Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Laat teenstellings jou help

Laat teenstellings jou help

Sal jy nie saamstem dat Jesus die grootste Onderrigter was wat nog ooit op die aarde was nie? Jy het dalk al probeer om party van sy onderrigmetodes, soos sy gebruik van vrae en illustrasies, na te volg. Maar het jy al opgemerk dat hy dikwels teenstellings gebruik het wanneer hy onderrig het?

Baie mense gebruik teenstellings wanneer hulle praat. Jy doen dit dalk ook, dikwels sonder om eens daaraan te dink. Jy sal miskien iets sê soos: “Hulle het gesê dat al die vrugte ryp is, maar hierdie vrugte is nog baie hard.” Of: “Sy gesels nou lekker met almal hoewel sy ’n skaam kind was.”

In gevalle soos hierdie sal jy eers ’n feit of ’n idee meld; dan lei jy ’n teenstelling in met woorde soos maar, hoewel, eerder of aan die ander kant. Of jy kan die teenstelling vorm deur bykomende inligting te meld of die idee te beklemtoon. Wanneer ’n mens so praat, klink dit natuurlik en kan dit ander help om die punt te snap.

Al is die gebruik van teenstellings nie in party tale of kulture algemeen nie, is dit goed vir ons om die waarde daarvan te besef. Waarom? Omdat dit baie in God se geïnspireerde Woord voorkom. Jesus het dikwels teenstellings gebruik. Dink aan die volgende: “Mense steek ’n lamp op en sit dit nie onder die maatemmer nie, maar op die lampstaander.” “Ek het gekom, nie om [die Wet] tot niet te maak nie, maar om te vervul.” “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar ek sê vir julle dat elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk . . . ” “Daar [is] gesê . . . : ‘Oog vir oog en tand vir tand.’ Ek sê egter vir julle: Moenie die een wat goddeloos is, teëstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang klap, draai die ander een ook na hom toe.”—Matt. 5:15, 17, 27, 28, 38, 39.

Soortgelyke teenstellings word in ander Bybelboeke gevind. Dit kan jou help om ’n punt te verstaan of om ’n beter manier om iets te doen, te beklemtoon. As jy ’n ouer is, kan jy nadink oor hierdie teenstelling: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Ef. 6:4). As die apostel Paulus bloot geskryf het dat ’n vader (of ’n moeder) hulle kind in die dissipline van God moet opvoed, sou dit wys en waar gewees het. Die idee kom egter baie duidelik na vore met die gebruik van die teenstelling: ‘Moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die verstandsregulering van Jehovah op te voed.’

Paulus het later in daardie hoofstuk geskryf: “Ons het ’n worstelstryd, nie teen bloed en vlees nie, maar teen . . . bose geesmagte in die hemelse plekke” (Ef. 6:12). Hierdie teenstelling laat jou moontlik besef dat jy ’n baie ernstige stryd moet voer. Dit is nie teen blote mense nie; dit is eerder teen bose geesmagte.

 VIND BAAT BY TEENSTELLINGS

In dieselfde Bybelboek, Efesiërs, sal jy baie ander tekste vind waar Paulus teenstellings gebruik het. As ons hieroor nadink, sal dit ons moontlik help om Paulus se punt te snap en om duideliker te verstaan wat ons moet doen.

Jy sal dit dalk geniet en nuttig vind om te kyk na die bygaande tabel wat ’n paar teenstellings uiteensit wat in Efesiërs hoofstukke 4 en 5 voorkom. Dink oor jou eie lewe na terwyl jy elke teenstelling lees. Vra jou af: ‘Wat is my gesindheid werklik? Hoe reageer ek in hierdie of ’n soortgelyke situasie? Watter kant van die teenstelling sal ander sê, stem met my optrede ooreen?’ As ’n spesifieke teenstelling jou help besef dat daar iets is waaraan jy moet werk, moet jy dit probeer doen. Laat daardie teenstelling jou help.

Of julle kan die tabel gebruik as deel van julle gesinsaanbidding. Eers kan al die lede van die gesin deur die teenstellings lees. Dan kan een van julle die eerste deel van ’n teenstelling noem, en die ander in die gesin kan die punt probeer onthou wat in die tweede deel beklemtoon word. Dit kan aanleiding gee tot ’n aangename gesinsbespreking oor hoe julle die tweede deel in voller mate kan toepas. Ja, om die teenstellings op hierdie wyse te bespreek, kan jonk en oud help om Christelike gedrag in die gesin en elders na te streef.

Kan jy die tweede deel van die teenstelling onthou?

Hoe beter jy die waarde van teenstellings verstaan, hoe makliker sal dit moontlik vir jou wees om dit in die Bybel raak te sien, en jy sal dalk vind dat dit baie nuttig is in jou Christelike bediening. Jy kan byvoorbeeld vir die huisbewoner sê: “Baie mense sê dat elke persoon ’n onsterflike siel het, maar let op wat God se Woord hier sê.” Of jy kan tydens ’n Bybelstudie vra: “Die meeste mense in hierdie gebied glo dat God en Jesus een persoon is; wat het ons egter uit die Bybel geleer? En wat glo jy?”

Ja, daar is talle leersame teenstellings in die Skrif wat ons kan help om op God se weg te wandel. En ons kan teenstellings gebruik om ander te help om Bybelwaarheid te leer.