Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waardeer jy ons geestelike erfenis?

Waardeer jy ons geestelike erfenis?

“God [het] sy aandag op die nasies gerig . . . om uit hulle ’n volk vir sy naam te neem.”—HAND. 15:14.

1, 2. (a) Wat was “die hut van Dawid”, en hoe sou dit herbou word? (b) Wie dien vandag saam as Jehovah se knegte?

GEDURENDE ’n mylpaalvergadering van die bestuursliggaam in 49 HJ in Jerusalem het die dissipel Jakobus gesê: “Simeon [Petrus] het breedvoerig vertel hoe God vir die eerste keer sy aandag op die nasies gerig het om uit hulle ’n volk vir sy naam te neem. En hiermee stem die woorde van die Profete ooreen, net soos daar geskrywe staan: ‘Ná hierdie dinge sal ek terugkeer en die vervalle hut van Dawid herbou; en ek sal die puinhope daarvan herbou en dit weer oprig, sodat dié wat oorbly van die mense, Jehovah ernstig kan soek, tesame met mense van al die nasies, mense oor wie my naam uitgeroep is, sê Jehovah, wat hierdie dinge doen, wat van ouds af bekend is.’”—Hand. 15:13-18.

2 “Die hut [of koninklike huis] van Dawid” het geval toe koning Sedekia onttroon is (Amos 9:11). Maar hierdie “hut” sou herbou word met Dawid se nakomeling Jesus as die permanente Koning (Eseg. 21:27; Hand. 2:29-36). Soos Jakobus by daardie geskiedkundige vergadering getoon het, het hierdie profesie van Amos in vervulling gegaan met die insameling van Koninkrykserfgename uit die Jode sowel as die nie-Jode. Vandag is ’n oorblyfsel van gesalfde Christene en miljoene van Jesus se “ander skape” as knegte van Jehovah verenig in die verkondiging van Bybelwaarheid.—Joh. 10:16.

JEHOVAH SE VOLK BIED ’N UITDAGING DIE HOOF

3, 4. Hoe het Jehovah se volk in Babilon geestelik oorleef?

3 Toe die Jode in gevangenskap na Babilon weggevoer is, was dit duidelik dat “die hut van Dawid” geval het. Hoe het God se volk gedurende hulle ballingskap van 70 jaar in Babilonië van 607 VHJ tot 537 VHJ geestelik oorleef, aangesien valse godsdiens daar hoogty gevier het? Net soos ons as Jehovah se volk oorleef in hierdie wêreld wat onder Satan se beheer is (1 Joh. 5:19). ’n Ryk geestelike erfenis het gehelp om hierdie oorlewing moontlik te maak.

4 Deel van ons geestelike erfenis is die geskrewe Woord van God. Die Joodse ballinge in Babilon het nie die volledige Heilige Skrif gehad nie, maar hulle het wel kennis gehad van die Mosaïese Wet, met sy Tien Gebooie. Hulle het “die liedere van Sion” geken, kon baie spreuke onthou en was vertroud met die dade van vroeëre knegte van Jehovah. Ja, daardie ballinge het gehuil wanneer hulle aan Sion gedink het, en hulle het Jehovah nie vergeet nie. (Lees Psalm 137:1-6.) Dit het hulle selfs in Babilon, met sy talle valse leerstellings en gebruike, geestelik aan die lewe gehou.

DIE DRIE-EENHEID IS NIKS NUUTS NIE

5. Watter bewyse het ons van godsdienstriades, of drie-eenhede, uit eertydse Babilon en Egipte?

5 Die godsdienstriade, of drie-eenheid, was ’n vername kenmerk van aanbidding in Babilon. Een Babiloniese triade het bestaan uit Sin (’n maangod), Sjamasj (’n songod) en Isjtar (’n godin van vrugbaarheid en oorlog). In eertydse Egipte is ’n god dikwels beskou as getroud met ’n godin wat vir hom ’n seun gebaar het, sodat “’n goddelike triade of drie-eenheid ontstaan het waarin die vader boonop nie altyd die hoof was nie, maar soms tevrede was met die rol van prins-gemaal, terwyl die godin die vernaamste godheid van die gebied gebly het” (New Larousse Encyclopedia of Mythology). Een Egiptiese triade het bestaan uit die god Osiris, die godin Isis en hulle seun Horus.

6. Hoe sal jy die Drie-eenheid omskryf, en hoe word ons beskerm teen geloof in hierdie dwaalleer?

6 Die Christendom het sy triade—die Drie-eenheid. Geestelikes sê dat die Vader, die Seun en die heilige gees een God is. Maar dit is ’n aanval op Jehovah se soewereiniteit, want dit impliseer dat hy drie-enig is—in werklikheid net een derde van ’n sogenaamde godheid. Jehovah se volk word beskerm teen geloof in hierdie dwaalleer omdat hulle saamstem met dié geïnspireerde woorde: “Luister, o Israel: Jehovah ons God is een Jehovah” (Deut. 6:4). Jesus het hierdie woorde aangehaal, en watter ware Christen sal nie met hom saamstem nie?—Mark. 12:29.

7. Waarom is dit onmoontlik vir iemand wat in die Drie-eenheid glo, om waterdoop te ondergaan as ’n simbool van ’n geldige toewyding aan God?

7 Die Drie-eenheidsleer is in stryd met die opdrag wat Jesus aan sy volgelinge gegee het: “Maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” (Matt. 28:19). Om as ’n ware Christen en een van Jehovah se Getuies gedoop te word, moet ’n persoon die oppergesag van die Vader, Jehovah, erken, asook die posisie en gesag van God se Seun, Jesus. Die doopkandidaat moet ook glo dat die heilige gees God se werkende krag is, nie deel van ’n Drie-eenheid nie (Gen. 1:2). Iemand wat voortgaan om in die Drie-eenheid te glo, kan nie waterdoop ondergaan as ’n simbool van ’n geldige toewyding aan Jehovah God nie. Hoe dankbaar is ons tog dat ons geestelike erfenis ons beskerm teen geloof in hierdie godonterende lering!

SPIRITISME STEEK SY LELIKE KOP UIT!

8. Wat was die Babiloniese beskouing van gode en demone?

8 Godsdiensdenke in Babilonië het baie ruimte gelaat vir valse leerstellings, godhede, demone en spiritisme. The International Standard Bible Encyclopaedia sê: “Naas die gode in die Bab[iloniese] godsdiens beklee die demone wat die mag gehad het om mense met allerlei liggaamlike of verstandelike siektes te teister, die belangrikste plek. ’n Groot deel van die godsdiens het blykbaar bestaan uit ’n angsvolle stryd teen hierdie demone, en die gode is oral in gebed gevra om mense te help in hulle stryd teen hierdie demone.”

9. (a) Hoe het baie Jode ná hulle Babiloniese ballingskap die slagoffers van valse godsdiensidees geword? (b) Hoe word ons beskerm teen die gevare van vrywillige betrokkenheid by die demone?

9 Ná hulle ballingskap in Babilon het baie Jode die slagoffers geword van onskriftuurlike idees. Toe Griekse opvattings begin versprei het, is baie Jode aan demoniese beheer blootgestel omdat hulle die beskouing aangeneem het dat demone boos of goed kan wees. Ons geestelike erfenis beskerm ons teen die gevare van vrywillige betrokkenheid by demone, want ons weet dat God Babilon se spiritistiese gebruike veroordeel het (Jes. 47:1, 12-15). Daarbenewens word ons gerig deur God se beskouing van spiritisme.—Lees Deuteronomium 18:10-12; Openbaring 21:8.

10. Wat kan oor die gebruike en opvattings van Babilon die Grote gesê word?

10 Spiritisme is nie net deur die Babiloniërs beoefen nie, maar ook deur ondersteuners van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens (Op. 18:21-24). The Interpreter’s Dictionary of the Bible sê: Babilon [die Grote] sluit meer as een ryk of kultuur in. Dit word eerder deur oorheersende afgoderye as deur geografiese of tydelike grense gekenmerk” (Deel 1, bl. 338). Babilon die Grote, wat deurtrek is van spiritisme, afgodery en ander sondes, bestaan nog steeds—maar nie vir lank nie.—Lees Openbaring 18:1-5.

11. Watter waarskuwings het ons oor spiritisme gepubliseer?

11 Jehovah het gesê: “Ek kan die gebruik van towerkrag . . . nie verdra nie” (Jes. 1:13). Die gebruik van spiritisme, wat dikwels spiritualisme genoem word, het ’n belangrike rol in 19de-eeuse denke gespeel. Zion’s Watch Tower van Mei 1885 het dus gesê: “Die opvatting dat die dooies in ’n ander sfeer of bestaansvorm lewe, is niks nuuts nie. Dit het deel uitgemaak van die godsdiens van die mense van die ou tyd, en dit was die grondslag van alle mitologie.” Volgens die artikel het die onskriftuurlike gedagte dat die dooies met die lewendes kommunikeer, “die bedrog verbloem en versterk wat ‘demone’ pleeg onder die dekmantel van onliggaamlike geeste van mense. Hulle het gretig gebruik gemaak van hierdie metode om hulle identiteit te verberg en het sodoende hulle beheer oor die verstande en lewens van baie mense behou.” Die vroeë boekie What Say the Scriptures About Spiritism? het soortgelyke waarskuwings gerig, net soos ons onlangser publikasies gedoen het.

LY SIELE IN ’N ONDERWÊRELD?

12. Wat het Salomo onder inspirasie oor die toestand van die dooies gesê?

12 “Almal wat die waarheid leer ken het”, kan hierdie vraag beantwoord (2 Joh. 1). Ons stem beslis saam met Salomo se woorde: “’n Lewende hond [is] beter daaraan toe . . . as ’n dooie leeu. Want die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks . . . Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of beplanning of kennis of wysheid in Sjeool [die mensdom se gemeenskaplike graf], die plek waarheen jy gaan nie.”—Pred. 9:4, 5, 10.

13. Hoe is die Jode deur die Hellenistiese kultuur en godsdiens beïnvloed?

13 Die Jode was in ’n posisie om te weet wat die waarheid oor die dooies is. Maar toe Griekeland tussen die generaals van Aleksander die Grote verdeel is, is pogings aangewend om Juda met Sirië te verenig, onder andere deur middel van die Griekse godsdiens en Hellenistiese kultuur. Gevolglik het die Jode die valse leringe aangeneem dat die mensesiel onsterflik is en dat daar ’n onderwêreld is waar siele gefolter word. Die idee van ’n onderwêreld vol siele wat gefolter word, het nie by die Grieke ontstaan nie, want die Babiloniërs het gedink aan “die onderwêreld . . . as ’n plek vol verskrikkinge, . . . waaroor uiters sterk en wrede gode en demone heers” (The Religion of Babylonia and Assyria). Ja, die Babiloniërs het in die onsterflikheid van die siel geglo.

14. Wat het Job en Abraham omtrent die dood en die opstanding geweet?

14 Hoewel die regverdige man Job nie die Skrif gehad het nie, het hy geweet wat die waarheid oor die dood is. Hy het ook besef dat Jehovah ’n liefdevolle God is wat vurig sou verlang om hom op te wek (Job 14:13-15). Abraham het ook aan die opstanding geglo. (Lees Hebreërs 11:17-19.) Aangesien dit onmoontlik is om iemand op te wek wat nie kan sterf nie, het daardie godvresende manne nie aan die onsterflikheid van die mensesiel geglo nie. God se gees het Job en Abraham ongetwyfeld gehelp om die toestand van die dooies te verstaan en om geloof in die opstanding te beoefen. Hierdie waarhede maak ook deel uit van ons erfenis.

“BEVRYDING DEUR DIE LOSPRYS”—NOODSAAKLIK

15, 16. Hoe is ons van die sonde en die dood bevry?

15 Ons is dankbaar dat God ook die waarheid geopenbaar het oor hoe hy ons gaan bevry van die erfenis van die sonde en die dood wat Adam aan ons nagelaat het (Rom. 5:12). Ons besef dat Jesus “gekom [het], nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Mark. 10:45). Hoe goed is dit tog om te weet van “die bevryding deur die losprys wat deur Christus Jesus betaal is”!—Rom. 3:22-24.

16 Eerste-eeuse Jode en nie-Jode moes berou hê oor hulle sondes en geloof beoefen in Jesus se losprysoffer. Andersins kon hulle nie vergifnis ontvang nie. Dit is ook vandag die geval (Joh. 3:16, 36). As ’n persoon vashou aan valse leerstellings, soos die Drie-eenheid en die onsterflikheid van die siel, kan hy nie by die losprys baat vind nie. Maar ons kan. Ons weet wat die waarheid is oor “die Seun van [God se] liefde, deur middel van wie ons ons bevryding deur ’n losprys het, die vergifnis van ons sondes”.—Kol. 1:13, 14.

GAAN VOORT AS DIE VOLK VIR JEHOVAH SE NAAM!

17, 18. Waar kan ons nuttige inligting oor ons geskiedenis vind, en hoe kan ons daarby baat vind om daaroor te leer?

17 Nog baie kan gesê word oor die ware leringe waaraan ons vashou, ons ondervindinge as God se knegte en die geestelike en materiële seëninge wat ons geniet. Ons Jaarboeke bevat al dekades lank opwindende verslae oor ons bedrywighede in lande regoor die aarde. Die video’s Faith in Action, Deel 1 en 2, en publikasies soos Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk gee ’n oorsig van ons geskiedenis. En ons tydskrifte bevat dikwels hartverblydende persoonlike ondervindinge van ons geliefde medegelowiges.

18 Ons vind baat by ’n gebalanseerde ondersoek van die geskiedenis van Jehovah se organisasie, net soos die volk Israel daarby baat gevind het om te peins oor hoe God hulle uit Egiptiese slawerny bevry het (Eks. 12:26, 27). As ’n bejaarde man wat van God se wonderlike dade kon getuig, het Moses die Israeliete aangespoor: “Dink aan die dae van die ou tyd, let op die vroeëre jare van geslag tot geslag; vra jou vader, en hy kan jou dit vertel; jou ou manne, en hulle kan dit vir jou sê” (Deut. 32:7). As ‘Jehovah se volk en die skape van sy weiding’ maak ons almal sy lof vreugdevol bekend en vertel ons ander van sy magtige dade (Ps. 79:13). Dit sal ook goed wees as ons ons geskiedenis ondersoek, daaruit leer en vir die toekoms beplan.

19. Wat moet ons doen, aangesien ons geestelike lig geniet?

19 Ons is dankbaar dat ons nie in duisternis ronddwaal nie, maar geestelike lig van God geniet (Spr. 4:18, 19). Laat ons dus God se Woord vlytig bestudeer en die waarheid ywerig aan ander bekend maak in die biddende gees van die psalmis wat die Soewereine Heer Jehovah geloof het met die woorde: “Ek sal u regverdigheid vermeld, dié van u alleen. O God, u het my van my jeug af geleer, en tot nou toe bly ek u wonderlike werke verkondig. En selfs tot die ouderdom en grysheid toe, o God, moet u my nie verlaat nie, totdat ek vir die geslag van u arm kan vertel, vir almal wat sal kom, van u mag.”—Ps. 71:16-18.

20. Watter verwante geskille is daar, en hoe voel jy daaroor?

20 As Jehovah se toegewyde volk is ons bewus van die verwante geskille ten opsigte van God se soewereiniteit en die mens se onkreukbaarheid. Ja, ons verkondig die onbetwisbare waarheid dat Jehovah die Universele Soewerein is, wat ons heelhartige toegewydheid waardig is (Op. 4:11). Met sy gees op ons maak ons ook die goeie nuus bekend aan die sagmoediges, verbind ons die gebrokenes van hart en vertroos ons die treurendes (Jes. 61:1, 2). Ondanks Satan se tevergeefse pogings om God se volk en die hele mensdom te oorheers, waardeer ons ons geestelike erfenis grootliks en is ons vasbeslote om ons onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf en die Soewereine Heer Jehovah nou en vir ewig te loof.—Lees Psalm 26:11; 86:12.