Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jou woord“Ja en tog Nee”?

Jou woord“Ja en tog Nee”?

Dink aan hierdie scenario: ’n Ouer man wat ’n lid is van ’n Hospitaalskakelkomitee, het reëlings getref om Sondagoggend saam met ’n jong broer velddiens te doen. Daardie oggend kry die ouer man ’n dringende oproep van ’n broer wie se vrou so pas in ’n motorongeluk was en inderhaas na die hospitaal geneem is. Hy vra die ouer man om hom ’n dokter te help vind wat sy standpunt oor die bloedkwessie sal respekteer. Die ouer man kanselleer dus sy velddiensreëling met die jong broer sodat hy liefdevolle ondersteuning kan gee aan ’n gesin wat in die nood verkeer.

Stel jou nog ’n scenario voor: ’n Enkelma met twee kinders word deur ’n egpaar in haar gemeente uitgenooi om een aand by hulle te kom kuier. Wanneer sy haar kinders daarvan vertel, kan sy die opgewondenheid op hulle gesigte sien. Hulle sien baie daarna uit. Maar die dag voor die besoek sê die egpaar vir die ma dat iets onverwags voorgeval het en dat hulle die afspraak sal moet kanselleer. Sy vind later uit waarom die egpaar gekanselleer het. Nadat die egpaar haar genooi het, is hulle deur vriende genooi om daardie selfde aand by hulle te kom kuier, en die egpaar het die uitnodiging aanvaar.

As Christene moet ons natuurlik by ons woord bly. Ons woord moet nooit “Ja en tog Nee” wees nie (2 Kor. 1:18). Maar soos die twee voorbeelde toelig, is elke situasie anders. Daar sal dalk tye wees wanneer dit lyk asof ons nie anders kan as om ’n reëling te kanselleer nie. Die apostel Paulus het hom een keer in so ’n situasie bevind.

PAULUS IS VAN WISSELVALLIGHEID BESKULDIG

In 55 HJ, toe Paulus tydens sy derde sendingreis in Efese was, was hy van plan om die Egeïese See oor te steek om Korinte te bereik en van daar af na Masedonië te reis. Op pad terug na Jerusalem wou hy die gemeente in Korinte ’n tweede keer besoek, klaarblyklik om hulle liefdegawe na die broers in Jerusalem te neem (1 Kor. 16:3). Dit blyk duidelik uit 2 Korintiërs 1:15, 16, waar ons lees: “Met hierdie vertroue was ek reeds vroeër van plan om na julle toe te kom, sodat julle ’n tweede geleentheid vir vreugde sou hê, en om, nadat ek by julle oorgebly het, na Masedonië te gaan en om van Masedonië af na julle toe terug te kom en deur julle ’n ent na Judea begelei te word.”

Paulus het die broers in Korinte blykbaar in ’n vorige brief van sy planne vertel (1 Kor. 5:9). Maar kort nadat Paulus daardie brief geskryf het, het hy by die huisgenote van  Chloë gehoor dat daar onenighede in die gemeente bestaan (1 Kor. 1:10, 11). Paulus het besluit om sy planne te verander, en hy het die brief geskryf wat nou as 1 Korintiërs bekend staan. Daarin het Paulus hulle liefdevol raad gegee en tereggewys. Hy het hulle ook in kennis gestel dat hy sy reisplanne verander het en vir hulle gesê dat hy eers na Masedonië sou gaan en dan na Korinte sou kom.1 Kor. 16:5, 6. *

Toe die broers in Korinte sy brief ontvang het, het party van die “uitnemende apostels” in daardie gemeente hom blykbaar daarvan beskuldig dat hy wisselvallig is en nie sy beloftes nakom nie. Tot sy verdediging het Paulus gevra: “Wel, toe ek so ’n plan gehad het, het ek tog nie aan enige ligsinnigheid toegegee nie, of hoe? Of die dinge wat ek my voorneem, neem ek my dit na die vlees voor, sodat dit by my ‘Ja, Ja’ en ‘Nee, Nee’ sou wees?”2 Kor. 1:17; 11:5.

Het die apostel Paulus werklik in hierdie geval ‘aan ligsinnigheid toegegee’, oftewel die saak ligtelik opgeneem? Natuurlik nie! Die woord wat met “ligsinnigheid” vertaal word, dui op iemand wat wisselvallig is, ’n onbetroubare persoon wat nie sy beloftes nakom nie. Paulus se retoriese vraag: “Die dinge wat ek my voorneem, neem ek my dit na die vlees voor”? moes die Christene in Korinte laat besef het dat hy nie besluit het om sy planne te verander omdat hy onbetroubaar was nie.

Paulus het die aantyging uitdruklik ontken deur te skryf: “Maar op God kan vertrou word dat ons woord wat tot julle gerig word, nie Ja en tog Nee is nie” (2 Kor. 1:18). Paulus het sekerlik die belange van sy broers en susters in Korinte op die hart gedra toe hy sy reëlings verander het. Volgens 2 Korintiërs 1:23 was die rede waarom hy sy oorspronklike plan om Korinte te besoek, verander het, ‘om hulle te spaar’. Trouens, hy het hulle ’n geleentheid gegee om dinge reg te stel voordat hy hulle besoek. Soos hy gehoop het, het hy, terwyl hy in Masedonië was, by Titus gehoor dat sy brief hulle wel tot droefheid en berou beweeg het, en hy het hom grootliks daaroor verbly.2 Kor. 6:11; 7:5-7.

DIE “AMEN”

Diegene wat Paulus van wisselvalligheid beskuldig het, wou moontlik te kenne gee dat hy nie betroubaar was wat sy predikingswerk betref nie, aangesien hy nie vertrou kon word om sy beloftes in sy daaglikse lewe na te kom nie. Maar Paulus het die Korintiërs daaraan herinner dat hy Jesus Christus onder hulle verkondig het. “Die Seun van God, Christus Jesus, wat deur middel van ons onder julle verkondig is, dit wil sê deur middel van my en Silvanus en Timoteus, het nie Ja en tog Nee geword nie, maar Ja het in sy geval Ja geword” (2 Kor. 1:19). Was Paulus se Voorbeeld, Jesus Christus, enigsins onbetroubaar? Nee! Deur sy hele lewe en bediening heen het Jesus altyd die waarheid gepraat (Joh. 14:6; 18:37). Aangesien die boodskap wat Jesus verkondig het, heeltemal waar en betroubaar was en Paulus dieselfde boodskap verkondig het, was sy boodskap dus ook betroubaar.

Jehovah is natuurlik “die God van waarheid” (Ps. 31:5). Ons sien dit uit wat Paulus verder skryf: “Ongeag hoeveel beloftes van God daar is, hulle het deur middel van hom Ja geword”, dit wil sê deur middel van Christus. Jesus se volmaakte onkreukbaarheid toe hy op aarde was, het alle twyfel aangaande Jehovah se beloftes uit die weg geruim. Paulus gaan voort: “Daarom word die ‘Amen’ ook deur middel van hom [Jesus] gesê, tot heerlikheid van God deur middel van ons” (2 Kor. 1:20). Jesus is die waarborg, of die “Amen”, dat elke belofte wat Jehovah God maak, verwesenlik sal word!

Net soos Jehovah en Jesus altyd die waarheid praat, het Paulus altyd bedoel wat hy  gesê het (2 Kor. 1:19). Hy was nie wisselvallig, iemand wat beloftes “na die vlees” gemaak het nie (2 Kor. 1:17). Hy het eerder ‘deur gees gewandel’ (Gal. 5:16). Hy het ander se belange altyd op die hart gedra. Sy Ja het Ja beteken!

BETEKEN JOU JA JA?

Deesdae is dit iets algemeens vir mense wat nie volgens Bybelbeginsels lewe nie, om beloftes te maak en dit dan te verbreek as ’n klein probleem of iets aanloklikers opduik. In sakeaangeleenthede beteken “ja” nie altyd “ja” nie, selfs wanneer ooreenkomste op skrif gestel is. Baie beskou nie meer die huwelik, ’n ooreenkoms tussen twee partye, as ’n lewenslange verbintenis nie. Die feit dat die egskeidingsyfer die hoogte inskiet, toon dat baie die huwelik as ’n onbelangrike verbintenis beskou wat maklik verbreek kan word.2 Tim. 3:1, 2.

Wat van jou? Beteken jou Ja Ja? Soos ons aan die begin van hierdie artikel gesien het, sal jy dalk wel ’n afspraak moet kanselleer, nie weens wisselvalligheid nie, maar weens omstandighede buite jou beheer. Maar as jy as ’n Christen ’n belofte maak of jou tot iets verbind, moet jy werklik alles in jou vermoë doen om dit na te kom (Ps. 15:4; Matt. 5:37). As jy dit doen, sal jy bekend staan as ’n persoon wat betroubaar is, sy woord hou en altyd die waarheid praat (Ef. 4:15, 25; Jak. 5:12). Wanneer mense besef dat jy in jou daaglikse lewe betroubaar is, sal hulle dalk meer bereid wees om te luister wanneer jy hulle van die waarheid van God se Koninkryk vertel. Laat ons dus seker maak dat ons Ja werklik Ja beteken!

^ par. 7 ’n Rukkie nadat Paulus 1 Korintiërs geskryf het, het hy wel deur Troas na Masedonië gereis, waar hy 2 Korintiërs geskryf het (2 Kor. 2:12; 7:5). Hy het Korinte wel later besoek.