Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Word verander

Word verander

“Word verander deur julle verstand te hervorm.”—ROM. 12:2.

1, 2. Hoe word ons deur ons opvoeding en ons omgewing beïnvloed?

ONS almal word baie deur ons opvoeding en ons omgewing beïnvloed. Ons trek op ’n sekere manier aan; ons hou van sekere kos; ons gedra ons op ’n sekere wyse. Waarom? Gedeeltelik weens die invloed van die mense om ons en ons omstandighede.

2 Daar is egter dinge wat baie belangriker is as ons keuse van kos en die styl van ons klere. Ons word byvoorbeeld grootgemaak om party dinge as reg en aanvaarbaar te beskou, maar om ander as verkeerd en onaanvaarbaar te verwerp. Baie van hierdie dinge is ’n persoonlike saak en verskil van persoon tot persoon. Ons keuses weerspieël moontlik selfs die prikkels van ons gewete. Die Bybel erken dat “mense van die nasies, wat geen wet het nie, [dikwels] van nature die dinge van die wet doen” (Rom. 2:14). Beteken dit egter dat ons die gebruike en standaarde waarmee ons grootgeword het en wat algemeen is in ons gebied, maar net kan navolg solank ’n spesifieke wet van God dit nie verbied nie?

3. Om watter twee redes volg Christene nie bloot algemeen aanvaarde gebruike en standaarde na nie?

3 Daar is ten minste twee belangrike redes waarom Christene dit nie kan doen nie. Eerstens herinner die Bybel ons: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is later die weë van die dood” (Spr. 16:25). Weens ons onvolmaaktheid het ons as mense nie ten volle die vermoë om te bepaal wat werklik voordelig is om ons voetstappe foutloos te rig nie (Spr. 28:26; Jer. 10:23). Tweedens toon die Bybel dat die tendense en standaarde van die wêreld gemanipuleer en beheer word deur niemand anders nie as Satan, “die god van hierdie stelsel van dinge” (2 Kor. 4:4; 1 Joh. 5:19). As ons dus Jehovah se seën en goedkeuring wil geniet, moet ons gehoor gee aan die vermaning wat gevind word in Romeine 12:2.Lees.

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 ’n Aantal belangrike punte wat in Romeine 12:2 opgeteken is, verdien ons aandag. (1) Waarom moet  ons “verander” word? (2) Wat behels die verandering? en (3) Hoe kan ons verander word? Kom ons kyk na hierdie vrae.

WAAROM MOET ONS VERANDER WORD?

5. Vir wie sou Paulus se woorde in Romeine 12:2 spesiale betekenis gehad het?

5 Die apostel Paulus se woorde in die brief aan die Romeine is nie aan ongelowiges of aan mense oor die algemeen gerig nie, maar aan sy gesalfde mede-Christene (Rom. 1:7). Hy het hulle aangespoor om verander te word en nie “langer na hierdie stelsel van dinge gevorm [te] word nie”. Vir die Christene wat destyds, ongeveer 56 HJ, in Rome was, het die “stelsel van dinge” die standaarde, gebruike, maniere en style ingesluit wat die Romeinse wêreld gekenmerk het. Paulus se gebruik van die frase ‘moenie langer nie’ gee te kenne dat daardie stelsel van dinge nog steeds ’n invloed op party van hulle gehad het. Watter invloed het dit op ons broers en susters van daardie tyd uitgeoefen?

6, 7. Hoe het die manier waarop die Romeine gelewe en aanbid het, dit in Paulus se dag moeilik gemaak om ’n Christen te wees in Rome?

6 Vandag sien toeriste in Rome gewoonlik die ruïnes van die tempels, grafkelders, monumente, arenas, teaters, ensovoorts. Party van hierdie ruïnes dateer uit die eerste eeu. Dit bied insig in hoe mense in antieke Rome gelewe en aanbid het. Ons kan ook in geskiedenisboeke lees oor die gladiatorgevegte, strydwawedrenne en toneelstukke en musiekblyspele oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe, waarvan party skandelik was. Rome was ook ’n welvarende handelsentrum, en daarom was daar baie geleenthede om geld te maak.—Rom. 6:21; 1 Pet. 4:3, 4.

7 Ten spyte van al hulle tempels en magdom gode het die Romeine oor die algemeen nie ’n werklike, persoonlike verhouding opgebou met die gode wat hulle aanbid het nie. Vir hulle het godsdiens hoofsaaklik bestaan uit rituele—vir geboortes, troues en begrafnisse—wat deel was van hulle daaglikse lewe. Jy kan jou net indink hoe moeilik dit vir die Christene in Rome was. Omdat baie van hulle hierdie agtergrond gehad het, moes hulle natuurlik verander word sodat hulle ware Christene kon word, en die verandering sou nie op hulle doopdag opgehou het nie.

8. Hoe hou die wêreld vir hedendaagse Christene ’n gevaar in?

8 Soos die Romeinse wêreld, hou die wêreld van vandag ook vir toegewyde Christene ’n gevaar in. Waarom? Omdat die gees van die wêreld op baie maniere geopenbaar word. (Lees Efesiërs 2:2, 3; 1 Johannes 2:16.) Aangesien ons dag ná dag aan die wêreld se begeertes, denke, waardes en sedes blootgestel word, loop ons heeltyd die gevaar om deur die wêreld verswelg te word. Gevolglik het ons goeie rede om ag te slaan op die geïnspireerde vermaning om nie “langer na hierdie  stelsel van dinge gevorm [te] word nie” en om ‘verander te word’. Wat moet ons doen?

WAT MOET VERANDER WORD?

9. Watter veranderinge het party aangebring voordat hulle aan die vereistes kon voldoen om gedoop te word?

9 Wanneer ’n persoon Bybelwaarheid bestudeer en toepas, begin hy geestelike vordering maak. Hierdie vordering word weerspieël in die veranderinge wat hy in sy lewe maak in ooreenstemming met wat hy geleer het. Hy verwerp valse godsdiensgebruike en lê die onwenslike eienskappe van sy vorige lewenswyse af, en hy kweek die Christelike persoonlikheid aan (Ef. 4:22-24). Ons is bly om te sien hoe honderdduisende elke jaar sulke vordering maak en aan die vereistes voldoen om gedoop te word as ’n simbool van hulle toewyding aan Jehovah God. Dit maak beslis Jehovah se hart bly (Spr. 27:11). Maar is hierdie veranderinge al wat nodig is?

Baie mense moet uit Satan se wêreld uitkom en verander word (Sien paragraaf 9)

10. Hoe verskil verandering van verbetering?

10 Om verander te word, behels in werklikheid meer as om vordering te maak of te verbeter. ’n Produk word moontlik beskryf of geadverteer as “verbeter”, maar eintlik is dit nog steeds dieselfde produk. Dalk is net een nuwe bestanddeel bygevoeg, en die verpakking is miskien aantrekliker. Volgens Vine’s Expository Dictionary dui die frase “word verander” in Romeine 12:2 op ’n innerlike verandering deur die hernuwing of verandering van die denke deur middel van die krag van heilige gees. Die verandering wat ’n Christen moet aanbring, behels dus meer as om net skadelike gewoontes, onheilsame spraak en onsedelike gedrag af te skaf. Party mense wat geen kennis van die Bybel het nie, probeer ook om sulke dinge te vermy. Wat behels die verandering wat Christene moet ondergaan dan?

11. Hoe vind verandering volgens Paulus plaas?

11 “Word verander deur julle verstand te hervorm”, het Paulus geskryf. Die “verstand” hou verband met ons denkvermoëns. Maar soos dit in die Bybel gebruik word, behels dit ook ons gesindheid, ons redeneringsvermoë en die dinge waaraan ons geneig is om te dink. Vroeër in sy brief aan die Romeine het Paulus mense beskryf wat “’n afgekeurde geestestoestand” weerspieël het. Hulle was geneig tot “onregverdigheid, goddeloosheid, hebsug, slegtheid; vol afguns, moord, twis, bedrog” en ander skadelike dinge (Rom. 1:28-31). Ons kan sien waarom Paulus diegene wat in so ’n omgewing grootgeword het en God begin dien het, aangespoor het om ‘verander te word’ en om hulle “verstand te hervorm”.

‘Laat alle toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word.’—Ef. 4:31

12. Wat dink jy is vandag die algemene beskouing van mense, en hoe hou hierdie gesindheid vir Christene ’n gevaar in?

12 Ongelukkig word ons in die wêreld omring deur mense wat by Paulus se beskrywing pas. Hulle dink waarskynlik  dat dit outyds of onverdraagsaam is om op standaarde en beginsels aan te dring. Baie onderwysers en ouers het ’n permissiewe benadering en bevorder ’n “liberale” denkwyse. Vir hulle is alles relatief; niks is absoluut nie. Selfs baie wat beweer dat hulle godsdienstig is, dink dat hulle vry is om te doen wat hulle dink reg is en dat hulle nie verplig is om God en sy gebooie te gehoorsaam nie (Ps. 14:1). Hierdie gesindheid hou werklik vir ware Christene ’n gevaar in. Onbehoedsames kan dieselfde beskouing van teokratiese reëlings begin aanneem. Hulle sal miskien nie bereid wees om gemeentelike reëlings te volg nie en sal dalk selfs kla oor enigiets waarvan hulle nie hou nie. Of moontlik stem hulle nie heeltemal saam met Bybelraad in verband met vermaak, die gebruik van die Internet en hoër onderwys nie.

13. Waarom moet ons ’n eerlike selfondersoek doen?

13 Gevolglik moet ons, as ons nie langer deur die wêreld gevorm wil word nie, ’n eerlike ondersoek doen van ons diepste gevoelens en gesindhede, ons doelwitte en ons waardes. Sulke dinge is dalk nie vir ander sigbaar nie. Hulle sê miskien vir ons dat ons goed doen. Maar net ons weet of die dinge wat ons uit die Bybel geleer het, ons werklik in hierdie belangrike opsigte verander het en dit steeds doen.—Lees Jakobus 1:23-25.

HOE DIE VERANDERING PLAASVIND

14. Wat kan ons help om die nodige veranderinge aan te bring?

14 Die verandering behels wie ons innerlik is, en daarom het ons iets nodig wat deur die oppervlak tot diep binne-in ons kan dring. Wat kan ons in hierdie opsig help? Wanneer ons leer wat Jehovah volgens die Bybel van ons vereis, openbaar ons reaksie op wat ons lees, wat in ons hart is en watter aanpassings ons moet maak om in ooreenstemming met die “volmaakte wil van God” op te tree.—Rom. 12:2; Heb. 4:12.

15. Watter soort verandering kan Jehovah se vorming teweegbring?

15 Lees Jesaja 64:8. Ons kan ’n belangrike les leer uit die beeldspraak wat die profeet Jesaja gebruik het. Hoe word ons, die klei, gevorm deur Jehovah, die Pottebakker? Hy vorm ons sekerlik nie fisies deur ons byvoorbeeld ’n aantrekliker voorkoms of ’n beter liggaamsbou te gee nie. Jehovah voorsien nie fisiese opleiding nie, maar geestelike opleiding. As ons toelaat dat hy ons vorm, is die verandering wat plaasvind, innerlik, of geestelik—presies wat ons nodig het om teen wêreldse invloede te stry. Hoe werk die vormingsproses?

16, 17. (a) Beskryf wat ’n pottebakker doen met die klei wat hy gebruik om erdewerk van hoë gehalte te maak. (b) Hoe help God se Woord ons om verander te word in iets wat vir Jehovah kosbaar is?

16 Om erdeware van hoë gehalte te maak, gebruik ’n pottebakker goeie klei. Maar daar is twee dinge wat hy moet doen. Eers moet die klei gewas word om enige onsuiwerhede of mineraalbesoedeling te verwyder. Daarna moet die klei met die regte hoeveelheid water gemeng word en bewerk word sodat dit die vorm sal behou waarin dit onder druk gevorm is.

17 Let daarop dat water gebruik word om die klei te reinig en om dit die regte samestelling en vormbaarheid te gee sodat dit in ’n houer, selfs ’n delikate houer, gevorm kan word. Sien ons hoe God se Woord soortgelyke rolle in ons lewe kan speel? Dit kan ons help om ons ou denkwyse, toe ons God nie geken het nie, af te lê en om verander te word in iets wat in sy oë kosbaar is (Ef. 5:26). Dink aan hoeveel keer ons aangespoor word om die Bybel daagliks te lees en Christelike vergaderinge,  waar God se Woord bespreek word, gereeld by te woon. Waarom word ons aangemoedig om hierdie dinge te doen? Want wanneer ons dit doen, laat ons toe dat Jehovah ons vorm.—Ps. 1:2; Hand. 17:11; Heb. 10:24, 25.

Die verandering wat jy ondergaan het, sal jou help om probleme beter te hanteer as in die verlede (Sien paragraaf 18)

18. (a) Waarom is bepeinsing noodsaaklik as ons wil hê dat God se Woord ’n invloed op ons moet hê en ons moet verander? (b) Watter vrae kan ons ons afvra?

18 As ons wil hê dat God se Woord die nodige veranderinge in ons moet teweegbring, is gereelde Bybellees en -studie maar net die begin. Baie mense lees die Bybel van tyd tot tyd en het dus taamlik vertroud geword met wat dit sê. Miskien het jy al sulke mense in die veldbediening ontmoet. Party kan selfs Skrifgedeeltes uit die kop opsê. * Maar dalk het dit nie juis ’n uitwerking op hulle denkwyse of lewenswyse nie. Wat ontbreek? God se Woord kan slegs ’n invloed op ’n persoon hê en hom verander as hy toelaat dat dit in sy hart “insink” (Gal. 6:6, vtn. in NW). Daarom moet ons tyd neem om na te dink oor wat ons leer. Dit sal goed wees as ons ons afvra: ‘Is ek oortuig dat wat ek leer, nie bloot ’n godsdienslering is nie? Het ek nie gesien dat dit die waarheid is nie? Wat meer is, sien ek maniere waarop ek die dinge wat ek leer, in my lewe kan toepas of beskou ek dit net as iets wat ek ander kan leer? Voel ek dat Jehovah persoonlik met my praat?’ As ons ons sulke vrae afvra en daaroor peins, kan dit ons help om groter liefde vir Jehovah in ons hart te ontwikkel. Wanneer ons hart so geraak word, sal dit positiewe veranderinge tot gevolg hê.—Spr. 4:23; Luk. 6:45.

19, 20. By watter Bybelraad kan ons werklik baat vind?

19 As ons God se Woord gereeld lees en daaroor peins, sal dit ons beweeg om aan te hou doen wat ons heel moontlik reeds in sekere mate gedoen het: ‘Om die ou persoonlikheid met sy gebruike af te lê en ons te beklee met die nuwe persoonlikheid, wat deur juiste kennis vernuwe word’ (Kol. 3:9, 10). Ons kan voortgaan om dit met welslae te doen as ons die ware sin van God se Woord begryp en toepas wat ons leer. Die nuwe Christelike persoonlikheid wat dit tot gevolg sal hê, sal ons help om ons teen Satan se slinkse sette te beskerm.

20 “As gehoorsame kinders moet julle nie langer gevorm word volgens die begeertes wat julle vroeër . . . gehad het nie”, herinner die apostel Petrus ons, maar “word . . . in julle hele gedrag heilig” (1 Pet. 1:14, 15). As ons alles in ons vermoë doen om die denke en gesindhede wat ons vroeër gehad het, af te lê en toelaat dat ons verander word, sal dit seëninge meebring, soos ons in die volgende artikel sal sien.

^ par. 18 Sien die voorbeeld in Die Wagtoring van 1 Februarie 1994, bladsy 9, paragraaf 7.