Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Doen dit tot my gedagtenis’

‘Doen dit tot my gedagtenis’

“Nadat hy gedank het, het hy [die brood] gebreek en gesê: ‘Dit beteken my liggaam, wat vir julle is. Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.’”—1 KOR. 11:24.

1, 2. Watter gedagtes het moontlik by die apostels opgekom op Jesus se laaste reis na Jerusalem?

‘DIE wolke is nou weg, en ons kan die sekelmaan sien. Die wagte in Jerusalem het sekerlik gisteraand die eerste randjie van die maan gesien. Toe die Sanhedrin hiervan vertel is, het hulle die begin van ’n nuwe maand, Nisan, aangekondig. Toe is seinvure en boodskappers gebruik om die nuus te versprei, en dit het ons selfs bereik. Jesus sal sekerlik sy reis na Jerusalem wil begin sodat hy voor die Pasga daar kan aankom.’

2 Ons kan ons voorstel dat sulke gedagtes opgekom het by party wat op Jesus se laaste reis na Jerusalem saam met hom was in Perea (aan die ander kant van die Jordaan) (Matt. 19:1; 20:17, 29; Mark. 10:1, 32, 46). Daar is bepaal op watter dag die eerste dag van die Joodse maand Nisan sou val; die Pasga is 13 dae later gehou, ná sononder op 14 Nisan.

3. Waarom stel Christene tereg in die datum van die Pasga belang?

3 Die Here se Aandmaal sal gehou word ná sononder op 14 April 2014. Hierdie datum stem ooreen met dié van die Pasga. Dit sal vir ware Christene en belangstellendes ’n spesiale dag wees. Waarom? Want ons lees in 1 Korintiërs 11:23-25: “Jesus [het] in die nag waarin hy oorgelewer sou word, ’n brood geneem . . . , en nadat hy gedank het, het hy dit gebreek en gesê: ‘Dit beteken my liggaam, wat vir julle is. Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.‘ . . . Hy [het] ook dieselfde met betrekking tot die beker gedoen.”

4. (a) Watter vrae ontstaan moontlik in verband met die Gedenkmaal? (b) Hoe word die datum van die Gedenkmaal elke jaar bepaal? (Sien die venster  “Gedenkmaal 2014.”)

4 Jy sal ongetwyfeld die een geleentheid bywoon wat Jesus sy volgelinge beveel het om jaarliks te herdenk. Vra jou voor die tyd af: ‘Hoe moet ek vir hierdie aand voorberei? Watter spesifieke items sal gebruik word? Watter prosedure sal tydens die geleentheid gevolg word? En watter betekenis moet die geleentheid en die items wat gebruik word, vir my hê?’

DIE EMBLEME

5. Watter voorbereidings het Jesus vir die laaste Pasga met sy apostels laat tref?

5 Toe Jesus vir die apostels gesê het om ’n vertrek voor te berei waar hulle die Pasgamaal kon eet, het hy nie swierige versierings gemeld nie; hy wou waarskynlik net ’n gepaste, skoon kamer hê wat groot genoeg sou wees vir die groep wat genooi is. (Lees Markus 14:12-16.) Hulle moes sekere items vir die maaltyd gereed kry, onder meer ongesuurde brood en rooiwyn. Ná die Pasgamaal het Jesus die aandag op hierdie twee embleme gevestig.

6. (a) Wat het Jesus ná die Pasgamaal oor die brood gesê? (b) Watter soort brood word by die Gedenkmaal gebruik?

6 Die apostel Matteus was daar teenwoordig en het later geskryf: “Jesus [het] ’n brood geneem, en nadat hy ’n seën gevra het, het hy dit gebreek en dit vir die dissipels gegee en gesê: ‘Neem, eet’” (Matt. 26:26). Die “brood” was ongesuurd, soos die brood wat vir die Pasga gebruik is (Eks. 12:8; Deut. 16:3). Die brood is gemaak met koringmeel en water, sonder enige suurdeeg of geursel, soos sout. Omdat dit ongesuurd was, sou dit nie gerys het nie. Dit sou ongegeur, droog en krakerig gewees het, maklik om in stukke te breek. Vandag sal die gemeentelike ouer manne moontlik iemand voor die Gedenkmaal vra om sulke brood uit koringmeel en water te maak en dit in ’n bietjie olie in ’n pan gaar te maak. (As koringmeel nie beskikbaar is nie, kan rysmeel, garsmeel, mieliemeel of ’n soortgelyke meel gebruik word.) Joodse matzo’s waarby geen mout, eiers of uie gevoeg is nie, kan ook gebruik word.

7. Van watter soort wyn het Jesus gepraat, en watter soort wyn kan vandag by die Gedenkmaal gebruik word?

7 Matteus het verder gesê: “[Jesus het] ’n beker geneem, en nadat hy gedank het, het hy dit vir hulle gegee en gesê: ‘Drink almal daaruit’” (Matt. 26:27, 28). Die beker wat Jesus geneem het, was ’n beker rooiwyn. (Dit sou nie vars druiwesap gewees het nie, aangesien die druiweoes lankal verby was.) Hoewel wyn nie deel was van daardie eerste maaltyd in Egipte nie, het Jesus nie daarteen beswaar gemaak dat dit by die Pasgamaal gedrink word nie. Hy het dit selfs gedurende die Here se Aandmaal gebruik. Wanneer Christene die Gedenkmaal hou, is wyn dus deel van die geleentheid. Aangesien dit nie nodig was om die waarde van Jesus se bloed met enigiets aan te vul nie, is die wyn wat gebruik word, nie wyn wat met brandewyn of speserye gefortifiseer is nie. Gewone rooiwyn moet gebruik word, ’n tuisgemaakte wyn of ’n kommersiële wyn, soos Pinotage, Claret of Cabernet.

BETEKENISVOLLE EMBLEME

8. Waarom stel Christene belang in die betekenis van die brood en die wyn?

8 Die apostel Paulus het duidelik getoon dat alle Christene, nie net die apostels nie, die Here se Aandmaal moet hou. Hy het aan medegelowiges in Korinte geskryf: “Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgedra het, dat die Here Jesus . . . ’n brood geneem het, en nadat hy gedank het, het hy dit gebreek en gesê: ‘Dit beteken my liggaam, wat vir julle is. Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen’” (1 Kor. 11:23, 24). Gevolglik hou Christene tot vandag toe jaarliks die Gedenkmaal en stel hulle belang in die betekenis van die brood en die wyn.

9. Watter verkeerde beskouing het party van die brood wat Jesus gebruik het?

9 Party kerkgangers wys daarop dat Jesus in werklikheid gesê het: ‘Dit is my liggaam’, en daarom glo hulle dat die brood op wonderdadige wyse in sy letterlike vlees verander het. Maar dit strook nie met die feite nie. * Aangesien Jesus by die getroue apostels was, was sy liggaam sowel as die ongesuurde brood waarvan hulle sou eet, daar voor hulle. Dit is dus duidelik dat Jesus se woorde simbolies was, soos in baie ander gevalle.—Joh. 2:19-21; 4:13, 14; 10:7; 15:1.

10. Wat word voorgestel deur die brood wat gedurende die Here se Aandmaal gebruik word?

10 Die brood wat die apostels kon sien en sou eet, het Jesus se liggaam beteken. Watter liggaam? God se knegte het eens geglo dat die feit dat Jesus die brood gebreek het maar dat nie een van sy bene gebreek is nie, beteken dat die brood “die liggaam van die Christus”, die gemeente van gesalfdes, voorstel (Ef. 4:12; Rom. 12:4, 5; 1 Kor. 10:16, 17; 12:27). Ná verloop van tyd het hulle egter besef dat die Skrif en alle logiese redenasies daarop dui dat die brood Jesus se menseliggaam, wat vir hom voorberei is, voorstel. Jesus het “in die vlees gely”, en is selfs aan die paal gehang. Tydens die Here se Aandmaal word die fisiese liggaam waarin Jesus ‘ons sondes gedra’ het, dus deur die brood voorgestel.1 Pet. 2:21-24; 4:1; Joh. 19:33-36; Heb. 10:5-7.

11, 12. (a) Wat het Jesus oor die wyn gesê? (b) Wat word voorgestel deur die wyn wat by die Here se Aandmaal gebruik word?

11 Dít help ons om te verstaan wat Jesus toe oor die wyn gesê het. Ons lees: “Nadat hy die aandmaal geëet het, het hy ook dieselfde met betrekking tot die beker gedoen en gesê: ‘Hierdie beker beteken die nuwe verbond kragtens my bloed’” (1 Kor. 11:25). Baie Bybels gebruik soortgelyke bewoording as die letterlike vertaling van Robert Young: “Hierdie beker is die nuwe verbond in my bloed.” (Ons kursiveer.) Was die beker wat Jesus vasgehou het, die nuwe verbond? Nee. Die woord “beker” het verwys na wat daarin was—die wyn. Wat het die wyn volgens Jesus beteken of voorgestel? Sy vergote bloed.

12 In Markus se Evangelie vind ons hierdie woorde van Jesus: “Dit beteken my ‘bloed van die verbond’, wat vir baie uitgestort sal word” (Mark. 14:24). Ja, Jesus se bloed sou “vir baie uitgestort . . . word tot vergifnis van sondes” (Matt. 26:28). Jesus se bloed word dus gepas deur die rooiwyn voorgestel. Deur middel van daardie bloed kan ons bevryding deur ’n losprys verkry, “die vergifnis van ons oortredings”.—Lees Efesiërs 1:7.

Die apostels het gedrink van die wyn wat Jesus se bloed van die verbond voorgestel het (Sien paragrawe 11, 12)

DIE HERDENKING VAN CHRISTUS SE DOOD

13. Wat vind plaas by die jaarlikse Herdenking van Christus se dood?

13 Wat kan jy verwag as jy vir die eerste keer die Gedenkmaal saam met Jehovah se Getuies bywoon? Die vergadering sal waarskynlik in ’n aantreklike, skoon plek gehou word waar almal gemaklik kan wees terwyl hulle die geleentheid geniet. Daar sal dalk ’n paar eenvoudige blommerangskikkings wees, maar jou aandag sal nie afgelei word deur uitspattige versierings of ’n partytjieatmosfeer nie. ’n Bekwame ouer man sal op duidelike en waardige wyse bespreek wat die Bybel omtrent die geleentheid sê. Hy sal almal help om te verstaan wat Christus vir ons gedoen het. Hy het as ’n losprys gesterf sodat ons die lewe kan kry. (Lees Romeine 5:8-10.) Die spreker sal die twee afsonderlike vooruitsigte verduidelik wat in die Bybel vir Christene uiteengesit word.

14. Watter vooruitsigte word gedurende die Gedenkmaaltoespraak bespreek?

14 Een is die vooruitsig om saam met Christus in die hemel te regeer, ’n hoop wat deur ’n betreklike klein aantal van Christus se volgelinge, soos die getroue apostels, gekoester word (Luk. 12:32; 22:19, 20; Op. 14:1). Die meeste Christene wat God in ons tyd lojaal dien, het egter die vooruitsig om vir ewig in ’n herstelde paradys op die aarde te lewe. Dan sal God se wil op die aarde geskied, soos in die hemel; iets waarvoor Christene al lank bid (Matt. 6:10). En die Skrif gee bekoorlike beskrywings van die wonderlike toestande wat hulle vir ewig sal kan geniet.—Jes. 11:6-9; 35:5, 6; 65:21-23.

15, 16. Wat word gedurende die Here se Aandmaal met die brood gedoen?

15 Na aan die einde van hierdie bespreking sal die spreker aandui dat die tyd aangebreek het om te doen wat Jesus vir sy apostels gesê het om te doen. Soos bo gemeld word, sal twee embleme gebruik word, ongesuurde brood en rooiwyn. Dit sal heel moontlik op ’n tafel naby die spreker wees. Hy sal die aandag vestig op ’n Bybelverslag wat beskryf wat Jesus gesê en gedoen het toe hy hierdie geleentheid ingestel het. In Matteus se verslag lees ons byvoorbeeld: “Jesus [het] ’n brood geneem, en nadat hy ’n seën gevra het, het hy dit gebreek en dit vir die dissipels gegee en gesê: ‘Neem, eet. Dit beteken my liggaam’” (Matt. 26:26). Jesus het die ongesuurde brood gebreek sodat hy vir die apostels aan albei kante van hom daarvan kon gee. By die vergadering wat op 14 April gehou sal word, sal jy borde met ongesuurde brood sien wat reeds in stukke gebreek is.

16 Genoeg borde sal gebruik word sodat dit nie te lank sal neem om dit om te stuur nie. Dit sal nie met enige omslagtige ritueel gepaardgaan nie. ’n Kort gebed sal gedoen word, waarna die borde op ’n ordelike wyse omgestuur sal word, volgens wat prakties is. Min mense sal van die brood eet (of dalk niemand nie), soos in die meeste gemeentes die geval was toe die brood in 2013 by hierdie geleentheid omgestuur is.

17. Hoe word Jesus se instruksies aangaande die wyn by die Gedenkmaal gevolg?

17 Dan sal die fokus verskuif na wat Matteus verder beskryf het: “[Jesus] het . . . ’n beker geneem, en nadat hy gedank het, het hy dit vir hulle gegee en gesê: ‘Drink almal daaruit; want dit beteken my “bloed van die verbond”, wat vir baie uitgestort sal word tot vergifnis van sondes’” (Matt. 26:27, 28). In ooreenstemming met hierdie patroon sal nog ’n gebed gedoen word, en dan sal ‘bekers’ rooiwyn omgestuur word onder almal wat teenwoordig is.

18. Waarom is dit belangrik om die Gedenkmaal by te woon, al gebruik min mense of dalk niemand van die embleme nie?

18 Die meeste mense wat die Gedenkmaal bywoon, gebruik nie die embleme wanneer dit omgestuur word nie omdat Jesus te kenne gegee het dat net diegene wat in sy hemelse Koninkryk sal regeer, dit moet gebruik. (Lees Lukas 22:28-30; 2 Tim. 4:18.) Hulle sal eerder eerbiedige waarnemers wees. Dit is nogtans vir hulle belangrik om die Here se Aandmaal by te woon omdat dit toon dat hulle Jesus se offerande hoog op prys stel. Gedurende die Gedenkmaal kan hulle nadink oor die seëninge wat hulle danksy Jesus se losprysoffer kan geniet. Hulle het die vooruitsig om deel te wees van die “groot menigte” wat die komende “groot verdrukking” sal oorleef. Hierdie groep sal bestaan uit aanbidders wat “hulle klere gewas en dit wit gemaak [het] in die bloed van die Lam”.—Op. 7:9, 14-17.

19. Wat kan jy doen om vir die Here se Aandmaal voor te berei en daarby baat te vind?

19 Jehovah se Getuies regoor die wêreld berei vir hierdie spesiale vergadering voor. Ons sal ons weke voor die tyd inspan om soveel mense moontlik daarna uit te nooi. Wat meer is, in die dae wat die Gedenkmaal voorafgaan, sal die meeste van ons die Bybelverslae lees oor wat Jesus gedoen het en wat op die ooreenstemmende datum in 33 HJ gebeur het. Ons sal ons persoonlike sake so gereël het dat ons dit kan bywoon. Dit sal goed wees om ’n ruk voor die openingslied en -gebed daar te wees sodat ons besoekers kan verwelkom en dan na die hele program kan luister. Ons almal, gemeentelede en besoekers, sal baie daarby baat vind as ons in ons Bybels volg terwyl die punte bespreek word. Bowenal sal ons teenwoordigheid by die Gedenkmaal bewys lewer van ons hartgrondige waardering vir Jesus se offerande en toon dat ons gehoorsaam is aan sy bevel: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.”—1 Kor. 11:24.

^ par. 9 Die Duitse geleerde Heinrich Meyer sê: “Die feit dat Jesus se liggaam nog ongebroke (lewend) was en Sy bloed nog nie vergiet was nie, kon nie een van die gaste [die apostels] tot die slotsom gekom het . . . dat hulle in werklikheid die letterlike liggaam en bloed van die Here eet en drink nie . . . Jesus sou [dus] nie wou gehad het dat Sy eenvoudige woorde misverstaan moet word nie.”