Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Moenie moeg word nie’

‘Moenie moeg word nie’

“Laat ons . . . nie ophou om te doen wat goed is nie.”—GAL. 6:9.

1, 2. Hoe word ons vertroue vergroot wanneer ons dink aan Jehovah se universele organisasie?

DIT vervul ons met ontsag om te dink dat ons deel is van ’n groot universele organisasie. Die visioene wat in Esegiël hoofstuk 1 en Daniël hoofstuk 7 opgeteken is, voorsien ’n lewendige uitbeelding van hoe Jehovah sake bewerkstellig om sy voorneme te volbring. Jesus lei die aardse deel van Jehovah se organisasie en rig dit om die goeie nuus te verkondig, om geestelik om te sien na diegene wat hierdie werk doen en om die ware aanbidding van Jehovah te bevorder. Watter vertroue gee dit ons tog in Jehovah se organisasie!—Matt. 24:45.

2 Hou ons as individue met hierdie wonderlike organisasie tred? Neem ons entoesiasme vir die waarheid voortdurend toe of neem dit af? Wanneer ons hierdie vrae oordink, let ons dalk op dat ons moeg begin raak het of van ons ywer verloor het. Dit kan gebeur. In die eerste eeu moes die apostel Paulus mede-Christene vermaan om die ywerige voorbeeld van Jesus in gedagte te hou. Paulus het vir hulle gesê dat dit hulle sou help om ‘nie moeg te word en in hulle siel te beswyk nie’ (Heb. 12:3). ’n Noukeurige studie van die vorige artikel, wat toon wat Jehovah se organisasie vermag, sou ons eweneens baie gehelp het om ons entoesiasme te behou en om te volhard.

3. Wat is nodig as ons nie moeg wil raak nie, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Paulus het egter te kenne gegee dat meer nodig is as ons nie wil moeg raak nie. Hy het gesê dat ons ons sal moet inspan “om te doen wat goed is” (Gal. 6:9). Dit vereis dus optrede. Kom ons bespreek vyf bedrywighede wat ons kan help om standvastig te bly en om met Jehovah se organisasie tred te hou. Dan kan ons self besluit of daar aspekte is waaraan ons of ons gesinne meer aandag moet skenk.

 VERGADER VIR AANMOEDIGING EN AANBIDDING

4. Waarom kan ons sê dat vergaderinge ’n noodsaaklike deel van ons aanbidding is?

4 Dit was nog altyd vir Jehovah se knegte baie belangrik om te vergader. In die onsigbare ryk word geesskepsele op gepaste tye genooi om in Jehovah se teenwoordigheid te vergader (1 Kon. 22:19; Job 1:6; 2:1; Dan. 7:10). In eertydse Israel moes die nasie bymekaarkom “sodat hulle [kon] luister en sodat hulle [kon] leer” (Deut. 31:10-12). Die Jode in die eerste eeu het die gewoonte gehad om na die sinagoges te gaan om uit die Skrif te lees (Luk. 4:16; Hand. 15:21). Toe die Christengemeente gestig is, is daar steeds baie klem op die belangrikheid van vergaderinge geplaas, en dit is nog steeds ’n noodsaaklike deel van ons aanbidding. Ware Christene “[gee] op mekaar ag . . . om tot liefde en goeie werke aan te spoor”. Ons moet aanhou ‘om mekaar aan te moedig, en dit des te meer namate ons Jehovah se dag sien nader kom’.—Heb. 10:24, 25.

5. Hoe kan ons mekaar by ons vergaderinge aanmoedig?

5 Een belangrike manier waarop ons mekaar aanmoedig, is om ’n aandeel aan ons vergaderinge te hê. Ons kan ons geloof in die openbaar bekend maak deur onder meer ’n gedrukte vraag te beantwoord, die toepassing van ’n teks te gee of ’n kort ondervinding te vertel wat toelig dat dit verstandig is om Bybelbeginsels te volg (Ps. 22:22; 40:9). Ongeag hoeveel jare ons al vergaderinge bywoon, ons vind dit altyd aanmoedigend om te luister na die hartgrondige kommentare van ons broers en susters—oud en jonk.

6. Hoe help ons vergaderinge ons om geestelik bedrywig te bly?

6 Om watter redes is dit vir God so belangrik dat ons gereeld vergader? Ons vergaderinge en byeenkomste help ons om die moed te hê om met vrymoedigheid te praat en teenstand of onverskilligheid in die veld die hoof te bied (Hand. 4:23, 31). Ons word deur die skriftuurlike besprekings versterk en standvastig gemaak in die geloof (Hand. 15:32; Rom. 1:11, 12). Die onderrigting en wedersydse aanmoediging wat ons by ons vergaderinge vir aanbidding ontvang, maak ons werklik gelukkig en gee ons “rus . . . van dae van rampspoed” (Ps. 94:12, 13). Die Onderrigtingskomitee van die Bestuursliggaam hou toesig oor die voorbereiding van alle geestelike programme vir die onderrigting van Jehovah se volk regoor die wêreld. Hoe dankbaar kan ons tog wees vir die voorsienings wat gemaak word sodat ons elke week van die jaar heilsame onderrigting by ons vergaderinge kan geniet!

7, 8. (a) Wat is die hoofrede vir ons gemeentelike vergaderinge? (b) Hoe versterk die vergaderinge jou geestelik?

7 Daar is egter iets wat selfs belangriker is as die persoonlike voordele wat vergaderingbywoning meebring. Die hoofrede waarom ons vergader, is om Jehovah te aanbid. (Lees Psalm 95:6.) Wat ’n voorreg het ons tog om ons wonderlike God te loof! (Kol. 3:16). Jehovah verdien ons getroue aanbidding wat ons onder andere deur middel van ons bywoning en deelname aan teokratiese vergaderinge gee (Op. 4:11). Dit is dus geen wonder dat ons vermaan word om “nie ons onderlinge vergadering [na te laat] soos party die gewoonte het nie”!—Heb. 10:25.

8 Beskou ons ons Christelike vergaderinge as ’n voorsiening wat ons help om te volhard totdat Jehovah teen hierdie goddelose stelsel van dinge optree? Indien wel, sal die vergaderinge onder “die belangriker dinge” wees waarvoor ons in ons besige lewe tyd inruim (Fil. 1:10). Ons sal dus nie ’n geleentheid misloop om met ons broers in die aanbidding van Jehovah verenig te wees tensy ons ’n baie ernstige rede het nie.

 SOEK NA OPREGTES VAN HART

9. Hoe weet ons dat die predikingswerk belangrik is?

9 ’n Volle deelname aan die predikingswerk help ons ook om met Jehovah se organisasie tred te hou. Jesus het hierdie werk begin toe hy hier op die aarde was (Matt. 28:19, 20). Van toe af was die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk vir Jehovah se hele organisasie van die grootste belang. Talle hedendaagse ondervindinge lewer bewys dat die engele ons werk ondersteun en ons rig na diegene “wat die regte gesindheid vir die ewige lewe . . . het” (Hand. 13:48; Op. 14:6, 7). Vandag is die hoofdoel van die aardse deel van Jehovah se organisasie om hierdie uiters belangrike werk te organiseer en te ondersteun. Is die bediening ook die middelpunt van jou lewe?

10. (a) Lig toe hoe ons ons entoesiasme vir die waarheid kan behou. (b) Hoe het die bediening jou gehelp om nie moeg te word nie?

10 As ons ywerig in die bediening is, help dit ons om ons entoesiasme vir die waarheid te behou. Kyk na wat Mitchel, ’n gewone pionier wat al lank as ’n ouer man dien, sê: “Ek hou daarvan om mense van die waarheid te vertel. Ek verwonder my oor die wysheid, insig en gebalanseerde benadering van elke nommer van Die Wagtoring en Ontwaak! Ek wil in velddiens uitgaan en sien hoe mense reageer en hoe ek hulle belangstelling kan  wek. My bediening gee my stabiliteit in die lewe. Ek maak seker dat niks inbreuk maak op die tyd wat ek vir die bediening opsygesit het nie.” As ons besig bly in ons heilige diens, kan dit ons eweneens help om in hierdie laaste dae standvastig te bly.—Lees 1 Korintiërs 15:58.

VIND BAAT BY GEESTELIKE VOORSIENINGS

11. Waarom moet ons ten volle gebruik maak van die geestelike voedsel wat ons van Jehovah ontvang?

11 Jehovah voorsien ’n oorvloed geskrewe geestelike voedsel om ons te versterk. Nadat jy ’n publikasie gelees het, het jy ongetwyfeld al gedink: ‘Dis presies wat ek nodig gehad het! Dis asof Jehovah dit net vir my laat skryf het!’ Dít is nie toevallig nie. Jehovah gebruik hierdie voorsienings om ons te onderrig en te lei. Hy het gesê: “Ek sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan” (Ps. 32:8). Probeer ons om al die geestelike voedsel wat ons ontvang, in te neem en daaroor na te dink? Dit sal ons help om aan te hou om vrug te dra en nie in hierdie moeilike laaste dae geestelik te verwelk nie.—Lees Psalm 1:1-3; 35:28; 119:97.

12. Wat kan ons help om geestelike voorsienings te waardeer?

12 Dit is vir ons goed om na te dink oor die werk wat dit verg om gereeld hierdie heilsame geestelike voedsel aan ons te voorsien. Die Skryfkomitee van die Bestuursliggaam hou toesig oor die navorsing, skryfwerk, proeflesing, kunswerk en vertaling wat gedoen moet word vir ons gedrukte publikasies en die materiaal op ons webwerf. Takkantore wat drukwerk doen, versend lektuur na gemeentes naby en ver. Waarom word al hierdie werk gedoen? Sodat Jehovah se volk geestelik goed gevoed kan wees (Jes. 65:13). Laat ons vasbeslote wees om baat te vind by al die geestelike voedsel wat Jehovah se organisasie voorsien.—Ps. 119:27.

ONDERSTEUN DIE ORGANISASIE SE REËLINGS

13, 14. Wie ondersteun Jehovah se reëlings in die hemele, en hoe kan ons op die aarde soortgelyke ondersteuning daaraan gee?

13 In ’n visioen wat aan die apostel Johannes gegee is, het hy Jesus op ’n wit perd sien ry om te oorwin in die stryd teen dié wat teen Jehovah in opstand kom (Op. 19:11-15). Hoe geloofversterkend is dit tog om te weet dat die getroue engele Jesus ondersteun en dat die gesalfde oorwinnaars van die aarde, wat reeds hulle hemelse beloning ontvang het, saam met hom is! (Op. 2:26, 27). Wat ’n uitstekende voorbeeld stel hulle vir ons wanneer dit kom by die ondersteuning van Jehovah se reëlings!

14 Net so gee die groot menigte hulle volle ondersteuning aan die werk van Christus se gesalfde broers wat nog op die aarde is en wat vandag die leiding in die organisasie neem. (Lees Sagaria 8:23.) Hoe kan ons as individue toon dat ons Jehovah se reëlings ondersteun? Een manier is om onderdanig te wees aan dié wat die leiding neem (Heb. 13:7, 17). Dit begin in ons eie gemeente. Bevorder ons opmerkings oor die ouer manne respek vir hulle en hulle opsienersamp? Spoor ons ons kinders aan om hierdie getroue manne te respekteer en om na hulle skriftuurlike raad te luister? En bespreek ons as ’n gesin hoe ons ons geld kan gebruik om die wêreldwye werk deur middel van ons bydraes te ondersteun? (Spr. 3:9; 1 Kor. 16:2; 2 Kor. 8:12). Beskou ons die voorreg om met die instandhoudingswerk van die Koninkryksaal te help as belangrik? Jehovah se gees vloei vryelik waar daar sulke respek en eenheid is. Hierdie gees help ons voortdurend om nie in hierdie laaste dae moeg te raak nie.—Jes. 40:29-31.

 ONS LEWE MOET MET ONS BOODSKAP OOREENSTEM

15. Waarom moet ons hard stry om te doen wat Jehovah behaag?

15 Om te volhard en met Jehovah se organisasie tred te hou, moet ons seker maak dat ons lewe ooreenstem met die boodskap wat ons verkondig deur “seker te maak van wat vir die Here aanneemlik is” (Ef. 5:10, 11). Weens ons onvolmaakte vlees, Satan se aanvalle en hierdie goddelose wêreld stry ons gedurig teen negatiewe invloede in ons lewe. Party liewe broers en susters moet elke dag hard stry om hulle verhouding met Jehovah te behou. Dit maak hulle baie geliefd by hom. Moenie tou opgooi nie! As ons ons lewe lei op ’n manier wat Jehovah behaag, sal dit ons groot tevredenheid verskaf en verseker dat ons aanbidding nie vergeefs is nie.—1 Kor. 9:24-27.

Help ander ywerig om te verstaan dat hulle ook deel van Jehovah se groot organisasie kan wees

16, 17. (a) Wat moet ons doen as ons ’n ernstige sonde gepleeg het? (b) Hoe kan ons by Anne se voorbeeld baat vind?

16 Maar wat moet ons doen as ons ’n ernstige sonde gepleeg het? Vra so gou moontlik om hulp. As jy dit wegsteek, sal dit dinge net vererger. Onthou, Dawid het gesê dat ‘sy gebeente weggeteer het deur sy gekreun die hele dag’ toe hy stilgebly het oor sy sondes (Ps. 32:3). Ja, as ons geheime sondes verberg, sal ons net emosioneel en geestelik moeg raak, maar “hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid bewys word”.—Spr. 28:13.

17 Beskou die voorbeeld van Anne. * Toe Anne in haar laat tienerjare was, het sy as ’n gewone pionier gedien. Maar sy het ’n dubbele lewe begin lei. Dit het ’n groot uitwerking op haar gehad. Sy sê: “Wat van my gewete oorgebly het, het skuldig gevoel. Ek was die hele tyd ongelukkig en terneergedruk.” Wat het sy gedoen? Toe Jakobus 5:14, 15 eendag by die vergadering bespreek is, het Anne besef dat sy hulp nodig het en het sy die ouer manne om hulp gevra. Sy dink daaraan terug en sê: “Daardie tekste is ’n voorskrif wat Jehovah geskryf het om ons geestelik te genees. Die medisyne is nie maklik om te sluk nie, maar dit is genesend. Ek het die raad in daardie tekste toegepas, en dit het gewerk.” ’n Paar jaar het verloop, en Anne dien Jehovah nou weer ywerig met hernieude krag en ’n goeie gewete.

18. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

18 Wat ’n voorreg is dit tog om in hierdie laaste dae te lewe en deel van Jehovah se ongelooflike organisasie te wees! Laat ons vasbeslote wees om dit nooit as vanselfsprekend aan te neem nie. Laat ons eerder as ’n gesin saamwerk om Jehovah gereeld saam met ons plaaslike gemeente te aanbid, om ywerig na opregtes van hart in ons gebied te soek en om diepe waardering te hê vir die gereelde voorsienings van geestelike voedsel wat ons ontvang. Laat ons ook diegene ondersteun wat die leiding neem en seker maak dat ons lewe ooreenstem met die boodskap wat ons verkondig. As ons dit doen, sal ons nie net met Jehovah se organisasie tred hou nie, maar sal ons nooit moeg word om te doen wat goed is nie!

^ par. 17 Naam is verander.