Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Uit ons argief

Die ‘onvergeetlike’ het net betyds gekom

Die ‘onvergeetlike’ het net betyds gekom

“ONVERGEETLIK!” Dit is hoe baie die “Skeppingsdrama” beskryf het. Dit het net betyds gekom en het ’n onuitwisbare indruk gemaak op diegene wat dit gesien het. Ja, die “Skeppingsdrama” het ’n groot getuienis tot lof van Jehovah gegee kort voordat Hitler se regime wrede vervolging oor Sy volk in Europa gebring het. Maar wat was die “Skeppingsdrama”?

Die nuwe drama het sy naam aan die boek Schöpfung (Skepping) ontleen

In 1914 het die hoofkwartier van Jehovah se volk in Brooklyn, New York, VSA, die “Fotodrama van die Skepping” vrygestel. Dit was ’n agt uur lange rolprent-en-skyfievertoning, in kleur en met klank. Miljoene mense regoor die wêreld het die “Fotodrama” gesien. ’n Korter weergawe—die “Eurekadrama”—is ook in 1914 vrygestel. Maar teen die 1920’s was die skyfies, films en projeksietoerusting erg verslyt. Baie mense wou egter nog vertonings van die “Fotodrama” sien. Inwoners van Ludwigsburg, Duitsland, het byvoorbeeld gevra: “Wanneer sal die ‘Fotodrama’ weer vertoon word?” Wat kon gedoen word?

Om in die behoefte aan nog vertonings van die Drama te voorsien, het verteenwoordigers van die Bethelgesin in Maagdenburg, Duitsland, in die 1920’s films by ’n nuusagentskap in Parys, Frankryk, en skyfies by grafiese maatskappye in Leipzig en Dresden gekoop. Dit is gekombineer met sommige van die ou skyfies van die “Fotodrama” wat nog bruikbaar was.

Broer Erich Frost, ’n begaafde musikant, het musiek gekomponeer wat saam met die films en skyfies gebruik kon word. Die vertelling het gedeeltelik uit ons boek Creation gekom. Daarom is die hersiene weergawe van die “Fotodrama” ’n nuwe naam gegee—die “Skeppingsdrama”.

Hierdie nuwe drama was, soos die “Fotodrama”, agt uur lank, en dit is in etlike episodes op opeenvolgende aande vertoon. Dit het aangrypende besonderhede oor die skeppingsdae verstrek, ’n oorsig van Bybelse en sekulêre geskiedenis gegee en daarop gewys dat valse godsdiens die mensdom in die steek gelaat het. Die “Skeppingsdrama” is in Duitsland, Luxemburg, Oostenryk en Switserland vertoon, asook aan Duitssprekende gehore op ander plekke.

Erich Frost en sy musieknote vir die “Skeppingsdrama”

Erich Frost het verduidelik: “By die vertonings van die Drama het ek my kollegas, veral dié in die orkes, aangespoor om gedurende die pouse van ry tot ry te gaan en vir die gehoor ons wonderlike boeke en boekies aan te bied. Ons het sodoende meer lektuur versprei as wat ons van huis tot huis sou versprei het.” Johannes Rauthe, wat die vertonings in Pole en die hedendaagse Tsjeggiese Republiek gereël het, vertel dat baie mense wat dit bygewoon het, hulle adres ingegee het sodat hulle besoek kon word. Hierdie adresse het tot produktiewe herbesoeke gelei.

Tot in die 1930’s is die “Skeppingsdrama” in stampvol sale vertoon, en almal het van Jehovah se Getuies gepraat. Teen 1933 het byna eenmiljoen mense die vertonings bygewoon wat deur ons takkantoor in Duitsland gereël is. “Om die Drama te sien”, vertel Käthe Krauss, “het ons vyf dae ná mekaar 20 kilometer heen en weer gestap, deur woude, berge en dale.” “Die ‘Skeppingsdrama’ het die grondslag gelê vir my liefde vir die waarheid”, sê Else Billharz.

Alfred Almendinger vertel dat sy ma, toe sy die Drama bygewoon het, “so verheug was dat sy ’n Bybel gekoop en na die woord ‘vaevuur’ gesoek het”. Omdat sy dit nie in die Bybel kon vind nie, het sy opgehou om kerk toe te gaan en is sy gedoop. “Baie mense het danksy die ‘Skeppingsdrama’ in die waarheid gekom”, het Erich Frost vertel.—3 Joh. 1-3.

Kort nadat die opkoms by vertonings van die “Skeppingsdrama” ’n hoogtepunt bereik het, is Europa deur die storm van Nazisme verswelg. In 1933 is die bedrywighede van die Getuies in Duitsland verbied. Van toe af en tot aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945 is Jehovah se knegte in Europa hewig vervolg. Erich Frost was sowat agt jaar in gevangenskap. Maar hy het dit oorleef en het later by Bethel in Wiesbaden, Duitsland, gedien. Hoe goed was dit tog dat die onvergeetlike “Skeppingsdrama” net betyds gekom het om die moed te versterk van so baie Christene wie se geloof kort daarna, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, getoets sou word!—Uit ons argief in Duitsland.