Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om ’n selfopofferende gees te behou

Hoe om ’n selfopofferende gees te behou

“As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën.”MATT. 16:24.

1. Hoe het Jesus ’n volmaakte voorbeeld in selfopoffering gestel?

TOE Jesus op aarde was, het hy ’n volmaakte voorbeeld in selfopoffering gestel. Hy het sy eie begeertes en gerief prysgegee om God se wil te doen (Joh. 5:30). Deur tot die dood aan ’n folterpaal getrou te bly, het hy bewys dat sy gees van selfopoffering geen perke gehad het nie.Fil. 2:8.

2. Hoe kan ons ’n selfopofferende gees openbaar, en waarom moet ons dit doen?

2 As volgelinge van Jesus moet ons ook ’n selfopofferende gees openbaar. Wat beteken dit om ’n selfopofferende gees te hê? Eenvoudig gestel, beteken dit dat ’n persoon bereid is om sy eie belange prys te gee om ander te help. In sekere sin is dit die teenoorgestelde van selfsug. (Lees Matteus 16:24.) ’n Onselfsugtige gees kan ons help om ons gevoelens en persoonlike voorkeure ná dié van ander te stel (Fil. 2:3, 4). Trouens, Jesus het geleer dat ’n onselfsugtige gees ’n onontbeerlike deel van ons aanbidding is. Hoe so? Christelike liefde, wat ons beweeg om selfopofferend te wees, is die kenmerk van Jesus se ware dissipels (Joh. 13:34, 35). En dink aan die seëninge wat ons geniet omdat ons deel is van ’n wêreldwye broederskap wat ’n selfopofferende gees openbaar!

3. Wat kan ons selfopofferende gees ondermyn?

 3 Ons het nietemin ’n vyand wat ons selfopofferende gees op subtiele wyse kan ondermyn. Hierdie vyand is ons neiging om selfsugtig te wees. Dink aan hoe Adam en Eva selfsug geopenbaar het. Eva se optrede het voortgespruit uit ’n selfsugtige begeerte om soos God te wees. En haar man het ’n selfsugtige begeerte geopenbaar om haar te behaag (Gen. 3:5, 6). Nadat die Duiwel Adam en Eva van ware aanbidding afgekeer het, het hy aangehou om mense in die versoeking te bring om selfsugtig te wees. Hy het selfs hierdie benadering gebruik toe hy Jesus versoek het (Matt. 4:1-9). In ons dag het Satan die meeste mense met welslae mislei en hulle gekry om op verskeie maniere selfsug te openbaar. Dit verdien ons aandag omdat die heersende gees van selfsug ons kan beïnvloed.Ef. 2:2.

4. (a) Kan ons nou van selfsugtige neigings ontslae raak? Verduidelik. (b) Watter vrae sal ons bespreek?

4 Selfsug kan vergelyk word met roes wat op yster vorm. As ’n ystervoorwerp aan die elemente blootgestel word, kan dit begin roes. Die ware gevaar ontstaan as niks omtrent die roes gedoen word nie en dit toegelaat word om so erg te word dat die voorwerp beskadig word of selfs ineenstort. Net so moet ons, hoewel ons nie nou van onvolmaaktheid en selfsugtige neigings ontslae kan raak nie, op ons hoede wees vir die gevare wat sulke neigings inhou en aanhou om daarteen te stry (1 Kor. 9:26, 27). Hoe kan ons tekens van selfsug in onsself raaksien? En hoe kan ons in groter mate ’n selfopofferende gees aankweek?

GEBRUIK DIE BYBEL OM TE TOETS OF JY SELFSUGTIG IS

5. (a) Hoe is die Bybel soos ’n spieël? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Wat moet ons vermy wanneer ons toets of ons selfsugtig is?

5 Net soos ons ’n spieël kan gebruik om ons voorkoms na te gaan, kan ons die Bybel gebruik om ons innerlike persoon te ondersoek en die nodige aanpassings te maak. (Lees Jakobus 1:22-25.) Maar ’n spieël sal ons net met ons voorkoms help as ons dit reg gebruik. Byvoorbeeld, as ons net vlugtig in die spieël kyk, sal ons dalk iets miskyk wat klein maar taamlik ernstig is. Of as ons teen ’n hoek in ’n spieël kyk, sal ons dalk iemand anders se beeld sien. As ons die Bybel eweneens wil gebruik om ’n gebrek, soos selfsug, te identifiseer, moet ons dit nie net oppervlakkig lees of dit gebruik om iemand anders se foute te sien nie.

6. Hoe “bly” ons by die volmaakte wet?

6 Ons kan byvoorbeeld God se Woord gereeld, selfs daagliks, lees en nog steeds nie tekens van selfsug sien wat in ons ontwikkel nie. Hoe is dit moontlik? Dink hieraan: In Jakobus se voorbeeld van die spieël was die probleem nie dat die man nie mooi gekyk het nie. Jakobus het geskryf dat die man ‘homself bekyk’. Hier gebruik Jakobus ’n Griekse woord wat “noukeurig ondersoek” beteken. Wat was dus in hierdie geval die man se probleem? Jakobus sê verder: “[Hy] gaan dan weg en vergeet onmiddellik watter soort mens hy is.” Ja, hy het van die spieël weggedraai sonder om iets te doen omtrent wat hy gesien het. Daarenteen kyk ’n suksesvolle man nie net “diep . . . in die volmaakte wet” nie, maar hy ‘bly ook daarby’. Hy laat nie die volmaakte wet van God se Woord agter nie, maar hy volg voortdurend die leringe daarin. Jesus het ’n soortgelyke punt gestel toe hy gesê het: “As julle in my woord bly, is julle werklik my dissipels.”Joh. 8:31.

7. Hoe kan ons die Bybel gebruik om te toets of ons enige tekens van selfsug openbaar?

7 Daarom moet jy God se Woord noukeurig lees as jy tekens van selfsug met welslae wil bestry. Dit kan jou help om gebiede te identifiseer wat aandag nodig  het. Maar jy moet meer doen. Delf dieper deur navorsing te doen. Wanneer jy ’n goeie begrip van ’n Bybelverslag het, kan jy jou in die verslag inleef deur vrae te vra soos: ‘Hoe sou ek in hierdie situasie opgetree het? Sou ek dit werklik reg hanteer het?’ Nog belangriker, nadat jy gepeins het oor wat jy gelees het, moet jy dit probeer toepas (Matt. 7:24, 25). Kom ons kyk hoe ons die verslae van koning Saul en die apostel Petrus kan gebruik om ons te help om ’n selfopofferende gees te behou.

LEER UIT KONING SAUL SE WAARSKUWENDE VOORBEELD

8. Watter gesindheid het Saul gehad toe hy begin heers het, en hoe het hy dit geopenbaar?

8 Koning Saul van Israel dien vir ons as ’n waarskuwing oor hoe selfsug ons selfopofferende gees kan ondermyn. Toe Saul begin heers het, het hy ’n beskeie en nederige beskouing van homself gehad (1 Sam. 9:21). Hy het geweier om Israeliete te straf wat hulle teen sy heerskappy uitgespreek het, al kon hy geredeneer het dat hy geregverdig was om sy godgegewe posisie te verdedig (1 Sam. 10:27). Koning Saul het die leiding van God se gees aanvaar deur Israel in ’n suksesvolle stryd teen die Ammoniete aan te voer. Daarna het hy Jehovah nederig die eer vir die oorwinning gegee.1 Sam. 11:6, 11-13.

9. Hoe het ’n selfsugtige denkwyse in Saul ontwikkel?

9 Later het Saul toegelaat dat selfsugtige denke en trots soos wegvretende roes in hom ontwikkel. Toe hy die Amalekiete in die stryd oorwin het, het hy sy eie begeertes bo gehoorsaamheid aan Jehovah gestel. In plaas daarvan om die buit te vernietig, soos God hom beveel het, het Saul dit uit gierigheid geneem. En Saul was so verwaand dat hy ’n monument ter ere van homself opgerig het (1 Sam. 15:3, 9, 12). Toe die profeet Samuel vir hom gesê het dat hy Jehovah mishaag het, het Saul hom probeer regverdig deur te konsentreer op die deel van God se bevel wat hy wel gehoorsaam het en deur ander vir sy fout te blameer (1 Sam. 15:16-21). Daarbenewens het trots veroorsaak dat Saul meer besorg daaroor was om sy aansien voor die volk te red as om God te behaag (1 Sam. 15:30). Hoe kan ons die verslag oor Saul as ’n spieël gebruik om ons te help om ’n selfopofferende gees te behou?

10, 11. (a) Wat leer ons uit Saul se ondervinding oor hoe om ’n selfopofferende gees te behou? (b) Hoe kan ons Saul se slegte weg vermy?

10 Eerstens toon Saul se ondervinding dat ons nie selfvoldaan moet wees en moet aanneem dat ons outomaties sal voortgaan om ’n selfopofferende gees te openbaar nie (1 Tim. 4:10). Hou in gedagte dat Saul ’n ruk lank goed gevaar het en God se guns geniet het, maar dat hy nie selfsugtige neigings uitgeroei het toe dit begin ontwikkel het nie. Jehovah het Saul uiteindelik weens sy ongehoorsaamheid verwerp.

11 Tweedens moet ons versigtig wees dat ons nie net konsentreer op die gebiede in ons lewe waar ons goed vaar en aspekte ignoreer waaraan ons moet werk nie. Dit sal wees soos om ’n spieël te gebruik om ons nuwe klere te bewonder sonder om te sien dat ons gesig vuil is. Al is ons dalk nie so selfvoldaan as wat Saul geword het nie, moet ons beslis hard werk om enige neiging te vermy wat kan veroorsaak dat ons dieselfde slegte weg volg. As ons raad ontvang, moet ons versigtig wees om nie ons optrede te regverdig, die probleem te verklein of ander te blameer nie. Dit is baie beter om raad te aanvaar as om soos Saul te wees.Lees Psalm 141:5.

12. Hoe kan ’n selfopofferende gees ons help as ons ’n ernstige sonde gepleeg het?

12 Maar sê nou ons pleeg ’n ernstige sonde? Saul wou sy aansien behou, en dit het verhoed dat hy geestelik herstel. In  teenstelling hiermee kan ’n selfopofferende gees ons help om die vrees te oorkom om in die verleentheid gestel te word en die nodige hulp te verkry (Spr. 28:13; Jak. 5:14-16). Byvoorbeeld, een broer het op 12-jarige ouderdom na pornografie begin kyk, en hy het dit meer as ’n dekade lank in die geheim gedoen. Hy vertel: “Dit was baie moeilik om teenoor my vrou en die ouer manne te erken wat ek gedoen het. Maar noudat ek dit erken het, voel dit asof ’n berg van my skouers af is. Party van my vriende was teleurgesteld toe ek as ’n bedieningskneg verwyder is, asof ek hulle in die steek gelaat het. En tog weet ek dat my diens Jehovah nou meer behaag as toe ek na pornografie gekyk het, en sy beskouing is wat werklik saak maak.”

PETRUS HET SELFSUG TE BOWE GEKOM

13, 14. Hoe het Petrus selfsugtige neigings geopenbaar?

13 Die apostel Petrus het ’n selfopofferende gees geopenbaar toe hy deur Jesus opgelei is (Luk. 5:3-11). Tog moes hy teen selfsugtige neigings stry. Hy was byvoorbeeld verontwaardig toe die apostels Jakobus en Johannes planne beraam het om prominente posisies langs Jesus in die Koninkryk van God te verkry. Dalk het Petrus gedink dat een van daardie posisies aan hom moes behoort, aangesien Jesus reeds gesê het dat Petrus ’n spesiale rol sou speel (Matt. 16:18, 19). Hoe dit ook al sy, Jesus het Jakobus en Johannes, sowel as Petrus en die res van die apostels, gewaarsku dat hulle nie uit selfsug oor hulle broers moet probeer “baasspeel” nie.Mark. 10:35-45.

14 Selfs nadat Jesus Petrus se denke probeer regstel het, het Petrus steeds gesukkel om die regte beskouing van homself te hê. Toe Jesus vir die apostels gesê het dat hulle hom tydelik sou verlaat, het Petrus die ander in ’n swak lig gestel en homself verhef deur te beweer dat hy alleen getrou sou bly (Matt. 26:31-33). Sy selfversekerdheid was egter ongegrond, want daardie selfde nag het hy versuim om ’n selfopofferende gees te openbaar. In ’n poging om homself te beskerm, het Petrus Jesus drie keer verloën.Matt. 26:69-75.

15. Waarom is Petrus se voorbeeld bemoedigend?

 15 Hoewel Petrus teen sy swakhede gestry het en soms misluk het, is sy lewe ’n bemoedigende voorbeeld. Met inspanning en die hulp van God se heilige gees het Petrus sy verkeerde neigings oorkom en selfbeheersing en selfopofferende liefde aan die dag gelê (Gal. 5:22, 23). Hy het beproewinge verduur wat moontlik moeiliker was as dié waaroor hy vroeër gestruikel het. Die manier waarop hy gereageer het toe die apostel Paulus hom in die openbaar tereggewys het, toon dat hy nederig was (Gal. 2:11-14). En nadat Petrus tereggewys is, het hy nie ’n wrok gekoester en gemeen dat hy aansien verloor het omdat Paulus hom berispe het nie. Petrus het aangehou om na Paulus as sy “geliefde broer” te verwys (2 Pet. 3:15). Petrus se voorbeeld kan ons help om ’n selfopofferende gees aan te kweek.

Hoe het Petrus gereageer nadat hy tereggewys is? Sal ons ook so reageer? (Sien paragraaf 15)

16. Hoe kan ons ’n selfopofferende gees onder moeilike omstandighede openbaar?

16 Dink aan hoe jy onder moeilike omstandighede reageer. Toe Petrus en die apostels in die tronk gegooi is en daarna geslaan is weens hulle predikingswerk, het hulle hulle verbly “omdat hulle waardig geag is om ter wille van [Jesus se] naam oneer te ly” (Hand. 5:41). Jy kan vervolging ook as ’n geleentheid beskou om Petrus se voorbeeld asook Jesus se voetstappe te volg deur ’n selfopofferende gees te openbaar. (Lees 1 Petrus 2:20, 21.) Hierdie beskouing kan jou ook help as jy dissipline van die ouer manne ontvang. Volg eerder Petrus se voorbeeld as om aanstoot te neem.Pred. 7:9.

17, 18. (a) Wat kan ons ons afvra oor ons geestelike doelwitte? (b) Wat kan ons doen as ons tekens van selfsug in ons hart gewaar?

17 Jy kan ook by Petrus se voorbeeld baat vind wanneer dit kom by geestelike doelwitte. Jy kan sulke doelwitte op ’n selfopofferende wyse nastreef. Maar pasop dat dit nie ’n strewe na aansien word nie. Vra jou dus af: ‘Waarom wil ek verbeter of meer vir Jehovah doen? Is dit omdat ek meer erkenning of gesag wil hê, soos blykbaar die geval was toe Jakobus en Johannes hulle versoek aan Jesus gerig het?’

18 As jy tekens van selfsug in jou hart gewaar, moet jy Jehovah vra om jou te help om jou denke en gevoelens reg te stel, en probeer dan harder om hom te verheerlik, en nie jouself nie (Ps. 86:11). Jy kan ook doelwitte nastreef wat jou nie op die voorgrond sal stel nie. Byvoorbeeld, jy kan ’n aspek van die vrug van die gees wat jy veral moeilik vind, in groter mate aankweek. Of as jy goed vir jou vergaderingdele voorberei, maar nie werklik daarin belangstel om te help met die skoonmaak van die Koninkryksaal nie, kan jy jou dit ten doel stel om die raad toe te pas in Romeine 12:16.Lees.

19. Wat kan ons doen sodat ons nie ontmoedig word deur wat ons in die spieël van God se Woord sien nie?

19 Dit kan ontmoedigend wees wanneer ons onsself noukeurig in die spieël van God se Woord ondersoek en foute, selfs tekens van selfsug, sien. As dit ooit met jou gebeur, kan jy nadink oor die suksesvolle man in Jakobus se illustrasie. Jakobus beklemtoon nie hoe vinnig die man die probleme wat hy gesien het, opgelos het nie of selfs dat hy elke vlek kon verwyder nie; Jakobus het eerder gesê dat die man ‘by die volmaakte wet gebly het’ (Jak. 1:25). Hy het onthou wat hy in die spieël gesien het en het aangehou om verbeterings aan te bring. Ja, behou ’n positiewe beskouing van jouself en ’n gebalanseerde beskouing van jou onvolmaakthede. (Lees Prediker 7:20.) Hou aan om diep in die volmaakte wet te kyk, en span jou in om jou selfopofferende gees te behou. Jehovah is bereid om jou te help, soos hy al baie van jou broers gehelp het wat God se guns en seën geniet, al is hulle ook onvolmaak.