Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is jy “ywerig vir goeie werke”?

Is jy “ywerig vir goeie werke”?

“Christus Jesus [het] homself vir ons gegee . . . om . . . vir homself ’n volk te reinig wat uitsluitlik syne is, ywerig vir goeie werke.”—TIT. 2:13, 14.

1, 2. Watter uitsonderlike eer het Jehovah se Getuies, en hoe voel jy daaroor?

BAIE beskou dit as ’n groot eer om ’n toekenning vir ’n merkwaardige prestasie te ontvang. Party het byvoorbeeld die Nobelprys ontvang vir hulle ywerige pogings om vrede tussen vyandige of vervreemde partye te bewerkstellig. Maar dit is tog ’n baie groter eer om deur God as ’n ambassadeur of gesant gestuur te word om mense te help om ’n vreedsame verhouding met hulle Skepper te geniet!

2 As Jehovah se Getuies het ons hierdie uitsonderlike eer. Onder bevel van God en Christus smeek ons mense: “Raak met God versoen” (2 Kor. 5:20). Jehovah gebruik ons om mense na hom te trek. Dit is hoe miljoene in meer as 235 lande gehelp is om ’n goeie verhouding met God te geniet, wat hulle die hoop gee om die ewige lewe te verkry (Tit. 2:11). Met hartgrondige ywer nooi ons “enigeen wat wil [om] die water van die lewe [te] neem, verniet” (Op. 22:17). Omdat ons hierdie kosbare toewysing hoog op prys stel en dit pligsgetrou uitvoer, kan ons tereg ’n volk genoem word wat “ywerig vir goeie werke” is (Tit. 2:14). Kom ons kyk nou hoe ons ywer vir goeie werke ons help om mense tot Jehovah aan te trek. Een manier is deur middel van ons predikingswerk.

VOLG JEHOVAH EN JESUS SE YWER NA

3. Waarvan verseker “die ywer van Jehovah” ons?

3 Met verwysing na wat die heerskappy van God se Seun sal bewerkstellig, sê Jesaja 9:7: “Die ywer van Jehovah van die leërs sal dit doen.” Hierdie woorde beklemtoon dat ons hemelse Vader opreg in die redding van die mensdom belangstel. Jehovah se voorbeeld van ywer toon duidelik dat ons godgegewe werk as Koninkryksverkondigers ons heelhartige ondersteuning, geesdrif en ywer verdien. Ons brandende begeerte om mense te help om God te leer ken, is ’n weerspieëling van Jehovah se ywer. Is ons dan, as God se medewerkers, vasbeslote om na gelang van ons omstandighede die  grootste aandeel moontlik aan die verkondiging van die goeie nuus te hê?—1 Kor. 3:9.

4. Hoe het Jesus ’n voorbeeld van ywerige volharding in die bediening gestel?

4 Dink ook aan Jesus se ywer. Hy het ’n volmaakte voorbeeld van ywerige volharding in die bediening gestel. Ondanks wrede vervolging het hy sy ywer vir die predikingswerk tot aan die pynlike einde van sy aardse lewe behou (Joh. 18:36, 37). Namate die tyd van sy offerdood nadergekom het, was Jesus al hoe meer vasbeslote om ander te help om Jehovah te leer ken.

5. Hoe het Jesus in ooreenstemming met sy illustrasie van die vyeboom opgetree?

5 In die noordelike herfs van 32 HJ het Jesus byvoorbeeld die illustrasie vertel van ’n man wat ’n vyeboom in sy wingerd gehad het wat drie jaar lank geen vrugte gedra het nie. Toe daar vir die wingerdarbeider gesê is om die boom af te kap, het hy tyd gevra sodat hy dit kon bemes. (Lees Lukas 13:6-9.) Net ’n klein aantal dissipels kon destyds as die vrug van Jesus se predikingswerk gereken word. Maar soos hierdie illustrasie van die wingerdarbeider aandui, het Jesus die kort tydjie wat oorgebly het—ongeveer ses maande—gebruik om sy pogings in die predikingswerk in Judea en Perea te verskerp. ’n Paar dae voor sy dood het Jesus gehuil oor sy landgenote wat “gehoor [het] sonder om te reageer”.—Matt. 13:15; Luk. 19:41.

6. Waarom moet ons ons pogings in die bediening verskerp?

6 Is dit nie noodsaaklik dat ons ons pogings in die predikingswerk verskerp, aangesien ons so diep in die tyd van die einde is nie? (Lees Daniël 2:41-45.) Wat ’n wonderlike voorreg is dit tog om Jehovah se Getuies te wees! Ons is die enigste mense op die aarde wat ander hoop gee deur hulle te vertel van die ware oplossings vir die mensdom se probleme. ’n Koerantrubriekskrywer het die vraag “Waarom gebeur slegte dinge met goeie mense?” onlangs as ’n onbeantwoordbare vraag beskryf. Dit is ons Christelike plig en voorreg om die Bybel se antwoorde op sulke vrae bekend te maak aan almal wat bereid is om te luister. Ons het alle rede om te “gloei van die gees” terwyl ons ons godgegewe opdrag uitvoer (Rom. 12:11). Met God se seën kan ons ywerige evangelisasiewerk ander help om Jehovah te leer ken en vir hom lief te word.

’N SELFOPOFFERENDE GEES STREK JEHOVAH TOT EER

7, 8. Hoe strek ’n selfopofferende gees Jehovah tot eer?

7 Soos die apostel Paulus se ondervindinge toon, sal ons bediening dalk “slapelose nagte”en “tye sonder voedsel” tot gevolg hê (2 Kor. 6:5). Hierdie frases dui op ’n selfopofferende gees en laat ons moontlik dink aan pioniers wat hulle bediening die eerste plek in hulle lewe gee terwyl hulle hulle finansieel onderhou. Dink ook aan ons toegewyde sendelinge ‘wat hulle soos ’n drankoffer uitgiet’ om mense in ander lande te dien (Fil. 2:17). Wat van ons hardwerkende ouer manne wat soms nie eet of slaap nie omdat hulle na Jehovah se skape omsien? Dan is daar ook ons bejaardes en diegene met swak gesondheid wat hulle bes doen om Christelike vergaderinge by te woon en aan die veldbediening deel te neem. Ons harte loop oor van waardering wanneer ons dink aan al hierdie selfopofferende knegte van God. Sulke pogings het ’n uitwerking op hoe ander ons bediening beskou.

8 In ’n brief aan die Boston Target van Lincolnshire, Verenigde Koninkryk, het ’n leser wat nie ’n Getuie is nie, gesê: “Mense verloor hulle geloof in die godsdienste . . . Wat doen hierdie predikante die heeldag lank? Hulle gaan beslis nie uit en ontmoet die mense, soos Christus gedoen het, nie . . . Die enigste godsdiens wat blykbaar omgee, is die Jehovah se Getuies, wat uitgaan en mense ontmoet en werklik betrokke  is by die verkondiging van die waarheid.” In hierdie wêreld wat om selfbevrediging draai, strek ons selfopofferende gees Jehovah God beslis tot eer.—Rom. 12:1.

Bloot jou teenwoordigheid in die bediening lewer ’n kragtige getuienis aan dié wat jou sien

9. Wat kan ons aanspoor om ywerig vir goeie werke te bly in ons bediening?

9 Wat kan ons egter doen as dit lyk asof ons ons ywer vir die bediening verloor? Dit sal nuttig wees om na te dink oor wat Jehovah deur middel van die predikingswerk verrig. (Lees Romeine 10:13-15.) Mense kan slegs gered word as hulle die naam van Jehovah in geloof aanroep, maar hulle sal dit nie doen tensy ons preek nie. As ons dit besef, sal dit ons beweeg om ywerig vir goeie werke te bly en om die goeie nuus van die Koninkryk pligsgetrou te verkondig.

ONS GOEIE GEDRAG TREK MENSE TOT JEHOVAH AAN

Jou eerlikheid en harde werk gaan nie ongesiens verby nie

10. Waarom kan daar gesê word dat ons goeie gedrag mense tot Jehovah aantrek?

10 Hoewel ywer baie belangrik is in die bediening, is dit nie genoeg om mense na God te trek nie. Nog ’n aspek van ywerige werke wat mense tot God aantrek, is goeie Christelike gedrag. Paulus het die belangrikheid van ons gedrag beklemtoon toe hy geskryf het: “In geen opsig gee ons enige rede tot struikeling nie, sodat daar nie met ons bediening foutgevind sal word nie” (2 Kor. 6:3). Ons heilsame spraak en onberispelike gedrag versier die leer van God, dit wil sê dit maak die aanbidding van Jehovah vir ander aantreklik (Tit. 2:10). Trouens, ons hoor dikwels van die positiewe resultate wat dit oplewer wanneer opregte mense ons Christelike gedrag waarneem.

11. Waarom moet ons biddend nadink oor die uitwerking wat ons gedrag op ander het?

11 Ons besef dat ons optrede mense ten goede kan beïnvloed, maar die teenoorgestelde kan ook gebeur. Hetsy ons dus by die werk, by die huis of by die skool is, ons probeer om niemand rede te gee om met ons bediening of ons gedrag fout te vind nie. As ons moedswillig sonde beoefen,  sal ons rampspoedige gevolge ly (Heb. 10:26, 27). Hierdie gedagte moet ons beweeg om biddend na te dink oor ons optrede en die uitwerking wat dit op ander het. Namate hierdie wêreld se sedelike standaarde agteruitgaan, sal opregte mense al hoe meer “die onderskeid [kan] sien . . . tussen iemand wat God dien en iemand wat hom nie gedien het nie” (Mal. 3:18). Ja, ons goeie Christelike gedrag speel ’n belangrike rol daarin om mense met God te versoen.

12-14. Watter uitwerking het die manier waarop ons toetse van geloof verduur, op hoe ander ons bediening beskou? Gee ’n voorbeeld.

12 Toe Paulus aan die Korintiërs geskryf het, het hy gesê dat hy verdrukkinge, moeilikhede, slae en tronkstraf verduur het. (Lees 2 Korintiërs 6:4, 5.) Wanneer ons toetse van geloof deurmaak, kan dié wat ons volharding sien, beweeg word om die waarheid aan te neem. Ter toeligting: ’n Paar jaar gelede, in ’n gebied in Angola, wou party mense van Jehovah se Getuies ontslae raak. Twee gedoopte Getuies en 30 belangstellendes wat ons vergaderinge bygewoon het, is gevange geneem. Toe is die plaaslike mense bymekaargeroep om toe te kyk terwyl die teenstanders hierdie onskuldige slagoffers met swepe geslaan het totdat hulle gebloei het. Selfs vroue en kinders is nie hierdie wrede behandeling gespaar nie. Die bedoeling was om mense te intimideer sodat niemand na Jehovah se Getuies sou luister nie. Maar ná hierdie openbare mishandeling het baie van die lede van die gemeenskap die Getuies genader en tuisbybelstudies aangevra! Dit het die Koninkrykspredikingswerk ’n hupstoot gegee, wat noemenswaardige vermeerdering en baie seëninge tot gevolg gehad het.

13 Hierdie voorbeeld lig toe watter verreikende uitwerking dit op ander kan hê wanneer ons ferm standpunt vir Bybelbeginsels inneem. Ons wonder dalk hoeveel mense met God versoen geraak het danksy die moedige standpunt wat Petrus en die ander apostels ingeneem het (Hand. 5:17-29). In ons geval sal medestudente, werksmaats of familielede moontlik gunstig reageer wanneer hulle sien dat ons standpunt inneem vir wat reg is.

14 Op enige gegewe tyd is daar van ons broers wat vervolging verduur. Byvoorbeeld, in Armenië is ongeveer 40 broers in die tronk weens hulle neutraliteit, en tientalle ander sal waarskynlik in die komende maande in die tronk gegooi word. In Eritrea is 55 knegte van Jehovah in die tronk, waarvan party ouer is as 60. In Suid-Korea is omtrent 700 Getuies in die tronk weens hulle geloof. Hierdie situasie duur nou al 60 jaar lank daar voort. Laat ons aanhou bid dat die getrouheid van ons broers wat in verskeie lande vervolg word, God sal verheerlik en liefhebbers van regverdigheid sal help om hulle standpunt vir ware aanbidding in te neem.—Ps. 76:8-10.

15. Lig toe hoe ’n eerlike lewenswyse ander tot die waarheid kan aantrek.

15 Die feit dat ons ’n eerlike lewe lei, kan mense ook tot die waarheid aantrek. (Lees 2 Korintiërs 6:4, 7.) Kyk byvoorbeeld na hierdie ondervinding: ’n Suster het op ’n bus geld in die kaartjiemasjien gegooi toe ’n kennis vir haar gesê het dat sy nie ’n kaartjie hoef te koop nie, aangesien die rit so kort is. Die suster het verduidelik dat dit reg is om vir die kaartjie te betaal, al ry sy net tot by die volgende halte. Daarna het haar vriendin van die bus afgeklim. Toe het die busbestuurder na die suster toe gedraai en gevra: “Is jy een van Jehovah se Getuies?” “Ja”, het sy geantwoord. “Hoekom vra jy?” “Ek het julle gesprek oor die buskaartjie gehoor, en ek weet dat Jehovah se Getuies van die min mense is wat altyd betaal en in alle dinge eerlik is.” ’n Paar maande later het ’n man die suster by ’n vergadering genader en gesê: “Onthou jy my? Ek is die busbestuurder wat met jou gepraat het oor die feit dat jy jou kaartjie betaal het. Jou gedrag het my laat  besluit om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te begin studeer.” Ons goeie naam as eerlike mense beveel ons as betroubare bedienaars aan.

OPENBAAR ALTYD EIENSKAPPE WAT GOD TOT EER STREK

16. Waarom raak eienskappe soos lankmoedigheid, liefde en goedhartigheid mense se harte? Gee ’n voorbeeld.

16 Wanneer ons eienskappe soos lankmoedigheid, liefde en goedhartigheid openbaar, trek dit mense tot Jehovah aan. Party wat ons waarneem, sal moontlik meer wil leer omtrent Jehovah, sy voornemens en sy volk. Die gesindheid en gedrag van ware Christene vorm ’n skerp teenstelling met die blote uiterlike vertoon van godvrugtige toegewydheid van diegene wie se aanbidding dikwels niks meer as ’n huigelagtige set is nie. Sommige godsdiensleiers het ryk geword deur bedrog te pleeg en het die geld wat hulle so van hulle kuddes verkry het, gebruik om duur huise en motors te koop—in een geval selfs ’n hondehok met lugreëling. Trouens, baie wat beweer dat hulle volgelinge van Christus is, het geen begeerte ‘om verniet te gee’ nie (Matt. 10:8). Soos die weerspannige priesters van eertydse Israel, “onderrig [hulle] net teen ’n prys”—en baie van hulle leringe is onskriftuurlik (Miga 3:11). Sulke huigelagtige gedrag versoen mense nie met God nie.

17, 18. (a) Hoe strek dit Jehovah tot eer wanneer ons sy eienskappe in ons lewe weerspieël? (b) Wat spoor jou aan om daarin te volhard om ywerig vir goeie werke te wees?

17 Daarenteen word mense se harte geraak wanneer hulle besef dat ons die waarheid leer en sien dat ons ons medemens liefdevol behandel. Byvoorbeeld, toe ’n pionier een keer van deur tot deur getuig het, is hy gou deur ’n bejaarde weduwee weggewys. Sy het gesê dat sy op ’n trapleer in die kombuis besig was om ’n gloeilamp te vervang toe hy die klokkie gelui het. “Dit is nie vir jou veilig om dit alleen te doen nie”, het hy gesê. Daarna het die pionier die gloeilamp vervang en gegaan. Toe die vrou se seun uitgevind het wat gebeur het, was hy so beïndruk dat hy die broer probeer vind het om sy waardering uit te spreek. Op die ou end het die seun ’n Bybelstudie aanvaar.

18 Waarom is jy vasbeslote om daarin te volhard om ywerig vir goeie werke te wees? Dalk omdat jy weet dat ons ander kan help om redding te verkry en dat dit Jehovah tot eer strek wanneer ons ywerig is in ons bediening en in ooreenstemming met God se wil optree. (Lees 1 Korintiërs 10:31-33.) Ywer vir goeie werke wat die verkondiging van die goeie nuus en godvrugtige gedrag betref, spruit voort uit ’n diep begeerte om liefde vir God en vir ons medemens te openbaar (Matt. 22:37-39). As ons ywerig vir goeie werke is, sal ons nou ryklik met vreugde en tevredenheid beloon word. Wat meer is, ons kan uitsien na die dag wanneer die hele mensdom ywer vir ware aanbidding sal toon, tot eer van ons Skepper, Jehovah.