n geskil is wat besleg moet word. Satan het beweer dat hy mense daarvan kan afkeer om God te dien (Job 1:9-11; 2:3-5). Ongeag voor watter beproewinge Paulus te staan gekom het, hy was vasbeslote om aan God getrou te wees, om in ware aanbidding te volhard. Dit is ’n doelwit wat nie deel vorm van die wêreld se beskouing van sukses nie.

12. Waarom het jy besluit om jou hoop op God te vestig?

12 Het jy dieselfde doelwit as wat Paulus gehad het? Hoewel dit nie altyd maklik is om ’n lewe van getrouheid te lei nie, weet ons dat dit Jehovah se seën en goedkeuring meebring, en dít is wat ’n mens waarlik suksesvol maak (Spr. 10:22). Ons vind nou daarby baat, en ons kan beslis in die toekoms seëninge verwag. (Lees Markus 10:29, 30.) Ons het dus alle rede om ons hoop te vestig, “nie op onsekere rykdom . . . nie, maar op God, wat aan ons alles ryklik vir ons genot verskaf”. Ons ‘bewaar vir onsself ’n goeie fondament vir die toekoms veilig as ’n skat, sodat ons ’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry’ (1 Tim. 6:17-19). Ja, ons kan absoluut seker wees dat ons oor honderd jaar, selfs duisend jaar of meer, sal kan terugkyk en sê: “Ek het beslis die weg van ware sukses gekies!”

WAAR JOU SKAT IS

13. Watter raad het Jesus oor die opgaar van skatte gegee?

13 Jesus het oor skatte gesê: “Hou op om vir julle skatte op die aarde op te gaar, waar mot en roes verteer en waar diewe inbreek en steel. Gaar eerder vir julle skatte in die hemel op, waar nie mot of roes verteer nie en waar diewe nie inbreek en steel nie. Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”—Matt. 6:19-21.

14. Waarom is dit onverstandig om aardse skatte na te jaag?

14 ’n Persoon se aardse skatte kan meer as net geld wees. In sekere opsig kan dit enige van die dinge insluit waaroor Salomo geskryf het wat verband hou met die menslike beskouing van sukses—aansien, roem of mag. Jesus se punt het ooreengestem met wat Salomo in die boek Prediker gesê het—wêreldse skatte is nie blywend nie. Soos jy waarskynlik in die wêreld om jou gesien het, is al hierdie skatte verganklik en kan ’n mens dit maklik verloor. Professor F. Dale Bruner skryf in verband met sulke skatte: “Dit is welbekend dat roem wispelturig is. Verlede Saterdag se held is teen volgende seisoen vergete. Hierdie jaar se finansiële sukses is volgende jaar se bankrotskap. . . . [Jesus] is lief vir mense. Hy spoor hulle aan om die wanhoop te vermy wat uiteraard met verganklike glorie gepaardgaan. Dit is nie blywend nie. Jesus wil nie hê dat [sy] dissipels teleurgestel [moet word] nie.” Hoeveel mense laat toe dat die waarheid van hierdie woorde hulle benadering tot die lewe beïnvloed, al stem die meeste waarskynlik daarmee saam? Sal jy dit doen?

15. Watter soort sukses moet ons nastreef?

15 Party godsdiensleiers preek dat dit verkeerd is om sukses na te streef en dat alle pogings om dit te behaal, onderdruk moet word. Maar let daarop dat Jesus nie al sulke pogings veroordeel het nie. Hy het sy dissipels eerder vermaan om hulle pogings op iets anders toe te spits, om onverganklike “skatte in die hemel” op te gaar. Ons grootste begeerte moet wees om daarna te streef om in Jehovah se oë suksesvol te wees. Ja, Jesus se woorde herinner ons dat ons kan kies wat ons wil nastreef. Maar die feit is: Ons sal nastreef wat in ons hart is, wat vir ons waardevol is.

16. Waarin kan ons die volle vertroue hê?

16 As dit ons hartsbegeerte is om Jehovah te behaag, kan ons die vertroue hê dat hy ons die dinge sal gee wat ons nodig het. Hy sal dalk toelaat dat ons tydelik honger of dors ly, soos die apostel Paulus (1 Kor. 4:11). Maar ons kan die volle vertroue hê in Jesus se wyse raad: “Moet julle . . . nooit kwel en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. Want al hierdie dinge jaag die nasies gretig na. Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Matt. 6:31-33.

VIND SUKSES IN GOD SE OË

17, 18. (a) Waarvan hang ware sukses af? (b) Waarvan hang sukses nie af nie?

17 Die sleutelgedagte is: Ware sukses hang nie af van ons prestasies of ons posisie in die oë van die wêreld nie. Wat meer is, ware sukses word nie gemeet aan ’n sekere verantwoordelikheid in die Christelike reëling nie. So ’n seën kan egter verband hou met die ware grondslag vir sukses, naamlik ons gehoorsaamheid en getrouheid aan God, en hy verseker ons: “Wat . . . van bestuurders verwag word, is dat ’n man getrou bevind word” (1 Kor. 4:2). En ons moet in ons weg van getrouheid volhard. Jesus het gesê: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word” (Matt. 10:22). Sal jy nie saamstem dat redding ’n onweerlegbare bewys van sukses is nie?

18 As jy oor hierdie inligting nadink, sal jy kan sien dat getrouheid aan God nie verband hou met aansien, geleerdheid, finansiële stand of sosiale status nie; getrouheid hang ook nie van intelligensie, talent of vermoë af nie. In watter omstandighede ons ons ook al bevind, ons kán aan God getrou bly. In die eerste eeu was party onder God se volk ryk en ander arm. Die raad wat Paulus aan die rykes gegee het “om goed te doen, om ryk te wees in goeie werke, om vrygewig te wees, mededeelsaam”, was geldig. Die rykes sowel as die armes kon “’n stewige houvas op die werklike lewe . . . kry” (1 Tim. 6:17-19). Dit is vandag ook die geval. Ons almal het dieselfde geleentheid en dieselfde verantwoordelikheid: Ons moet getrou bly en “ryk . . . wees in goeie werke”. As ons dit doen, sal ons suksesvol wees in die oë van ons Skepper en die vreugde smaak wat dit meebring om te weet dat ons hom behaag.—Spr. 27:11.

19. Wat is jy vasbeslote om te doen wanneer dit by sukses kom?

19 Jy het dalk nie volle beheer oor jou omstandighede nie, maar jy het beheer oor hoe jy onder daardie omstandighede optree. Streef daarna om getrou te wees ongeag wat jou omstandighede is. Dit is die moeite werd. Jy kan seker wees dat Jehovah jou ryklik sal seën—nou en tot in alle ewigheid. Moet nooit Jesus se woorde aan die gesalfde Christene vergeet nie: “Wees selfs tot in die dood getrou, en ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Op. 2:10). Dit is inderdaad ware sukses!