Vrae van lesers
Sal dit vir Christenouers gepas wees om hulle uitgesette kind gedurende gemeentelike vergaderinge by hulle te laat sit?
Daar is geen rede om uitermate besorg te wees oor waar ’n uitgesette persoon in die Koninkryksaal sit nie. Hierdie tydskrif het Christenouers nog altyd aangespoor om geestelike hulp te verleen aan ’n uitgesette kind wat nog by die huis woon as hulle dink dat dit gepas sou wees. Volgens Die Wagtoring van 15 November 1988, bladsye 19 en 20, kan ouers selfs die Bybel studeer met ’n uitgesette minderjarige wat by hulle woon. Sodoende sal die kind hopelik die aanmoediging ontvang wat hy nodig het om sy lewenswyse reg te stel. *
Wat sitplekreëlings in die Koninkryksaal betref, is dit sekerlik redelik dat ’n uitgesette minderjarige stil by sy ouers kan sit. Aangesien dit nie ’n vereiste is dat ’n uitgesette persoon agter in die saal sit nie, behoort niemand daarteen beswaar te maak as ’n uitgesette kind langs sy ouers sit, ongeag waar hulle sit nie. Omdat ouers na hulle kinders se geestelikheid omsien, sal hulle beslis wil seker maak dat hy ten volle by die vergaderinge baat vind. Daarom sal dit moontlik beter wees dat die kind by hulle sit, eerder as wat hy sonder toesig iewers anders sit.
Maar sê nou ’n uitgesette kind woon nie meer by sy ouers nie? Sou dit ’n verskil maak? In die verlede het hierdie tydskrif duidelik getoon watter gesindheid ’n Christen moet probeer behou in verband met assosiasie met ’n uitgesette gesinslid wat nie by die huis woon nie. * Wanneer ’n uitgesette persoon stil gedurende die vergadering by sy gesinslede sit, is dit egter glad nie dieselfde as wanneer gesinslede na geleenthede soek om onnodig met hom te assosieer nie. As die getroue gesinslede die regte gesindheid teenoor hulle uitgesette gesinslid het en probeer om die skriftuurlike raad aangaande assosiasie met hom toe te pas, is daar blykbaar geen rede om besorg te wees nie.—1 Kor. 5:11, 13; 2 Joh. 11.
Hetsy ’n uitgesette persoon langs ’n gesinslid of langs enige ander lid van die gemeente sit, dit moenie ’n rede tot kommer word solank hy hom op gepaste wyse gedra nie. As ’n mens beperk waar mense mag sit, kan dit verskeie probleme veroorsaak, afhangende van die omstandighede. As almal wat teenwoordig is, insluitende getroue gesinslede, die Bybelbeginsels in verband met uitsetting probeer respekteer, en as dit nie ’n rede tot struikeling vir die broers raak nie, is daar geen rede om uitermate besorg te wees oor waar diegene wat Christelike vergaderinge bywoon, sit nie. *
^ par. 3 Hoewel hierdie artikel na die uitgesette minderjarige as manlik verwys, is die punte wat bespreek word, op albei geslagte van toepassing.
^ par. 5 Sien Die Wagtoring van 1 Desember 1981, bladsye 26 en 27.
^ par. 6 Dit is ’n bywerking van wat verskyn het in The Watchtower van 1 April 1953, bladsy 223.