Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wees gehoorsaam aan Jehovah se herders

Wees gehoorsaam aan Jehovah se herders

“Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig, want hulle waak oor julle siel.”—HEB. 13:17.

1, 2. Waarom is dit betekenisvol dat Jehovah hom met ’n herder vergelyk?

JEHOVAH verwys na homself as ’n herder (Eseg. 34:11-14). Dit is betekenisvol omdat dit ons help om te verstaan watter soort persoon Jehovah is. ’n Liefdevolle herder aanvaar volle verantwoordelikheid vir die oorlewing en welsyn van die kudde in sy sorg. Hy lei hulle na weivelde en waterbronne (Ps. 23:1, 2); hou dag en nag wag oor hulle (Luk. 2:8); beskerm hulle teen roofdiere (1 Sam. 17:34, 35); dra die lammers (Jes. 40:11); soek na verlore skape en sien goed om na dié wat gewond is.—Eseg. 34:16.

2 Omdat Jehovah se volk in die ou tyd hoofsaaklik ’n landbougemeenskap was, was dit vir hulle betekenisvol dat Jehovah God hom met ’n liefdevolle herder vergelyk het. Hulle het geweet dat skape sorg en aandag nodig het om te floreer. In ’n geestelike sin geld dit ook vir mense (Mark. 6:34). Mense ly wanneer hulle nie goeie geestelike sorg en leiding ontvang nie. Hulle word kwesbaar en dwaal sedelik af—net soos “skape wat geen herder het nie” (1 Kon. 22:17). Maar Jehovah voorsien liefdevol in die behoeftes van sy volk.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Die feit dat Jehovah as ’n herder uitgebeeld word, is selfs in ons dag betekenisvol. Jehovah sorg nog steeds vir sy skaapgeaarde volk. Kom ons kyk hoe hy vandag sy skape lei en in hulle behoeftes voorsien. Ons sal ook sien hoe die skape op Jehovah se liefdevolle belangstelling behoort te reageer.

DIE GOEIE HERDER VOORSIEN ONDERHERDERS

4. Wat het Jesus vir Jehovah se skape voorsien?

4 Jehovah het Jesus as Hoof van die Christengemeente aangestel (Ef. 1:22, 23). As “die goeie herder” weerspieël Jesus sy Vader se belangstellings, voornemens en eienskappe. Jesus het selfs ‘van sy siel afstand gedoen ten behoewe van die skape’ (Joh. 10:11, 15). Wat ’n seën is Christus se losprysoffer tog vir die mensdom! (Matt. 20:28). Trouens, dit is Jehovah se voorneme dat “elkeen wat geloof in [Jesus] beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê”!—Joh. 3:16.

5, 6. (a) Wie is deur Jesus aangestel om na sy skape om te sien, en wat moet die skape doen om by hierdie reëling baat te vind? (b) Wat moet die vernaamste rede wees waarom ons aan gemeentelike ouer manne gehoorsaam wil wees?

5 Hoe tree die skape teenoor die Goeie Herder, Jesus Christus, op? “My skape luister na my stem”, het Jesus gesê, “en ek ken hulle, en hulle volg my” (Joh. 10:27). Om na die Goeie Herder se stem te luister, beteken dat ons sy leiding in alle dinge volg. Dit sluit in dat ons ons samewerking gee aan die geestelike onderherders wat hy aangestel het. Jesus het te kenne gegee dat sy apostels en dissipels die werk moet voortsit wat hy begin het. Hulle moes ‘Jesus se skapies leer en voed’. (Matt 28:20; lees Johannes 21:15-17.) Toe die goeie nuus versprei het en die aantal dissipels toegeneem het, het Jesus gereël dat volwasse Christene as herders oor die gemeentes toesig moet hou.—Ef. 4:11, 12.

6 Toe die apostel Paulus die opsieners van die eerste-eeuse gemeente in Efese aangespreek het, het hy gesê dat die heilige gees hulle as opsieners aangestel het “om as herders toesig te hou oor die gemeente van God” (Hand. 20:28). Dit is ook waar in die geval van Christenopsieners van vandag, aangesien hulle ook aangestel is op grond van vereistes in die Skrif wat deur die heilige gees geïnspireer is. Wanneer ons aan Christenopsieners gehoorsaam is, toon ons dus ons respek vir Jehovah en Jesus, die twee grootste Herders (Luk. 10:16). Dit moet sekerlik die vernaamste rede wees waarom ons aan die ouer manne onderdanig wil wees. Maar daar is ook ander redes waarom dit verstandig is om dit te doen.

7. Hoe help die ouer manne jou om ’n goeie verhouding met Jehovah te handhaaf?

7 Die leiding wat ouer manne aan medegelowiges voorsien, sluit in dat hulle aanmoediging en raad gee wat op die Skrif self of op Bybelbeginsels gegrond is. Wanneer hulle sulke leiding voorsien, is hulle doel nie om voor te skryf hoe hulle broers hulle lewe moet lei nie (2 Kor. 1:24). Dit is eerder om hulle mede-Christene skriftuurlike riglyne te gee om hulle te help om goeie besluite te neem en om orde en vrede in die gemeente te bevorder (1 Kor. 14:33, 40). Die ouer manne ‘waak oor siele’ in die sin dat hulle elke gemeentelid wil help om ’n goeie verhouding met Jehovah te handhaaf. Hulle sal dus gou wees om te help as hulle onderskei dat ’n broer of ’n suster op die punt staan om ’n “misstap” te begaan of dit reeds gedoen het (Gal. 6:1, 2; Jud. 22). Is dit nie goeie redes om ‘gehoorsaam te wees aan dié wat die leiding neem’ nie?—Lees Hebreërs 13:17.

8. Hoe verdedig die ouer manne die kudde van God?

8 Die apostel Paulus, wat self ’n geestelike herder was, het aan sy broers in Kolosse geskryf: “Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense, volgens die elementêre dinge van die wêreld en nie volgens Christus nie” (Kol. 2:8). Hierdie waarskuwing vestig die aandag op nog ’n goeie rede waarom ons op die ouer manne se skriftuurlike raad moet ag slaan. Hulle verdedig die kudde deur hulle broers te waarsku teen enigiemand wat hulle geloof probeer ondermyn. Die apostel Petrus het gewaarsku teen “valse profete” en “valse onderrigters” wat sou probeer om “onbestendige siele [te verlok]” om hulle aan oortreding skuldig te maak (2 Pet. 2:1, 14). Hedendaagse ouer manne moet soortgelyke waarskuwings gee wanneer dit nodig is. As volwasse Christenmans het hulle lewensondervinding. Wat meer is, voordat hulle aangestel is, het hulle getoon dat hulle ’n duidelike begrip van die Skrif het en dat hulle bekwaam is om ander in die gesonde leer te onderrig (1 Tim. 3:2; Tit. 1:9). Hulle volwassenheid, gebalanseerde benadering en wysheid wat op die Bybel gebaseer is, stel hulle in staat om bekwame leiding aan die kudde te voorsien.

Soos ’n herder sy kudde beskerm, beskerm ouer manne die skape wat aan hulle toevertrou is (Sien paragraaf 8)

DIE GOEIE HERDER VOED EN BESKERM DIE SKAPE

9. Hoe rig en voed Jesus vandag die Christengemeente?

9 Deur middel van sy organisasie voorsien Jehovah ’n oorvloed geestelike voedsel aan die hele gemeenskap van broers regoor die wêreld. Baie skriftuurlike raad word in ons publikasies voorsien. Soms voorsien die organisasie ook direk aan die gemeentelike ouer manne riglyne, hetsy deur briewe of deur instruksies wat deur reisende opsieners oorgedra word. So ontvang die skape duidelike riglyne.

10. Watter verantwoordelikheid het geestelike herders teenoor diegene wat van die kudde afgedwaal het?

10 In ’n geestelike sin het opsieners die verantwoordelikheid om gemeentelede te beskerm, te versorg en na hulle gesondheid om te sien, veral dié wat ernstige foute begaan het of geestelik siek geword het. (Lees Jakobus 5:14, 15.) Party van hierdie persone het moontlik van die kudde afgedwaal en opgehou om aan Christelike bedrywighede deel te neem. Sal ’n liefdevolle ouer man nie in so ’n geval alles in sy vermoë doen om elke verlore skaap te vind en hom aan te spoor om na die kudde, oftewel die gemeente, terug te keer nie? Natuurlik sal hy! “Dit [is] vir my Vader wat in die hemel is, nie wenslik dat een van hierdie kleintjies vergaan nie”, het Jesus verduidelik.—Matt. 18:12-14.

HOE MOET ONS DIE TEKORTKOMINGE VAN DIE ONDERHERDERS BESKOU?

11. Waarom vind party dit dalk moeilik om die ouer manne se leiding te volg?

11 Jehovah en Jesus is volmaakte Herders. Die onderherders aan wie hulle die sorg van die gemeente toevertrou het, is nie. Hierdie feit kan dit vir party moeilik maak om die ouer manne se leiding te volg. Sulke persone redeneer dalk: ‘Hulle is onvolmaakte mense, net soos ons. Waarom moet ons na hulle raad luister?’ Ja, die ouer manne is wel onvolmaak. Maar ons moet die regte beskouing van hulle tekortkominge en swakhede hê.

12, 13. (a) Watter foute het party gemaak wat Jehovah in die verlede in verantwoordelike posisies gebruik het? (b) Waarom is die tekortkominge van party verantwoordelike manne in die Bybel opgeteken?

12 Die Bybel erken openlik die tekortkominge van diegene wat Jehovah in die verlede gebruik het om sy volk te lei. Byvoorbeeld, Dawid is as koning en leier van Israel gesalf. Nogtans het hy voor versoeking geswig en hom aan egbreuk en moord skuldig gemaak (2 Sam. 12:7-9). Dink ook aan die apostel Petrus. Hoewel groot verantwoordelikhede in die eerste-eeuse Christengemeente aan hom toevertrou is, het hy ernstige foute gemaak (Matt. 16:18, 19; Joh. 13:38; 18:27; Gal. 2:11-14). Buiten Jesus, was niemand behalwe Adam en Eva volmaak nie.

13 Waarom het Jehovah die tekortkominge van manne wat hy aangestel het deur Bybelskrywers laat opteken? Een van die redes waarom God dit gedoen het, was om te toon dat hy onvolmaakte manne kan gebruik om sy volk te lei. Trouens, hy het dit nog altyd gedoen. Daarom moet ons nie die onvolmaakthede van diegene wat vandag die leiding onder ons neem, as ’n verskoning gebruik om teen hulle te murmureer of hulle gesag te minag nie. Jehovah verwag dat ons sulke broers respekteer en gehoorsaam.—Lees Eksodus 16:2, 8.

14, 15. Wat kan ons leer uit die manier waarop Jehovah in die verlede met sy volk gekommunikeer het?

14 Dit is noodsaaklik dat ons gehoorsaam moet wees aan diegene wat vandag die leiding onder ons neem. Dink aan hoe Jehovah gedurende kritieke tye in die verlede met sy volk gekommunikeer het. Toe die Israeliete eertydse Egipte verlaat het, het God deur Moses en Aäron vir hulle bevele gegee. Om die tiende plaag te oorleef, moes die Israeliete die instruksies gehoorsaam om ’n spesiale maaltyd te hê en die deurposte en boonste deel van die deuropening met die bloed van ’n geslagte skaap te bespat. Hulle het nie hierdie instruksies deur middel van ’n stem uit die hemel ontvang nie. Nee, hulle moes luister na die ouer manne van Israel, wat op hulle beurt spesifieke instruksies van Moses ontvang het (Eks. 12:1-7, 21-23, 29). Destyds het Moses en die ouer manne Jehovah se instruksies aan sy volk oorgedra. Vandag speel ouer manne net so ’n noodsaaklike rol.

15 Jy kan heel waarskynlik aan baie ander gevalle in die Bybelgeskiedenis dink toe Jehovah lewensreddende instruksies deur mense- of engeleverteenwoordigers voorsien het. In al hierdie gevalle het God dit goedgedink om gesag te delegeer. Boodskappers het in sy naam gepraat, en hulle het vir sy volk vertel wat hulle moet doen om ’n krisis te oorleef. Kan Jehovah by Armageddon nie weer iets soortgelyks doen nie? Vandag moet alle ouer manne wat die verantwoordelikheid gegee is om Jehovah en sy organisasie te verteenwoordig, natuurlik uiters versigtig wees dat hulle nooit die gesag misbruik wat aan hulle toevertrou is nie.

‘EEN KUDDE, EEN HERDER’

16. Wat is die “woord” waarop ons moet ag slaan?

16 Jehovah se volk is “een kudde onder een herder”, Jesus Christus (Joh. 10:16). Jesus het te kenne gegee dat hy “al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” met sy dissipels sou wees (Matt. 28:20). As hemelse Koning, is hy in volle beheer van al die verwikkelinge wat sal lei tot die voltrekking van oordeel teen Satan se wêreld. Om verenig en veilig in die kudde van God te bly, moet ons luister na ‘’n woord agter ons’ wat vir ons sê op watter weg ons moet wandel. Hierdie “woord” sluit in wat God se heilige gees deur die Bybel sê sowel as wat Jehovah en Jesus sê deur diegene wat hulle as onderherders aangestel het.—Lees Jesaja 30:21; Openbaring 3:22.

17, 18. (a) Waarom is die kudde in gevaar, maar waarvan kan ons seker wees? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

17 Die Bybel sê dat Satan “soos ’n brullende leeu” is en dat hy “daarop uit [is] om iemand te verslind” (1 Pet. 5:8). Soos ’n wilde en uitgehongerde roofdier bekruip hy die kudde en wag hy vir ’n geleentheid om die onbehoedsames en dié wat afgedwaal het, aan te val. Dit gee ons selfs meer rede om baie na aan die res van die kudde en “die herder en opsiener van [ons] siele” te bly (1 Pet. 2:25). Aangaande die oorlewendes van die groot verdrukking sê Openbaring 7:17: “Die Lam [Jesus] sal hulle herder wees en sal hulle na fonteine van waters van die lewe lei. En God sal elke traan van hulle oë afvee.” Wat ’n wonderlike belofte is dit tog!

Ouer manne probeer om enkelouergesinne teen skadelike omgang te beskerm (Sien paragrawe 17, 18)

18 Noudat ons die uiters belangrike rol bespreek het wat Christen-ouer manne as geestelike onderherders speel, sal dit goed wees as ons ons afvra: ‘Hoe kan hierdie aangestelde manne seker maak dat hulle Jesus se skape op gepaste wyse behandel?’ Die antwoord sal in die volgende artikel bespreek word.