Hou aan om nader aan Jehovah te kom
“Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.”—JAK. 4:8.
1, 2. (a) Wat is Satan se “planne”? (b) Wat sal ons help om nader aan God te kom?
JEHOVAH GOD het mense geskep met die behoefte om nader aan hom te kom. Maar Satan wil hê dat ons soos hy moet dink—dat ons Jehovah nie nodig het nie. Dit is ’n leuen wat Satan bevorder vandat Eva in die tuin van Eden daarmee bedrieg is (Gen. 3:4-6). Deur die geskiedenis heen het ’n groot deel van die mensdom ook hierdie fout begaan.
2 Gelukkig hoef ons nie in Satan se strik te trap nie. “Ons is nie onkundig omtrent sy planne nie” (2 Kor. 2:11). Satan probeer ons van Jehovah vervreem deur ons te kry om verkeerde besluite te neem. Maar soos die vorige artikel getoon het, kan ons die regte besluite in verband met ons loopbaan, vermaak en gesin neem. Hierdie artikel sal toon hoe dit ons kan help om ‘nader aan God te kom’ as ons tegnologie, gesondheid, geld en trots in die regte plek hou.—Jak. 4:8.
TEGNOLOGIE
3. Lig toe hoe tegnologie ten goede of ten kwade gebruik kan word.
3 Gevorderde elektroniese toestelle is nou regoor die wêreld algemeen beskikbaar. As dit reg gebruik word, kan sulke uitvindings baie nuttig wees. As dit verkeerd gebruik word, kan dit tussen ons en ons hemelse Vader kom. Dink byvoorbeeld aan rekenaars. Die tydskrif wat jy nou lees, is met behulp van rekenaars geskryf en uitgegee. ’n Rekenaar kan doeltreffend vir navorsing en kommunikasie gebruik word en kan soms ’n bron van verkwikkende vermaak wees. Maar ons kan met rekenaartegnologie behep raak. Bemarkers oortuig mense op ’n slim manier dat hulle die nuutste produkte moet hê. Een jong man wou so graag ’n sekere tabletrekenaar hê dat hy stilletjies een van sy niere verkoop het sodat hy dit kon bekostig. Wat ’n kortsigtige opoffering tog!
4. Wat het een Christen gedoen om sy oormatige rekenaargebruik onder beheer te kry?
4 Dit is selfs tragieser om jou hegte verhouding met Jehovah prys te gee omdat jy tegnologie misbruik of oormatig gebruik. “Ek weet dat die Bybel sê dat ons ‘die geleë tyd moet uitkoop’ vir geestelike dinge”, sê Jon, ’n Christen in sy laat twintigerjare. * “Maar wanneer dit by rekenaars kom, is ek my eie vyand.” Jon was dikwels tot laat in die nag nog aanlyn. “Hoe moeër ek was, hoe moeiliker was dit vir my om op te hou klets of na kort video’s te kyk—en nie altyd heilsame video’s nie”, het hy gesê. Om hom te help om hierdie slegte gewoonte af te skaf, het Jon sy rekenaar gestel om vanself af te skakel wanneer dit vir hom tyd was om te gaan slaap.—Lees Efesiërs 5:15, 16.
5, 6. (a) Watter verantwoordelikhede het ouers teenoor hulle kinders? (b) Hoe kan ouers seker maak dat hulle kinders goeie assosiasie het?
5 Ouers, julle hoef nie elke beweging van julle kinders te beheer nie, maar julle moet hulle rekenaargebruik monitor. Moenie toelaat dat hulle blootgestel word aan onsedelikheid, gewelddadige speletjies, spiritisme en slegte assosiasie op die Internet net omdat jy hulle besig wil hou of hulle uit die pad wil kry nie. As jy dit doen, kan hulle tot die gevolgtrekking kom: ‘Aangesien Pa en Ma nie omgee nie, is dit seker nie verkeerd nie.’ As ouers is dit julle verantwoordelikheid om julle kinders—insluitende tieners—te beskerm teen enigiets wat hulle van Jehovah kan vervreem. Selfs diere beskerm hulle kleintjies teen gevaar. Stel jou net voor wat ’n berin sal doen as iemand haar welpies bedreig!—Vergelyk Hosea 13:8.
6 Help jou kinders om heilsame assosiasie te reël met ander voorbeeldige Christene, jonk en oud. En onthou: Jou kinders het tyd saam met jou nodig! Maak dus tyd om te lag, te speel, te werk en saam ‘nader aan God te kom’. *
GESONDHEID
7. Waarom wil ons almal gesond bly?
7 “Hoe voel jy?” Hierdie algemene vraag weerspieël ’n wrede werklikheid. Omdat ons eerste ouers toegelaat het dat Satan hulle van Jehovah vervreem, word ons almal siek. Siekte dien Satan se doel, want wanneer ons siek is, is dit vir ons moeiliker om Jehovah te dien. En as ons doodgaan, kan ons hom glad nie dien nie (Ps. 115:17). Dit is dus net natuurlik dat ons alles in ons vermoë wil doen om gesond te bly. * En ons behoort besorg te wees oor ons broers se gesondheid en welsyn.
8, 9. (a) Hoe kan ons uiterstes vermy wanneer dit by gesondheid kom? (b) Watter voordele hou dit in om vreugde aan te kweek?
8 Dit is egter belangrik om uiterstes te vermy. Party beveel sekere diëte, behandelings of produkte ywerig aan—selfs yweriger as wat hulle die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig. Hulle glo dalk opreg dat hulle ander help. Hoe dit ook al sy, dit is nie gepas om die tyd voor of ná vergaderinge by die Koninkryksaal of by byeenkomste te gebruik om gesondheids- of skoonheidsprodukte aan te beveel nie. Waarom nie?
9 Ons vergader om geestelike sake te bespreek en om ons vreugde, ’n produk van God se heilige gees, te vergroot (Gal. 5:22). As ons by hierdie geleenthede gesondheidsraad of -produkte aanbeveel—hetsy iemand ons daarvoor vra of nie—kan dit afbreuk doen aan die geestelike doel van die geleentheid en ander van hulle vreugde beroof (Rom. 14:17). Elke persoon moet hulle eie besluite in verband met gesondheidsake neem. Wat meer is, niemand het ’n oplossing vir alle siekte nie. Selfs die beste dokters word oud en siek en sterf uiteindelik. En om ons uitermate te bekommer oor ons gesondheid, kan nie ons lewe verleng nie (Luk. 12:25). Aan die ander kant is “’n vreugdevolle hart . . . ’n goeie geneesmiddel”.—Spr. 17:22.
10. (a) Watter eienskappe is vir Jehovah mooi? (b) Wanneer sal ons die allerbeste gesondheid geniet?
10 Dit is ook gepas om besorg te wees oor ons voorkoms. Maar ons hoef nie te hard te probeer om elke spoor van veroudering te verwyder nie. Hierdie tekens kan bewys lewer van volwassenheid, waardigheid en innerlike skoonheid. Die Bybel sê byvoorbeeld: “Grysheid is ’n pragtige kroon wanneer dit op die weg van regverdigheid gevind word” (Spr. 16:31). Dit is hoe Jehovah ons sien, en ons moet ons deur sy oë probeer sien. (Lees 1 Petrus 3:3, 4.) Sal dit dan verstandig wees om onnodige en moontlik gevaarlike chirurgiese prosedures of mediese behandeling te ondergaan bloot om ons aantrekliker te maak? “Die vreugde van Jehovah” is ’n bron van ware skoonheid wat van binne af uitstraal, ongeag ons ouderdom of gesondheid (Neh. 8:10). Slegs in die nuwe wêreld sal ons heeltemal gesond wees en ons jeugdige skoonheid terugkry (Job 33:25; Jes. 33:24). Tot dan sal praktiese wysheid en geloof ons help om na aan Jehovah te bly terwyl ons die beste maak van ons huidige omstandighede.—1 Tim. 4:8.
GELD
11. Hoe kan geld ’n strik word?
11 Geld is nie ’n euwel nie, en dit is ook nie verkeerd om op eerlike wyse sake te doen nie (Pred. 7:12; Luk. 19:12, 13). Maar as ons ’n “liefde vir geld” in ons laat ontwikkel, sal dit ons beslis van Jehovah vervreem (1 Tim. 6:9, 10). “Die sorge van hierdie stelsel van dinge”, dit wil sê om ons uitermate oor die lewensbenodigdhede te bekommer, kan ons geestelik verstik. Dieselfde geld vir “die bedrieglike krag van rykdom”, die wanopvatting dat rykdom blywende geluk en veiligheid meebring (Matt. 13:22). Jesus het dit duidelik gemaak dat “niemand” God sowel as rykdom met welslae kan dien nie.—Matt. 6:24.
12. Watter soorte finansiële strikke kom vandag algemeen voor, en hoe kan ons dit vermy?
12 Die verkeerde beskouing van geld kan tot verkeerde dade lei (Spr. 28:20). Party wat verlok is deur beloftes om vinnig en maklik geld te maak, het loterykaartjies gekoop of by veelvlakkige bemarkingskemas betrokke geraak en selfs ander gemeentelede daarby betrek. Ander is geflous deur beloftes van beleggingsopbrengste wat onrealisties hoog is. Moenie toelaat dat gierigheid jou ’n slagoffer van bedrog laat word nie. Gebruik gesonde verstand. As ’n aanbod te goed klink om te glo, is dit waarskynlik so.
13. Hoe verskil Jehovah se beskouing van geld van die wêreld s’n?
13 Jehovah seën ons gebalanseerde pogings om die lewensbenodigdhede te verkry wanneer ons “die koninkryk en sy regverdigheid” eerste stel (Matt. 6:33; Ef. 4:28). Hy wil nie hê dat ons tydens vergaderinge aan die slaap moet raak omdat ons oorwerk is of dat ons ons in die Koninkryksaal oor geld moet sit en bekommer nie. Tog glo baie mense in die wêreld om ons dat hulle hulle daarop moet toespits om geld te maak as hulle ’n veilige toekoms wil hê en later in die lewe wil aftree. Hulle plaas dikwels druk op hulle kinders om dieselfde materialistiese doelwit na te jaag. Jesus het getoon dat sulke denke onredelik is. (Lees Lukas 12:15-21.) Dit herinner ons moontlik aan Gehasi, wat gedink het dat hy gierig kon wees en terselfdertyd ’n goeie verhouding met Jehovah kon behou.—2 Kon. 5:20-27.
14, 15. Waarom moet ons nie op die finansiële stelsel vertrou as ’n bron van sekuriteit nie? Gee ’n voorbeeld.
14 Volgens berig het arende al versuip wanneer hulle nie ’n vis wou laat gaan wat te swaar was om in hulle kloue weg te dra nie. Kan iets soortgelyks met ’n Christen gebeur? “Ek is gewoonlik baie spaarsaam”, verduidelik ’n ouer man met die naam Alex. “As ek te veel sjampoe uitgooi, gooi ek weer ’n bietjie in die bottel terug.” Tog het Alex op die aandelemark begin spekuleer omdat hy gedink het dat hy kort voor lank uit sy werk sal kan bedank en dan kan begin pionier. Hy het al hoe meer tyd daaraan bestee om verskeie aanbiedings en markverslae te bestudeer. Hy het sy spaargeld en geld wat hy by makelaars geleen het, gebruik om aandele te koop wat markontleders voorspel het vinnig in waarde sou toeneem. Maar die aandelepryse het skerp gedaal. “Ek was vasbeslote om my geld terug te kry”, vertel Alex. “Ek het gedink dat die aandelepryse sou styg as ek net ’n bietjie wag.”
15 Alex kon maande lank aan niks anders dink nie. Dit was vir hom moeilik om op geestelike dinge te konsentreer, en hy het gesukkel om te slaap. Die aandelepryse het egter nooit gestyg nie. Alex het sy spaargeld verloor en moes sy huis verkoop. “Ek het baie pyn vir my gesin veroorsaak”, erken hy. Maar hy het ’n belangrike les geleer. “Nou weet ek dat enigiemand wat sy vertroue stel in Satan se stelsel, diep teleurgestel sal word” (Spr. 11:28). Ja, as ons ons hoop vestig op ons spaargeld, beleggings of vermoë om geld te verdien in hierdie stelsel, beteken dit dat ons ons hoop vestig op “die god van hierdie stelsel”, Satan (2 Kor. 4:4; 1 Tim. 6:17). Sedertdien het Alex sy lewe “ter wille van die goeie nuus” vereenvoudig. Hy sê dat dit hom en sy gesin gelukkiger gemaak het en nader aan Jehovah laat kom het.—Lees Markus 10:29, 30.
TROTS
16. Hoe verskil goeie trots van slegte trots?
16 Dit kan goed wees om op die regte dinge trots te wees. Ons moet byvoorbeeld altyd trots voel om ’n Getuie van Jehovah te wees (Jer. 9:24). ’n Gesonde selfbeeld help ons om goeie besluite te maak en om nie ons sedelike standaarde te verlaag nie. Maar as ons te veel waarde heg aan ons eie beskouings of posisie, kan dit ons van Jehovah vervreem.—Ps. 138:6; Rom. 12:3.
17, 18. (a) Gee Bybelvoorbeelde van nederige sowel as trotse mense. (b) Hoe het een broer voorkom dat trots hom van Jehovah vervreem?
17 In die Bybel is daar voorbeelde van trotse mense sowel as nederige mense. Koning Dawid het nederig op Jehovah vertrou vir leiding, en Jehovah het hom geseën (Ps. 131:1-3). Maar Jehovah het die trotse konings Nebukadnesar en Belsasar verneder (Dan. 4:30-37; 5:22-30). Vandag ontstaan daar ook situasies wat ons nederigheid op die proef stel. Ryan, ’n 32-jarige bedieningskneg, het na ’n nuwe gemeente getrek. “Ek het verwag om gou as ’n ouer man aanbeveel te word”, vertel Ryan, “maar ’n jaar het verbygegaan, en niks het gebeur nie.” Sou Ryan kwaad of verbitterd word en voel dat die ouere manne nie die gepaste respek aan hom betoon nie? Sou hy ophou om vergaderinge by te woon en toelaat dat trots hom van Jehovah en Sy volk vervreem? Wat sou jy gedoen het?
18 “Ek het alles gelees wat ek in ons publikasies oor uitgestelde verwagting kon vind”, sê Ryan (Spr. 13:12). “Ek het begin besef dat ek geduld en nederigheid moet aankweek. Ek moes toelaat dat Jehovah my oplei.” Ryan het opgehou om op homself te fokus en het hom eerder daarop toegelê om ander te dien—in die gemeente en in die veld. Kort voor lank het hy ’n hele paar progressiewe Bybelstudies gehad. “Toe ek ’n jaar en ’n half later as ’n ouer man aangestel is, was dit vir my ’n verrassing”, sê hy. “Ek het my bediening soveel geniet dat ek my nie meer daaroor bekommer het nie.”—Lees Psalm 37:3, 4.
BLY NA AAN JEHOVAH!
19, 20. (a) Hoe kan ons seker maak dat ons daaglikse strewes ons nie van Jehovah sal vervreem nie? (b) Watter voorbeelde van mense wat na aan Jehovah gebly het, kan ons navolg?
19 Daar is ’n gepaste plek in ons lewe vir al die dinge wat in hierdie en die vorige artikel bespreek is. Ons is trots om Jehovah se knegte te wees. ’n Gelukkige gesin en goeie gesondheid is van Jehovah se grootste gawes. Ons weet dat sekulêre werk en geld ons kan help om in ons behoeftes te voorsien. Ons weet ook dat ontspanning ons kan verkwik en dat tegnologie nuttig kan wees. Maar as ons te veel tyd aan hierdie dinge bestee of dit najaag op die verkeerde tyd of op ’n manier wat met ons aanbidding inmeng, kan dit ons van Jehovah vervreem.
Laat niks jou van Jehovah vervreem nie!
20 Satan wil natuurlik hê dat dit moet gebeur. Nogtans kan jy verhoed dat jy en jou gesin in so ’n rampspoedige situasie beland! (Spr. 22:3). Kom nader aan Jehovah, en bly na aan hom. Daar is baie Bybelvoorbeelde wat ons hiermee kan help. Henog en Noag het “met die ware God gewandel” (Gen. 5:22; 6:9). Moses “het standvastig gebly asof hy die Onsigbare sien” (Heb. 11:27). Jesus het altyd God se ondersteuning gehad omdat hy altyd gedoen het wat sy hemelse Vader behaag (Joh. 8:29). Volg sulke voorbeelde na. “Wees altyd bly. Bid onophoudelik. Betuig dank in verband met alles” (1 Tess. 5:16-18). En laat niks jou van Jehovah vervreem nie!