Wees moedig—Jehovah is met jou!
“Wees moedig en sterk. . . . Jehovah jou God is met jou.”—JOS. 1:9.
1, 2. (a) Watter eienskappe sal ons help om beproewinge die hoof te bied? (b) Hoe sal jy geloof definieer? Lig toe.
JEHOVAH se diens verskaf ons vreugde. Maar ons het wel te kampe met die probleme waarvoor alle mense te staan kom, en ons sal dalk “ter wille van regverdigheid . . . ly” (1 Pet. 3:14; 5:8, 9; 1 Kor. 10:13). Om sulke beproewinge met welslae die hoof te bied, het ons geloof en moed nodig.
2 Wat is geloof? Die apostel Paulus het geskryf: “Geloof is die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike bewys van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie” (Heb. 11:1). ’n Ander vertaling sê: “Geloof is die eiendomsbewys van dinge waarop gehoop word. Geloof beteken dat ons seker is van dinge wat ons nie kan sien nie” (The Simple English Bible). As ons die eiendomsbewys ontvang het van ’n eiendom wat op ons naam oorgedra is, kan ons seker wees dat ons dit besit. Omdat ons geloof het dat God altyd sy woord nakom, is dit asof ons ’n waardevolle eiendomsbewys in ons hande hou. Ons geloof gee ons die sekerheid dat ons die vervulling sal sien van die Bybelse beloftes waarop ons hoop, en ons is seker van geestelike werklikhede, al kan ons dit nie sien nie.
3, 4. (a) Wat is moed? (b) Wat is een manier waarop ons ons geloof en moed kan versterk?
3 Moed is al gedefinieer as “geestelike, emosionele en sedelike krag om vreesloos te praat en op te tree ten spyte van struikelblokke en gevare” (The New Interpreter’s Dictionary of the Bible). As ons moedig is, is ons sterk, dapper, by tye selfs onverskrokke.—Mark. 6:49, 50; 2 Tim. 1:7.
4 Geloof en moed is begeerlike eienskappe. Maar gestel ons voel nie moedig nie en ons dink dat ons meer geloof nodig het. Wel, duisende persone wat in die Bybel gemeld word, het hierdie eienskappe op navolgenswaardige wyse geopenbaar. Een manier waarop ons ons geloof en moed kan versterk, is dus om ’n paar van hierdie voorbeelde te ondersoek.
JEHOVAH WAS MET JOSUA
5. Wat het Josua nodig gehad om in sy toewysing suksesvol te wees?
5 Kom ons draai die wysers sowat 35 eeue terug. Veertig jaar het verloop sedert miljoene Israeliete deur die magtige hand van Jehovah uit Egiptiese slawerny verlos is. Die profeet Moses het hulle gelei. Nou, op 120-jarige ouderdom, beskou hy die Beloofde Land van ’n afstand af en dan sterf hy bo-op die berg Nebo. Sy opvolger is Josua, ’n man wat “vol van die gees van wysheid” is (Deut. 34:1-9). Die Israeliete staan op die punt om Kanaän in besit te neem. Om hulle suksesvol te lei, sal Josua godgegewe wysheid nodig hê. Hy sal ook geloof in Jehovah moet beoefen en moedig en sterk moet wees.—Deut. 31:22, 23.
6. (a) Waarvoor het ons volgens Josua 23:6 moed nodig? (b) Wat leer ons uit die woorde van Handelinge 4:18-20 en Handelinge 5:29?
6 Die wysheid, moed en geloof wat Josua gedurende die lang verowering van Kanaän aan die dag gelê het, het die Israeliete ongetwyfeld versterk. Maar benewens dapperheid op die slagveld het hulle ook stille moed nodig gehad om te doen wat Josua hulle aangespoor het om te doen. Aan die einde van sy lewe het hy in sy afskeidstoespraak gesê: “Julle moet baie moedig wees om alles wat in die wetboek van Moses geskrywe staan, te onderhou en te doen, deur nooit regs of links daarvan af te wyk nie” (Jos. 23:6). Ons het ook moed nodig om Jehovah te alle tye te gehoorsaam. Dit sluit in wanneer blote mense daarop aandring dat ons in stryd met God se wil optree. (Lees Handelinge 4:18-20; 5:29.) As ons biddend op Jehovah vertrou, sal hy ons help om so ’n moedige standpunt in te neem.
HOE ONS ONS WEG SUKSESVOL KAN MAAK
7. Wat moes Josua doen om moedig op te tree en suksesvol te wees?
7 Om die nodige moed te hê om God se wil te doen, moet ons sy Woord bestudeer en toepas. Dit is wat Josua gesê is om te doen toe hy Moses se opvolger geword het: “Wees . . . moedig en baie sterk om sorgvuldig te handel volgens die hele wet wat my kneg Moses jou beveel het. . . . Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie, en jy moet dag en nag op gedempte toon daarin lees, sodat jy sorgvuldig kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy jou weg suksesvol maak en dan sal jy wys handel” (Jos. 1:7, 8). Josua het hierdie raad gevolg, en ‘sy weg was suksesvol’. As ons dit ook doen, sal ons groter moed in God se diens hê en suksesvoller daarin wees.
Ons jaarteks vir 2013 is: “Wees moedig en sterk. . . . Jehovah jou God is met jou.”—Josua 1:9
8. Uit watter teks is die jaarteks vir 2013 geneem, en hoe dink jy sal daardie woorde jou help?
8 Dit het Josua ongetwyfeld baie versterk toe Jehovah verder vir hom gesê het: “Wees moedig en sterk. Moenie sidder of verskrik wees nie, want Jehovah jou God is met jou waar jy ook al gaan” (Jos. 1:9). Jehovah is ook met ons. Laat ons dus nie “sidder of verskrik wees nie”, ongeag watter beproewinge ons deurmaak. Let veral op die stelling: “Wees moedig en sterk. . . . Jehovah jou God is met jou.” Hierdie woorde in Josua 1:9 is as die jaarteks vir 2013 gekies. Dit, sowel as die woorde en dade van ander voorbeelde van geloof en moed, sal ons beslis versterk in die maande wat voorlê.
HULLE HET MOEDIG HULLE STANDPUNT INGENEEM
9. Hoe het Ragab geloof en moed aan die dag gelê?
9 Toe Josua twee spioene in Kanaän ingestuur het, het Ragab die prostituut hulle weggesteek en hulle vyande in die verkeerde rigting gestuur. As gevolg van haar dade van geloof en moed is sy en haar huisgesin gespaar toe die stad Jerigo deur die Israeliete verower is (Heb. 11:30, 31; Jak. 2:25). Ragab het haar onsedelike lewenswyse natuurlik agtergelaat om Jehovah te behaag. Party wat Christene geword het, het die geloof, moed en sedelike krag gehad om soortgelyke veranderinge aan te bring om God te behaag.
10. Onder watter omstandighede het Rut haar standpunt vir ware aanbidding ingeneem, en watter seëninge het dit vir haar meegebring?
10 Ná Josua se dood het die Moabitiese vrou Rut moedig haar standpunt vir ware aanbidding ingeneem. As ’n weduwee van ’n Israeliet het sy waarskynlik ’n mate van kennis van Jehovah gehad. Haar weduweeskoonmoeder, Naomi, het in Moab gewoon, maar het besluit om na die Israelitiese dorp Betlehem terug te trek. Op pad soontoe het Naomi Rut aangespoor om na haar eie volk terug te keer, maar die Moabitiese vrou het geantwoord: “Moenie by my pleit om u te verlaat nie, om terug te draai en u nie te vergesel nie . . . U volk sal my volk wees, en u God my God” (Rut 1:16). Rut het dit bedoel. Ná verloop van tyd het Naomi se bloedverwant Boas met Rut getrou, en sy het aan ’n seun geboorte gegee en ’n voorouer van Dawid en van Jesus geword. Ja, Jehovah seën dade van geloof en moed.—Rut 2:12; 4:17-22; Matt. 1:1-6.
BAIE HET HULLE LEWE GEWAAG!
11. Hoe het Jojada en Joseba moed geopenbaar, en wat het dit tot gevolg gehad?
11 Ons moed en geloof word versterk wanneer ons sien dat God met diegene is wat sy belange en die welsyn van medegelowiges bo hulle eie belange stel. Neem byvoorbeeld die hoëpriester Jojada en sy vrou, Joseba. Ná die dood van koning Ahasia het Atalia, sy moeder, die oorblywende koninklike nageslag behalwe Joas doodgemaak en die troon wederregtelik in besit geneem. Jojada en Joseba het Ahasia se seun Joas ondanks groot gevaar gered en hom ses jaar lank weggesteek. In die sewende jaar het Jojada Joas tot koning uitgeroep en Atalia laat doodmaak (2 Kon. 11:1-16). Jojada het koning Joas later ondersteun toe hy die tempel herstel het. En toe Jojada op 130-jarige ouderdom gesterf het, is hy by die konings begrawe “omdat hy goed gedoen het in Israel en teenoor die ware God en Sy huis” (2 Kron. 24:15, 16). Wat meer is, die moedige dade van Jojada en sy vrou het die koninklike lyn vanaf Dawid tot die Messias bewaar.
12. Hoe het Ebed-Meleg moedig opgetree?
12 Ebed-Meleg, ’n eunug in die huis van koning Sedekia, het sy lewe vir Jeremia gewaag. Die koning het Jeremia aan die vorste van Juda oorgelewer, wat hom valslik van sedisie beskuldig het en hom in ’n modderput gegooi het om te sterf (Jer. 38:4-6). Ondanks die gevaarlike posisie waarin dit Ebed-Meleg geplaas het, aangesien Jeremia so gehaat was, het hy Sedekia gevra of hy die profeet kon help. Sedekia het gunstig gereageer en het 30 manne saam met Ebed-Meleg gestuur om Jeremia te gaan red. God het Ebed-Meleg deur middel van die profeet verseker dat hy nie sou omkom wanneer die Babiloniërs Jerusalem beleër nie (Jer. 39:15-18). God beloon diegene wat moed aan die dag lê om sy wil te doen.
13. Watter moedige standpunt het die drie Hebreërs ingeneem, en hoe kan ons baat vind by hulle ondervinding?
13 In die sewende eeu VHJ kon drie Hebreeuse knegte van Jehovah duidelik sien dat God geloof en moed beloon. Koning Nebukadnesar het Babiloniese hooggeplaastes byeengeroep en hulle beveel om ’n toringhoë beeld van goud te aanbid. Enigiemand wat dit nie wou doen nie, sou in ’n vuuroond sterf. Die drie Hebreërs het respekvol vir Nebukadnesar gesê: “Ons God wat ons dien, [is] in staat om ons te red. Uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, sal hy ons red. Maar so nie, laat dit dan aan u bekend word, o koning, dat ons u gode nie dien nie, en die goue beeld wat u opgerig het, sal ons nie aanbid nie” (Dan. 3:16-18). Daniël 3:19-30 gee ’n beeldende beskrywing van die opwindende redding van die drie Hebreërs. Hoewel ons waarskynlik nie die dood in ’n vuuroond in die gesig sal staar nie, word ons onkreukbaarheid wel op die proef gestel en kan ons seker wees dat God ons vir ons geloof en moed sal seën.
14. Hoe het Daniël volgens Daniël hoofstuk 6 moedig opgetree, en met watter gevolg?
14 Daniël het geloof en moed aan die dag gelê toe sy vyande koning Darius oorgehaal het om ’n verordening uit te vaardig dat “enigiemand wat gedurende dertig dae ’n versoek tot enige god of mens behalwe tot u rig, o koning, in die leeukuil gegooi moet word”. Toe Daniël uitvind dat die dokument geteken is, het hy “in sy huis ingegaan, en met die vensters van sy dakvertrek vir hom oop in die rigting van Jerusalem, het hy selfs drie keer per dag op sy knieë gegaan en gebid en lof gebring voor sy God, net soos hy voorheen gereeld gedoen het” (Dan. 6:6-10). Moedige Daniël het in ’n leeukuil beland—maar Jehovah het hom verlos.—Dan. 6:16-23.
15. (a) Watter voorbeeld van geloof en moed het Aquila en Priscilla gestel? (b) Wat beteken Jesus se woorde in Johannes 13:34, en hoe het baie Christene sulke liefde betoon?
15 Hoewel die Bybel nie vir ons sê wat die omstandighede was nie, weet ons dat Aquila en Priscilla ‘hulle nekke vir Paulus se siel gewaag het’ (Hand. 18:2; Rom. 16:3, 4). Hulle het moedig opgetree in ooreenstemming met Jesus se woorde: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Joh. 13:34). Die Mosaïese Wet het vereis dat ’n persoon sy naaste soos homself moet liefhê (Lev. 19:18). Maar Jesus se gebod was ‘nuut’ omdat dit liefde beskryf het wat ons sou beweeg om so ver te gaan om ons lewe ten behoewe van ander af te lê, soos hy gedoen het. Baie Christene het liefde betoon deur moedig ‘hulle nekke te waag’ om te verhoed dat die vyand hulle medegelowiges wreed behandel of doodmaak.—Lees 1 Johannes 3:16.
16, 17. Voor watter toets van geloof het party vroeë volgelinge van Christus te staan gekom, en hoe vergelyk dit met wat party Christene in ons dag ondervind het?
16 Soos Jesus, het vroeë Christene moed aan die dag gelê deur hulle aanbidding slegs aan Jehovah te rig (Matt. 4:8-10). Hulle het geweier om reukwerk ter ere van die Romeinse keiser te brand. (Sien prent.) “Baie min Christene het van hulle geloof afstand gedoen”, het Daniel P. Mannix geskryf, “hoewel daar gewoonlik ’n altaar met ’n vuur daarop vir hulle gerief in die arena gehou is. Al wat ’n gevangene moes doen, was om ’n knippie reukwerk op die vlam te strooi en dan is daar ’n Offersertifikaat aan hom gegee en is hy vrygelaat. Daar is ook noukeurig aan hom verduidelik dat hy nie die keiser aanbid nie; maar bloot die goddelike karakter van die keiser as hoof van die Romeinse staat erken. Nogtans het byna geen Christen gebruik gemaak van die geleentheid om te ontkom nie.”—Those About to Die.
17 Toe hedendaagse Christene die dood in Nazi-konsentrasiekampe in die gesig gestaar het, is hulle herhaaldelik die geleentheid gegee om hulle vryheid te verkry as hulle ’n verklaring sou teken waarin hulle Jehovah verloën. Maar min het dit geteken. Gedurende die volksmoord in Rwanda in onlangse tye het Tutsi- en Hutu-Getuies hulle lewe gewaag om mekaar te beskerm. Sulke beproewinge verg moed en geloof.
ONTHOU, JEHOVAH IS MET ONS!
18, 19. Watter Bybelse voorbeelde van geloof en moed kan ons help om die predikingswerk te doen?
18 Ons geniet nou die voorreg om deel te neem aan die grootste werk wat nog ooit aan God se menslike knegte toevertrou is—om die Koninkryksboodskap te verkondig en dissipels te maak (Matt. 24:14; 28:19, 20). Hoe dankbaar is ons tog vir Jesus se uitstekende voorbeeld! Hy het “van stad tot stad en van dorpie tot dorpie [gereis] en gepreek en die goeie nuus van die koninkryk van God bekend gemaak” (Luk. 8:1). Soos hy, het ons geloof en moed nodig om die Koninkryksboodskap te verkondig. Met God se hulp kan ons soos die moedige Noag wees, wat ’n vreeslose “prediker van regverdigheid” was in “’n wêreld van goddelose mense” wat op die punt was om in ’n aardwye watervloed om te kom.—2 Pet. 2:4, 5.
19 Gebed help ons om die predikingswerk te doen. Toe sekere volgelinge van Christus wat vervolg is, gebid het om ‘God se woord met vrymoedigheid te spreek’, is daardie gebed verhoor. (Lees Handelinge 4:29-31.) As jy ietwat skugter is om van huis tot huis te preek, sal Jehovah jou gebede vir groter geloof en moed verhoor.—Lees Psalm 66:19, 20. *
20. Watter ondersteuning het ons as Jehovah se knegte?
20 Dit is ’n uitdaging om ’n goddelike lewensweg na te streef ondanks die beproewinge wat ons in hierdie bose wêreld vol probleme moet verduur. Maar ons is nie alleen nie. God is met ons. So ook sy Seun, die Hoof van die gemeente. Daar is ook meer as 7 000 000 Getuies van Jehovah regoor die wêreld. Laat ons saam met hulle aanhou om geloof te beoefen en die goeie nuus te verkondig terwyl ons die jaarteks vir 2013 in gedagte hou: “Wees moedig en sterk. . . . Jehovah jou God is met jou.”—Jos. 1:9.
^ par. 19 Sien die artikel ‘Wees moedig en baie sterk’ in Die Wagtoring van 15 Februarie 2012 vir nog voorbeelde van moed.