Watter soort mense behoort ons te wees?
“Watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid!”—2 PET. 3:11.
1, 2. ‘Watter soort mense behoort ons te wees’ om God se goedkeuring te verkry?
DIT is normaal om besorg te wees oor wat ander van ons dink. Maar as Christene moet ons tog sekerlik meer besorg wees oor wat Jehovah van ons dink. Hy is immers die grootste Persoon in die heelal, en by hom is “die bron van die lewe”.—Ps. 36:9.
2 Die apostel Petrus beklemtoon ‘watter soort mense ons behoort te wees’ uit Jehovah se oogpunt en spoor ons aan om bewys te lewer van “heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid”. (Lees 2 Petrus 3:11.) As ons God se goedkeuring wil verkry, moet ons “gedrag” heilig wees, dit wil sê dit moet sedelik, verstandelik en geestelik rein wees. Wat meer is, ons moet “dade van godvrugtige toegewydheid” verrig uit eerbied en lojale liefde vir God. As ons sy goedkeuring wil verkry, moet ons dus nie net let op ons gedrag nie, maar ook op die persoon wat ons innerlik is. Aangesien Jehovah die “ondersoeker van die hart” is, weet hy of ons gedrag heilig is en of ons uitsluitlik aan hom toegewyd is of nie.—1 Kron. 29:17.
3. Watter vrae in verband met ons verhouding met God moet ons ons afvra?
3 Satan die Duiwel wil nie hê dat ons God se goedkeuring moet probeer verkry nie. Trouens, hy doen alles in sy vermoë om ons ons verhouding met Jehovah te laat prysgee. Satan huiwer nie om leuens en bedrog te gebruik om ons te verlei en om ons te kry om ons rug te draai op die God wat ons aanbid nie (Joh. 8:44; 2 Kor. 11:13-15). Ons moet ons dus afvra: ‘Hoe bedrieg Satan mense? Wat kan ek doen om my verhouding met Jehovah te beskerm?’
HOE BEDRIEG SATAN MENSE?
4. Waarop spits Satan hom toe, en waarom?
4 “Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word”, het die dissipel Jakobus geskryf. “Daarna, wanneer die begeerte vrugbaar geword het, baar dit sonde; en wanneer die sonde volbring is, bring dit die dood voort” (Jak. 1:14, 15). In ’n poging om ons verhouding met God te vernietig, spits Satan hom toe op die bron van ons begeertes—ons hart.
5, 6. (a) Hoe probeer Satan ons hart beïnvloed? (b) Watter versoekings gebruik Satan om die begeertes van ons hart te probeer verderf, en hoeveel ondervinding het hy hierin?
5 Hoe probeer Satan ons hart beïnvloed? “Die hele wêreld lê in die mag van die bose”, sê die Bybel (1 Joh. 5:19). Satan se wapens sluit “die dinge in die wêreld” in. (Lees 1 Johannes 2:15, 16.) Die Duiwel het die wêreld waarin ons lewe, sorgvuldig oor die verloop van duisende jare gevorm. Aangesien ons in hierdie wêreld lewe, moet ons teen sy subtiele metodes waak.—Joh. 17:15.
6 Satan gebruik metodes wat bedoel is om die begeertes van die hart te verderf. Die apostel Johannes identifiseer drie versoekings wat Satan gebruik: (1) “die begeerte van die vlees”, (2) “die begeerte van die oë” en (3) “die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele”. Satan het dit gebruik om Jesus in die wildernis te versoek. Satan het jare se ondervinding in die gebruik van hierdie strikke, en daarom gebruik hy dit vandag doeltreffend en pas hy sy benadering by elke persoon se swakhede aan. Voordat ons bespreek wat ons kan doen om ons hierteen te beskerm, kan ons kyk na hoe die Duiwel sekere versoekings suksesvol teen Eva gebruik het, maar nie daarin geslaag het om die Seun van God daarmee te verlei nie.
“DIE BEGEERTE VAN DIE VLEES”
7. Hoe het Satan “die begeerte van die vlees” gebruik om Eva te versoek?
7 Alle mense moet eet om aan die lewe te bly. Die Skepper het die aarde ontwerp om voedsel in oorvloed voort te bring. Satan sal dalk ons natuurlike begeerte na voedsel probeer uitbuit om ons te kry om nie God se wil te doen nie. Let op hoe hy dit met Eva gedoen het. (Lees Genesis 3:1-6.) Satan het vir Eva gesê dat sy nie sal sterf as sy van die vrug van “die boom van die kennis van goed en kwaad” eet nie en dat sy die dag as sy daarvan eet, soos God sou wees (Gen. 2:9). Die Duiwel het dus geïnsinueer dat Eva nie aan God gehoorsaam hoef te wees om te lewe nie. Wat ’n blatante leuen was dit tog! Toe die idee in Eva se verstand geplaas is, het sy twee opsies gehad: Sy kon die idee verwerp of sy kon aanhou om daaraan te dink, wat haar begeerte na die vrug sou laat groei. Ten spyte van die feit dat sy van al die ander bome van die tuin kon eet, het sy gekies om aan te hou dink aan wat Satan gesê het oor die boom in die middel van die tuin en het sy “van sy vrugte begin neem en dit geëet”. Satan het dus ’n begeerte by haar gewek na iets wat deur haar Skepper verbied is.
8. Hoe het Satan “die begeerte van die vlees” gebruik om Jesus te versoek, en waarom was hierdie versoeking nie suksesvol nie?
8 Satan het dieselfde metode gebruik toe hy Jesus in die wildernis versoek het. Nadat Jesus 40 dae en 40 nagte lank gevas het, het Satan Jesus se begeerte na voedsel probeer uitbuit. “As jy ’n seun van God is”, het Satan gesê, “sê vir hierdie klip om ’n brood te word” (Luk. 4:1-3). Jesus het twee opsies gehad: Hy kon besluit om nie sy wonderdadige krag te gebruik om sy behoefte aan voedsel te bevredig nie of hy kon besluit om dit wel te gebruik. Jesus het geweet dat hy nie hierdie krag om selfsugtige doeleindes moet gebruik nie. Hoewel hy honger was, was sy verhouding met Jehovah vir hom belangriker as om sy honger te stil. “Daar staan geskrywe: ‘Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van alles wat uit Jehovah se mond uitgaan’”, het Jesus gesê.—Luk. 4:4, vtn. in NW.
“DIE BEGEERTE VAN DIE OË”
9. Wat word deur die uitdrukking “die begeerte van die oë” te kenne gegee, en hoe het Satan hierdie begeerte in Eva se geval uitgebuit?
9 Nog ’n versoeking wat Johannes gemeld het, is “die begeerte van die oë”. Die uitdrukking gee te kenne dat ’n mens iets kan begin begeer deur bloot daarna te kyk. In die geval van Eva het Satan hierdie begeerte uitgebuit deur te sê: “Julle oë [sal] sekerlik geopen . . . word.” Hoe meer Eva na die verbode vrug gekyk het, hoe aanlokliker het dit vir haar gelyk. Eva het gesien dat die boom “’n lus vir die oë is”.
10. Hoe het Satan “die begeerte van die oë” gebruik om Jesus te versoek, en hoe het Jesus gereageer?
10 Wat het Satan in die geval van Jesus gedoen? Satan het “[Jesus] binne ’n oomblik al die koninkryke van die bewoonde aarde gewys; en die Duiwel het vir hom gesê: ‘Ek sal jou al hierdie gesag en hulle heerlikheid gee’” (Luk. 4:5, 6). Jesus het nie al die koninkryke met sy letterlike oë in ’n oomblik gesien nie, maar Satan moes gedink het dat die heerlikheid van hierdie koninkryke, wat hy in ’n visioen uitgebeeld het, vir Jesus ’n versoeking sou wees. Satan het Jesus skaamteloos versoek: “As jy . . . ’n daad van aanbidding voor my verrig, sal dit alles joune wees” (Luk. 4:7). Jesus wou in geen opsig die soort persoon wees wat Satan wou hê hy moes wees nie. Hy het onmiddellik gereageer deur te sê: “Daar staan geskrywe: ‘Jehovah jou God moet jy aanbid, en aan hom alleen moet jy heilige diens verrig.’”—Luk. 4:8.
“DIE SPOGGERIGE VERTOON VAN ’N MENS SE LEWENSMIDDELE”
11. Hoe is Eva deur Satan versoek?
11 Nog een van die dinge in die wêreld wat Johannes meld, is “die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele”. Toe Adam en Eva die enigste mense op aarde was, kon hulle natuurlik nie voor ander mense ’n ‘spoggerige vertoon van hulle lewensmiddele’ maak nie. Maar hulle het ’n trotse gesindheid geopenbaar. Toe Satan Eva versoek het, het hy geïnsinueer dat God iets wonderliks van haar weerhou. Die Duiwel het vir haar gesê dat sy, die dag as sy van “die boom van die kennis van goed en kwaad” eet, “soos God sal word deur goed en kwaad te ken” (Gen. 2:17; 3:5). Satan het dus te kenne gegee dat Eva van Jehovah onafhanklik kon wees. Trots was klaarblyklik een rede waarom sy die leuen aanvaar het. Sy het van die verbode vrug geëet omdat sy geglo het dat sy nie werklik sou doodgaan nie. Hoe verkeerd was sy tog!
12. Wat is nog ’n manier waarop Satan Jesus versoek het, en hoe het Jesus gereageer?
12 In teenstelling met Eva het Jesus ’n wonderlike voorbeeld van nederigheid gestel! Satan het hom op ’n ander manier probeer versoek, maar Jesus het selfs die gedagte daaraan verwerp om iets dramaties te doen wat God op die proef sou stel. So ’n daad sou van trots getuig het! Jesus het eerder duidelik en reguit geantwoord: “Daar is gesê: ‘Jy mag Jehovah jou God nie op die proef stel nie.’”—Lees Lukas 4:9-12.
HOE KAN ONS ONS VERHOUDING MET JEHOVAH BESKERM?
13, 14. Verduidelik hoe Satan vandag sekere versoekings gebruik.
13 Vandag gebruik Satan versoekings soos dié wat hy met Eva en Jesus gebruik het. In ’n poging om “die begeerte van die vlees” uit te buit, gebruik die Duiwel sy wêreld om onsedelikheid en oormatige etery en drinkery te bevorder. Deur middel van pornografie, veral op die Internet, kan hy die aandag trek van ’n onbehoedsame kyker en “die begeerte van die oë” uitbuit. En wat ’n groot versoeking is materialisme, mag en roem tog vir trotse mense en diegene wat geneig is om ‘’n spoggerige vertoon van hulle lewensmiddele’ te maak!
14 “Die dinge in die wêreld” is soos die lokaas van ’n visserman. Dit is aantreklik, maar aan elke lokaas is daar ’n vishoek. Satan gebruik dinge wat mense as alledaagse behoeftes beskou om ’n begeerte by hulle te wek om iets te doen wat in stryd is met God se wette. Sulke subtiele versoekings is bedoel om ons begeertes te beïnvloed en ons hart te verderf. Dit is in werklikheid ’n poging om ons te laat glo dat ons persoonlike behoeftes en gerief belangriker is as die wil van God. Sal ons voor sulke versoekings swig?
15. Hoe kan ons Jesus navolg en Satan se versoekings weerstaan?
15 Hoewel Eva voor Satan se versoekings geswig het, het Jesus dit met welslae weerstaan. Hy het elke keer ’n skriftuurlike antwoord gegee en gesê: “Daar staan geskrywe” of “Daar is gesê”. As ons ywerige studente van die Bybel is, sal ons goed daarmee vertroud wees en sal ons, wanneer ons in versoeking kom, verse kan herroep wat ons sal help om nugter te dink (Ps. 1:1, 2). Om skriftuurlike voorbeelde in gedagte te hou van getroue persone wat aan God lojaal was, sal ons help om hulle na te volg (Rom. 15:4). As ons ware eerbied vir Jehovah het, liefhet wat hy liefhet en haat wat hy haat, sal dit ons beskerm.—Ps. 97:10.
16, 17. Watter uitwerking kan ons “denkvermoë” hê op die soort persoon wat ons is?
16 Die apostel Paulus spoor ons aan om ons “denkvermoë” te gebruik om die soort persoon te word wat deur God se denke gevorm word, nie deur dié van die wêreld nie (Rom. 12:1, 2). Paulus beklemtoon die belangrikheid daarvan om streng beheer uit te oefen oor ons gedagtes en sê: “Ons werp redenasies omver, en elke hoë ding wat teen die kennis van God opgerig word; en ons bring elke gedagte in gevangenskap om dit aan die Christus gehoorsaam te maak” (2 Kor. 10:5). Ons gedagtes het ’n kragtige uitwerking op die soort persoon wat ons is, en daarom moet ons ‘aanhou om [opbouende dinge] te bedink’.—Fil. 4:8.
17 Ons kan nie verwag om heilig te wees as ons verkeerde gedagtes en begeertes koester nie. Ons moet Jehovah “uit ’n rein hart” liefhê (1 Tim. 1:5). Maar die hart is verraderlik, en ons besef dalk nie eers wat ’n groot uitwerking “die dinge in die wêreld” op ons het nie (Jer. 17:9). Ons moet dus ‘voortdurend toets of ons in die geloof is en onsself voortdurend op die proef stel’ deur ’n eerlike selfondersoek te doen in die lig van wat ons in die Bybel studeer.—2 Kor. 13:5.
18, 19. Waarom moet ons vasbeslote wees om die soort mense te wees wat Jehovah wil hê ons moet wees?
18 Nog iets wat ons help om “die dinge in die wêreld” te weerstaan, is om Johannes se geïnspireerde woorde in gedagte te hou: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Joh. 2:17). Satan se stelsel lyk asof dit vir ewig sal bestaan. Maar dit sal eendag tot ’n einde kom. Niks wat Satan se wêreld ons bied, is blywend nie. As ons dit in gedagte hou, sal dit ons help om nie deur die Duiwel se versoekings verlei te word nie.
19 Die apostel Petrus vermaan ons om die soort mense te wees wat God se goedkeuring wegdra terwyl ons “die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou, waardeur die hemele, wat aan die brand sal wees, tot niet gemaak sal word en die elemente, wat intens warm sal wees, sal smelt!” (2 Pet. 3:12). Daardie dag sal binnekort kom, en Jehovah sal elke deel van Satan se wêreld vernietig. Tot dan sal Satan aanhou om “die dinge in die wêreld” te gebruik om ons in die versoeking te bring, soos hy met Eva en Jesus gedoen het. Ons moenie soos Eva wees wat haar eie begeertes probeer bevredig het nie. As ons dit doen, sal dit daarop neerkom dat ons Satan as ons god erken. Ons moet soos Jesus wees en sulke versoekings weerstaan, ongeag hoe aanloklik en aantreklik Satan dit laat lyk. Mag ons almal vasbeslote wees om die soort mense te wees wat Jehovah wil hê ons moet wees.