LEWENSVERHAAL
Gehoorsaamheid aan Jehovah het baie seëninge meegebring
“Wat ’n wonderlike les leer ons by Noag!” het my pa verduidelik. “Noag was gehoorsaam aan Jehovah en was lief vir sy familie, en hulle almal het die Vloed oorleef omdat die hele familie in die ark ingegaan het.”
DIT is een van die vroegste herinneringe wat ek van my pa, ’n beskeie, hardwerkende man, het. Hy het ’n sterk sin vir geregtigheid gehad, en daarom het die Bybel se boodskap onmiddellik by hom byval gevind toe hy dit in 1953 gehoor het. Van toe af het hy sy bes gedoen om wat hy geleer het, aan ons as kinders oor te dra. Aan die begin het my ma gehuiwer om haar Katolieke tradisies te laat vaar. Maar mettertyd het sy ook Bybelleringe begin aanneem.
Dit was vir my ouers moeilik om met ons te studeer. My ma kon nie goed lees en skryf nie, en my pa het lank en hard in die landerye gewerk. Soms was hy so moeg dat hy nie gedurende die studie wakker kon bly nie. Sy pogings het egter vrugte afgewerp. Ek is die oudste kind, en daarom het ek gehelp om my suster en twee broers te leer. Dit het ’n les ingesluit wat my pa dikwels gemeld het—Noag se liefde vir sy familie wat hy deur middel van sy gehoorsaamheid aan God getoon het. Hoe lief was ek tog vir hierdie Bybelverslag! Kort voor lank het ons almal die vergaderinge bygewoon by die Koninkryksaal in Roseto degli Abruzzi, ’n stad op die Adriatiese kus van Italië.
Ek was net 11 jaar oud toe ek en my ma in 1955 die berge oorgesteek het en weswaarts gereis het om ons eerste byeenkoms by te woon, in Rome. Sedertdien beskou ek hierdie groot byeenkomste as een van die mooiste ondervindinge in ’n Christen se lewe.
Ek is die volgende jaar gedoop en het kort daarna die voltydse diens betree. Toe ek 17 jaar oud was, is ek as ’n spesiale pionier gestuur na Latina, wat suid van Rome en omtrent 300 kilometer van die huis af was. Dit was ’n betreklike nuwe stad, en daarom het niemand hulle te veel gesteur aan wat die bure dink nie. Ek en my pioniermaat was verheug dat ons baie Bybellektuur kon versprei, maar omdat ek redelik jonk was, het ek baie na die huis verlang! Ek wou nogtans die toewysing uitvoer wat ek gegee is.
Ek is later na Milaan gestuur om te help met die voorbereidings vir die “Ewige Goeie Nuus”- Internasionale Byeenkoms wat in 1963 gehou is. Gedurende die byeenkoms het ek as ’n vrywilliger gewerk saam met baie ander, insluitende Paolo Piccioli, ’n jong broer van Florence. Op die tweede dag van die byeenkoms het hy ’n hartroerende toespraak oor die ongetroude lewe gehou. Ek onthou dat ek gedink het: ‘Daardie broer sal beslis nooit trou nie.’ Maar ons het begin om vir mekaar te skryf, en dit het duidelik geword dat ons baie in gemeen het—ons doelwitte, ons liefde vir Jehovah en ons sterk begeerte om hom te gehoorsaam. Ek en Paolo is in 1965 getroud.
VOORVALLE MET GEESTELIKES
Ek het tien jaar lank gewone pionierdiens in Florence gedoen. Dit was opwindend om die groei in die gemeentes te sien, en veral om te sien hoe die jongmense vordering maak. Ek en Paolo het dit geniet om saam met hulle tyd deur te bring; ons het geestelike gesprekke gevoer en ontspanning saam geniet, wat gewoonlik behels het dat Paolo met hulle sokker gespeel het. Ek wou natuurlik tyd saam met my man deurbring, maar ek kon sien dat daardie jongmense en die gesinne in die gemeente sy liefdevolle belangstelling en die tyd wat hy aan hulle afgestaan het, nodig gehad het en daarby baat gevind het.
Dit verskaf my nog steeds vreugde om te dink aan al die Bybelstudies wat ons gehou het. Een van my Bybelstudente was Adriana. Sy het met twee ander gesinne gepraat oor wat sy geleer het. Hulle het ’n vergadering met ’n priester gereël om kerkleerstellings soos die Drie-eenheid en die onsterflike siel te bespreek. Drie prelate het vir die vergadering opgedaag. Hulle verduidelikings was verwarrend en met mekaar teenstrydig, en ons Bybelstudente kon dit maklik sien toe hulle dit met die Bybel se duidelike leringe vergelyk het. Ja, hierdie vergadering was ’n keerpunt. Ná verloop van tyd het omtrent 15 lede van daardie gesinne Getuies geword.
Deesdae is ons predikingsmetodes natuurlik baie anders. Destyds het Paolo ’n “kenner” geword wat voorvalle met priesters betref—en daar was ’n aantal van hierdie voorvalle. Ek onthou een so ’n voorval voor ’n gehoor van mense wat nie Getuies was nie. Dit het duidelik geword dat teenstanders vooraf gereël het dat lede van die gehoor vrae vra wat hulle gedink het moeilik sou wees. Maar die gesprek het ’n ander wending geneem. Iemand het gevra of dit reg is dat die kerk hom met die politiek bemoei, soos dit al eeue lank gedoen het. Op daardie stadium was dit duidelik dat die priesters in ’n netelige situasie was. Skielik is ons in die donker gedompel, en die vergadering is gekanselleer. Jare later het ons uitgevind dat ’n kragonderbreking beplan is indien die gesprek nie sou verloop soos die priesters gehoop het nie.
NUWE DIENSVOORREGTE
Toe ek en Paolo tien jaar lank getroud was, is ons genooi om kringwerk te doen. Paolo het ’n goeie werk gehad, en dit was dus nie ’n maklike besluit nie. Maar nadat ons dit biddend oorweeg het, het ons ons vir hierdie nuwe diensvoorreg beskikbaar gestel. Ons het dit geniet om tyd deur te bring met die gesinne wat ons gehuisves het. In die aand het ons dikwels as ’n groep saam gestudeer, en dan het Paolo die kinders met hulle huiswerk gehelp, veral as dit wiskunde was. Paolo was ook ’n ywerige leser, en hy het entoesiasties gepraat oor die interessante en opbouende dinge waarvan hy gelees het. Maandae het ons dikwels gaan preek in dorpe waar daar geen Getuies was nie en het ons mense genooi na ’n toespraak wat daardie aand gehou sou word.
Ná net twee jaar in die kringwerk is ons genooi om in Rome by Bethel te gaan dien. Paolo het in die Regsafdeling, en ek het in die Tydskrifafdeling gewerk. Die aanpassing was nie maklik nie, maar ons was vasbeslote om gehoorsaam te wees. Dit was opwindend om die geleidelike uitbreiding van die takkantoor asook die enorme groei in die Italiaanse veld te sien. Gedurende daardie tyd het Jehovah se Getuies in Italië belangrike wetlike erkenning verkry. Ons was baie gelukkig in hierdie vorm van diens.
Terwyl ons by Bethel gedien het, het die kollig in Italië op ons Bybelse standpunt oor bloed geval. In die vroeë 1980’s was daar ’n hofsaak oor hierdie kwessie wat baie opspraak gewek het. ’n Getuie-egpaar is valslik daarvan beskuldig dat hulle vir hulle dogter se dood verantwoordelik is, hoewel sy in werklikheid gesterf het aan ’n ernstige bloedsiekte wat deur baie mense in die Mediterreense gebied oorgeërf word. Broers en susters in die Bethelgesin het bystand verleen aan die regsgeleerdes wat die Christenouers verteenwoordig het. ’n Blaadjie en ’n spesiale uitgawe van die Ontwaak! is uitgegee om mense te help om die feite te kry en die regte begrip te hê van wat God se Woord oor bloed sê. Gedurende daardie maande het Paolo dikwels tot 16 uur per dag gewerk sonder om te rus. Ek het my bes gedoen om hom te ondersteun terwyl hy hierdie belangrike werk gedoen het.
NOG ’N GROOT VERANDERING
Ons was 20 jaar lank getroud toe ons lewe ’n onverwagte wending geneem het. Toe ek 41 en Paolo 49 was, het ek vir hom gesê dat ek dink dat ek swanger is. In sy dagboek het ek die volgende inskrywing vir daardie dag gevind: “Gebed: As dit waar is, help ons om in die voltydse diens te bly, om nie ons geestelike waaksaamheid te verslap nie en help ons om deur middel van ons voorbeeldige gedrag goeie ouers te wees. Help my bowenal om ten minste 1 persent toe te pas van alles wat ek oor die afgelope 30 jaar op die verhoog gesê het.” As ’n mens kyk na die resultate, het Jehovah ongetwyfeld sy gebed—en myne—verhoor.
Die geboorte van Ilaria het groot veranderinge in ons lewe tot gevolg gehad. Ek moet erken dat ons wel soms mismoedig gevoel het, soos Spreuke 24:10 sê: “Was jy mismoedig in die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees.” Maar ons het mekaar ondersteun en probeer onthou hoe belangrik dit is om mekaar aan te moedig.
Ilaria is gou om te sê hoe bly sy is dat sy grootgemaak is deur twee ywerige Getuie-ouers wat in die voltydse diens was. Sy het nooit gevoel dat sy afgeskeep word nie; sy het ’n normale gesinslewe gehad. Gedurende die dag was ek by haar. In die aand wanneer Paolo huis toe gekom het, het hy dikwels werk gehad wat hy moes klaarmaak; tog het hy tyd met haar deurgebring, met haar gespeel en haar met haar huiswerk gehelp. Hy het dit gedoen, al het dit beteken dat hy moontlik tot twee of drie uur in die oggend moes opbly om sy werk klaar te maak. Ilaria het dikwels gesê: “Pappa is my beste vriend.”
Dit het natuurlik volgehoue inspanning—en soms fermheid—geverg om Ilaria te help om op die Christelike weg te bly. Ek onthou hoe sy eenkeer met ’n vriendin gespeel het en haar sleg gedra het. Ons het uit die Bybel aan haar verduidelik waarom sy nie so moet optree nie. Sy moes ook voor ons aan haar vriendin om verskoning vra.
Ilaria sê dat sy die liefde waardeer wat haar ouers vir die bediening getoon het. Noudat sy getroud is, verstaan sy selfs beter hoe belangrik dit is om Jehovah te gehoorsaam en sy leiding te volg.
GEHOORSAAM SELFS IN TYE VAN DROEFHEID
In 2008 het Paolo uitgevind dat hy kanker het. Aan die begin het dit gelyk asof Paolo die siekte sou oorleef, en hy het my baie aangemoedig. Ons het die beste mediese raad probeer kry, en ons het baie tyd saam met Ilaria in gebed tot Jehovah deurgebring en hom gevra om ons te help om die toekoms moedig tegemoet te gaan. Ek moes nietemin toekyk hoe ’n man wat eens so sterk en dinamies was, geleidelik verswak. Toe hy in 2010 gesterf het, was dit vir ons ’n baie harde slag. Maar ek put baie vertroosting uit wat ons bereik het in die 45 jaar wat ons saam was. Ons het Jehovah ons beste gegee. Ek weet dat ons werk van blywende waarde is. En ek sien gretig uit na die tyd wanneer Paolo opgewek sal word, in ooreenstemming met Jesus se woorde in Johannes 5:28, 29.
“Diep in my hart is ek nog steeds daardie klein dogtertjie wat so lief is vir die verhaal van Noag. My voorneme het nie verander nie”
Diep in my hart is ek nog steeds daardie klein dogtertjie wat so lief is vir die verhaal van Noag. My voorneme het nie verander nie. Ek wil Jehovah gehoorsaam, ongeag wat dit verg. Ek is daarvan oortuig dat enige struikelblokke, opofferings of verliese betreklik klein is in vergelyking met die wonderlike seëninge wat ons van ons liefdevolle God ontvang. Ek het dit self ervaar—en dit is beslis die moeite werd.