Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat moet jy doen noudat jy “God leer ken het”?

Wat moet jy doen noudat jy “God leer ken het”?

“Julle [het] God leer ken.”—GAL. 4:9.

1. Waarom gebruik ’n vlieënier ’n kontrolelys wanneer hy gereedmaak om te vlieg?

DIE vlieëniers wat een van die veiligste vliegtuie vlieg wat nog ooit gebou is, gebruik ’n kontrolelys met meer as 30 items om ’n voorvlug-inspeksie te doen. As hulle nie elke keer voordat hulle vlieg, die kontrolelys sorgvuldig nagaan nie, is die moontlikheid groter dat ’n tragiese ongeluk sal plaasvind. Weet jy watter soort vlieënier word veral gemaan om altyd die inspeksie te voltooi? Dit is die vlieënier met baie ondervinding! Die gesoute vlieënier kan maklik oorgerus raak en versuim om die voorvlug-inspeksie tot in die fynste besonderhede te doen.

2. Watter kontrolelys word Christene aanbeveel om na te gaan?

2 Soos ’n vlieënier wat veiligheidsbewus is, kan jy ’n kontrolelys nagaan om seker te maak dat jou geloof nie sal wankel wanneer jy dit die meeste nodig het nie. Hetsy jy pas gedoop is of God al jare lank dien, dit is noodsaaklik om gereeld die diepte van jou geloof en toewyding aan Jehovah God te toets. As ons dit nie gereeld en sorgvuldig doen nie, kan dit tot ons geestelike ondergang lei. Die Bybel waarsku ons: “Wie dink dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”—1 Kor. 10:12.

3. Wat moes die Christene in Galasië doen?

3 Die Christene in Galasië moes die diepte van hulle geloof toets en hulle geestelike vryheid waardeer. Deur middel van sy offerande het Jesus die weg gebaan vir diegene wat geloof in hom beoefen om God op ’n merkwaardige manier te leer ken—hulle kon seuns van God word! (Gal. 4:9). Om in hierdie geseënde verhouding te bly, moes die Galasiërs die leringe verwerp van die Judaïseerders, wat daarop aangedring het dat Christene die Mosaïese Wet moet onderhou. Maar die onbesnede nie-Jode in die gemeentes was nooit eens onder die Wet nie! Jode sowel as nie-Jode moes geestelike vooruitgang maak. Hulle moes besef dat hulle nie hulle regverdigheid tot stand kon bring deur die Mosaïese Wet te volg nie.

DIE EERSTE STAPPE OM GOD TE LEER KEN

4, 5. Watter raad het Paulus aan die Galasiërs gegee, en waarom is dit vir ons van belang?

4 Die apostel Paulus se raad aan die Galasiërs was met ’n doel opgeteken: Om te verhoed dat ware Christene wat in enige tydperk lewe, hulle rug draai op die rykdom van Bybelwaarheid en terugkeer na die dinge wat agter is. Jehovah het die apostel geïnspireer om nie net diegene in die gemeentes in Galasië nie, maar al Sy aanbidders aan te moedig om standvastig te bly.

5 Dit sal goed wees as ons terugdink aan hoe ons uit geestelike slawerny bevry is en een van Jehovah se Getuies geword het. Om dit te doen, moet jy jou hierdie twee vrae afvra: Onthou jy die stappe wat jy gedoen het om as ’n doopkandidaat te kwalifiseer? Onthou jy wat jy gedoen het om God te leer ken en deur hom geken te word, wat daartoe gelei het dat jy ware geestelike vryheid kon geniet?

6. Watter kontrolelys sal ons bespreek?

6 Ons almal het nege stappe gevolg. Hierdie stappe, wat soos ’n geestelike kontrolelys is, word uiteengesit in die venster:  “Stappe wat lei tot doop en volgehoue groei.” As ons ons gereeld aan hierdie nege stappe herinner, sal dit ons die krag gee om nie na die dinge van die wêreld terug te keer nie. Net soos die ervare maar versigtige vlieënier aanhou om veilig te vlieg deur eers ’n voorvlug-kontrolelys na te gaan, sal dit jou help om in jou getroue diens te volhard as jy ’n geestelike kontrolelys nagaan.

DIEGENE WAT DEUR GOD GEKEN WORD, HOU AAN OM GEESTELIK TE GROEI

7. Watter patroon moet ons volg, en waarom?

7 ’n Vlieënier se kontrolelys herinner hom dat daar ’n roetine is wat hy sorgvuldig voor elke vlug moet volg. Net so kan ons onsself en die roetine wat ons sedert ons doop volg, gereeld ondersoek. Paulus het aan Timoteus geskryf: “Hou voortdurend vas aan die patroon van gesonde woorde wat jy van my gehoor het, met die geloof en liefde wat in verband met Christus Jesus is” (2 Tim. 1:13). Hierdie “gesonde woorde” word in God se Woord gevind (1 Tim. 6:3). Net soos ’n skets deur ’n kunstenaar ons ’n algemene idee van iets kan gee, toon ‘die patroon van die waarheid’ in breë trekke vir ons wat Jehovah van ons vereis en hoe ons in ooreenstemming met daardie vereistes kan lewe. Laat ons dus nou na die stappe kyk wat na ons doop gelei het om te sien hoe noukeurig ons by die patroon van die waarheid bly.

8, 9. (a) Waarom moet ons aanhou om in kennis en geloof te groei? (b) Lig toe waarom dit belangrik is om geestelik te groei en waarom dit ’n voortgaande proses is.

8 Volgens ons kontrolelys moet ons eerstens kennis inneem. Dan kan ons geloof opbou. Maar ons moet in albei opsigte aanhou groei (2 Tess. 1:3). Groei behels ’n progressiewe reeks veranderinge. “Om te groei”, beteken om te vermeerder, om te vergroot. Ná ons doop moet ons dus aanhou om ons geestelikheid op te bou, sodat ons geestelike groei nie belemmer word nie.

’n Boom hou aan groei. Christene moet ook

9 Ons kan ons geestelike groei vergelyk met die fisiese groei van ’n boom. ’n Boom kan ontsaglik groot word, veral as dit ’n diep of ’n uitgebreide wortelstelsel het. Party van die majestueuse seders van Libanon kan byvoorbeeld so hoog soos ’n 12-verdiepinggebou word en het sterk, diep wortels en ’n stamomtrek van tot 12 meter (Hoogl. 5:15). Ná die aanvanklike stadium van vinnige groei, hou ’n boom nog steeds aan om te groei, maar dit is nie so opsigtelik nie. Jaar ná jaar word die stam wyer, en die wortels groei dieper en sprei uit, en dit maak die boom stabieler. Dieselfde kan van ’n Christen se geestelike groei gesê word. Wanneer ons die Bybel begin studeer, maak ons dalk vinnig geestelike vordering en word ons gedoop. Diegene in die gemeente is bly om ons vordering te sien. Ons kan selfs kwalifiseer om as ’n pionier te dien of ander voorregte ontvang. In die daaropvolgende jare is ons volgehoue geestelike groei dalk nie so opsigtelik nie. Nietemin moet ons aanhou om in geloof en kennis te groei “tot ’n volgroeide man, tot die mate van die groei wat tot die volheid van die Christus behoort” (Ef. 4:13). Ons vorder dus as ’t ware van ’n lootjie tot ’n volwasse Christen, ’n stewige en goed ontwikkelde boom.

10. Waarom moet selfs volwasse Christene aanhou groei?

10 Maar ons groei moenie hier ophou nie. Ons moet ons kennis verbreed en ons geloof versterk. Sodoende word ons al hoe stewiger in die grond van God se Woord geanker (Spr. 12:3). In die Christengemeente is daar baie broers en susters wat dit gedoen het. ’n Broer wat al langer as drie dekades as ’n ouer man dien, het byvoorbeeld gesê dat hy nog steeds geestelik groei. Hy sê: “My waardering vir die Bybel het baie toegeneem. Ek vind die hele tyd nuwe geleenthede om Bybelbeginsels en -wette op verskeie maniere toe te pas. En my waardering vir die bediening neem ook voortdurend toe.”

VERSTERK JOU VRIENDSKAP MET GOD

11. Hoe kan ons Jehovah met verloop van tyd beter leer ken?

11 Ons groei behels ook dat ons nader kom aan Jehovah, ons Vriend en Vader. Hy wil hê ons moet voel dat ons aanvaar word. Hy wil hê ons moet weet dat ons geliefd en veilig is, net soos ’n kind geliefd en veilig voel wanneer ’n liefdevolle ouer hom vashou of net soos ons voel wanneer ons in die geselskap is van ’n ware en lojale vriend. Soos jy weet, ontwikkel hierdie intimiteit met Jehovah nie oornag nie. Dit neem tyd om hom te leer ken en lief te kry. Terwyl jy Jehovah beter leer ken, moet jy dus vasbeslote wees om tyd opsy te sit om sy Woord daagliks te lees. Lees ook elke nommer van Die Wagtoring en die Ontwaak! sowel as ander Bybelpublikasies.

12. Wat moet ons doen om deur Jehovah geken te word?

12 God se vriende groei geestelik deur middel van hulle opregte gebede en goeie assosiasie. (Lees Maleagi 3:16.) Jehovah se “ore is tot hulle smeking” (1 Pet. 3:12). Soos ’n liefdevolle ouer, skenk Jehovah aandag wanneer ons hom biddend om hulp smeek. Daarom moet ons ‘volhou met gebed’ (Rom. 12:12). Ons kan nie ’n volwasse Christen bly tensy God ons help nie. Die druk wat hierdie stelsel op ons plaas, is te groot om op ons eie te weerstaan. As ons nie in gebed volhou nie, sny ons ons af van die onuitputlike bron van krag wat God aan ons beskikbaar kan en wil maak. Is jy tevrede met die gehalte van jou gebede, of dink jy dat jy verdere vooruitgang op hierdie gebied kan maak?—Jer. 16:19.

13. Waarom is assosiasie met mede-Christene noodsaaklik vir geestelike groei?

13 Jehovah skep behae in almal wat “by hom toevlug soek”. Selfs nadat ons God leer ken het, wil ons dus aanhou om gereeld te assosieer met die gemeente van diegene wat hom ken (Nah. 1:7). In hierdie wêreld wat so ontmoedigend is, is dit verstandig om ons te omring met ons aanmoedigende broers en susters. Watter voordele hou dit in? Jy sal persone in die gemeente vind wat jou “tot liefde en goeie werke” sal aanspoor (Heb. 10:24, 25). Die wedersydse liefde waaroor Paulus aan die Hebreërs geskryf het, kan slegs bestaan in ’n broederskap, ’n gemeenskap van eensgesinde aanbidders, ’n gemeente. Die betoning van hierdie soort liefde, behels interaksie met ander Christene. Gaan jou kontrolelys gereeld na om seker te maak dat jy die vergaderinge bywoon en daaraan deelneem.

14. Waarom is dit ’n voortdurende proses om berou te toon en om te draai?

14 Voordat ons Christene kon word, moes ons berou toon en omdraai, of ons van ons sondes afkeer. Berou is egter ’n voortdurende proses. Aangesien ons onvolmaak is, skuil die sonde nog in ons soos ’n opgekrulde slang wat gereed is om te pik (Rom. 3:9, 10; 6:12-14). Laat ons op ons hoede bly en nie ons foute ignoreer nie. Gelukkig is Jehovah geduldig met ons terwyl ons hard teen ons swakhede stry en die nodige veranderinge aanbring (Fil. 2:12; 2 Pet. 3:9). Iets wat ons baie hiermee sal help, is om ons tyd en middele wyslik te gebruik en om selfsugtige strewes die rug toe te keer. ’n Suster skryf: “Ek het in die waarheid grootgeword, maar my beskouing van Jehovah was anders as die meeste mense s’n. Vir my was hy iemand wat baie gevrees moes word, en ek het gevoel dat ek hom nooit sal kan behaag nie.” Ná verloop van tyd het hierdie suster gevind dat sy weens ’n aantal persoonlike terugslae “geestelik wankel”. “Hoewel ek Jehovah liefgehad het,” sê sy, “het ek hom nie werklik geken nie. Maar ná talle vurige gebede het ek veranderinge begin aanbring.” Sy voeg by: “Ek het gevind dat Jehovah my soos ’n kind gelei het, my gehelp het om een struikelblok op ’n slag te oorkom en my liefdevol gewys het wat ek moet doen.”

15. Wat sien Jesus en sy Vader raak?

15 Hou aan om tot die volk te spreek’ oor die goeie nuus. Dit is wat God se engel vir Petrus en die ander apostels gesê het nadat hulle wonderdadig uit die gevangenis vrygelaat is (Hand. 5:19-21). Ja, ons weeklikse deelname aan die veldbediening is nog ’n item op ons kontrolelys. Jesus en sy Vader sien ons geloof sowel as ons bediening raak (Op. 2:19). Die ouer man wat vroeër aangehaal is, sê: “Die veldbediening is ons vernaamste werk.”

16. Waarom is dit goed om oor ons toewyding aan Jehovah na te dink?

16 Dink na oor jou toewyding. Ons kosbaarste besitting is ons persoonlike verhouding met Jehovah. Hy ken diegene wat aan hom behoort. (Lees Jesaja 44:5.) Ondersoek biddend die gehalte en die diepte van jou verhouding met hom. En onthou die belangrike datum waarop jy gedoop is. Dít sal jou ook daaraan herinner dat jou doop ’n simbool is van die belangrikste besluit wat jy nog ooit gemaak het.

BLY NA AAN JEHOVAH DEUR TE VOLHARD

17. Waarom het ons volharding nodig om na aan Jehovah te bly?

17 Toe Paulus aan die Galasiërs geskryf het, het hy die belangrikheid van volharding beklemtoon (Gal. 6:9). Dit is ook vandag vir ’n Christen noodsaaklik. Jy sal beproewinge ondervind, maar Jehovah sal jou help. Hou aan om vir heilige gees te bid. Jy sal verligting vind wanneer hy jou droefheid met vreugde en jou angs met vrede vervang (Matt. 7:7-11). Dink hieraan: As Jehovah vir die voëls omgee, hoeveel te meer gee hy om vir jou wat hom liefhet en jou aan hom gegee het? (Matt. 10:29-31). Ongeag voor watter druk jy te staan kom, moet nooit terugkeer na die dinge wat agter is nie, moet nooit tou op gooi nie. Watter wonderlike rykdom besit ons tog omdat Jehovah ons ken!

18. Wat wil jy doen noudat jy “God leer ken het”?

18 Wat moet jy doen as jy God onlangs leer ken het en gedoop is? Hou aan om Jehovah beter te leer ken, en groei tot geestelike volwassenheid. En wat moet jy doen as jy al jare lank gedoop is? Jy moet ook aanhou om jou kennis van Jehovah te verdiep en te verbreed. Mag ons ons verhouding met Jehovah nooit as vanselfsprekend aanneem nie. Ons moet ons geestelike kontrolelys eerder van tyd tot tyd nagaan om seker te maak dat ons aanhou groei in ons verhouding met ons liefdevolle Vader, Vriend en God—Jehovah.—Lees 2 Korintiërs 13:5, 6.