Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om ’n positiewe beskouing te behou

Hoe om ’n positiewe beskouing te behou

“As ’n mens baie jare lewe, moet hy hom in hulle almal verbly.”PRED. 11:8.

1. Watter seëninge van Jehovah kan ons help om gelukkig te wees?

JEHOVAH wil hê dat ons gelukkig moet wees, en hy stort baie seëninge op ons uit wat ons kan help om geluk te vind. Om maar een ding te noem, ons lewe. Ons kan ons lewe dus gebruik om God te loof, aangesien hy ons na ware aanbidding getrek het (Ps. 144:15; Joh. 6:44). Jehovah verseker ons van sy liefde en help ons om in ons diens aan hom te volhard (Jer. 31:3; 2 Kor. 4:16). Ons geniet die geestelike paradys, waar ons oorvloedige geestelike voedsel sowel as ’n liefdevolle broederskap vind. Daarbenewens koester ons ’n kosbare hoop vir die toekoms.

2. Waarmee sukkel party getroue knegte van God?

2 Hoewel ons al hierdie redes het om gelukkig te wees, sukkel party getroue knegte van God met negatiewe gedagtes oor hulleself. Hulle voel dalk dat Jehovah nie baie waarde heg aan hulle of hulle diens nie. Vir diegene met knaende negatiewe gevoelens, klink die idee om “baie jare” te geniet, dalk soos ’n droom. Vir hulle lyk dit moontlik asof die lewe net uit dae van duisternis bestaan.Pred. 11:8.

3. Wat kan tot negatiewe gevoelens aanleiding gee?

3 Teleurstellings, siekte of tekens dat ’n mens oud begin  word, kan tot negatiewe gevoelens aanleiding gee (Ps. 71:9; Spr. 13:12; Pred. 7:7). Wat meer is, elke Christen moet die werklikheid aanvaar dat die hart verraderlik is en ons kan veroordeel, al skep God behae in ons (Jer. 17:9; 1 Joh. 3:20). Die Duiwel beskuldig God se knegte valslik. En diegene wat Satan se denkwyse volg, sal ons dalk probeer beïnvloed met die beskouing wat die ontroue Elifas gehad hetdat ons vir God waardeloos is. Dit was in Job se dag ’n leuen, en dit is vandag ook.Job 4:18, 19.

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Jehovah toon duidelik in die Skrif dat hy met diegene sal wees wat “wandel . . . in die vallei van diep skaduwee” (Ps. 23:4). Een manier waarop hy met ons is, is deur middel van sy Woord. Die Bybel is “kragtig deur God om sterk verskanste dinge omver te werp”, insluitende wanopvattings en negatiewe gedagtes (2 Kor. 10:4, 5). Kom ons kyk hoe ons die Bybel kan gebruik om ons te help om ’n positiewe beskouing aan te kweek en te behou. Jy kan self hierby baat vind en jy kan ook maniere vind om ander aan te moedig.

GEBRUIK DIE BYBEL OM ’N POSITIEWE BESKOUING AAN TE KWEEK

5. Watter toets kan ons help om ’n positiewe beskouing te hê?

5 Die apostel Paulus het ’n paar dinge gemeld wat ons kan help om ’n positiewe beskouing aan te kweek. Hy het die gemeente in Korinte aangespoor: “Toets voortdurend of julle in die geloof is” (2 Kor. 13:5). “Die geloof” is al die Christelike opvattings wat in die Bybel gevind word. As ons woorde en dade met hierdie opvattings ooreenstem, slaag ons die toets en toon ons dat ons “in die geloof” is. Ons moet ons lewe natuurlik ook vergelyk met die Christelike leer as ’n geheel. Ons kan nie kies om net party leringe te gehoorsaam nie.Jak. 2:10, 11.

6. Waarom moet ons onsself toets om te sien ‘of ons in die geloof is’? (Sien prent aan begin van artikel.)

6 Jy sal dalk huiwer om hierdie toets te doen, veral as jy dink dat jy nie sal slaag nie. Maar Jehovah se beskouing is belangriker as ons s’n, en sy denke is baie hoër as ons s’n (Jes. 55:8, 9). Hy ondersoek nie sy aanbidders om hulle te veroordeel nie, maar om hulle goeie eienskappe te vind en om hulle te help. Wanneer jy God se Woord gebruik om jouself te toets om te sien “of [jy] in die geloof is”, sal jou beskouing van jouself nader kom aan God se beskouing van jou. Dit kan jou help om die gedagte dat jy vir God waardeloos is, te vervang met die Bybelse versekering: Jy is kosbaar in Jehovah se oë. Dit kan wees soos om die gordyne oop te trek sodat die son in ’n donker vertrek kan inskyn.

7. Hoe kan ons baat vind by Bybelse voorbeelde van persone wat getrou was?

7 ’n Doeltreffende manier om hierdie selfondersoek te doen, is om na te dink oor voorbeelde van getroue mense in die Bybel. Vergelyk hulle omstandighede en gevoelens met joune, en dink hoe jy sou gereageer het as jy in hulle situasie was. Kom ons kyk na drie voorbeelde wat toelig hoe jy die Bybel kan gebruik om te toets of jy “in die geloof” is en sodoende ’n positiewe beskouing van jouself kan aankweek.

DIE BEHOEFTIGE WEDUWEE

8, 9. (a) Wat was die behoeftige weduwee se omstandighede? (b) Watter negatiewe gevoelens het die weduwee moontlik gehad?

8 By die tempel in Jerusalem het Jesus ’n behoeftige weduwee gesien. Haar voorbeeld kan ons help om ondanks ons beperkings ’n positiewe beskouing te behou. (Lees Lukas 21:1-4.) Dink aan die weduwee se omstandighede. Sy moes die hartseer verduur om haar man aan die dood af te staan. Daarbenewens het die godsdiensleiers “die huise van die weduwees  verslind” eerder as om hierdie kwesbare persone te help (Luk. 20:47). Sy was so arm dat haar bydrae aan die tempel maar net gelykstaande was aan die loon wat ’n arbeider in ’n paar minute kon verdien.

9 Stel jou voor hoe die weduwee gevoel het toe sy met haar twee klein muntstukke by die voorhof van die tempel ingestap het. Het sy gedink aan hoe klein haar bydrae was in vergelyking met wat sy moontlik kon gegee het toe haar man nog gelewe het? Het sy verleë gevoel toe sy die groot bydraes gesien het wat die ander gemaak het en dalk gewonder of haar bydrae werklik die moeite werd is? Al is dit miskien hoe sy gevoel het, het sy haar bes gedoen om ware aanbidding te bevorder.

10. Hoe het Jesus getoon dat die weduwee vir God waardevol was?

10 Jesus het getoon dat die weduwee en haar bydrae vir Jehovah waardevol was. Hy het gesê dat sy “meer as [al die rykes] ingegooi” het. Baie ander het ook ’n bydrae gegee, maar Jesus het haar in die besonder geprys. Diegene wat later die skatkiste leeggemaak het, sou nie geweet het hoe kosbaar daardie twee muntstukke en die weduwee vir Jehovah was nie. Nogtans is dit God se beskouing wat werklik saak gemaak het, nie wat ander mense gedink het of selfs hoe die weduwee haarself beskou het nie. Kan jy hierdie verslag gebruik om te toets of jy in die geloof is?

Watter les leer jy uit die voorbeeld van die behoeftige weduwee? (Sien paragrawe 8-10)

11. Wat kan jy uit die verslag van die weduwee leer?

11 Jou omstandighede kan ’n direkte uitwerking hê op wat jy Jehovah kan gee. Weens ouderdom of swak gesondheid is die tyd wat party aan die verkondiging van die goeie nuus kan bestee, baie beperk. Moet hulle voel dat dit nie die moeite werd is om die tyd wat hulle aan die bediening bestee het, te rapporteer nie? Al is jy nie baie beperk nie, meen jy dalk dat jou pogings net ’n klein deel uitmaak van al die ure wat God se volk elke jaar aan sy aanbidding bestee. Ons leer nogtans  uit die verslag van die arm weduwee dat Jehovah elke daad wat vir hom verrig word, raaksien en hoog op prys stel, veral wanneer dit onder moeilike omstandighede verrig word. Dink terug aan wat jy oor die afgelope jaar in die aanbidding van Jehovah gedoen het. Het een van die ure wat jy aan hom gewy het, ’n spesiale opoffering van jou geverg? Indien wel, kan jy seker wees dat hy waardeer wat jy gedurende daardie uur vir hom gedoen het. As jy, soos die behoeftige weduwee, jou bes doen in Jehovah se diens, het jy goeie rede om te glo dat jy “in die geloof” is.

‘NEEM MY SIEL WEG’

12-14. (a) Watter uitwerking het negatiewe gevoelens op Elia gehad? (b) Waarom het Elia moontlik so gevoel?

12 Die profeet Elia was lojaal aan Jehovah en het sterk geloof gehad. Maar op een stadium was hy so terneergedruk dat hy Jehovah gevra het om hom dood te maak en het hy gesê: “Dit is genoeg! Neem nou my siel weg, o Jehovah” (1 Kon. 19:4). Iemand wat nog nooit so wanhopig gevoel het nie, sal Elia se gebed dalk bloot as “wilde praatjies” afmaak (Job 6:3). Maar dit is hoe hy werklik gevoel het. Let egter daarop dat Jehovah Elia nie berispe het omdat hy wou doodgaan nie, maar dat hy hom eerder gehelp het.

13 Waarom het Elia so gevoel? Hy het kort tevore die leiding geneem in ’n deurslaggewende toets in Israel wat bewys het dat Jehovah die ware God is, en dit het tot die teregstelling van 450 Baälprofete gelei (1 Kon. 18:37-40). Elia het waarskynlik gehoop dat God se volk nou na ware aanbidding sou terugkeer, maar dit het nie gebeur nie. Die goddelose koningin Isebel het vir Elia ’n boodskap gestuur dat sy hom gaan laat doodmaak. Elia het vir sy lewe gevrees en het suidwaarts gevlug, deur naburige Juda en na die wildernis, ’n dorre en woeste plek.1 Kon. 19:2-4.

14 Toe Elia alleen met sy gedagtes was, het hy begin dink dat sy werk as ’n profeet tevergeefs is. Hy het vir Jehovah gesê: “Ek is nie beter as my voorvaders nie.” Sy punt was dat hy so nutteloos soos die stof en beendere van sy dooie voorouers gevoel het. Hy het hom in werklikheid teen sy eie standaarde gemeet en het besluit dat hy ’n mislukking is, van geen waarde vir Jehovah of enigiemand anders nie.

15. Hoe het God Elia verseker dat hy nog vir Hom waardevol is?

15 Die Almagtige het egter ’n ander beskouing van Elia gehad. Elia was nog steeds waardevol in God se oë, en Jehovah het stappe gedoen om hom van hierdie werklikheid te verseker. God het ’n engel gestuur om Elia te versterk. Jehovah het ook kos en water voorsien wat Elia gedurende sy 40 dae lange reis suidwaarts na die berg Horeb aan die lewe sou hou. Wat meer is, God het Elia liefdevol reggehelp, aangesien hy verkeerdelik gedink het dat geen ander Israeliete aan Jehovah getrou gebly het nie. Dit is betekenisvol dat God Elia nuwe toewysings gegee het, wat hy aanvaar het. Elia het by Jehovah se hulp baat gevind, en hy het sy werk as ’n profeet met hernieude krag voortgesit.1 Kon. 19:5-8, 15-19.

16. Wat is ’n paar maniere waarop God jou al onderskraag het?

16 Elia se ondervinding kan jou help om te toets of jy in die geloof is en om ’n positiewe beskouing aan te kweek. Eerstens, dink aan die maniere waarop Jehovah jou onderskraag het. Het een van sy knegte, moontlik ’n ouer man of ’n ander ryp Christen, jou dalk gehelp toe jy dit nodig gehad het? (Gal. 6:2). Word jy geestelik gevoed deur die Bybel, ons Christelike publikasies en die gemeentelike vergaderinge? Die volgende keer dat jy by een van hierdie voorsienings baat vind, kan jy dink aan die ware Bron daarvan en Hom in gebed dank.Ps. 121:1, 2.

17. Wat waardeer Jehovah omtrent sy knegte?

 17 Tweedens, hou in gedagte dat ’n negatiewe beskouing bedrieglik kan wees. Hoe God ons beoordeel, is wat werklik saak maak. (Lees Romeine 14:4.) Jehovah waardeer ons toegewydheid en getrouheid aan hom; hy bepaal nie ons waarde volgens wat ons vir hom gedoen het nie. En net soos Elia, het jy heel moontlik meer vir Jehovah gedoen as wat jy besef. Daar is waarskynlik mense in die gemeente op wie jy ’n goeie invloed gehad het, asook mense in die gebied wat weens jou pogings aan die waarheid blootgestel is.

18. Wat bewys elke toewysing wat jy van Jehovah ontvang?

18 Laastens, beskou elke toewysing wat jy van Jehovah ontvang, as ’n bewys dat hy met jou is (Jer. 20:11). Soos Elia, is jy dalk mismoedig omdat jy voel dat jy niks in jou diens bereik nie of omdat die een of ander geestelike doelwit blykbaar buite jou bereik is. Tog geniet jy nog steeds die grootste voorreg wat enigeen van ons nou kan hêom die goeie nuus te verkondig en God se naam te dra. Bly getrou. Dan kan die woorde in een van Jesus se gelykenisse in sekere sin aan jou gerig word: “Gaan in die vreugde van jou heer in.”Matt. 25:23.

DIE “GEBED VAN DIE GETEISTERDE”

19. In watter situasie het die skrywer van Psalm 102 hom bevind?

19 Die skrywer van Psalm 102 was wanhopig. Hy was ‘geteister’, dit wil sê hy het groot fisiese en emosionele spanning ervaar, en hy het nie die krag gehad om sy probleme aan te pak nie (Ps. 102, opskrif). Sy woorde toon dat hy aan niks anders kon dink as sy pyn, eensaamheid en persoonlike gevoelens nie (Ps. 102:3, 4, 6, 11). Hy het geglo dat Jehovah hom wou wegwerp.Ps. 102:10.

20. Hoe kan gebed iemand help wat teen negatiewe gedagtes stry?

20 Maar die psalmis kon nog steeds sy lewe gebruik om Jehovah te loof. (Lees Psalm 102:19-21.) Soos blyk uit Psalm 102, kan selfs diegene wat in die geloof is, in pyn verkeer en sukkel om op enigiets anders te konsentreer. Die psalmis het gevoel “soos ’n eensame voël op ’n dak”, asof sy probleme sy enigste geselskap was (Ps. 102:7). As jy ooit so voel, moet jy jou hart voor Jehovah uitstort soos die psalmis gedoen het. Die gebede van die geteisterdejou gebedekan jou help terwyl jy teen negatiewe gedagtes stry. Jehovah belowe dat “hy . . . hom beslis [sal] wend tot die gebed van dié wat alles ontneem is en hulle gebed nie [sal] verag nie” (Ps. 102:17). Vertrou daardie belofte.

21. Hoe kan iemand wat teen negatiewe gevoelens stry, ’n positiewer beskouing verkry?

21 Psalm 102 toon ook hoe jy ’n positiewer beskouing kan verkry. Die psalmis het dit gedoen deur sy aandag op sy verhouding met Jehovah te vestig (Ps. 102:12, 27). Hy het vertroosting geput uit die wete dat Jehovah altyd daar sou wees om Sy volk tydens beproewinge te onderskraag. As negatiewe gevoelens jou tydelik verhinder om soveel in God se diens te doen as wat jy wil, moet jy daaroor bid. Vra God vir ’n mate van verligting van jou benoudheid en dat ‘die naam van Jehovah bekend gemaak moet word’.Ps. 102:20, 21.

22. Hoe kan elkeen van ons Jehovah behaag?

22 Ja, ons kan die Bybel gebruik om aan onsself te bewys dat ons in die geloof is en vir Jehovah waardevol is. Toegegee, in die teenswoordige stelsel van dinge sal dit dalk nie vir ons moontlik wees om van alle negatiewe gevoelens of ontmoediging ontslae te raak nie. Maar elkeen van ons kan Jehovah behaag en redding verkry deur getrou in sy diens te volhard.Matt. 24:13.