Honderd jaar van Koninkryksheerskappy —Hoe raak dit jou?
“Groot en wonderbaar is u werke, Jehovah God, . . . Koning van die ewigheid.”
1, 2. Wat sal God se Koninkryk doen, en waarom kan ons die vertroue hê dat die Koninkryk sal kom?
IN DIE lente van 31 HJ, op ’n berg naby Kapernaum, het Jesus Christus sy volgelinge leer bid: “Laat u koninkryk kom” (Matt. 6:10). Vandag twyfel baie mense of die Koninkryk ooit sal kom. Maar ons het die vertroue dat ons opregte gebede vir God se Koninkryk om te kom, verhoor sal word.
2 Jehovah sal die Koninkryk gebruik om sy gesin in die hemel en op die aarde te verenig. Hierdie goddelike voorneme sál verwesenlik word (Jes. 55:10, 11). Trouens, Jehovah het alreeds in ons dag Koning geword! Die opwindende gebeurtenisse van die afgelope 100 jaar is bewys hiervan. God verrig groot en wonderbare werke ten behoewe van miljoene lojale onderdane (Sag. 14:9; Op. 15:3). Maar die feit dat Jehovah Koning geword het, beteken nie dat die Koninkryk waarvoor Jesus ons leer bid het, gekom het nie. In watter opsig verskil hierdie gebeurtenisse, en hoe raak dit ons?
JEHOVAH SE GEKROONDE KONING TREE OP
3.(a) Wanneer en waar is Jesus as Koning gekroon? (b) Hoe sal jy bewys dat die Koninkryk in 1914 opgerig is? (Sien voetnoot.)
3 Teen die einde van die 19de eeu het lig begin skyn op ’n profesie wat meer as 2 500 jaar gelede deur Daniël opgeteken is: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie” (Dan. 2:44). Die Bybelstudente het dekades lank gesê dat 1914 ’n betekenisvolle jaar sou wees. Baie mense was destyds optimisties. Een skrywer sê: “Die wêreld van 1914 was vol hoop en het baie belofte ingehou.” Maar toe die Eerste Wêreldoorlog later daardie jaar uitgebreek het, het Bybelprofesieë in vervulling begin gaan. Die daaropvolgende hongersnode, aardbewings en pessiektes sowel as die vervulling van ander Bybelprofesieë het onweerlegbare bewyse voorsien dat Jesus Christus in 1914 in die hemel as Koning van God se Koninkryk begin regeer het. * Deur sy Seun as die Messiaanse Koning te kroon, het Jehovah inderdaad in ’n nuwe sin Koning geword!
4. Wat het die pas gekroonde Koning heel eerste gedoen, en op wie het hy daarna sy aandag gevestig?
4 Die eerste opdrag wat God se pas gekroonde Koning ontvang het, was om oorlog te voer teen sy Vader se vernaamste Teenstander, Satan. Jesus en sy engele het die Duiwel en sy demone uit die hemel gewerp. Dit het baie vreugde in die hemel tot gevolg gehad, maar ’n tyd van ongekende rampspoed vir die aarde. (Lees Openbaring 12:7-9, 12.) Toe het die Koning sy aandag op sy aardse onderdane gevestig om hulle te louter, op te lei en te organiseer om God se wil te doen. Kom ons kyk hoe hulle gehoorsaamheid aan Jesus se leiding vir ons ’n goeie voorbeeld stel.
DIE MESSIAANSE KONING LOUTER SY LOJALE ONDERDANE
5. Watter reiniging het tussen 1914 en die eerste helfte van 1919 plaasgevind?
5 Nadat die gekroonde Koning die hemel gereinig het van die verderflike invloed van Satan en sy demone, het Jehovah Jesus die opdrag gegee om die geestelike toestand van sy volgelinge op die aarde te ondersoek en hulle te louter. Die profeet Maleagi het dit as ’n geestelike reiniging beskryf (Mal. 3:1-3). Die geskiedenis toon dat dit tussen 1914 en die eerste helfte van 1919 plaasgevind het. * Om deel van Jehovah se universele gesin te wees, moet ons rein, of heilig, wees (1 Pet. 1:15, 16). Ons moenie toelaat dat ons deur valse godsdiens of die politiek van hierdie wêreld besmet word nie.
6. Hoe word geestelike voedsel voorsien, en waarom is dit noodsaaklik?
6 Daarna het Jesus sy koninklike gesag gebruik om ’n “getroue en verstandige slaaf” aan te stel. Hierdie slaaf sou gereeld heilsame geestelike voedsel voorsien aan almal wat deel uitmaak van die “een kudde” onder Jesus se sorg (Matt. 24:45-47; Joh. 10:16). Sedert 1919 het ’n klein groepie gesalfde broers die groot verantwoordelikheid getrou nagekom om die “huisknegte” te voed. Die oorvloedige geestelike voedsel wat deur hierdie kanaal voorsien word, voed ons sodat ons in die geloof kan groei. Dit maak ons meer vasbeslote om geestelik, sedelik, verstandelik en fisies rein te bly. Ons word ook deur middel van hierdie geestelike voedsel onderrig en toegerus om ’n volle aandeel te hê aan die belangrikste werk wat vandag op die aarde gedoen word. Maak jy ten volle van hierdie voorsienings gebruik?
DIE KONING VOORSIEN OPLEIDING AAN SY ONDERDANE
7. Watter belangrike werk het Jesus begin toe hy op die aarde was, en tot wanneer sou dit aanhou?
7 Toe Jesus sy aardse bediening begin het, het hy gesê: “Ook aan ander stede moet ek die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak, want hiervoor is ek uitgestuur” (Luk. 4:43). Jesus het hierdie werk drie en ’n half jaar lank die middelpunt van sy lewe gemaak. Hy het vir sy dissipels gesê: “Terwyl julle gaan, preek en sê: ‘Die koninkryk van die hemele het naby gekom’” (Matt. 10:7). Nadat Jesus opgewek is, het hy voorspel dat sy volgelinge hierdie boodskap “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” sou versprei (Hand. 1:8). Hy het hulle belowe dat hy tot in ons dag persoonlik by hierdie noodsaaklike werk betrokke sal wees.
8. Hoe het die Koning sy aardse onderdane aangespoor om te preek?
8 Teen 1919 het die “goeie nuus van die koninkryk” groter betekenis aangeneem (Matt. 24:14). Die Koning het in die hemel regeer, en hy het ’n klein groepie gereinigde aardse onderdane ingesamel. Hulle het gretig gereageer op Jesus se besielende instruksies: Verkondig die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk oor die hele aarde! (Hand. 10:42). Byvoorbeeld, byna 20 000 ondersteuners van die Koninkryk het in September 1922 in Cedar Point, Ohio, VSA, vir ’n internasionale byeenkoms bymekaargekom. Stel jou net voor hoe opgewonde hulle was toe broer Rutherford tydens sy toespraak met die titel “Die Koninkryk” gesê het: “Kyk, die Koning heers! Julle is sy reklame-agente. Adverteer, adverteer, adverteer dus die Koning en sy koninkryk.” Tweeduisend afgevaardigdes het hierop gereageer deur aan ’n spesiale “Velddiensdag” deel te neem en mense te besoek wat tot 72 kilometer van die byeenkomsterrein af gewoon het. Een afgevaardigde wat hieraan deelgeneem het, het uitgeroep: “Ek sal nooit die ywer van dié wat daar byeengekom het vergeet nie, en hoe ons aangespoor is om die Koninkryk te adverteer nie!” Baie ander het ook so gevoel.
9, 10. (a) Watter reëlings is getref om Koninkryksverkondigers op te lei? (b) Hoe het jy by hierdie opleiding baat gevind?
9 Teen 1922 was daar meer as 17 000 Koninkryksverkondigers in 58 lande regoor die wêreld. Maar hulle het opleiding nodig gehad. In die eerste eeu het die aangewese Koning sy dissipels duidelike riglyne gegee oor wat, waar en hoe om te preek (Matt. 10:5-7; Luk. 9:1-6; 10:1-11). Net so verseker Jesus ook vandag dat almal wat aan die Koninkrykspredikingswerk deelneem, instruksies kry en die hulpmiddele ontvang wat hulle nodig het om doeltreffend te preek (2 Tim. 3:17). Jesus lei sy onderdane deur middel van die Christengemeente vir die bediening op. Een manier waarop hy hulle oplei, is deur middel van die Teokratiese Bedieningskool, wat in elkeen van die meer as 111 000 gemeentes regoor die wêreld gehou word. Deur van hierdie opleiding gebruik te maak, is meer as sewemiljoen verkondigers nou toegerus om te preek en ander te leer op ’n manier wat by “alle soorte mense” byval vind.
10 Benewens die Teokratiese Bedieningskool word ander Bybelskole gehou om gemeentelike ouer manne, pioniers, ongetroude broers, Christenegpare, Takkomiteelede en hulle vrouens, reisende opsieners en hulle vrouens en sendelinge op te lei. * Die studente van een klas van die Bybelskool vir Christenegpare het hulle waardering vir die skool soos volg uitgespreek: “Die gespesialiseerde opleiding wat ons ontvang het, het ons liefde vir Jehovah vergroot en ons beter toegerus om ander te help.”
11. Wat stel Koninkryksverkondigers in staat om ondanks teenstand te volhard?
11 Hierdie pogings om die Koninkrykspredikings- en onderrigtingswerk te bevorder, gaan nie ongemerk by Satan verby nie. Hy probeer die werk stopsit deur middel van direkte sowel as subtiele aanvalle op die Koninkryksboodskap en die verkondigers daarvan. Maar die vyand se pogings is tevergeefs. Jehovah het sy Seun “ver bo elke regering en gesag en mag en heerskappy” laat sit (Ef. 1:20-22). As Koning gebruik Jesus sy gesag om sy dissipels te beskerm en te lei om te verseker dat sy Vader se wil gedoen word. * Die goeie nuus word verkondig, en miljoene opregtes van hart word Jehovah se weë geleer. Wat ’n voorreg is dit tog vir ons om ’n aandeel aan hierdie belangrike werk te hê!
DIE KONING ORGANISEER SY ONDERDANE VIR GROTER BEDRYWIGHEID
12. Noem ’n paar van die organisatoriese verfynings wat gemaak is sedert die Koninkryk opgerig is.
12 Sedert die Koninkryk in 1914 opgerig is, het die Koning die manier verfyn waarop God se knegte georganiseer is om sy Vader se wil te doen. (Lees Jesaja 60:17.) In 1919 is ’n diensleier in elke gemeente aangestel om die leiding in die predikingswerk te neem. In 1927 is ’n reëling ingestel om die huis-tot-huis-werk op Sondae te doen. In 1931 is ondersteuners van die Koninkryk tot groter bedrywigheid aangespoor toe hulle die skriftuurlike naam Jehovah se Getuies aangeneem het (Jes. 43:10-12). In 1938 is demokratiese verkiesings van verantwoordelike manne in die gemeentes deur teokratiese aanstellings vervang. In 1972 is toesig oor die gemeente toevertrou aan ’n liggaam van ouer manne pleks van een gemeenteopsiener. Alle mans wat aan die vereistes voldoen het, is aangespoor om uit te reik na die voorreg om ‘as herders toesig te hou oor die kudde van God wat onder hulle sorg is’ (1 Pet. 5:2). In 1976 is die Bestuursliggaam in ses komitees georganiseer om oor die wêreldwye Koninkrykswerk toesig te hou. Dit is gepas dat Jehovah se aangestelde Koning die onderdane van die Koninkryk progressief op ’n teokratiese wyse georganiseer het.
13. Hoe het 100 jaar van Koninkryksheerskappy jou lewe geraak?
13 Dink aan alles wat die Messiaanse Koning gedurende die eerste 100 jaar van sy heerskappy bereik het. Hy het ’n volk vir Jehovah se naam gereinig. Hy het die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk in 239 lande gerig en het miljoene mense van Jehovah se weë geleer. Hy het meer as sewemiljoen lojale onderdane verenig, wat hulle gewillig aanbied om sy Vader se wil te doen (Ps. 110:3). Jehovah se werke deur die Messiaanse Koninkryk is waarlik groot en wonderbaar. Selfs opwindender gebeurtenisse lê nog voor!
TOEKOMSTIGE SEËNINGE VAN DIE MESSIAANSE KONINKRYK
14. (a) Wat vra ons God wanneer ons bid: “Laat u koninkryk kom”? (b) Wat is ons jaarteks vir 2014, en waarom is dit gepas?
14 Hoewel Jehovah sy Seun, Jesus Christus, in 1914 as die Messiaanse Koning gekroon het, was dit nie die volledige antwoord op ons gebed “laat u koninkryk kom” nie (Matt. 6:10). Die Bybel het voorspel dat Jesus ‘te midde van sy vyande sou gaan oorwin’ (Ps. 110:2). Menseregerings onder Satan se beheer staan die Koninkryk nog steeds teë. Wanneer ons bid dat God se Koninkryk moet kom, vra ons God dat die Messiaanse Koning en sy medeheersers moet kom om ’n einde te maak aan menseheerskappy en om die aardse teenstanders van die Koninkryk uit die weg te ruim. Dit sal die woorde in Daniël 2:44 vervul wat sê dat God se Koninkryk “al hierdie koninkryke [sal] verbrysel en daar ’n einde aan [sal] maak”. Dan sal die politieke vyande van die Koninkryk uit die weg geruim word (Op. 6:1, 2; 13:1-18; 19:11-21). Die tyd hiervoor is baie naby. Hoe gepas is dit tog dat ons jaarteks vir 2014, die 100ste herdenking van die oprigting van God se Koninkryk in die hemel, Matteus 6:10 is: “Laat u koninkryk kom”!
Ons jaarteks vir 2014: “Laat u koninkryk kom.”
15, 16. (a) Watter opwindende gebeurtenisse sal gedurende die Duisendjarige Heerskappy plaasvind? (b) Wat sal Jesus se laaste taak as Messiaanse Koning wees, en hoe sal dit God se voorneme verwesenlik?
15 Nadat die Messiaanse Koning God se vyande vernietig, sal hy Satan en sy demone vir duisend jaar in die afgrond werp (Op. 20:1-3). Wanneer hierdie bose invloed verwyder is, sal die Koninkryk die voordele van Jesus se losprysoffer ten behoewe van die mensdom aanwend en die gevolge van Adamitiese sonde uitwis. Die Koning sal tallose miljoene opwek wat in die graf slaap en ’n uitgebreide onderrigtingsprogram organiseer om hulle van Jehovah te leer (Op. 20:12, 13). Die hele aarde sal ’n paradys wees, soos die tuin van Eden was. Alle getroue mense sal tot volmaaktheid verhef word.
16 Teen die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy sal die Messiaanse Koninkryk sy doel bereik het. Dan sal Jesus die Koninkryk aan sy Vader oorgee. (Lees 1 Korintiërs 15:24-28.) Daar sal nie meer ’n tussenganger tussen Jehovah en sy aardse kinders nodig wees nie. Al God se seuns in die hemel en sy kinders op die aarde sal met hulle hemelse Vader verenig wees as deel van sy universele gesin.
17. Wat is jy vasbeslote om in verband met die Koninkryk te doen?
17 Die opwindende gebeurtenisse wat tydens 100 jaar van Koninkryksheerskappy plaasgevind het, verseker ons dat Jehovah in beheer is en dat sy voorneme met die aarde verwesenlik sal word. Mag ons aanhou om sy lojale onderdane te wees en om die Koning en sy Koninkryk te adverteer. Ons doen dit met die volle vertroue dat Jehovah ons opregte gebed binnekort sal verhoor: “Laat u koninkryk kom”!
^ par. 3 Sien die boek Wat leer die Bybel werklik?, bladsye 88-92.
^ par. 10 Sien Die Wagtoring van 15 September 2012, bladsye 13-17, “Teokratiese Skole
^ par. 11 Sien Die Wagtoring van 1 Desember 1998, bladsye 19-22, vir voorbeelde van wetlike oorwinnings in verskeie lande.