Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moenie “gou van julle denke afgebring” word nie!

Moenie “gou van julle denke afgebring” word nie!

“[Ons] versoek . . . julle, broers, om nie gou van julle denke afgebring . . . te word nie.”—2 TESS. 2:1, 2.

1, 2. Waarom is bedrog vandag so algemeen, en waar kom dit voor? (Sien prent aan begin van artikel.)

KULLERY, swendelary en bedrog is baie algemeen in die teenswoordige stelsel van dinge. Dit moet ons nie verbaas nie. Die Bybel toon duidelik dat Satan die Duiwel ’n meesterbedrieër is, en hy is die heerser van hierdie stelsel (1 Tim. 2:14; 1 Joh. 5:19). Namate ons die einde van hierdie goddelose stelsel nader, neem Satan se toorn toe omdat hy net “’n kort tydjie [oorhet]” (Op. 12:12). Ons kan dus verwag dat dié wat deur die Duiwel beïnvloed word, al hoe bedriegliker sal word, veral teenoor diegene wat ware aanbidding bevorder.

2 Misleidende stellings en blatante leuens oor Jehovah se knegte en hulle oortuigings kom soms in die media voor. Koerantopskrifte, dokumentêre programme op televisie en webblaaie op die Internet word gebruik om onwaarhede te versprei. Party mense raak dus ontsteld omdat hulle hierdie leuens glo sonder om seker te maak van die feite.

3. Wat kan ons help om bedrog teë te werk?

3 Ons is dankbaar dat ons God se Woord het, wat “nuttig [is] om dinge reg te stel”, sodat ons hierdie ontmoedigende taktiek van ons vyand kan teëwerk (2 Tim. 3:16). Dit is betekenisvol dat die apostel Paulus se geskrifte toon dat party Christene in eerste-eeuse Tessalonika mislei is en onwaarhede geglo het. Hy het hulle gewaarsku om nie “gou van [hulle] denke afgebring” te word nie (2 Tess. 2:1, 2). Watter lesse kan ons uit Paulus se liefdevolle vermaning leer, en hoe kan ons dit in ons dag toepas?

TYDIGE WAARSKUWINGS

4. Hoe is Christene in Tessalonika oor die koms van “Jehovah se dag” gewaarsku, en hoe word ons gewaarsku?

4 In sy eerste brief aan die gemeente in Tessalonika het Paulus die aandag gevestig op die koms van “Jehovah se dag”. Hy wou nie hê dat sy broers in duisternis en onvoorbereid moet wees nie. Hy het hulle eerder as “kinders van die lig” aangespoor om “wakker en nugter van verstand [te] bly”. (Lees 1 Tessalonisense 5:1-6.) Vandag wag ons op die vernietiging van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens. Dit sal die begin aandui van die groot dag van Jehovah. Gelukkig het ons ’n beter begrip van die verwesenliking van Jehovah se voorneme. Ons ontvang ook gereeld deur die gemeente tydige herinneringe wat ons help om nugter van verstand te bly. As ons op hierdie herhaalde waarskuwings ag slaan, sal dit ons meer vasbeslote maak om ‘heilige diens met ons denkvermoë’ aan God te verrig.—Rom. 12:1.

Paulus het briewe geskryf wat tydige waarskuwings vir Christene bevat het (Sien paragrawe 4, 5)

5, 6. (a) Waarop het Paulus in sy tweede brief aan die Tessalonisense die aandag gevestig? (b) Wat sal God binnekort deur Jesus doen, en wat moet ons ons afvra?

5 Kort nadat Paulus sy eerste brief aan die Christene in Tessalonika gestuur het, het hy vir hulle ’n tweede brief gestuur. In hierdie brief het hy die aandag gevestig op die komende verdrukking wanneer die Here Jesus goddelike oordeel sal voltrek aan “dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus . . . nie gehoorsaam nie” (2 Tess. 1:6-8). Hoofstuk twee van hierdie brief toon dat party in daardie gemeente so “opgewonde” geraak het oor Jehovah se dag dat hulle geglo het dat dit op hande is. (Lees 2 Tessalonisense 2:1, 2.) Daardie vroeë Christene het net ’n beperkte begrip van die verwesenliking van Jehovah se voorneme gehad, soos Paulus later erken het toe hy aangaande profesieë geskryf het: “Ons het gedeeltelike kennis en ons profeteer gedeeltelik; maar wanneer dit kom wat volkome is, sal dit wat gedeeltelik is, weggedoen word” (1 Kor. 13:9, 10). Maar die geïnspireerde waarskuwings wat Paulus, die apostel Petrus en ander getroue gesalfde broers van daardie tyd neergeskryf het, kon hulle help om hulle geloof sterk te hou.

6 Om sake reg te stel, het Paulus onder inspirasie verduidelik dat ’n groot afvalligheid en “die mens van wetteloosheid” voor Jehovah se dag moes verskyn. * Daarna sou die Here Jesus op sy vasgestelde tyd almal ‘tot niet maak’ wat bedrieg is. Die apostel het verduidelik wat die rede vir hierdie oordeel oor hulle was; dit was omdat “hulle nie die liefde vir die waarheid aangeneem het” nie (2 Tess. 2:3, 8-10). Dit sal goed wees as ons ons afvra: ‘Hoe lief is ek vir die waarheid? Bly ek op hoogte van ons huidige begrip soos dit uiteengesit word in hierdie tydskrif en ander Bybelpublikasies wat vir die wêreldwye gemeente van God se volk voorsien word?’

KIES JOU OMGANG WYSLIK

7, 8. (a) Voor watter gevare het vroeë Christene te staan gekom? (b) Wat hou vandag vir ware Christene ’n groot gevaar in?

7 Buiten die gevare wat afvalliges en hulle leringe ingehou het, sou Christene natuurlik ook voor ander gevare te staan kom. Paulus het aan Timoteus geskryf: “Die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge.” Die apostel het verder gesê: “Deur hierdie liefde na te streef, is party van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring en het hulle hulleself oral met baie pyne deurboor” (1 Tim. 6:10). “Die werke van die vlees” sou ook ’n voortdurende gevaar inhou.—Gal. 5:19-21.

8 Maar jy kan verstaan waarom Paulus die Tessalonisense uitdruklik gewaarsku het teen die ernstige gevaar wat mense wat hy elders “valse apostels” genoem het, ingehou het. Onder hulle was daar manne wat “verdraaide dinge [gespreek het] om die dissipels agter hulle aan weg te trek” (2 Kor. 11:4, 13; Hand. 20:30). Later het Jesus die gemeente in Efese geprys omdat hulle “slegte mense nie [kon] verdra nie”. Daardie Efesiërs het persone “op die proef gestel” wat in werklikheid valse apostels, trouens leuenaars, was (Op. 2:2). Interessant genoeg het Paulus in sy tweede brief aan die Tessalonisense hierdie vermaning gegee: “Ons gee julle dan nou bevel, broers, in die naam van die Here Jesus Christus, om julle te onttrek aan elke broer wat wanordelik wandel.” Toe het hy spesifiek melding gemaak van Christene wat “nie wil werk nie” (2 Tess. 3:6, 10). Maar as húlle as wanordelik beskou is, wat nog te sê van diegene wat afvallig begin word het! Ja, noue omgang met sulke mense was destyds baie gevaarlik en iets wat vermy moet word—en vandag is dit ook die geval.—Spr. 13:20.

9. Waarom moet ons op ons hoede wees as iemand begin bespiegel of krities raak?

9 Die begin van die groot verdrukking en die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge kom nader, en daarom is die geïnspireerde waarskuwings wat in die eerste eeu gegee is, nou van selfs groter belang. Ons wil beslis nie ‘die doel mis’ van Jehovah se onverdiende goedhartigheid of ons kans verbeur om die ewige lewe, hetsy in die hemel of op die aarde, te ontvang nie (2 Kor. 6:1). Ons moet op ons hoede wees as iemand wat ons gemeentelike vergaderinge bywoon, ons ooit probeer betrek by gesprekke wat krities is of op bespiegeling neerkom.—2 Tess. 3:13-15.

“HOU VAS AAN DIE OORLEWERINGE”

10. Aan watter oorleweringe moes die Christene in Tessalonika vashou?

10 Paulus het sy broers in Tessalonika aangespoor om ‘vas te staan’ en te bly by wat hulle geleer het. (Lees 2 Tessalonisense 2:15.) Wat was “die oorleweringe” wat hulle geleer is? Dit was beslis nie dié van valse godsdiens wat hulle bevorder asof dit net so kosbaar is as dié wat in die Bybel gevind word nie. Paulus het eerder verwys na die leringe wat hy en ander van Jesus ontvang het, sowel as die leringe wat God die apostel beweeg het om oor te dra, waarvan baie deel van die geïnspireerde Skrif geword het. Paulus het sy broers in die gemeente in Korinte geprys omdat, soos hy geskryf het, “julle in alles aan my dink en aan die oorleweringe vashou net soos ek dit aan julle oorgedra het” (1 Kor. 11:2). Sulke leringe het uit ’n betroubare bron gekom en was beslis geloofwaardig.

11. Op watter maniere word party bedrieg?

11 Toe Paulus aan die Hebreërs geskryf het, het hy die aandag gevestig op twee maniere waarop ’n Christen sy geloof en standvastigheid kan verloor. (Lees Hebreërs 2:1; 3:12.) Hy het gesê dat iemand van God kan “wegdryf” of hom van God kan “terugtrek”. Aanvanklik dryf ’n boot dalk onmerkbaar van die rivieroewer af weg. Geleidelik word die gaping al hoe groter. Aan die ander kant skep ’n man wat sy boot van die oewer af wegstoot, deur middel van sy eie optrede ’n gaping. Albei gevalle lig die situasie goed toe van party wat slagoffers word van bedrog en toelaat dat hulle vertroue in die waarheid verswak.

12. Watter hedendaagse bedrywighede kan ’n negatiewe uitwerking op ons geestelikheid hê?

12 Dit was moontlik die geval met party van die Tessalonisense. En wat van vandag? Daar is baie dinge waarop ons ons tyd kan verkwis. Dink net hoeveel tyd mense daaraan bestee om deur sosiale netwerke met ander in aanraking te bly, elektroniese boodskappe te lees en te beantwoord, stokperdjies ywerig te beoefen of heeltyd op hoogte te bly van sportaangeleenthede. Enige van hierdie bedrywighede kan ’n Christen se aandag aflei en sy ywer laat verflou. Met watter gevolg? Hy sal moontlik hartgrondige gebed, die studie van God se Woord, vergaderingbywoning en die verkondiging van die goeie nuus afskeep. Wat kan ons doen sodat ons nie gou deur hierdie dinge van ons denke afgebring word nie?

BESKERMING SODAT ONS NIE VAN ONS DENKE AFGEBRING WORD NIE

13. Watter gesindheid openbaar baie mense, soos voorspel is, en wat sal voorkom dat ons geloof ondermyn word?

13 Ons moet beslis bewus bly van die tyd waarin ons lewe en die uitwerking wat dit op ons kan hê as ons assosieer met diegene wat weier om te erken dat ons in “die laaste dae” lewe. Die apostel Petrus het aangaande hierdie tydperk geskryf: “Daar [sal] spotters . . . kom met hulle spotterny, wat ooreenkomstig hulle eie begeertes handel en sê: ‘Waar is sy beloofde teenwoordigheid dan? Van die dag af dat ons voorvaders ontslaap het, bly alles dan net soos van die begin van die skepping af’” (2 Pet. 3:3, 4). As ons God se Woord elke dag lees en gereeld bestudeer, sal dit ons help om bewus te bly van waar ons in die tydstroom is—dat ons in “die laaste dae” lewe. Die voorspelde afvalligheid is lank gelede geopenbaar en duur tot vandag toe voort. “Die mens van wetteloosheid” bestaan steeds en hou aan om God se knegte teë te staan. Daarom moet ons die nabyheid van Jehovah se dag altyd voor oë hou.—Sef. 1:7.

14. Hoe beskerm dit ons wanneer ons in God se diens besig bly?

14 Die ondervinding het geleer dat gereelde deelname aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk, ’n belangrike manier is waarop ons wakker kan bly en kan verhoed dat ons van ons denke afgebring word. Toe Christus Jesus, die Hoof van die gemeente, sy volgelinge beveel het om dissipels van mense van al die nasies te maak en hulle te leer om die dinge te onderhou wat hy beveel het, het hy dus raad gegee wat sy volgelinge sou beskerm (Matt. 28:19, 20). As ons op hierdie raad wil ag slaan, moet ons ywerig aan die predikingswerk deelneem. Kan jy jou voorstel dat jou broers in Tessalonika daarmee tevrede sou gewees het om die predikings- en onderrigtingswerk op ’n traak-my-nie-agtige wyse te doen, asof dit net ’n onbenullige taak is wat sonder entoesiasme gedoen kan word? Dink aan Paulus se woorde aan hulle: “Moenie die vuur van die gees blus nie. Moenie profetiese uitsprake met veragting bejeën nie” (1 Tess. 5:19, 20). En watter opwindende profesieë bestudeer ons en deel ons tog aan ander mee!

Goeie voorbereiding en ’n aandeel aan die bediening kan ons help om nie gou van ons denke afgebring te word nie (Sien paragrawe 14, 15)

15. Watter nuttige dinge kan ons gedurende gesinsaanbidding bespreek?

15 Dit is te verstane dat ons ons gesin wil help om hulle vaardighede in die veldbediening te verbeter. Een manier waarop baie broers en susters dit doen, is deur ’n deel van hulle aand vir gesinsaanbidding te gebruik om vir die bediening voor te berei. Julle sal dit dalk nuttig vind om te bespreek hoe gesinslede die belangstelling wat hulle gevind het, verder gaan kweek. Wat sal hulle tydens die volgende besoek bespreek? Watter onderwerpe sal waarskynlik die persoon se belangstelling prikkel? Wat is die beste tyd om terug te gaan? Baie gebruik ook ’n gedeelte van die tyd vir gesinsaanbidding om vir gemeentelike vergaderinge voor te berei sodat hulle kan weet wat by hierdie vergaderinge bespreek gaan word. Kan julle meer doen om voor te berei sodat julle ’n deelname daaraan kan hê? Julle deelname sal julle geloof opbou en julle dus help om nie van julle denke afgebring te word nie (Ps. 35:18). Ja, gesinsaanbidding sal ons teen bespiegeling en twyfelgedagtes beskerm.

16. Watter aansporing het gesalfde Christene om hulle denkvermoë te behou?

16 Wanneer ons nadink oor hoe Jehovah sy volk oor die jare heen met ’n beter begrip van Bybelprofesieë geseën het, besef ons wat ’n wonderlike beloning op ons wag. Die gesalfdes het die vooruitsig om saam met Christus in die hemel te wees. Wat ’n aansporing is dit tog vir hulle om hulle denkvermoë te behou! Ons kan Paulus se woorde aan die Tessalonisense beslis op hulle toepas: “Ons is . . . verplig om God altyd vir julle te dank, broers vir wie Jehovah lief is, want God het julle . . . gekies deur julle met gees te heilig en deur julle geloof in die waarheid.”—2 Tess. 2:13.

17. Waarom is die woorde in 2 Tessalonisense 3:1-5 vir jou aanmoedigend?

17 Diegene wat die vooruitsig het om vir ewig op die aarde te lewe, moet ook hard probeer om nie gou van hulle denke afgebring te word nie. As jy die aardse hoop het, moet jy die liefdevolle aanmoediging ter harte neem wat Paulus medegesalfdes in Tessalonika gegee het. (Lees 2 Tessalonisense 3:1-5.) Elkeen van ons moet diepe waardering vir hierdie liefdevolle woorde hê. Ja, die briewe aan die Tessalonisense bevat lewensbelangrike waarskuwings teen bespiegeling of twyfelagtige idees. Aangesien ons so na aan die einde lewe, waardeer Christene van vandag hierdie waarskuwings grootliks.

^ par. 6 In Handelinge 20:29, 30 het Paulus gesê dat daar in die Christengemeentes “manne [sou] opstaan en verdraaide dinge [sou] spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek”. Die geskiedenis bevestig dat daar mettertyd ’n onderskeid tussen geestelikes en leke ontstaan het. Teen die derde eeu HJ het dit duidelik geword dat “die mens van wetteloosheid” na die saamgestelde groep geestelikes van die Christendom verwys.—Sien Die Wagtoring van 1 Februarie 1990, bladsye 10-14.