Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Neem wyse persoonlike besluite

Neem wyse persoonlike besluite

“Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie.”—SPR. 3:5.

1, 2. Hou jy daarvan om besluite te neem, en hoe voel jy oor party van die besluite wat jy al geneem het?

BESLUITE! Besluite! Ons moet elke dag baie besluite neem. Hoe voel jy oor die besluite waarvoor jy gewoonlik te staan kom? Sommige mense wil graag self oor alles besluit. Hulle dring aan op hulle reg om hulle eie besluite te neem en hou nie daarvan as iemand anders namens hulle besluit nie. Maar ander sien vreeslik daarteen op om besluite te neem in verband met enigiets buiten alledaagse sake. Party wend hulle tot selfhelpboeke of raadgewers en bestee dalk baie geld om die raad te kry waarna hulle soek.

2 Baie van ons is iewers tussen die twee uiterstes. Ons besef dat daar dinge is waaroor ons nie die reg het om te besluit nie en dat ons niks daaraan kan doen nie, maar ons besef ook dat ons op baie lewensgebiede besluite volgens ons persoonlike voorkeure kan neem (Gal. 6:5). Nietemin sal ons waarskynlik erken dat nie al die besluite wat ons neem, noodwendig wys of voordelig is nie.

3. Watter riglyne kan ons help om besluite te neem, maar voor watter uitdaging kom ons nogtans te staan?

3 As knegte van Jehovah kan ons bly wees dat hy duidelike riglyne aangaande baie van die belangrike sake in ons lewe voorsien het. As ons hierdie riglyne volg, weet ons dat ons besluite kan neem wat Jehovah sal behaag en ons tot voordeel sal strek. Ons kom nogtans voor kwessies en situasies te staan waaroor God se Woord nie spesifieke riglyne voorsien nie. Hoe kan ons dan besluit wat ons moet doen? Ons weet byvoorbeeld dat ons nie moet steel nie (Ef. 4:28). Maar wat presies behels dit om te “steel”? Word dit bepaal deur die waarde van die voorwerp wat geneem word, die beweegrede of iets anders? Hoe kan ons besluit wat om te doen wanneer dit kom by sake wat volgens party ’n grys gebied is? Waar kan ons leiding vind?

 DIE GEES VAN ’N GESONDE VERSTAND

4. Watter raad het ons waarskynlik al ontvang toe ons voor ’n besluit te staan gekom het?

4 As ons meld dat ons op die punt staan om ’n belangrike besluit te neem, sal ’n mede-Christen dalk sê dat ons die gees van ’n gesonde verstand aan die dag moet lê. Dit is natuurlik goeie raad. Die Bybel waarsku ons daarteen om oorhaastig op te tree: “Elkeen wat oorhaastig is, stuur gewis op gebrek af” (Spr. 21:5). Maar wat beteken dit om die gees van ’n gesonde verstand aan die dag te lê? Beteken dit bloot dat ons ons tyd moet neem, die saak moet deurdink, redelik moet wees en goeie oordeel aan die dag moet lê? Al hierdie faktore kan ons help om ’n goeie besluit te neem, maar meer is daarby betrokke as ons die gees van ’n gesonde verstand wil openbaar.—Rom. 12:3; 1 Pet. 4:7.

5. Waarom het ons nie van nature ’n verstand wat heeltemal gesond is nie?

5 Ons moet erken dat nie een van ons gebore is met ’n verstand wat heeltemal gesond is nie. Waarom is dit die geval? Want ons almal is in sonde en onvolmaaktheid gebore en dus nie volkome gesond wat ons liggaam of verstand betref nie (Ps. 51:5; Rom. 3:23). Daarbenewens was baie van ons voorheen onder diegene wie se verstande deur Satan “verblind” is; ons was onkundig omtrent Jehovah en sy regverdige standaarde (2 Kor. 4:4; Tit. 3:3). As ons ons besluite dus slegs baseer op wat ons dink goed en redelik is, kan ons onsself bedrieg, ongeag hoe lank ons die besluit oorweeg.—Spr. 14:12.

6. Wat kan ons help om gesondheid van verstand aan te kweek?

6 Hoewel ons glad nie gesond is wat ons liggaam of verstand betref nie, is ons hemelse Vader, Jehovah, in elke opsig volmaak (Deut. 32:4). Gelukkig het hy dit vir ons moontlik gemaak om ons verstand te hervorm en gesondheid van verstand aan te kweek. (Lees 2 Timoteus 1:7.) As Christene wil ons op verstandige wyse dink en redeneer en dan dienooreenkomstig optree. Ons moet ons denke en gevoelens in toom hou, of beheers, en Jehovah se denke, gevoelens en optrede navolg.

7, 8. Vertel ’n ondervinding van hoe ’n goeie besluit ten spyte van druk of probleme geneem kan word.

7 Kyk na ’n voorbeeld. ’n Algemene gebruik onder sekere immigrante is om hulle pasgebore baba na hulle familielede te stuur sodat hulle vir die baba kan sorg en die ouers kan aanhou om te werk en geld te maak. * ’n Vrou wat in die buiteland woon, het geboorte geskenk aan ’n pragtige babaseuntjie. Omtrent dieselfde tyd het sy die Bybel begin studeer en goeie geestelike vordering gemaak. Vriende en familielede het druk op haar en haar man begin plaas om die baba terug huis toe na die oupa en ouma te stuur. Maar weens haar Bybelstudie het veral die vrou besef dat dit haar godgegewe verantwoordelikheid as ’n ouer is om haar kind groot te maak (Ps. 127:3; Ef. 6:4). Moes sy die gebruik volg wat vir baie mense redelik gelyk het? Of moes sy toepas wat sy uit die Bybel geleer het en die gevaar loop om moontlik finansieel te ly en deur party gekritiseer te word? Wat sou jy gedoen het as jy in haar situasie was?

8 Omdat die jong vrou onder druk en spanning verkeer het, het sy haar hart voor Jehovah uitgestort en sy leiding gevra. Sy het met haar Bybelonderrigter en ander in die gemeente oor die situasie gepraat, en dit het haar gehelp om Jehovah se denke oor die saak te kry. Sy het ook in ag geneem watter emosionele skade  dit kinders kan aandoen wanneer hulle gedurende hulle vormingsjare van hulle ouers geskei word. Nadat sy die saak in die lig van die Skrif oorweeg het, het sy tot die slotsom gekom dat dit nie reg is om die baba weg te stuur nie. Haar man het gesien hoe die lede van die gemeente saamgespan het om hulle te help en hoe gelukkig en gesond die baba was. Hy het ’n Bybelstudie aanvaar en vergaderinge saam met sy vrou begin bywoon.

9, 10. Wat beteken dit om die gees van ’n gesonde verstand te openbaar, en hoe kan ons dit doen?

9 Dit is net een geval, maar dit lig toe dat ons nie net kan doen wat ons of ander dink redelik of gerieflik is as ons die gees van ’n gesonde verstand wil openbaar nie. Ons onvolmaakte verstand en hart kan wees soos ’n horlosie wat óf te vinnig óf te stadig loop. As ons hierdeur gelei word, kan dit ernstige probleme tot gevolg hê (Jer. 17:9). Ons moet ons verstand en hart volgens God se betroubare standaarde instel.—Lees Jesaja 55:8, 9.

10 Die Bybel vermaan ons met goeie rede: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak” (Spr. 3:5, 6). Let op die woorde “moenie op jou eie begrip steun nie”. Dit word gevolg deur “slaan ag op [Jehovah]”. Hy is die Een wat werklik ’n gesonde verstand het. Wanneer ons voor ’n besluit te staan kom, moet ons ons dus tot die Bybel wend om te sien wat God se beskouing is. Dan moet ons ons besluit daarop baseer. Dit is wat dit beteken om die gees van ’n gesonde verstand te openbaar—om Jehovah se denke na te volg.

OEFEN JOU WAARNEMINGSVERMOËNS

11. Hoe kan ’n persoon leer om wyse besluite te neem?

11 Dit is nie maklik om te leer hoe om wyse besluite te neem en dit uit te voer nie. Dit kan veral moeilik wees vir diegene wat nuut in die waarheid is of wat nou geestelike vordering begin maak. Maar ware vordering is wel moontlik vir sulke geestelike kindertjies, soos die Bybel na hulle verwys. Dink aan hoe ’n baba leer om te loop sonder om te val. Die sleutel  tot sukses is gewoonlik om klein treetjies te gee en dit oor en oor te doen. Dieselfde geld vir ’n geestelike kindjie wanneer hy moet leer om wyse besluite te neem. Onthou dat die apostel Paulus volwasse mense beskryf het as “dié wie se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is”. Die woorde “deur gebruik” en “geoefen” gee albei te kenne dat volgehoue en herhaalde pogings aangewend moet word, en dit is wat nuwelinge moet doen.—Lees Hebreërs 5:13, 14.

Wanneer ons daagliks die regte keuses maak, oefen ons ons waarnemingsvermoëns (Sien paragraaf 11)

12. Hoe kan ons ons vermoë ontwikkel om wyse besluite te neem?

12 Soos vroeër gemeld is, moet ons elke dag baie besluite neem, groot en klein. Volgens ’n studie, word meer as 40 persent van ons handelinge nie op ’n doelbewuste besluit gebaseer nie, maar is dit die gevolg van diepgewortelde gewoontes. Elke oggend moet jy byvoorbeeld besluit wat om aan te trek. Jy beskou dit dalk as iets kleins en kies jou klere sonder om juis daaroor na te dink, veral as jy haastig is. Maar dit is belangrik om te kyk of jou kleredrag pas by jou rol as ’n kneg van Jehovah (2 Kor. 6:3, 4). Wanneer jy klere koop, dink jy dalk aan style en modes, maar wat van beskeidenheid en koste? As ons in hierdie sake die regte keuses maak, sal dit ons help om ons waarnemingsvermoëns te oefen, wat ons weer kan help om in belangriker sake die regte besluite te neem.—Luk. 16:10; 1 Kor. 10:31.

KWEEK DIE WILSKRAG AAN OM TE DOEN WAT REG IS

13. Wat het ons nodig om seker te maak dat ons ons besluite deurvoer?

13 Om die regte besluit te neem, is een ding, maar om daarby te bly en dit deur te voer, is iets heeltemal anders, soos ons almal weet. Party wat byvoorbeeld wil ophou rook, kry dit nie reg nie omdat hulle nie genoeg motivering het nie. Wat nodig is, is die vasbeslotenheid om hulle besluit deur te voer. Sommige glo dat ons wilskrag baie soos ’n spier is. Hoe meer ons dit gebruik of oefen, hoe sterker word dit. As ons dit selde gebruik, sal dit verswak of wegkwyn. Wat kan ons dan help om ons wilskrag te ontwikkel en te versterk sodat ons by ons besluit kan bly en dit kan deurvoer? Ons kan ons tot Jehovah wend.—Lees Filippense 2:13.

14. Wat het Paulus die krag gegee om te doen wat hy geweet het hy moet doen?

14 Paulus het dit uit eie ondervinding geleer. Hy het eenkeer gesê: “Die vermoë om te wil, is by my aanwesig, maar die vermoë om die goeie te bewerk, is nie.” Hy het geweet wat hy wou doen en wat hy moet doen, maar by tye het iets hom verhinder om dit deur te voer. Hy het erken: “Ek skep werklik behae in die wet van God na die mens wat ek innerlik is, maar ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde wat in my lede is.” Was sy situasie hopeloos? Geensins nie. Hy het gesê: “Aan God die dank deur middel van Jesus Christus, ons Here!” (Rom. 7:18, 22-25). Hy het ook geskryf: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”—Fil. 4:13.

15. Wat is die gevolg wanneer ’n persoon daadwerklik optree of dit nie doen nie?

15 Dit is duidelik dat daadwerklike optrede nodig is om God te behaag. Dink aan Elia se woorde aan die Baälaanbidders en die afvallige Israeliete by die berg Karmel: “Hoe lank sal julle op twee verskillende gedagtes hink? As Jehovah die ware God is, gaan volg hom; maar as dit Baäl is, gaan volg hom” (1 Kon. 18:21). Die kinders van Israel het geweet wat hulle behoort te doen, maar hulle het weens besluiteloosheid ‘gehink’. In skerp  teenstelling hiermee het Josua jare vroeër ’n goeie voorbeeld gestel toe hy vir die Israeliete gesê het: “As dit sleg is in julle oë om Jehovah te dien, kies dan vandag vir julle wie julle sal dien . . . Wat my en my huis betref, ons sal Jehovah dien” (Jos. 24:15). Wat het sy vasbeslotenheid tot gevolg gehad? Josua en ander getroues is geseën deurdat hulle in die Beloofde Land ingegaan het, “’n land wat oorloop van melk en heuning”.—Jos. 5:6.

NEEM WYSE BESLUITE EN WORD GESEËN

16, 17. Lig toe watter voordele dit meebring wanneer besluite in ooreenstemming met God se wil geneem word.

16 Beskou ’n hedendaagse situasie. ’n Pasgedoopte broer is getroud, en hy en sy vrou het drie klein kinders. Eendag het ’n werksmaat voorgestel dat hy en die broer by ’n ander maatskappy gaan werk wat beter betaal het en meer byvoordele gebied het. Ons broer het oor die saak nagedink en daaroor gebid. Hy het sy huidige werk, wat nie juis goed betaal nie, gekies sodat hy nie naweke hoef te werk nie, wat dit vir hom moontlik gemaak het om die vergaderinge by te woon en saam met sy gesin velddiens te doen. Hy het nagedink oor die feit dat hy—ten minste ’n tyd lank—nie hierdie vryheid sou hê as hy die nuwe werk aanvaar nie. Wat sou jy gedoen het?

17 Die broer het die geestelike voordele teen ’n hoër inkomste opgeweeg en het die ander werk van die hand gewys. Dink jy dat hy spyt was oor die besluit? Glad nie. Hy het gevoel dat die geestelike seëninge vir hom en sy gesin baie voordeliger is as ’n hoër salaris. Hy en sy vrou was verheug toe hulle oudste dogter, wat tien jaar oud was, vir hulle gesê het dat sy lief is vir haar ouers, lief is vir die broers en susters en baie lief is vir Jehovah. Sy het gesê dat sy haar lewe aan Jehovah wil toewy en gedoop wil word. Hoe dankbaar moes sy tog gewees het vir die goeie voorbeeld wat haar pa gestel het deur Jehovah se aanbidding eerste in sy lewe te stel!

Neem wyse besluite en vind vreugde onder God se volk (Sien paragraaf 18)

18. Waarom is dit belangrik dat ons elke dag wyse besluite neem?

18 Die Grotere Moses, Jesus Christus, lei ware aanbidders van Jehovah al dekades lank deur die wildernis van Satan se wêreld. As die Grotere Josua is Jesus nou slaggereed om ’n einde te maak aan hierdie korrupte stelsel en om sy volgelinge in die beloofde nuwe wêreld van regverdigheid in te lei (2 Pet. 3:13). Daarom is dit nie nou die tyd om terug te keer na ons vorige denkwyse of ons ou gewoontes, waardes en strewes nie. Dit is eerder die tyd om al hoe duideliker te begryp wat die wil van God vir ons is (Rom. 12:2; 2 Kor. 13:5). Laat jou daaglikse besluite en keuses weerspieël dat jy die soort persoon is wat God se ewige seën waardig is.—Lees Hebreërs 10:38, 39.

^ par. 7 Nog ’n rede vir hierdie gebruik is dat die oupa en ouma by hulle vriende en familielede met hulle kleinkinders kan spog.