Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Elisa het strydwaens van vuur gesien—Sien jy dit?

Elisa het strydwaens van vuur gesien—Sien jy dit?

Die koning van Sirië was naarstiglik op soek na God se profeet Elisa en het hom opgespoor in die ommuurde heuwelstad Dotan. Gedurende die nag het die Siriese heerser perde, strydwaens en troepe na Dotan gestuur. Teen dagbreek was die stad deur sy magte omsingel.—2 Kon. 6:13, 14.

Toe Elisa se dienaar opgestaan en uitgegaan het, het hy diegene gesien wat die profeet gevange wou neem. “Ag, my heer! Wat sal ons doen?” het hy uitgeroep. “Moenie bang wees nie”, het Elisa gesê, “want dié wat by ons is, is meer as dié wat by hulle is.” Toe het die profeet gebid en gesê: “O Jehovah, open asseblief sy oë, sodat hy kan sien.” Die verslag sê verder: “Onmiddellik het Jehovah die dienaar se oë geopen, sodat hy gesien het; en kyk! die bergstreek was vol perde en strydwaens van vuur rondom Elisa” (2 Kon. 6:15-17). Wat kan ons uit hierdie en ander gebeurtenisse in Elisa se lewe leer?

Elisa was kalm ondanks die feit dat die Siriërs die stad beleër het omdat hy op Jehovah vertrou het en God se beskermende krag in aksie gesien het. Ons verwag nie vandag wonderwerke nie, maar ons kan wel onderskei dat Jehovah sy volk as ’n groep beskerm. In sekere sin word ons ook deur perde en strydwaens van vuur omring. As ons dit met ons oë van geloof “sien” en as ons altyd op God vertrou, sal ons “in veiligheid woon” en Jehovah se seën ondervind (Ps. 4:8). Laat ons sien wat ons uit ander voorvalle in Elisa se lewe kan leer.

ELISA BEGIN ELIA DIEN

Toe Elisa by een geleentheid ’n landery geploeg het, het die profeet Elia na hom toe gekom en sy ampskleed op hom gegooi. Elisa het geweet wat dit beteken. Hy het ’n feesmaaltyd voorberei, van sy vader en moeder afskeid geneem en sy tuiste verlaat om Elia te gaan dien (1 Kon. 19:16, 19-21). Omdat Elisa hom geredelik beskikbaar gestel het om soveel as moontlik in God se diens te doen, het hy ’n werktuig in Jehovah se hand geword en uiteindelik in Elia se plek as profeet gedien.

Elisa het Elia ongeveer ses jaar lank gedien. Gedurende  daardie tyd was Elisa die een “wat water op die hande van Elia uitgegooi het” (2 Kon. 3:11). Destyds het mense gewoonlik met hulle hande geëet en het hulle nie vurke, messe of ander eetgerei gebruik nie. Ná ’n maaltyd het ’n kneg gewoonlik water op sy heer se hande uitgegooi sodat hy sy hande kon was. Elisa se werk het dus ten minste ’n paar nederige takies ingesluit. Hy het dit nietemin ’n voorreg geag om Elia se dienaar te wees.

Vandag betree baie Christene eweneens verskeie vorme van voltydse diens. Hulle word beweeg deur geloof en ’n begeerte om hulle kragte ten volle in Jehovah se diens in te span. Party van die toewysings vereis dat hulle hulle tuiste verlaat en werk doen—by Bethel, op bouprojekte, ensovoorts—wat baie mense moontlik as nederige werk sal beskou. Geen Christen moet sulke diens as onbelangrik of vernederend beskou nie, want Jehovah stel dit hoog op prys.—Heb. 6:10.

ELISA HET SY TOEWYSING TEN VOLLE UITGEVOER

Voordat God ‘Elia in ’n windstorm na die hemel opgeneem het’, het hy die profeet van Gilgal na Bethel gestuur. Elia het vir Elisa gesê om hom nie te vergesel nie, maar hy het geantwoord: “Ek sal u nie verlaat nie.” Terwyl hulle verder gereis het, het Elia nog twee keer vir Elisa gesê om agter te bly, maar dit was tevergeefs (2 Kon. 2:1-6). Net soos Rut Naomi aangekleef het, het Elisa Elia aangekleef (Rut 1:8, 16, 17). Waarom? Klaarblyklik omdat Elisa sy godgegewe voorreg waardeer het om Elia se dienaar te wees.

Elisa het vir ons ’n goeie voorbeeld gestel. Ons sal diensvoorregte wat ons in God se organisasie ontvang, hoog op prys stel as ons in gedagte hou dat ons Jehovah dien. Daar is geen groter eer nie.—Ps. 65:4; 84:10.

“VRA WAT EK VIR JOU MOET DOEN”

Terwyl die twee mans gereis het, het Elia vir Elisa gesê: “Vra wat ek vir jou moet doen voordat ek van jou af weggeneem word.” Net soos Salomo se versoek van jare tevore, was Elisa se versoek van ’n geestelike aard. Hy het gevra dat ‘twee dele van Elia se gees op hom moet kom’ (1 Kon. 3:5, 9; 2 Kon. 2:9). In Israel het ’n man se eersgebore seun twee dele van sy erfenis ontvang (Deut. 21:15-17). Elisa het dus in werklikheid gevra om as Elia se geestelike erfgenaam erken te word. Wat meer is, Elisa wou klaarblyklik dieselfde moedige gees openbaar as dié van Elia, wat “absoluut jaloers ten opsigte van Jehovah” was.—1 Kon. 19:13, 14.

Hoe het Elia op sy dienaar se versoek gereageer? “Jy het iets moeiliks gevra”, het die profeet gesê. “As jy my sien wanneer ek van jou af weggeneem word, sal dit so met jou gebeur; maar so nie, sal dit nie gebeur nie” (2 Kon. 2:10). Elia se antwoord het blykbaar ’n tweeledige betekenis gehad. Eerstens kon net God bepaal of Elisa sou ontvang waarvoor hy gevra het. Tweedens moes Elisa, as hy dit wou ontvang, vasbeslote wees om by Elia te bly, ongeag wat gebeur.

WAT ELISA GESIEN HET

Hoe het God Elisa se versoek beskou om twee dele van Elia se gees te ontvang? Die verslag sê: “Terwyl hulle al pratende verder geloop het, kyk! toe was daar ’n strydwa van vuur en perde van vuur, en dié het ’n skeiding tussen hulle twee gemaak; en Elia het in die windstorm na die hemel opgevaar. Die hele tyd het Elisa dit gesien.” * Dit was Jehovah se antwoord op Elisa se versoek. Elisa het gesien hoe Elia van hom af weggeneem word, het twee dele van Elia se gees ontvang en het die profeet se geestelike erfgenaam geword.—2 Kon. 2:11-14.

Elisa het die ampskleed wat van Elia afgeval het, opgetel en aangetrek. Daardie kleed het Elisa nou as God se profeet geïdentifiseer. Verdere bewyse van sy aanstelling kon gesien word toe hy later ’n wonderwerk verrig het deur die waters van die Jordaanrivier te verdeel.

Wat Elisa gesien het toe Elia in die windstorm opgevaar het, het ongetwyfeld ’n groot indruk op hom gemaak. ’n Mens sien immers nie elke dag ’n strydwa en perde van vuur nie! Dit het bewys dat Jehovah Elisa se versoek toegestaan het. Wanneer God ons gebede verhoor, sien ons nie ’n visioen van ’n strydwa en perde van vuur nie. Maar ons kan onderskei dat God groot krag gebruik om te verseker dat sy wil  gedoen word. En wanneer ons waarneem dat Jehovah die aardse deel van sy organisasie seën, kan ons as ’t ware sy hemelse strydwa in aksie “sien”.—Eseg. 10:9-13.

Elisa het baie ondervindinge gehad wat hom van Jehovah se ontsaglike krag oortuig het. Trouens, God se heilige gees het die profeet in staat gestel om 16 wonderwerke te verrig—twee keer soveel as dié wat aan Elia toegeskryf word. * Die tweede keer dat Elisa perde en strydwaens van vuur gesien het, was gedurende die krisis by Dotan wat aan die begin van hierdie artikel beskryf word.

ELISA HET OP JEHOVAH VERTROU

Hoewel Elisa by Dotan deur vyande omring was, het hy kalm gebly. Waarom? Omdat hy sterk geloof in Jehovah gehad het. Ons het ook sulke geloof nodig. Ons moet dus vir God se heilige gees bid sodat ons geloof en ander aspekte van die vrug van die gees kan openbaar.—Luk. 11:13; Gal. 5:22, 23.

Die voorval by Dotan het Elisa ook goeie rede gegee om op Jehovah en sy onsigbare beskermende leërs te vertrou. Die profeet het besef dat God engelemagte gestuur het om die stad en dié wat dit beleër het, te omsingel. Deur die vyand met blindheid te slaan, het God Elisa en sy dienskneg wonderdadig gered (2 Kon. 6:17-23). Op daardie kritieke oomblik het Elisa, soos in ander situasies, geloof beoefen en ten volle op Jehovah vertrou.

Laat ons, soos Elisa, op Jehovah God vertrou (Spr. 3:5, 6). As ons dit doen, “sal [God] aan ons guns betoon en ons seën” (Ps. 67:1). Ons word wel nie letterlik deur strydwaens en perde van vuur omring nie. Maar gedurende die “groot verdrukking” sal Jehovah ons as ’n wêreldwye broederskap beskerm (Matt. 24:21; Op. 7:9, 14). Tot dan moet ons altyd onthou dat “God . . . vir ons ’n toevlug [is]”.—Ps. 62:8.

^ par. 16 Elia het nie opgevaar na die hemele wat die geestelike woonplek van Jehovah en sy engeleseuns is nie. Sien Die Wagtoring van 15 September 1997, bladsy 15.

^ par. 19 Sien Die Wagtoring van 1 Augustus 2005, bladsy 10.