Laat Jehovah se dissipline jou vorm
“Met u raad sal u my lei, en daarna sal u my selfs tot heerlikheid voer.”—PS. 73:24.
1, 2. (a) Wat is noodsaaklik as ons ’n goeie verhouding met Jehovah wil hê? (b) Hoe sal ons daarby baat vind as ons skriftuurlike verslae ondersoek van hoe mense op God se dissipline gereageer het?
“WAT my betref, dit is vir my goed om nader aan God te kom. In die Soewereine Heer Jehovah het ek my toevlug gestel” (Ps. 73:28). Met hierdie woorde het die psalmis sy vertroue in God uitgespreek. Watter omstandighede het hom hierdie betekenisvolle slotsom laat bereik? Nadat die psalmis die vrede van goddelose mense gesien het, het hy eers verbitterd gevoel. Hy het gekla: “Tevergeefs het ek my hart gereinig en was ek my hande in onskuld” (Ps. 73:2, 3, 13, 21). Maar toe hy in “die grootse heiligdom van God” ingekom het, het dit hom gehelp om sy denke aan te pas en sy intieme verhouding met God te behou (Ps. 73:16-18). Hierdie ondervinding het daardie godvresende man ’n lewensbelangrike les geleer: Om deel van God se volk te wees, raad te aanvaar en dit toe te pas, is noodsaaklik as ’n mens ’n hegte verhouding met Jehovah wil hê.—Ps. 73:24.
2 Ons wil ook graag ’n intieme verhouding met die ware en lewende God hê. Om hierdie doelwit te bereik, moet ons toelaat dat sy raad of dissipline ons vorm sodat ons persone word wat hom behaag! In die verlede het God barmhartigheid aan individue en nasies bewys deur hulle geleenthede te gee om op sy dissipline te reageer. Die verslae van hoe hulle gereageer het, is in die Bybel opgeteken “tot ons onderrigting” en “as ’n waarskuwing vir ons op wie die eindes van die stelsels van dinge gekom het” (Rom. 15:4; 1 Kor. 10:11). As ons hierdie verslae van naderby ondersoek, sal dit ons insig in Jehovah se persoonlikheid gee en help om te sien hoe ons by sy vorming kan baat vind.
HOE DIE POTTEBAKKER SY GESAG UITOEFEN
3. Hoe word Jehovah se gesag oor mense in Jesaja 64:8 en Jeremia 18:1-6 toegelig? (Sien prent aan begin van artikel.)
3 Jesaja 64:8 beskryf Jehovah se gesag oor individue en nasies by wyse van illustrasie en sê: “O Jehovah, u is ons Vader. Ons is die klei, en u is ons Pottebakker; en ons is almal die werk van u hand.” ’n Pottebakker het die gesag om enige soort houer wat hy wil, uit die klei te vorm. Die klei het geen beheer oor die saak nie. Dit is ook die geval met die mens en God. Die mens kan nie vir God sê hoe hy hom moet vorm nie, net soos die klei nie vir die pottebakker kan sê hoe hy die klei moet vorm nie.—Lees Jeremia 18:1-6.
4. Vorm God individue of nasies na willekeur? Verduidelik.
4 In die geval van eertydse Israel het Jehovah getoon dat hy die vermoë het om hulle te vorm soos ’n pottebakker klei vorm. Maar daar is ’n wesenlike verskil. ’n Pottebakker kan volgens sy vermoë enige soort houer uit die klei vorm. Vorm Jehovah individue of nasies na willekeur deur party goed en ander sleg te maak? Die Bybel se antwoord is nee. Jehovah het die mens ’n baie kosbare gawe gegee—die gawe van wilsvryheid. Hy oefen nie sy soewereine gesag uit op ’n manier wat hierdie gawe kragteloos maak nie. Mense moet kies om deur die Skepper, Jehovah, gevorm te word.—Lees Jeremia 18:7-10.
5. Hoe oefen Jehovah sy gesag oor mense uit wanneer hulle weier om deur hom gevorm te word?
5 Maar gestel mense weier hardkoppig om deur die Groot Pottebakker gevorm te word. Hoe oefen hy dan sy goddelike gesag uit? Dink aan wat met die klei gebeur as dit nie meer vir die bepaalde doel geskik is nie. Die pottebakker kan ’n ander soort houer daaruit maak of dit eenvoudig weggooi! Maar wanneer die klei onbruikbaar is, is dit gewoonlik die pottebakker se skuld. Dít is nooit met ons Pottebakker die geval nie (Deut. 32:4). Wanneer ’n persoon nie toelaat dat Jehovah hom vorm nie, lê die fout altyd by daardie persoon. Jehovah oefen sy gesag as Pottebakker oor mense uit deur sy handelinge met hulle aan te pas afhangende van hoe hulle reageer wanneer hy hulle vorm. Diegene wat gunstig reageer, word op ’n voordelige manier gevorm. Byvoorbeeld, gesalfde Christene is “voorwerpe van barmhartigheid” wat in ‘voorwerpe vir ’n eervolle gebruik’ gevorm is. Aan die ander kant word diegene wat God hardkoppig teëstaan, gevorm in “voorwerpe van gramskap, wat vir vernietiging geskik gemaak is”.—Rom. 9:19-23.
6, 7. Hoe het koning Dawid en koning Saul op Jehovah se raad gereageer?
6 Een manier waarop Jehovah mense vorm, is deur hulle raad of dissipline te gee. Ons kan sien hoe hy sy gesag uitoefen oor dié wat hy vorm deur te kyk na sy handelinge met Israel se eerste twee konings—Saul en Dawid. Toe koning Dawid met Batseba egbreuk gepleeg het, het sy dade hom en ander benadeel. Hoewel Dawid koning was, het Jehovah hom ferm dissipline gegee. God het sy profeet Natan met ’n sterk boodskap na Dawid gestuur (2 Sam. 12:1-12). Hoe het Dawid gereageer? Hy was diep bedroef en het berou getoon. Dawid het by God se barmhartigheid baat gevind.—Lees 2 Samuel 12:13.
7 In teenstelling hiermee het Dawid se voorganger, koning Saul, nie goed op raad gereageer nie. Jehovah het Saul ’n direkte opdrag deur die profeet Samuel gegee: Hy moes al die Amalekiete en hulle vee aan vernietiging oorgee. Saul het hierdie goddelike bevel verontagsaam. Hy het Agag, die koning, en die beste van die vee gespaar. Waarom? Deels omdat hy eer aan homself wou bring (1 Sam. 15:1-3, 7-9, 12). Toe Saul raad gegee is, moes hy toegelaat het dat dit sy hart versag en moes hy hom deur die Groot Pottebakker laat vorm het. In plaas daarvan het Saul geweier om gevorm te word. Hy het sy gedrag geregverdig. Hy het geredeneer dat sy optrede toelaatbaar was omdat die vee as ’n offerande gebruik kon word, en hy het Samuel se raad geringgeag. Jehovah het Saul as koning verwerp, en Saul het nooit weer ’n goeie verhouding met die ware God geniet nie.—Lees 1 Samuel 15:13-15, 20-23.
GOD IS NIE PARTYDIG NIE
8. Watter les kan ons leer uit die manier waarop die nasie Israel op Jehovah se vorming gereageer het?
8 Jehovah gee nie net individue die geleentheid om op sy vorming te reageer nie, maar ook nasies. In 1513 VHJ het die kinders van Israel, nadat hulle uit slawerny in Egipte bevry is, in ’n verbondsverhouding met God gekom. Israel was sy uitverkore nasie en het die voorreg gehad om deur hom gevorm te word, asof hulle op die Groot Pottebakker se wiel was. Maar die volk het aangehou om te doen wat sleg was in Jehovah se oë en het selfs die gode van die omliggende nasies begin aanbid. Jehovah het herhaaldelik profete gestuur om hulle tot besinning te bring, maar Israel het nie geluister nie (Jer. 35:12-15). Israel moes streng gedissiplineer word vir hulle hardkoppige optrede. Soos ’n houer wat vir vernietiging geskik was, is die noordelike tienstammeryk deur die Assiriërs en die suidelike tweestammeryk deur die Babiloniërs verower. Wat ’n kragtige les kan ons tog hieruit leer! Jehovah se vorming sal ons net help as ons reg daarop reageer.
9, 10. Hoe het die Nineviete op God se waarskuwing gereageer?
9 Jehovah het ook die inwoners van die Assiriese hoofstad Nineve ’n geleentheid gegee om op sy waarskuwing te reageer. Sy woord het tot Jona gekom en gesê: “Staan op, gaan na Nineve, die groot stad, en verkondig daarteen dat hulle slegtheid voor my opgekom het.” Jehovah het besluit dat Nineve geskik was om vernietig te word.—Jona 1:1, 2; 3:1-4.
10 Maar toe Jona die oordeelsboodskap verkondig het, het “die manne van Nineve . . . geloof in God begin stel, en hulle het ’n vas uitgeroep en hulle met saklinne beklee, van die grootste onder hulle tot selfs die geringste onder hulle”. Hulle koning het “van sy troon af opgestaan en sy ampskleed uitgetrek en hom met saklinne bedek en in die as gaan sit”. Die Nineviete het gunstig gereageer op Jehovah se pogings om hulle te vorm en het berou getoon. Gevolglik het Jehovah nie rampspoed oor hulle gebring nie.—Jona 3:5-10.
11. Watter eienskap van Jehovah kom in sy handelinge met Israel en Nineve na vore?
11 Die feit dat Israel ’n uitverkore nasie was, het hulle nie van dissipline vrygestel nie. Die Nineviete daarenteen was nie in ’n verbondsverhouding met God nie. Tog het Jehovah sy oordeelsboodskap aan hulle laat verkondig en barmhartigheid aan hulle bewys omdat hulle soos sagte klei in sy hande was. Hoe duidelik toon hierdie twee voorbeelde dat Jehovah ons God “niemand partydig behandel” nie!—Deut. 10:17.
JEHOVAH IS REDELIK EN AANPASBAAR
12, 13. (a) Waarom verander God sy voorgenome optrede wanneer individue gunstig op sy vorming reageer? (b) In watter sin het Jehovah “spyt gevoel” in die geval van Saul? En in die geval van Nineve?
12 God se bereidwilligheid om ons te vorm, toon dat hy redelik en aanpasbaar is. Dit word duidelik gesien in situasies waar Jehovah besluit om op ’n sekere manier op te tree nadat hy mense in regverdigheid geoordeel het, maar van gedagte verander as gevolg van hulle reaksie. Volgens die Bybel was Jehovah ‘spyt dat hy Saul [die eerste koning van Israel] as koning laat regeer het’ (1 Sam. 15:11). Toe die mense van Nineve berou getoon het en hulle van hulle slegte weg afgekeer het, sê die Bybel dat “die ware God spyt gevoel [het] oor die rampspoed wat hy gesê het hy oor hulle sou bring; en hy het dit nie gebring nie”.—Jona 3:10.
13 Die Hebreeuse uitdrukking wat met “spyt gevoel” vertaal word, verwys in werklikheid na ’n verandering van gesindheid of voorgenome optrede. Jehovah se gesindheid teenoor Saul het verander, aangesien hy hom eers as koning gekies het en later verwerp het. Hierdie verandering het nie plaasgevind omdat Jehovah ’n fout gemaak het toe hy Saul gekies het nie, maar omdat Saul sonder geloof opgetree het en ongehoorsaam geraak het. In die geval van die Nineviete het die ware God spyt gevoel; dit wil sê, hy het sy voorgenome optrede in verband met hulle verander. Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Jehovah ons Pottebakker redelik en aanpasbaar asook genadig en barmhartig is en bereid is om sy voorgenome optrede teenoor oortreders te verander wanneer hulle positiewe veranderinge aanbring!
LAAT ONS NIE DIE DISSIPLINE VAN JEHOVAH VERWERP NIE
14. (a) Hoe vorm Jehovah ons vandag? (b) Hoe moet ons op God se vorming reageer?
14 Jehovah vorm ons vandag hoofsaaklik deur middel van sy Woord, die Bybel, en sy organisasie (2 Tim. 3:16, 17). Ons moet sekerlik al die raad of dissipline aanvaar wat ons uit hierdie bronne ontvang. Ongeag hoe lank ons al gedoop is of hoeveel voorregte ons ontvang het, ons moet aanhou om gunstig op Jehovah se raad te reageer en toelaat dat dit ons in voorwerpe vir ’n eervolle gebruik vorm.
15, 16. (a) Watter negatiewe gevoelens kan iemand ondervind as hy dissipline ontvang wat behels dat hy voorregte verloor? Lig toe. (b) Wat kan ons help om negatiewe gevoelens te verwerk wanneer ons dissipline ontvang?
15 Soms sal ons dissipline ontvang in die vorm van onderrigting of teregwysing. Maar ander kere sal ons dalk dissipline nodig hê omdat ons nie gedoen het wat reg is nie. Sulke dissipline behels moontlik dat ons voorregte verloor. Kyk na die voorbeeld van Dennis * wat as ’n ouer man gedien het. Hy het hom aan oortreding skuldig gemaak omdat hy nie goeie oordeel in verband met sakeaangeleenthede aan die dag gelê het nie, en hy is privaat tereggewys. Hoe het Dennis gevoel die aand toe daar in die gemeente aangekondig is dat hy nie meer as ’n ouer man dien nie? “Ek was oorweldig deur ’n gevoel van mislukking”, sê hy. “Oor die afgelope 30 jaar het ek baie voorregte gehad. Ek het as ’n gewone pionier gedien, by Bethel gedien, en ek is as ’n bedieningskneg en toe as ’n ouer man aangestel. Ek het ook kort tevore my eerste toespraak by ’n streekbyeenkoms gelewer. Skielik was dit alles weg. Ek het skaam en verleë gevoel en ek het gedink dat daar nie meer ’n plek vir my in die organisasie is nie.”
16 Dennis moes die gedrag waarvoor hy tereggewys is, verander en sy verkeerde weg verlaat. Maar wat het hom gehelp om die negatiewe gevoelens te verwerk? Hy verduidelik: “Ek was vasbeslote om ’n goeie geestelike roetine te behou. Die ondersteuning van die Christelike broederskap en die aanmoediging wat ek uit ons publikasies gekry het, was net so belangrik. Die artikel ‘Het jy voorheen gedien? Kan jy weer dien?’ in Die Wagtoring van 15 Augustus 2009 was soos ’n persoonlike brief wat my gebede beantwoord het. Die raad wat ek die meeste gekoester het, was: ‘Terwyl jy nie bykomende verantwoordelikhede in die gemeente het nie, moet jy jou daarop toelê om jou geestelikheid te versterk.’” Hoe het Dennis by die dissipline baat gevind? ’n Paar jaar het verloop, en hy sê: “Jehovah het my weer met die voorreg geseën om as ’n bedieningskneg te dien.”
17. Watter rol kan uitsetting speel in ’n sondaar se herstel? Lig toe.
17 Uitsetting is nog ’n vorm van dissipline wat Jehovah gebruik. Dit beskerm die gemeente teen ’n slegte invloed en kan ’n sondaar help om geestelik te herstel (1 Kor. 5:6, 7, 11). Robert was byna 16 jaar lank uitgesit. Gedurende daardie tyd het sy ouers en sy broers ferm en lojaal die leiding in God se Woord toegepas om op te hou om met oortreders om te gaan en om so iemand nie eens te groet nie. Robert is jare gelede herstel en maak goeie geestelike vordering. Toe hy gevra is wat hom beweeg het om ná so ’n lang tyd na Jehovah en Sy volk terug te keer, het hy geantwoord dat die standpunt wat sy familie ingeneem het, ’n invloed op hom gehad het. “As my familie selfs net ’n bietjie met my geassosieer het, byvoorbeeld om te sien hoe dit met my gaan, sou daardie klein bietjie assosiasie genoeg gewees het. Dan sou my begeerte na assosiasie nie sterk genoeg gewees het om my te beweeg om na God terug te keer nie.”
18. Watter soort klei sal ons in die Groot Pottebakker se hande wees?
18 Ons het dalk nie dieselfde soort dissipline nodig nie, maar watter soort klei sal ons in die hande van die Groot Pottebakker wees? Hoe sal ons op dissipline reageer? Sal ons soos Dawid of soos Saul wees? Die Groot Pottebakker is ons Vader. Moet nooit vergeet nie: “Jehovah wys die een tereg wat hy liefhet, net soos ’n vader doen met ’n seun in wie hy behae het.” Daarom ‘moet ons nie die dissipline van Jehovah verwerp nie en nie sy teregwysing verafsku nie’.—Spr. 3:11, 12.
^ par. 15 Name is verander.