Het Josefus dit werklik geskryf?
In Boek XX van Jewish Antiquities, wat deur die eerste-eeuse geskiedkundige Flavius Josefus geskryf is, verwys hy na die dood van “Jakobus, die broer van Jesus wat die Christus genoem is”. Baie geleerdes glo dat Josefus hierdie woorde geskryf het. Maar party twyfel aan die egtheid van ’n ander stelling oor Jesus wat in dieselfde werk voorkom. Hierdie gedeelte, wat bekend staan as die Testimonium Flavianum, sê:
“Nou was daar ongeveer in hierdie tyd Jesus, ’n wyse man, as dit toelaatbaar is om hom ’n man te noem, want hy was ’n dader van wonderlike werke—’n onderrigter van mense wat die waarheid met genot ontvang. Hy het baie van die Jode sowel as baie van die nie-Jode na hom oorgehaal. Hy was [die] Christus; en toe Pilatus, op voorstel van die vernaamste manne onder ons, hom tot die kruis veroordeel het, het dié wat hom eers liefgehad het hom nie verlaat nie, want hy het die derde dag weer lewendig aan hulle verskyn, soos die goddelike profete hierdie en tienduisend ander wonderlike dinge aangaande hom voorspel het; en [die Christene], so na hom vernoem, het tot vandag toe nie uitgesterf nie.”—Josephus—The Complete Works, vertaal deur William Whiston.
Sedert die einde van die 16de eeu woed daar ’n hewige debat tussen dié wat glo dat hierdie teks eg is en dié wat twyfel dat Josefus dit geskryf het. Serge Bardet, ’n Franse geskiedkundige en kenner van klassieke literatuur, het die elemente van hierdie debat, wat oor die afgelope vier eeue so ingewikkeld geraak het, probeer uitpluis. Hy het sy navorsing gepubliseer in ’n boek met die titel Le Testimonium Flavianum—Examen historique considérations historiographique (Die Testimonium Flavianum—’n Geskiedkundige studie met geskiedkundige oorwegings).
Josefus was nie ’n Christenskrywer nie. Hy was ’n Joodse geskiedkundige; daarom gaan die debat hoofsaaklik oor die feit dat hy Jesus “die Christus” genoem het. Nadat Bardet die saak ondersoek het, het hy aangevoer dat hierdie titel “in elke opsig [ooreenstem] met die Griekse taalgebruik om die [bepaalde] lidwoord saam met mense se name te gebruik”. Bardet het bygevoeg dat dit vanuit ’n Joods-Christelike oogpunt “nie net ’n moontlikheid is dat Josefus die term Christos gebruik het nie”, maar dat dit ’n leidraad is wat “oor die algemeen verkeerdelik deur kritici oor die hoof gesien word”.
Kan dit wees dat die teks later verander is deur ’n vervalser wat Josefus se styl nageboots het? Na aanleiding van die geskiedkundige en tekstuele bewyse het Bardet tot die gevolgtrekking gekom dat so ’n nabootsing byna ’n wonderwerk sou wees. Dit sou ’n vervalser verg wie se “talent om na te boots sonder gelyke is in die hele Oudheid”, met ander woorde, dit sou onmoontlik gewees het vir enigiemand om Josefus se unieke skryfstyl na te boots.
Waarom betwyfel party geleerdes dan die egtheid van hierdie gedeelte? Bardet het tot die kern van die saak deurgedring en gesê: “In teenstelling met die meeste antieke geskrifte het twyfel ontstaan in verband met die Testimonium bloot omdat vrae daaroor geopper is.” Hy sê verder dat die standpunte wat deur die eeue heen in verband met hierdie saak ingeneem is, meer op “bedekte beweegredes” gebaseer is as op ’n deduktiewe ontleding van die teks, wat die egtheid daarvan in groot mate steun.
Ons sal moet wag en sien of Bardet se ontleding geleerdes se beskouing van die Testimonium Flavianum sal verander. ’n Vooraanstaande kenner van Hellenistiese Judaïsme en die vroeë Christelike geloof, Pierre Geoltrain, is daardeur oortuig. Hy het die Testimonium jare lank as ’n invoeging beskou en selfs die spot gedryf met diegene wat glo dat dit eg is. Maar hy het van mening verander. Hy het tot die slotsom gekom dat Bardet se werk die rede is vir hierdie verandering. Geoltrain sê nou dat “niemand dit van nou af moet waag om van die ‘ongeloofwaardige getuienis’ van Josefus te praat nie”.
Jehovah se Getuies het natuurlik selfs oortuigender redes om Jesus as die Christus te aanvaar—dié wat in die Bybel gevind word.—2 Tim. 3:16.