Wat ek as kind gekies het
In 1985, toe ek tien jaar oud was, het kinders van Kambodja my skool in Columbus, Ohio, VSA, begin bywoon. Een van die seuns het ’n paar Engelse woorde geken. Hy het prentjies gebruik om vir my afgryslike stories van marteling, moorde en ontsnappings te vertel. Ek het in die nag gehuil terwyl ek aan hierdie kinders gedink het. Ek wou hulle van die hoop op ’n Paradys en die opstanding vertel, maar hulle het nie my taal verstaan nie. Hoewel ek maar net ’n seun was, het ek besluit om Kambodjaans te leer sodat ek my skoolmaats van Jehovah kon vertel. Min het ek geweet watter uitwerking hierdie besluit op my toekoms sou hê.
Dit was moeilik om Kambodjaans te leer. Ek wou twee keer ophou, maar Jehovah het my deur middel van my ouers aangemoedig. Ná verloop van tyd het my skoolonderwysers en klasmaats my begin aanspoor om ’n winsgewende loopbaan na te jaag. Maar ek wou ’n pionier word, en daarom het ek hoërskoolvakke gekies wat my sou help om ’n deeltydse werk te vind sodat ek my doel kon bereik. Ná skool het ek gewoonlik by ’n paar pioniers aangesluit en saam met hulle in die bediening gewerk. Ek het ook aangebied om privaat lesse te gee aan leerlinge wat Engels as ’n tweede taal geleer het
Toe ek 16 was, het ek van ’n Kambodjaanse groep gehoor in Long Beach, Kalifornië, VSA. Ek het die groep begin besoek en geleer om Kambodjaans te lees. Toe ek my skoolloopbaan voltooi het, het ek begin pionier en aangehou om vir die Kambodjaanse mense naby my huis te preek. Teen die tyd dat ek 18 was, het ek dit oorweeg om na Kambodja te trek. Dit was nog steeds ’n gevaarlike plek, maar ek het geweet dat min van die tienmiljoen mense wat in Kambodja woon, al die goeie nuus van die Koninkryk gehoor het. Op daardie tydstip was daar net een gemeente met 13 verkondigers in die hele land. Toe ek 19 was, het ek Kambodja vir die eerste keer besoek. Twee jaar later het ek besluit om daar te gaan woon. Ek het deeltydse werk gevind as ’n vertaler en het Engelse klasse gegee om my in die bediening te onderhou. Later het ek getrou met iemand wat dieselfde doelwitte as ek gehad het. Ons het saam die vreugde gesmaak om baie Kambodjaanse mense te help om hulle lewe aan God toe te wy.
Jehovah het my ‘die versoeke van my hart gegee’ (Ps. 37:4). Die dissipelmaakwerk is die bevredigendste beroep wat daar is. Gedurende die 16 jaar wat ek in Kambodja is, het daardie klein groepie van 13 knegte van Jehovah so gegroei dat daar nou 12 gemeentes en vier afgesonderde groepe is!