Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan ons “’n wagtende houding” handhaaf?

Hoe kan ons “’n wagtende houding” handhaaf?

“Ek sal ’n wagtende houding . . . inneem.”—MIGA 7:7.

1. Waarom raak party moontlik ongeduldig?

TOE die Messiaanse Koninkryk in 1914 opgerig is, het Satan se stelsel sy laaste dae binnegegaan. Die oorlog in die hemel het tot gevolg gehad dat Jesus die Duiwel en die demone na die omgewing van die aarde neergeslinger het. (Lees Openbaring 12:7-9.) Satan weet dat hy net “’n kort tydjie het” (Op. 12:12). Maar hierdie “tydjie” duur nou al dekades lank voort, en party voel dalk dat die laaste dae lank aanhou. Het ons ongeduldig geraak terwyl ons op Jehovah wag om op te tree?

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Dit kan gevaarlik wees om ongeduldig te wees, want dit kan ons oorhaastig laat optree. Hoe kan ons ’n wagtende houding handhaaf? Hierdie artikel sal ons help om dit te doen deur die volgende vrae te beantwoord. (1) Wat kan ons uit die profeet Miga se voorbeeld oor geduld leer? (2) Watter gebeurtenisse sal die einde van ons wagtyd aandui? (3) Hoe kan ons ons waardering vir Jehovah se geduld toon?

WAT KAN ONS UIT MIGA SE VOORBEELD LEER?

3. Hoe was die toestande in Israel in Miga se dag?

3 Lees Miga 7:2-6. Jehovah se profeet Miga het gesien hoe die nasie Israel geestelik agteruitgegaan het totdat hulle onder die heerskappy van die goddelose koning Agas ’n haglike geestelike toestand bereik het. Miga vergelyk die ontroue Israeliete met “’n doringstruik” en “’n doringheining”. Net soos ’n doringstruik of ’n doringheining enigiemand beseer wat daarin vasloop, het daardie verdorwe Israeliete enigiemand met wie hulle te doen gehad het, leed aangedoen. Mense het so verdorwe geraak dat selfs gesinsverhoudings verbrokkel het. Miga was bewus dat hy niks kon doen om die situasie te verander nie en het dus sy hart voor Jehovah uitgestort. Toe het hy geduldig op God gewag om op te tree. Miga het die vertroue gehad dat Jehovah op Sy tyd sou ingryp.

4. Met watter uitdagings het ons te kampe?

4 Soos Miga, moet ons ook tussen selfsugtige mense lewe. Baie is “ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid” (2 Tim. 3:2, 3). Dit ontstel ons wanneer werksmaats, skoolmaats en bure ’n selfsugtige gesindheid openbaar. Maar party van God se knegte het met ’n selfs groter uitdaging te kampe. Jesus het gesê dat sy volgelinge gesinsteenstand sal ondervind, en hy het woorde soortgelyk aan dié in Miga 7:6 gebruik om te beskryf watter impak sy boodskap sou hê. “Ek het gekom om verdeeldheid te veroorsaak”, het Jesus gesê, “’n man teen sy vader, en ’n dogter teen haar moeder, en ’n jong vrou teen haar skoonmoeder. Ja, ’n mens se eie huisgenote sal sy vyande wees” (Matt. 10:35, 36). Hoe moeilik is dit tog om die bespotting en teenstand te verduur van gesinslede wat nie aan dieselfde geloof as ons behoort nie! As ons so ’n beproewing deurmaak, moet ons nie voor gesinsdruk swig nie. Laat ons eerder lojaal bly en geduldig op Jehovah wag om sake op te los. As ons aanhou om sy hulp te vra, sal hy ons die nodige krag en wysheid gee om te volhard.

5, 6. Hoe het Jehovah Miga beloon, maar wat het Miga nie gesien nie?

5 Jehovah het Miga vir sy geduld beloon. Miga het die ondergang van koning Agas en sy goddelose heerskappy gesien. Hy het gesien hoe koning Agas se seun, die goeie koning Hiskia, die troon beërf en rein aanbidding herstel. En Jehovah se oordeelsboodskap teen Samaria deur Miga is vervul toe die Assiriërs die noordelike koninkryk van Israel ingeval het.—Miga 1:6.

6 Maar Miga het nie die vervulling gesien van al die profesieë wat Jehovah hom geïnspireer het om neer te skryf nie. Miga het byvoorbeeld geskryf: “Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van Jehovah stewig gevestig word bo die top van die berge, en dit sal beslis bo die heuwels verhef word; en volke sal daarheen stroom. En baie nasies sal beslis heengaan en sê: ‘Kom, en laat ons opgaan na die berg van Jehovah’” (Miga 4:1, 2). Miga het gesterf lank voordat hierdie profesie vervul is. Hy was nietemin vasbeslote om tot die dood toe aan Jehovah lojaal te bly, ongeag wat ander om hom gedoen het. In hierdie verband het Miga geskryf: “Wat al die volke betref, elkeen sal in die naam van sy god wandel; maar wat ons betref, ons sal in die naam van Jehovah ons God wandel tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig” (Miga 4:5). Miga kon gedurende tye van benoudheid geduldig wag omdat hy volkome vertroue gehad het dat Jehovah al Sy beloftes sal vervul. Die getroue profeet het op Jehovah vertrou.

7, 8. (a) Watter rede het ons om vertroue in Jehovah te hê? (b) Wat sal die tyd vinniger laat verbygaan?

7 Ons het goeie rede om soortgelyke vertroue in Jehovah te hê. Ons het eerstehands die vervulling van Miga se profesie gesien. Gedurende “die einde van die dae” het miljoene mense uit alle nasies en stamme en tale na “die berg van die huis van Jehovah” gestroom. Ten spyte van die feit dat hulle soms uit strydende nasies kom, het hierdie aanbidders “van hulle swaarde ploegskare” gesmee, en hulle weier om te “leer om oorlog te voer” (Miga 4:3). Wat ’n voorreg het ons tog om deel van Jehovah se vreedsame volk te wees!

8 Ons wil natuurlik hê dat Jehovah binnekort ’n einde aan hierdie goddelose stelsel moet bring. Maar om geduldig te wag, moet ons sake vanuit Jehovah se oogpunt beskou. Hy het ’n dag vasgestel waarop hy die mensdom sal oordeel deur “’n man wat hy aangestel het”, Jesus Christus (Hand. 17:31). Maar voordat dit gebeur, gee God alle soorte mense die geleentheid om “juiste kennis van die waarheid” op te doen, op hierdie kennis te reageer en gered te word. Kosbare lewens is op die spel. (Lees 1 Timoteus 2:3, 4.) As ons besig is om ander te help om juiste kennis van God in te neem, sal die oorblywende tyd voor die dag van Jehovah se oordeel vinniger verbygaan. Die tyd sal binnekort—selfs skielik—opraak. Hoe bly sal ons tog wees dat ons besig gebly het in die Koninkrykspredikingswerk wanneer dit gebeur!

WATTER GEBEURTENISSE SAL DIE EINDE VAN ONS WAGTYD AANDUI?

9-11. Is die profesie in 1 Tessalonisense 5:3 al vervul? Verduidelik.

9 Lees 1 Tessalonisense 5:1-3. In die nabye toekoms sal die nasies sê: “Vrede en veiligheid!” As ons nie deur hierdie verklaring onkant gevang wil word nie, moet ons “wakker en nugter van verstand bly” (1 Tess. 5:6). Om ons te help om geestelik wakker te bly, kan ons kortliks kyk na gebeurtenisse wat die weg berei het vir hierdie merkwaardige verklaring.

10 Ná elkeen van die twee wêreldoorloë het die nasies op vrede aangedring. Ná die Eerste Wêreldoorlog is die Volkebond gestig in die hoop dat dit vrede sal bring. Later, ná die Tweede Wêreldoorlog, het baie gehoop dat die Verenigde Nasies vrede op aarde sal bewerkstellig. Regerings- en godsdiensleiers het hulle vertroue in hierdie agentskappe gestel om vreedsame toestande vir die mensdom mee te bring. Die Verenigde Nasies het 1986 byvoorbeeld as die Internasionale Jaar van Vrede verklaar, wat groot publisiteit verkry het. In daardie jaar het leiers uit baie nasies en godsdienste saam met die hoof van die Katolieke Kerk in Assisi, Italië, bymekaargekom om vir vrede te bid.

11 Maar die profesie wat in 1 Tessalonisense 5:3 opgeteken is, is nie deur hierdie verklaring of ander soortgelyke verklarings van vrede en veiligheid vervul nie. Hoe weet ons dit? Want die voorspelde “skielike vernietiging” het nog nie plaasgevind nie.

12. Wat weet ons omtrent die verklaring van “Vrede en veiligheid”?

12 Wie sal in die toekoms hierdie betekenisvolle verklaring van “Vrede en veiligheid” maak? Watter rol sal die leiers van die Christendom en ander godsdienste speel? Hoe sal die leiers van verskeie regerings by hierdie verklaring betrokke wees? Die Bybel sê nie. Wat ons wel weet is: Ongeag watter vorm die verklaring sal aanneem of hoe oortuigend dit ook al sal klink, dit sal net ’n skyn wees. Hierdie ou stelsel sal nog steeds onder Satan se beheer wees. Dit is deur en deur verrot en dit sal so bly. Hoe hartseer sou dit tog wees as enige van ons die sataniese propaganda sou glo en ons Christelike neutraliteit sou prysgee!

13. Waarom hou engele die winde van vernietiging terug?

13 Lees Openbaring 7:1-4. Terwyl ons op die vervulling van 1 Tessalonisense 5:3 wag, hou magtige engele die vernietigende winde van die groot verdrukking terug. Waarvoor wag hulle? Een belangrike gebeurtenis wat deur die apostel Johannes beskryf word, is die finale verseëling van die gesalfde “slawe van ons God”. * Wanneer daardie finale verseëling voltooi is, sal die engele die winde van vernietiging loslaat. Wat sal dan gebeur?

14. Wat toon dat die ondergang van Babilon die Grote naby is?

14 Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens sal aan haar verdiende einde kom. “Volke en menigtes en nasies en tale” sal haar nie kan red nie. Ons sien alreeds tekens dat haar ondergang naby is (Op. 16:12; 17:15-18; 18:7, 8, 21). Trouens, ’n mens kan in die nuusmedia sien dat sy haar ondersteuning verloor, aangesien godsdiens en godsdiensleiers al hoe meer in die media aangeval word. Nietemin meen die leiers van Babilon die Grote dat hulle nie werklik in enige gevaar is nie. Hoe verkeerd is hulle tog! Ná die verklaring van “Vrede en veiligheid!” sal valse godsdiens skielik deur die politieke elemente van Satan se stelsel aangeval en uitgewis word. Babilon die Grote sal vir ewig van die toneel verdwyn! Dit is sekerlik die moeite werd om geduldig op sulke geskiedkundige gebeurtenisse te wag.—Op. 18:8, 10.

HOE KAN ONS WAARDERING VIR GOD SE GEDULD TOON?

15. Waarom het Jehovah nie haastig opgetree nie?

15 Ten spyte van die smaad wat mense sy naam aandoen, wag Jehovah geduldig vir die regte tyd om op te tree. Jehovah wil nie hê dat enige opregtes van hart vernietig moet word nie (2 Pet. 3:9, 10). Voel ons ook so? Voordat Jehovah se dag kom, kan ons ons waardering vir sy geduld op die volgende maniere toon.

16, 17. (a) Waarom wil ons diegene help wat onbedrywig geword het? (b) Waarom is dit dringend dat onbedrywiges na Jehovah terugkeer?

16 Help diegene wat onbedrywig geword het. Jesus het gesê dat daar vreugde in die hemel is wanneer net een verlore skaap gevind word (Matt. 18:14; Luk. 15:3-7). Dit is duidelik dat Jehovah diep besorg is oor diegene wat liefde vir sy naam getoon het, selfs al is hulle nie op die oomblik in sy diens bedrywig nie. As ons sulke persone help om na die gemeente terug te keer, dra ons by tot die vreugde wat Jehovah en die engele ondervind.

17 Is jy onder diegene wat onbedrywig geword het in jou diens aan God? Dalk het iemand in die gemeente jou seergemaak en het jy dus opgehou om met Jehovah se organisasie te assosieer. Aangesien dit dalk nou al ’n tyd lank die geval is, vra jou af: ‘Is my lewe nou sinvoller, en is ek gelukkiger? Was dit Jehovah wat my aanstoot gegee het, of was dit ’n onvolmaakte mens? Het Jehovah God al ooit enigiets gedoen wat my benadeel het?’ Trouens, Jehovah het nog altyd aan ons goed gedoen. Selfs as ons nie ons toewyding aan hom naleef nie, laat hy ons toe om die goeie dinge te geniet wat hy voorsien (Jak. 1:16, 17). Jehovah se dag sal binnekort kom. Dit is nou die tyd om terug te keer na ons hemelse Vader se liefdevolle arms en na die gemeente—die enigste veilige hawe in hierdie laaste dae.—Deut. 33:27; Heb. 10:24, 25.

Jehovah se volk doen alles in hulle vermoë om onbedrywige persone te help om na Jehovah terug te keer (Sien paragrawe 16, 17)

18. Waarom moet ons diegene ondersteun wat die leiding neem?

18 Ondersteun lojaal diegene wat die leiding neem. As ’n liefdevolle Herder lei en beskerm Jehovah ons. Hy het sy Seun as die Hoofherder van die kudde aangestel (1 Pet. 5:4). Ouer manne in meer as 100 000 gemeentes hou as herders toesig oor God se skape en toon persoonlike belangstelling in hulle (Hand. 20:28). Wanneer ons diegene wat die leiding neem, lojaal ondersteun, toon ons ons waardering teenoor Jehovah en Jesus vir alles wat hulle vir ons gedoen het.

19. Hoe kan ons geledere sluit?

19 Kom nader aan mekaar. Wat beteken dit? Wanneer ’n goed opgeleide leër deur ’n vyand aangeval word, sluit die soldate geledere, dit wil sê hulle beweeg nader aan mekaar. Sodoende vorm hulle ’n ondeurdringbare verdediging. Satan verskerp sy aanvalle op God se volk. Dit is beslis nie nou die tyd om binne ons geledere te baklei nie. Dit is nou die tyd om nader aan mekaar te kom, om die onvolmaakthede van ander oor die hoof te sien en om vertroue in Jehovah se leiding te toon.

Dit is nou die tyd om geledere te sluit teen die Duiwel en die demone (Sien paragraaf 19)

20. Wat moet ons nou doen?

20 Mag ons almal geestelik wakker bly en ’n wagtende houding openbaar. Laat ons geduldig wag op die verklaring van “Vrede en veiligheid!” asook die finale verseëling van die uitverkorenes. Daarna sal die vier engele die vernietigende winde loslaat, en Babilon die Grote sal vernietig word. Laat ons die leiding aanvaar van diegene wat aangestel is om in Jehovah se organisasie die voortou te neem terwyl ons wag dat hierdie geskiedkundige gebeurtenisse plaasvind. Sluit geledere teen die Duiwel en die demone! Dit is nou die tyd om ag te slaan op die psalmis se vermaning: “Wees moedig, en laat julle hart sterk wees, almal wat op Jehovah wag.”—Ps. 31:24.

^ par. 13 Vir ’n bespreking van die verskil tussen die aanvanklike verseëling van die lede van die gesalfdes en hulle finale verseëling, sien Die Wagtoring van 1 Januarie 2007, bladsye 30-31.