Vrae van lesers
Wie was “die seuns van die ware God” wat volgens Genesis 6:2, 4 voor die Vloed gelewe het?
Die bewyse toon dat hierdie uitdrukking na geesseuns van God verwys. Maar wat is die bewyse?
Genesis 6:2 sê: “Die seuns van die ware God [het] die dogters van die mense begin opmerk, dat hulle mooi is; en hulle het vir hulle vrouens geneem, naamlik almal wat hulle verkies het.”
In die Hebreeuse Geskrifte verskyn die uitdrukkings “die seuns van die ware God” en “die seuns van God” in Genesis 6:2, 4; Job 1:6; 2:1; 38:7 en Psalm 89:6. Wat dui hierdie tekste omtrent dié “seuns van God” aan?
Dit is duidelik dat “die seuns van die ware God” waarvan ons in Job 1:6 lees, geesskepsele was wat in God se teenwoordigheid vergader het. Satan, wat “van ’n swerftog oor die aarde” teruggekom het, was ook onder hulle (Job 1:7; 2:1, 2). In Job 38:4-7 lees ons ook van “die seuns van God” wat ‘gejuig het’ toe God die “hoeksteen [van die aarde] gelê” het. Hulle moes engeleseuns gewees het, want mense was toe nog nie geskep nie. “Die seuns van God” wat in Psalm 89:6 gemeld word, verwys beslis na geesskepsele wat in die hemel by God is, nie na mense nie.
Wie is dan “die seuns van die ware God” wat in Genesis 6:2, 4 gemeld word? In die lig van die bogenoemde Bybelse feite is die logiese gevolgtrekking dat die verslag verwys na die geesseuns van God wat na die aarde toe gekom het.
Party vind dit moeilik om te glo dat engele dalk daarin sal belangstel om geslagsomgang te hê. Jesus se woorde in Matteus 22:30 toon dat die huwelik en geslagsomgang nie in die hemel bestaan nie. Maar engele het al soms vleeslike liggame aangeneem en selfs saam met mense geëet en gedrink (Gen. 18:1-8; 19:1-3). Dit is dus redelik om tot die slotsom te kom dat hulle met hierdie vleeslike liggame geslagsomgang met vroue kon hê.
Daar is Bybelse redes om te glo dat party engele dit wel gedoen het. Judas 6, 7 vergelyk die sonde van die manne van Sodom, wat vir onnatuurlike gebruik agter vlees aan geloop het, met dié van “die engele wat nie hulle oorspronklike posisie behou het nie, maar hulle eie gepaste woonplek verlaat het”. Iets wat daardie engele met die Sodomiete in gemeen gehad het, is dat hulle “uitermate hoerery gepleeg en vir onnatuurlike gebruik agter vlees aan geloop het”. ’n Soortgelyke verslag in 1 Petrus 3:19, 20 toon ’n verband tussen ongehoorsame engele en “Noag se dae” (2 Pet. 2:4, 5). Gevolglik kan die optrede van ongehoorsame engele in Noag se dag met die sonde van Sodom en Gomorra vergelyk word.
Hierdie gevolgtrekking is redelik wanneer ons besef dat “die seuns van die ware God” wat in Genesis 6:2, 4 gemeld word, engele is wat vleeslike liggame aangeneem het en onsedelike geslagsomgang met vroue gehad het.
Die Bybel sê dat Jesus “vir die geeste in die gevangenis gepreek” het (1 Pet. 3:19). Wat beteken dit?
Die apostel Petrus identifiseer hierdie geeste as dié wat “eens ongehoorsaam was toe die geduld van God in Noag se dae gewag het” (1 Pet. 3:20). Dit is duidelik dat Petrus na geesskepsele verwys het wat besluit het om by Satan se opstand aan te sluit. Judas maak melding van die engele wat “nie hulle oorspronklike posisie behou het nie, maar hulle eie gepaste woonplek verlaat het” en sê dat God hulle “met ewige boeie onder dik duisternis vir die oordeel van die groot dag bewaar” het.—Jud. 6.
Hoe was geesskepsele in Noag se dag ongehoorsaam? Voor die Vloed het hierdie bose geeste vleeslike liggame aangeneem—iets wat nooit deel van God se voorneme vir hulle was nie (Gen. 6:2, 4). Wat meer is, daardie engele wat geslagsomgang met vroue gehad het, het iets onnatuurliks beoefen. God het geesskepsele nie gemaak om geslagsomgang met vroue te hê nie (Gen. 5:2). Hierdie bose, ongehoorsame engele sal op God se bestemde tyd vernietig word. Volgens Judas is hulle in die tussentyd in ’n toestand van “dik duisternis”—as ’t ware in ’n geestelike gevangenis.
Wanneer en hoe het Jesus vir hierdie “geeste in die gevangenis” gepreek? Petrus skryf dat dit gebeur het nadat Jesus “lewend gemaak is in die gees” (1 Pet. 3:18, 19). Let ook op dat Petrus sê dat Jesus “gepreek” het. Die feit dat Petrus die verlede tyd gebruik, gee te kenne dat dit gebeur het voordat Petrus sy eerste brief geskryf het. Dit wil dus voorkom asof Jesus die een of ander tyd ná sy opstanding ’n oordeelsboodskap aan die bose geeste oorgedra het oor die ten volle verdiende straf wat hulle sal ontvang. Hierdie predikingsboodskap het vir hulle geen hoop gebied nie. Dit was ’n oordeelsboodskap (Jona 1:1, 2). Nadat Jesus sy geloof getoon het deur tot die dood toe lojaal te bly en opgewek is—wat bewys het dat die Duiwel geen houvas op hom het nie—het Jesus die gesag gehad om so ’n veroordelende boodskap oor te dra.—Joh. 14:30; 16:8-11.
In die toekoms sal Jesus Satan sowel as daardie engele bind en in die afgrond werp (Luk. 8:30, 31; Op. 20:1-3). Tot dan is hierdie ongehoorsame geesskepsele in ’n toestand van dik geestelike duisternis, en hulle finale vernietiging is seker.—Op. 20:7-10.